Handleidings en Roepings
2. Ondersteuning van Individue en Families in die Werk van Heil en Verheffing


“2. Ondersteuning van Individue en Families in die Werk van Heil en Verheffing,” Algemene Handleiding: Diens in die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (2020).

“2. Ondersteuning van Individue en Families,” Algemene Handleiding.

Beeld
familiefoto

2.

Ondersteuning van Individue en Families in die Werk van Heil en Verheffing

2.0

Inleiding

As ʼn leier in die Kerk van Jesus Christus, ondersteun jy individue en families om God se werk van heil en verheffing te volbring (sien 1.2). Die uiteindelike doel van hierdie werk is om al God se kinders te help om die seëninge van die ewige lewe en ʼn volheid van vreugde te ontvang.

Baie van die werk van heil en verheffing word deur die familie bewerkstellig. Vir alle Kerklede is hierdie werk in die huis gesentreer. Hierdie hoofstuk sal jou help om ʼn visie te kry van:

  • Die rol van die familie in God se plan.

  • Die werk van heil en verheffing in die huis.

  • Die verhouding tussen die huis en die Kerk.

2.1

Die Rol van die Familie in God se Plan

Die familie is verordineer deur God en is sentraal tot sy plan. Elkeen van ons “is ʼn geliefde geestesseun of -dogter van hemelse ouers [met] ʼn goddelike aard en bestemming” (“Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld,” ChurchofJesusChrist.org). Ons is deel van hulle familie. Ons het saam met hulle gewoon voor ons op aarde gebore is.

As deel van sy plan het Hemelse Vader families op aarde gevestig. Hy wil hê dat families vir ons vreugde bring. Families bied geleenthede om te leer, groei, dien, bekeer en vergewe. Hulle kan ons help om voor te berei vir die ewige lewe.

Baie mense het in hierdie lewe beperkte geleenthede vir liefdevolle familieverhoudings. Geen familie is vry van uitdagings, pyn en hartseer nie. Individue en families beoefen geloof in die Here en strewe om te leef volgens die waarhede wat Hy aangaande die familie geopenbaar het. Die Saligmaker het belowe dat Hy sal help om die laste te dra van almal wat na Hom toe kom (sien Matthéüs 11:28–30).

Hemelse Vader se plan van geluk verseker dat al sy kinders die geleentheid sal hê om sy evangelie te aanvaar en sy grootste seëninge te ontvang (sien Leer en Verbonde 137:7–10). Almal wat verbonde met God sluit en hulle onderhou kan vreugde ervaar en “vrede in hierdie wêreld, en die ewige lewe in die wêreld wat sal kom” (Leer en Verbonde 59:23; sien ook Mosia 2:41).

God se belofte van die ewige lewe sluit ewige huwelik, kinders en alle ander seëninge van ʼn ewige familie in. Hierdie belofte is van toepassing op diegene wat nie huidiglik getroud is of wat nie familie in die Kerk het nie (sien 38.1.4). Alhoewel die presiese tyd en manier waarop die seëninge van verheffing ontvang word nie bekend is nie, is hierdie seëninge verseker vir diegene wat strewe om as dissipels van Jesus Christus te lewe.

2.1.1

Ewige Families

Ewige families word gevorm wanneer Kerklede verbonde sluit wanneer hulle die verseëlende ordinansies in die tempel ontvang. Die seëninge van ʼn ewige familie word verwesenlik wanneer lede daardie verbonde onderhou en bekeer wanneer hulle tekort skiet. Kerkleiers help lede om voor te berei om hierdie ordinansies te ontvang en hulle verbonde te eerbiedig.

Elke persoon kan ʼn aantal rolle in ʼn ewige familie vervul. Alle familierolle is heilig en belangrik. Hierdie rolle kan moeder en vader, dogter en seun, suster en broer, tannie en oom, en ouma en oupa insluit. Om daardie rolle in liefde te vervul, help God se kinders om te vorder na die ewige lewe.

ʼn Bykomende aspek van die vestiging van ewige families is die uitvoering van ordinansies in die tempel wat lede toelaat om aan hulle afgestorwe voorouers verseël te word.

Met ʼn begrip van God se plan, soek lede die seëninge van ʼn ewige familie. Dit sluit in voorbereiding om ʼn waardige, liefdevolle eggenoot en ouer te word.

2.1.2

Man en Vrou

ʼn Huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou is deur God verordineer (sien Leer en Verbonde 49:15). ʼn Man en vrou is bedoel om saam te vorder na die ewige lewe (sien 1 Korinthiërs 11:11).

