Handleidings en Roepings
38. Kerkbeleid en Riglyne


“38. Kerkbeleid en Riglyne,” Algemene Handleiding: Diens in Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (2020).

“38. Kerkbeleid en Riglyne,” Algemene Handleiding.

38.

Kerkbeleid en Riglyne

38.6

Beleid oor Morele Kwessies

ʼn Paar beleide in hierdie afdeling handel oor sake wat die Kerk “ontmoedig.” Kerklede ondervind gewoonlik nie lidmaatskapbeperkings as gevolg van besluite rakende hierdie sake nie. Alle mense is egter uiteindelik aanspreeklik voor God vir hulle besluite.

38.6.1

Aborsie

Die Here het gebied: “Jy sal nie … doodmaak, nóg iets dergeliks doen” (Leer en Verbonde 59:6). Die Kerk staan vrywillige aborsie vir persoonlike of sosiale gerief teen. Lede moet hulle nie aan aborsie onderwerp, dit uitvoer, reël, instem daartoe, of aanmoedig nie. Die enigste moontlike uitsonderings is wanneer:

  • Swangerskap die gevolg is van gewelddadige verkragting of bloedskande.

  • ʼn Bevoegde geneesheer bepaal dat die lewe of gesondheid van die moeder in ernstige gevaar is.

  • ʼn Bevoegde geneesheer bepaal dat die fetus ernstige defekte het wat die baba nie sal laat oorleef na geboorte nie.

Selfs hierdie uitsonderings regverdig nie aborsie outomaties nie. Aborsie is ʼn baie ernstige kwessie en moet slegs oorweeg word nadat die verantwoordelike persone hulle biskoppe geraadpleeg het en goddelike bevestiging deur gebed ontvang het.

Presiderende beamptes hersien die omstandighede sorgvuldig as ʼn lid van die Kerk in ʼn aborsie betrokke was. ʼn Lidmaatskapsraad mag nodig wees indien ʼn lid haar aan aborsie onderwerp, dit uitvoer, reël, instem daartoe, of aanmoedig (sien 32.6.2.5). ʼn Lidmaatskapsraad moet egter nie oorweeg word indien ʼn lid betrokke was by ʼn aborsie vóór hulle gedoop is nie. Lidmaatskapsrade of beperkings moet ook nie oorweeg word vir lede wat betrokke was by ʼn aborsie vir enige van die drie redes vroeër uiteengesit in hierdie afdeling nie.

Biskoppe verwys vrae oor spesifieke gevalle na die penpresident. Die penpresident kan vrae aan die Kantoor van die Eerste Presidensie rig indien nodig.

Sover as wat geopenbaar is, kan ʼn persoon bekeer en vergewe word vir die sonde van aborsie.

38.6.2

Mishandeling

Mishandeling is die slegte behandeling of verwaarlosing van andere op ʼn wyse wat fisiese, seksuele, emosionele of finansiële skade kan veroorsaak. Die Kerk se posisie is dat mishandeling in enige vorm nie geduld kan word nie. Diegene wat hulle huweliksmaats, kinders of ander familielede of enigiemand anders mishandel, oortree die wette van God en die mens.

Alle lede, veral ouers en leiers, word aangemoedig om waaksaam en ywerig te wees en alles in hulle vermoë te doen om kinders en andere teen mishandeling te beskerm. As lede bewus raak van gevalle van mishandeling, meld hulle dit aan by burgerlike owerhede en hou beraad met die biskop. Kerkleiers moet berigte van mishandeling ernstig opneem en dit nooit verontagsaam nie.

Alle volwassenes wat met kinders of jeug werk moet kinder- en jeugbeskermingsopleiding binne een maand ondergaan nadat hulle onderskraag is (sien ProtectingChildren.ChurchofJesusChrist.org). Hulle moet die opleiding elke drie jaar herhaal.

