Vir die Krag van die Jeug
ʼn Kragtige Verhouding
Augustus 2024


Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Augustus 2024

ʼn Kragtige Verhouding

ʼn Verbond is meer as ʼn kontrak; dit is ʼn verhouding.

Beeld
groen stoele

Ek het nog steeds ʼn foto van die groen stoele waarop Ouderling Pistone en Ouderling Morasco gesit het terwyl hulle my familie in ons huis in Argentinië onderrig het. Hulle het met soveel geestelike krag onderrig dat ek (ouderdom 9) en my 10-jarige suster sou hardloop om aan die stoele te raak nadat hulle weg is, in die hoop dat krag op ons oorgedra sou word.

Ek het gou geleer dat die krag nie uit die stoele gekom het nie, maar uit ʼn verbondsverhouding met God en Jesus Christus.

My Doopervaring

Ek het my eerste verbond op 13 November 1977 gesluit. Ek onthou nie veel van my doop nie, maar ek onthou wel dat Ouderling Pistone my in die water gehelp het en dat Ouderling Morasco my bevestig het terwyl my hare nog nat was. Ek onthou ook die vreugde wat ek gevoel het toe nuwe wyksvriende drukkies en soentjies op die Argentynse manier gegee het en die sterk begeerte wat ek gevoel het om ʼn getroue dogter van Hemelse Vader te wees.

Beeld
familie by ʼn doop

Jong Suster Spannaus (middel), met haar ouers (links), haar suster Silvina (ver regs), en Ouderling Morasco.

Later het ek besef dat die vreugde wat ek gevoel het, gekom het deur die gawe van die Heilige Gees. Ek het geleer dat as ek getrou my verbonde met God nagekom het, die Gees by my sou wees. Die Heilige Gees is net een van die kragtige seëninge wat voortspruit uit ʼn verbondsverhouding met God en Jesus Christus.

Nou, selfs wanneer my motiewe, gedagtes en optrede te kort skiet, het ek die hoop om aan te hou probeer. Hoekom? Want die gebruik van die nagmaal maak dit vir my moontlik om my verbonde te hernu en elke week nuwe verbonde te sluit. Ek is so dankbaar vir daardie seëning.

ʼn Liefdevolle Verbondsverhouding

Ons hoor dikwels dat verbonde tweerigtingbeloftes tussen ons en God is. Alhoewel dit waar is, is dit nie ál wat hulle is nie. In werklikheid is “verbondsonderhouding nie ʼn koue saketransaksie nie, maar ʼn warm verhouding.”

Hoe skep jy dan ʼn verbondsverhouding met Hemelse Vader en die Saligmaker? Hulle het jou alreeds volmaak lief en wil jou seën (sien 3 Nefi 14:11). Maar enige tweerigtingverhouding neem tyd en liefde van beide kante af.

Wil jy meer tyd saam met Hulle spandeer? Wanneer jy dinge doen wat Hulle sou doen, stap jy saam met Hulle! Dit kan so eenvoudig wees as om na ʼn vriend te luister gedurende ʼn moeilike tyd, tyd te maak om met ʼn broer of suster te speel, of iemand in te sluit wat uitgelaat voel. Ek het onlangs tyd spandeer om met God te wandel deur stemboodskappe op te neem en teksboodskappe te stuur aan ʼn vriendin in Argentinië wat eensaam gevoel het. Ek het ook besluit om altyd my tempelaanbeveling aktief te hou sodat ek tyd saam met die Here in sy heilige huis kan deurbring. Jy kan bid vir idees wat jou sal help om tyd saam met Hemelse Vader en jou Saligmaker deur te bring.

Wil jy vir Hulle wys dat jy omgee? Behandel die gebooie wat jy belowe het om te onderhou as ʼn manier om jou liefde uit te druk, nie as ʼn lys reëls nie. Ek het byvoorbeeld deur die Woord van Wysheid uit te leef, geleer hoe om gesonde maaltye te kook. Nou leer ek my dogters om dieselfde te doen. Wanneer jy God se gebooie gewillig onderhou, sal jou liefde vir Hom en die Saligmaker groei.

Ons verbondsverhoudings met Hemelse Vader en Jesus Christus sal ons help om Hulle beter te ken en meer toegang tot Hulle krag in ons lewens te hê—oneindig meer as enigiets wat ʼn stel groen stoele kan bied. En daardie krag verander ons vir ewig!

Nota

  1. Ann M. Madsen, in Truman G. Madsen, The Temple: Where Heaven Meets Earth (2008), 69.

Druk