Een van die vereistes om die ewige lewe te beërwe is vir ʼn man en ʼn vrou om die verbond van ʼn selestiale huwelik te sluit (sien Leer en Verbonde 131:1–4). ʼn Paartjie sluit hierdie verbond wanneer hulle die huweliksverseëlingsordinansie in die tempel ontvang. Hierdie verbond is die fondasie van ʼn ewige familie. Wanneer getrou onderhou word, laat dit hulle huwelik vir ewig duur. Hulle kan uiteindelik soos God word (sien Leer en Verbonde 132:19– 20).

God het mans en vroue gebied om mekaar aan te kleef (sien Génesis 2:24; Leer en Verbonde 42:22). In hierdie konteks beteken die woord aankleef om volkome aan iemand toegewy en getrou te wees. Getroude paartjies kleef saam deur mekaar lief te hê en te dien.

Aankleef sluit ook in totale getrouheid tussen man en vrou. Fisiese intimiteit tussen man en vrou is bedoel om mooi en heilig te wees. Dit is deur God verordineer vir die skepping van kinders en die uitdrukking van liefde tussen man en vrou. Teerheid en respek—nie selfsugtigheid nie—moet hulle intieme verhouding lei.

God het gebied dat seksuele intimiteit gereserveer moet word vir ʼn huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou. Deur seksueel rein voor die huwelik en getrou binne die huwelik te bly, help individue om waarlik gelukkig te wees en verhoed geestelike, emosionele, en fisiese leed. Ouers en Kerkleiers word aangemoedig om alles te doen wat hulle kan om hierdie lering te versterk. (Sien 38.6.5.)

ʼn Paartjie streef om verenig te wees in die vestiging van hulle familie (sien Génesis 2:24). Om verenig in die huwelik te wees, vereis ʼn volle vennootskap en gedeelde verantwoordelikhede. ʼn Man en vrou is gelyk in God se oë. Die een moet nie die ander domineer nie. Hulle besluite moet in eenheid en liefde geneem word, met volle deelname van beide.

Adam en Eva het ʼn voorbeeld gestel vir mans en vroue. Hulle het saam gewerk, gebid en aanbid (sien Moses 5:1, 4). Hulle het hul kinders die evangelie geleer en saam oor hulle beproewinge getreur (sien Moses 5:12, 27). Hulle was verenig met mekaar en met God.

2.1.3

Ouers en Kinders

Voor God se kinders “onsterflikheid en die ewige lewe” kan ontvang, moet hulle ʼn sterflike liggaam kry (Moses 1:39). God se eerste gebod aan Adam en Eva as man en vrou was om kinders te hê (sien Génesis 1:28). Profete van die laaste dae het geleer dat “God se gebod vir sy kinders om te vermeerder en die aarde te vul nog steeds van krag is” (“Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”; sien ook Leer en Verbonde 49:16–17).

Dit is ʼn heilige voorreg en plig vir ʼn man en ʼn vrou om vir die kinders te sorg wat hulle kan baar of aanneem. Aanneem-ouers het dieselfde seëninge en verantwoordelikhede as biologiese ouers.

ʼn Liefdevolle man en vrou skep saam die beste omstandighede om kinders op te voed en te versorg. Individuele omstandighede mag ouers verhoed om hulle kinders saam op te voed. Die Here sal hulle egter seën as hulle sy hulp soek en strewe om hulle verbonde met Hom te onderhou.

Ouers het die noodsaaklike plig om te help om hulle kinders voor te berei om die seëninge van die ewige lewe te ontvang. Hulle leer hul kinders om God en andere lief te hê en te dien (sien Matthéüs 22:36–40). Hulle leer hul om tot Hemelse Vader te bid en die woord van God te bestudeer (sien Alma 37:36–37, 44–46). Hulle help hul kinders om die leer van geloof in Jesus Christus, bekering, doop en die gawe van die Heilige Gees te verstaan (sien Leer en Verbonde 68:25). Hulle help hulle ook om voor te berei om verbonde te sluit wanneer hulle die ordinansies van heil en verheffing ontvang.

“Vaders presideer oor hul families in liefde en geregtigheid en is verantwoordelik om vir die noodsaaklikhede van die lewe voorsiening te maak en hul families te beskerm” (“Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”). Wanneer daar nie ʼn man of vader in die huis is nie, presideer die moeder oor die familie.

Presidering in die familie is die verantwoordelikheid om te help om familielede terug te lei om in God se teenwoordigheid te woon. Dit word gedoen deur te dien en te onderrig met teerheid, sagmoedigheid en suiwere liefde, volgens die voorbeeld van Jesus Christus (sien Matthéüs 20:26–28). Presidering in die familie sluit in om familielede in gereelde gebed, evangeliestudie en ander aspekte van aanbidding te lei. Ouers werk in eenheid saam om hierdie verantwoordelikhede te vervul.

