2023
4 Maniere Waarop Jesus Christus Jou Versterk
Januarie 2023


“4 Maniere Waarop Jesus Christus Jou Versterk,” Vir die Krag van die Jeug, Jan. 2023.

Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Januarie 2023

4 Maniere Waarop Jesus Christus Jou Versterk

Ek is tot alles in staat deur Christus.
Filippense 4:13

Beeld
baken

Regoor die wêreld verheug Christene hulle in hierdie skriftuur: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13).

As mense dit hoor, kan sommiges van hulle dink dat dit beteken dat hulle enige toets kan slaag, enige wedstryd kan wen en elke wens bewaarheid kan word. Maar dit is nie wat hierdie skriftuur leer nie.

Dit is deur die Apostel Paulus geskryf terwyl hy in die gevangenis was. As ʼn gevangene was daar baie wat Paulus nie kon doen nie, maar hy het geweet dat Jesus Christus hom kon versterk om dit te doen wat die belangrikste was.

Dieselfde is waar vir jou!

1 Christus Versterk Jou om te Weet

Jesus Christus het vir jou verskeie belangrike maniere gegee waarop jy kan leer om te weet wat waar is. Hy het ons geleer om altyd te bid (sien 3 Nefi 18:18) en om te vra om te weet wat waar is (sien Moroni 10:4–5). Jy kan ook vind en weet wat waar is deur jou studie van die skrifture.

Gebed en skriftuurstudie bring die Gees in jou lewe. Die Gees kan tot “jou verstand en … jou hart” spreek (Leer en Verbonde 8:2), “jou siel met vreugde vul,” en “jou verstand [sal] verlig” (Leer en Verbonde 11:13).

Op hierdie maniere kan jy “Hom hoor”—hoor die Saligmaker se woorde en volg wat Hy gesê het. President Russell M. Nelson het geleer dat dit “die patroon vir sukses, geluk en vreugde in hierdie lewe” is.1

2 Christus Versterk Jou om te Doen

Krag kom na jou toe terwyl jy daarna streef om die gebooie te onderhou en goeie keuses te maak wat tot vrede en geluk lei. Jesus Christus versterk jou om dit te doen selfs wanneer daardie keuses moeilik is. Jy kan soms ʼn slegte keuse maak. Gelukkig maak die Saligmaker se Versoening bekering moontlik. Vanweë Jesus Christus, kan jy rein word en vreugde vind. Hy kan jou versterk om elke dag “beter te doen en beter te wees.”2

3 Christus Versterk Jou om te Oorwin

Terwyl hy in die gevangenis was, het Paulus geskryf: “Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.

“Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig” (Filippense 4:11–12).

Met ander woorde, Paulus het geleer dat hy deur Christus kan oorwin en leer uit sy beproewings en uitdagings. Jesus Christus kan jou versterk om dieselfde te doen.

Die Saligmaker het “pyne verduur en verdrukkinge en versoekinge van elke soort.” Hy het ons swakhede op Hom geneem sodat “Hy mag weet … hoe om sy volk by te staan [wat beteken om te help] volgens hulle krankhede” (Alma 7:11–12). Dit maak nie saak wat jy beleef nie, Jesus Christus kan jou versterk om dinge te verduur en te bereik wat jy nie op jou eie sou kon doen nie.

4 Christus Versterk Jou om te Word

Jesus Christus het die opstanding vir ons almal ʼn werklikheid gemaak, en Hy maak die ewige lewe moontlik vir diegene wat hulle bekeer, noodsaaklike ordinansies ontvang, en verbonde sluit en onderhou wat daarmee gepaard gaan. Sonder Christus sou ons nie kon vervul wat Hemelse Vader die graagste wil hê nie—dat ons meer soos Hy en sy Seun, Jesus Christus, sal word en vir ewig by Hulle sal woon.

Beeld
Jesus Christus

Jy kan meer soos Jesus Christus word as jy van Hom leer, op Hom staatmaak en Hom vertrou en sy voorbeeld volg. Dit sal jou lei om met meer geloof, hoop, naasteliefde, geduld, nederigheid, reinheid en gehoorsaamheid te leef. Dit is alles eienskappe van die Saligmaker.

Wanneer jy daarna streef om Jesus Christus te volg, sal Hy jou hoop en jou lig wees wat jou sal lei om alles te word wat Hy weet jy kan word. En saam met Paulus sal jy kan sê: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”

Notas

  1. Russell M. Nelson, “Hoor Hom,” Apr. 2020 algemene konferensie (Ensign of Liahona, Mei 2020, 89).

  2. Sien Russell M. Nelson, “We Can Do Better and Be Better,” Apr. 2019 algemene konferensie (Ensign of Liahona, Mei 2019, 67).

Druk