Wanneer mishandeling plaasvind, is die eerste en onmiddellike verantwoordelikheid van Kerkleiers om diegene wat mishandel is te help, en om kwesbare persone teen mishandeling in die toekoms te beskerm. Leiers moet nie ʼn persoon aanmoedig om in ʼn huis of situasie te bly waar misbruik voorkom, of wat onveilig is nie.

38.6.2.1

Mishandelingshulplyn

Die Kerk het ʼn vertroulike mishandelingshulplyn in sommige lande gevestig om penpresidente en biskoppe by te staan. Hierdie leiers moet die hulplyn dadelik skakel oor elke situasie waar ʼn persoon moontlik mishandel is—of in gevaar is om mishandel te word. Hulle moet dit ook skakel as hulle bewus word van ʼn lid wat na kinderpornografie kyk, koop of versprei.

Die hulplyn is beskikbaar vir biskoppe en penpresidente om 24 uur per dag, 7 dae per week te skakel. Telefoonnommers verskyn hieronder.

  • Verenigde State en Kanada: 1-801-240-1911 of 1-800-453-3860, uitbreiding 2-1911

  • Verenigde Koninkryk: 0800 970 6757

  • Ierland: 1800 937 546

  • Frankryk: 0805 0805710

  • Australië: 02 9841 5454 (van binne die land)

  • Nieu Seeland: 09 488 5592 (van binne die land)

Biskoppe en penpresidente moet die hulplyn skakel wanneer hulle situasies van enige tipe mishandeling aanspreek. Regs- en kliniese deskundiges sal hulle vrae beantwoord. Hierdie deskundiges sal hulle ook instruksies gee oor hoe om:

  • Slagoffers by te staan en help om hulle teen verdere mishandeling te beskerm.

  • Te help om potensiële slagoffers te beskerm.

  • Te voldoen aan wetlike vereistes om mishandeling te rapporteer.

Die Kerk is verbind om te voldoen aan die wet om mishandeling te rapporteer (sien 38.6.2.7). Wette verskil volgens gebied, en die meeste Kerkleiers is nie regskenners nie. Dit is noodsaaklik vir biskoppe en penpresidente om die hulplyn te skakel om hulle verantwoordelikheid om mishandeling te rapporteer na te kom.

ʼn Biskop moet ook sy penpresident in kennis stel van gevalle van mishandeling.

In lande wat nie ʼn hulplyn het nie, moet ʼn biskop wat bewus word van mishandeling, sy penpresident kontak. Die penpresident moet leiding kry van die area regsadviseur by die areakantoor. Hy word ook aangemoedig om beraad te hou met die Familiedienspersoneel of die welsyns- en selfonderhoudingsbestuurder by die areakantoor.

38.6.2.3

Kinder- of Jeugmishandeling

Die mishandeling van ʼn kind of jeugdige is veral ʼn ernstige sonde (sien Lukas 17:2). Soos hier gebruik, sluit kinder- of jeugmishandeling die volgende in:

  • Fisiese mishandeling: Om ernstige liggaamlike leed deur fisiese geweld aan te rig. Sommige leed mag nie sigbaar wees nie.

  • Seksuele mishandeling of uitbuiting: Om enige seksuele aktiwiteit met ʼn kind of jeugdige te hê of om ander doelbewus toe te laat of te help om sulke aktiwiteite te hê. Soos hier gebruik, sluit seksuele mishandeling nie konsensuele seksuele aktiwiteit tussen twee minderjariges wat ongeveer dieselfde ouderdom is, in nie.

  • Emosionele mishandeling: Die gebruik van aksies en woorde om ʼn kind of jeugdige se gevoel van selfrespek of eiewaarde ernstig te beskadig. Dit behels gewoonlik herhaalde en voortgesette beledigings, manipulasies en kritiek wat verneder en verkleineer. Dit kan ook growwe verwaarlosing insluit.

  • Kinderpornografie: Sien 38.6.6

As ʼn biskop of penpresident verneem van kinder- of jeugmishandeling of dit vermoed, volg hy dadelik die instruksies in 38.6.2.1. Hy doen ook stappe om te help beskerm teen verdere mishandeling.