“Moeders is hoofsaaklik verantwoordelik vir die versorging van hul kinders” (“Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”). Om te versorg beteken om te voed, leer en ondersteun, volgens die voorbeeld van die Saligmaker (sien 3 Nefi 10:4). In eenheid saam met haar man, help ʼn moeder om haar familie evangeliese waarhede te leer en geloof in Hemelse Vader en Jesus Christus te ontwikkel. Saam bevorder hulle ʼn omgewing van liefde in die familie.

“In hierdie heilige verantwoordelikhede is vaders en moeders verplig om mekaar as gelyke vennote te ondersteun” (Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”). Hulle beraadslaag biddend saam en met die Here. Hulle neem besluite saam in eenheid en liefde, met volle deelname van beide.

Beeld
vader onderrig familie

2.2

Die Werk van Heil en Verheffing in die Huis

Die Eerste Presidensie het gesê: “Die huis is die basis van ʼn regverdige lewe” (First Presidency Letter, 11 Feb. 1999). Individue en families neem deel aan die werk van heil en verheffing in hulle huise. Hierdie werk bestaan uit vier goddelik-aangewese verantwoordelikhede:

  • Om die evangelie van Jesus Christus uit te leef (sien 1.2.1)

  • Om vir diegene wat behoeftig is te sorg (sien 1.2.2)

  • Om almal te nooi om die evangelie te ontvang (sien 1.2.3)

  • Om families vir die ewigheid te verenig (sien 1.2.4)

Om lede te ondersteun om die werk van heil en verheffing tuis te doen, moedig Kerkleiers hulle aan om ʼn huis te vestig waar die Gees teenwoordig is. Hulle moedig lede ook aan om die Sabbat te heilig, die evangelie tuis te bestudeer en om weekliks gesinstuisaand te hou. Leiers plaas spesiale klem op die ondersteuning van individue waar hulp of aanmoediging van familielede moontlik ontbreek.

2.2.1

ʼn Huis Waar die Gees Teenwoordig Is

Kerklede word aangemoedig om hulle huise ʼn plek van geestelike krag en vreugde te maak. Hulle kan die Gees van die Here in hulle huise nooi deur eenvoudige pogings. Elke huis kan “ʼn huis van gebed, ʼn huis van vas, ʼn huis van geloof, ʼn huis van geleerdheid, ʼn huis van heerlikheid, ʼn huis van orde, ʼn huis van God” wees (Leer en Verbonde 88:119).

2.2.2

Sabbatsheiliging

God het sy kinders gebied om “die sabbatdag te gedenk en te heilig” (Exodus 20:8). Kerklede kom op die Sabbat bymekaar om die nagmaal te gebruik ter gedagtenis aan Jesus Christus en sy Soendood (sien Leer en Verbonde 59:12). Die Sabbat is ʼn dag van evangeliese leer en onderrig by die kerk en die huis. Lede kan op die Sabbat versterk word wanneer hulle deelneem aan aktiwiteite soos:

  • Persoonlike aanbidding deur gebed en vas.

  • Evangeliestudie en leer.

  • Bediening en diens aan andere.

  • Familiegeskiedenis.

  • Genotvolle familietyd.

  • Ander gepaste byeenkomste.

2.2.3

Evangeliestudie en Leer Tuis

Evangeliese onderrig en lering is tuis-gesentreerd en Kerk-ondersteund. Kerkleiers moedig alle lede aan om die evangelie tuis te bestudeer op die Sabbat en regdeur die week. Evangeliestudie tuis versterk individue en families. Dit verdiep bekering tot Hemelse Vader en die Here Jesus Christus.

ʼn Studie van die skrifture soos uiteengesit in Come, Follow Me—For Individuals and Families is die voorgestelde kursus van evangeliestudie tuis. Come, Follow Me korreleer lesse in die Primêre Organisasie, Sondagskool, Jongdames, Aäroniese Priesterskapskworums, en seminarie met evangeliestudie in die huis.

Individue en families soek inspirasie wanneer hulle besluit wat om te bestudeer wat die beste aan hulle behoeftes sal voldoen. Bykomend tot die skriftuurgedeeltes wat in Come, Follow Me voorgestel word, kan hulle biddend oorweeg om die volgende te bestudeer:

  • Die Boek van Mormon en ander skrifture.

  • Algemene konferensie-boodskappe.

  • Kerktydskrifte en ander opbouende inhoud.

2.2.4

Gesinstuisaand en Ander Aktiwiteite

Profete van die Laaste Dae het Kerklede aangeraai om weekliks gesinstuisaand te hou. Dit is ʼn gewyde tyd vir individue en families om die evangelie te leer, getuienisse te versterk, eenheid te bou en mekaar te geniet.

Gesinstuisaand is aanpasbaar volgens lede se omstandighede. Dit kan op die Sabbat of ander dae en tye gehou word. Dit kan insluit:

  • Evangeliestudie en instruksie (die Come, Follow Me-stof kan gebruik word indien so verkies).

  • Om ander te dien.

  • Om gesange en Primêre Organisasie liedjies te sing of te speel (sien hoofstuk 19).

  • Om familielede in Kinder- en Jeugontwikkeling te ondersteun.

  • ʼn Familieraad om doelwitte te stel, probleme op te los en skedules te koördineer.

  • Ontspanningsaktiwiteite.

Enkellede en andere kan in groepe bymekaarkom buite die normale Sabbat-aanbiddingsdienste om deel te neem aan gesinstuisaand en mekaar te versterk deur evangeliestudie. Come, Follow Me mag ʼn hulpbron wees vir diegene wat saam wil studeer.

Leiers skenk spesiale aandag om diegene te help wat nog nie voorheen gesinstuisaand gehou het of die evangelie bestudeer het nie.

Bykomend tot gesinstuisaand, moedig leiers families aan om tyd saam te prioritiseer regdeur die week. Dit kan insluit om etes saam te geniet, saam te werk en te dien en ontspanningsaktiwiteite.

Om tyd vir families te gee om saam te wees, moet leiers Maandagaande vry van Kerkvergaderings en -aktiwiteite hou.

Leiers moedig lede aan om gereeld gesinstuisaand te hou en tyd saam as families te spandeer (sien Leer en Verbonde 64:33).

2.2.5

Die Ondersteuning van Individue

Kerkleiers help lede wat nie steun van familie het nie. Lede wat addisionele hulp mag benodig, sluit in:

  • Kinders, jeug en volwassenes wie se families nie aktief deelneem aan Kerkvergaderings en -aktiwiteite nie.

  • Enkelvolwassenes van alle ouderdomme, insluitend enkelouers en lede wie se eggenote oorlede is.

Leiers help hierdie lede en hulle families om geleenthede te kry vir deelgenootskap, heilsame sosiale ondervindings en geestelike groei. Leiers moedig hulle aan en help hulle in hul pogings om die evangelie van Jesus Christus te leer en uit te leef. Leiers gee hulle ook geleenthede om in die Kerk te dien.

2.3

Die Verhouding tussen die Huis en die Kerk

Die werk van heil en opheffing is in die huis gesentreerd en ondersteun deur die Kerk. Die volgende beginsels is van toepassing in die verhouding tussen die huis en die Kerk.

  • Leiers en onderwysers eer die rol van ouers en staan hulle by. Leiers en onderwysers vestig en handhaaf effektiewe kommunikasie met ouers.

  • Leiers streef om te verseker dat Kerkvergaderings, -aktiwiteite en -programme individue en families ondersteun om die werk van heil en verheffing in hulle huise te doen.

  • Sommige Kerkvergaderings is noodsaaklik in elke wyk of tak. Dit sluit in die nagmaaldiens en die klasse en kworumvergaderings wat op die Sabbat gehou word. Baie ander vergaderings, aktiwiteite en programme is nie noodsaaklik nie. Leiers organiseer dit wanneer nodig om te help om in die behoeftes van individue en families te voorsien. Leiers neem plaaslike omstandighede en hulpbronne in ag.

  • Individue en families oorweeg hulle omstandighede wanneer hulle besluite neem oor deelname aan Kerkprogramme wat nie noodsaaklik is nie.

  • Diens en deelname in die Kerk behels ʼn mate van opoffering. Die Here sal lede seën wanneer hulle in sy Kerk dien en opoffer. Die hoeveelheid tyd bestee aan diens in die Kerk moet egter nie afbreuk doen aan hulle vermoë om hul verantwoordelikhede tuis, by die werk en elders te vervul nie. Leiers en lede moet nie oorweldig word met te veel Kerkverantwoordelikhede nie. Hulle moet ook nie gevra word om oordadige opofferings te maak om Kerkprogramme of -aktiwiteite te ondersteun nie.

Wanneer lede hierdie beginsels en die ingewings van die Gees volg, sal Hemelse Vader hulle pogings seën.

Beeld
paartjie wat lag

Druk