ʼn Kerklidmaatskapsraad en aantekening op die rekord word vereis indien ʼn volwasse lid ʼn kind of jeugdige mishandel soos beskryf in hierdie afdeling. Sien ook 32.6.1.1 en 38.6.2.5.

As ʼn minderjarige ʼn kind mishandel, kontak die penpresident die Kantoor van die Eerste Presidensie vir leiding.

Fisiese of emosionele afknouery tussen kinders of jeugdiges van ʼn soortgelyke ouderdom moet deur wyksleiers aangespreek word. ʼn Lidmaatskapsraad word nie gehou nie.

38.6.2.4

Mishandeling van ʼn Huweliksmaat of ʼn Ander Volwassene

Mishandeling van ʼn huweliksmaat of ʼn ander volwassene kan op baie maniere voorkom. Dit kan fisiese, seksuele, emosionele en finansiële mishandeling insluit. Volwassenes wat bejaard, kwesbaar of gestremd is, loop soms ʼn hoë risiko vir mishandeling.

Daar is dikwels nie ʼn enkele definisie van mishandeling wat in alle situasies toegepas kan word nie. In plaas daarvan, is daar ʼn spektrum van erns in mishandelingsgedrag. Hierdie spektrum wissel van skerp woorde af en toe tot die aanrig van ernstige skade.

As ʼn biskop of penpresident van misbruik van ʼn huweliksmaat of ʼn ander volwassene verneem, volg hy dadelik die instruksies in 38.6.2.1. Hy doen ook stappe om te help beskerm teen verdere mishandeling.

Leiers soek die leiding van die Gees om te bepaal of persoonlike berading of ʼn lidmaatskapsraad die geskikste opsie is om misbruik aan te spreek. Hulle kan ook met hulle direkte priesterskapleier oor die opsie beraadslaag. Enige misbruik van ʼn gade of ʼn ander volwassene wat tot die vlakke styg wat hieronder beskryf word, vereis egter dat ʼn lidmaatskapsraad gehou word.

  • Fisiese mishandeling: Om ernstige liggaamlike leed deur fisiese geweld aan te rig. Sommige leed mag nie sigbaar wees nie.

  • Seksuele mishandeling: Sien die situasies gespesifiseer in 38.6.18.3.

  • Emosionele mishandeling: Die gebruik van aksies en woorde om ʼn persoon se gevoel van selfrespek of eiewaarde ernstig te beskadig. Dit behels gewoonlik herhaalde en voortgesette beledigings, manipulasies en kritiek wat verneder en verkleineer.

  • Finansiële mishandeling: Om iemand finansieel uit te buit. Dit kan die onwettige of ongemagtigde gebruik van ʼn persoon se eiendom, geld of ander waardevolle items insluit. Dit kan ook die bedrieglike verkryging van finansiële mag oor iemand insluit. Dit kan die gebruik van finansiële mag om gedrag af te dwing, insluit. Sien ook 32.6.1.3.

38.6.2.7

Regskwessies met Betrekking tot Mishandeling

As ʼn lid se misbruik-aktiwiteite toepaslike wetgewing oortree het, moet die biskop of penpresident die lid aanmoedig om hierdie aktiwiteite by wetstoepassingspersoneel of ander toepaslike regeringsowerhede aan te meld. Die biskop of penpresident kan inligting oor plaaslike verslagdoeningsvereistes deur die Kerk se hulplyn verkry (sien 38.6.2.1). As lede vrae het oor verslagdoeningsvereistes, moedig hy hulle aan om gekwalifiseerde regsadvies in te win.

Kerkleiers en lidmate moet alle wetlike verpligtinge nakom om mishandeling by burgerlike owerhede aan te meld. In sommige plekke word leiers en onderwysers wat met kinders en jeugdiges werk, as “mandaatverslaggewers” beskou en hulle moet misbruik by regsowerhede aanmeld. In baie plekke moet enige persoon wat van mishandeling bewus word, dit eweneens by regsowerhede aanmeld. Biskoppe en penpresidente moet die hulplyn bel vir besonderhede oor mandaatverslaggewers en ander wetlike vereistes vir die rapportering van mishandeling. Die Kerk se beleid is om die wet te gehoorsaam.

38.6.5

Kuisheid en Getrouheid

Die Here se wet van kuisheid is:

  • Onthouding van seksuele verhoudings buite ʼn huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou volgens God se wet.

  • Getrouheid binne die huwelik.

Fisiese intimiteit tussen man en vrou is bedoel om mooi en heilig te wees. Dit is deur God verordineer vir die skepping van kinders en die uitdrukking van liefde tussen man en vrou.

Slegs ʼn man en ʼn vrou wat regtens en wettiglik getroud is as man en vrou, moet seksuele verhoudings hê. In God se oë is sedelike reinheid baie belangrik. Oortredings van die wet van kuisheid is baie ernstig (sien Exodus 20:14; Matthéüs 5:28; Alma 39:5). Diegene wat betrokke is, misbruik die heilige krag wat God gegee het om lewe te skep.

ʼn Kerklidmaatskapsraad mag nodig wees indien ʼn lid:

  • Seksuele verhoudings het buite ʼn huweliksverhouding wat deur God se wet gemagtig is, soos owerspel, hoerery en selfdegeslagverhoudings (sien 32.6.2).

  • In ʼn vorm van huwelik of vennootskap is wat nie deur God se wet gemagtig is nie, soos saamwoon, burgerlike verbintenisse en vennootskappe en selfdegeslaghuwelike.

  • Pornografie intensief of kompulsief gebruik, wat aansienlike skade aan ʼn lid se huwelik of familie veroorsaak (sien 38.6.13).

Die besluit of ʼn lidmaatskapsraad in hierdie situasies gehou moet word, hang van baie omstandighede af. Hierdie word uiteengesit in 32.7. Byvoorbeeld, die verbreking van tempelverbonde verhoog die waarskynlikheid dat ʼn raad nodig is om ʼn persoon te help om te bekeer. In sommige gevalle kan persoonlike berading en informele lidmaatskapbeperkings voldoende wees (sien 32.8).

Sien 32.6.1.2 vir wanneer ʼn raad vereis word vir seksuele sondes.

38.6.6

Kinderpornografie

Die Kerk veroordeel kinderpornografie in enige vorm. As ʼn biskop of penpresident verneem dat ʼn lid by kinderpornografie betrokke is, volg hy dadelik die instruksies in 38.6.2.1.

ʼn Kerklidmaatskapsraad en aantekening op die rekord word vereis indien ʼn lid pornografiese beelde van kinders maak, deel, besit of herhaaldelik daarna kyk (sien 32.6.1.2 en 32.14.5). Hierdie riglyn is oor die algemeen nie van toepassing op kinders of jeugdiges van ongeveer dieselfde ouderdom wat seksuele foto’s van hulself of ander deel nie. Persoonlike berading en informele lidmaatskapbeperkings kan in daardie situasies toepaslik wees.

Vir meer leiding, sien 38.6.13.

38.6.10

Bloedskande

Die Kerk veroordeel enige vorm van bloedskande. Soos hier gebruik, is bloedskande seksuele omgang tussen:

  • ʼn Ouer en ʼn kind.

  • ʼn Grootouer en ʼn kleinkind.

  • Broers en susters.

  • ʼn Oom of tante en ʼn niggie of neef.

Soos hier gebruik, sluit kind, kleinkind, broers en susters, niggie en neef biologiese, aangenome, stief- of pleegverhoudings in. Bloedskande kan tussen twee minderjariges, ʼn volwassene en ʼn minderjarige of twee volwassenes voorkom. As ʼn penpresident vrae het oor of ʼn verhouding bloedskande is volgens plaaslike wette, soek hy leiding van die Kantoor van die Eerste Presidensie.

Wanneer ʼn minderjarige ʼn slagoffer van bloedskande is, skakel die biskop of penpresident die Kerk se mishandelingshulplyn in lande waar dit beskikbaar is (sien 38.6.2.1). In ander lande moet die penpresident leiding van die area se regsadviseur by die areakantoor soek. Hy word ook aangemoedig om beraad te hou met die Familiedienspersoneel of die welsyns- en selfonderhoudingsbestuurder by die areakantoor.

ʼn Kerklidmaatskapsraad en rekordaantekening word vereis indien ʼn lid bloedskande pleeg (sien 32.6.1.2 en 32.14.5). Bloedskande vereis byna altyd dat die Kerk ʼn persoon se lidmaatskap moet onttrek.

As ʼn minderjarige bloedskande pleeg, kontak die penpresident die Kantoor van die Eerste Presidensie vir leiding.

Slagoffers van bloedskande ly dikwels ernstige trauma. Leiers reageer met opregte medelye en empatie. Hulle voorsien geestelike ondersteuning en berading om hulle te help om die vernietigende gevolge van bloedskande te bowe te kom.

Soms het slagoffers gevoelens van skaamte of skuldgevoelens. Slagoffers is nie skuldig aan sonde nie. Leiers help hulle en hulle gesinne om God se liefde en die genesing wat deur Jesus Christus en sy Versoening kom, te verstaan (sien Alma 15:8; 3 Nefi 17:9).

Benewens die ontvangs van die geïnspireerde hulp van Kerkleiers, het slagoffers en hulle gesinne moontlik professionele berading nodig. Vir inligting, sien 38.6.18.2.

38.6.13

Pornografie

Die Kerk veroordeel pornografie in enige vorm. Die gebruik van pornografie van enige aard beskadig individuele lewens, gesinne en die samelewing. Dit verdryf ook die Gees van die Here. Kerklidmate moet alle vorme van pornografiese materiaal vermy en die produksie, verspreiding en gebruik daarvan teenstaan.

ikoon, opsionele hulpbronneDie Kerk bied die volgende hulpbronne om mense te help wie se lewens deur pornografie geraak word:

Penpresidente en biskoppe bied ook ondersteuning aan familielede soos nodig.

Kerkleiers moet besef dat die gebruik van pornografie ʼn drang of ʼn verslawing kan wees. Benewens die geïnspireerde hulp van hierdie leiers, het party lede dalk professionele berading nodig. Leiers kan Familiedienste kontak vir hulp. Sien 31.2.6 vir kontakinligting.

Persoonlike berading en informele lidmaatskapsbeperkings is gewoonlik voldoende wanneer ʼn persoon gehelp word om te bekeer van die gebruik van pornografie (sien 32.8). Lidmaatskapsrade word normaalweg nie gehou nie. ʼn Raad kan egter nodig wees vir die intensiewe en kompulsiewe gebruik van pornografie wat beduidende skade aan ʼn lid se huwelik of familie veroorsaak het (sien 38.6.5). ʼn Raad word vereis indien ʼn lid pornografiese beelde van kinders maak, deel, besit of herhaaldelik daarna kyk (sien 38.6.6).

38.6.18

Seksuele Mishandeling, Verkragting en Ander Vorms van Seksuele Aanranding

Die Kerk veroordeel seksuele mishandeling. Soos hier gebruik, word seksuele mishandeling gedefinieer as die pleeg van enige ongewenste seksuele aktiwiteit teenoor ʼn ander persoon. Seksuele aktiwiteit met ʼn persoon wat nie wettige toestemming gee of nie kan gee nie, word as seksuele mishandeling beskou. Seksuele mishandeling kan ook voorkom met ʼn huweliksmaat of in ʼn verhouding. Vir inligting oor seksuele misbruik van ʼn kind of jeugdige, sien 38.6.2.3.

Seksuele mishandeling dek ʼn wye verskeidenheid aksies van teistering tot verkragting en ander vorme van seksuele aanranding. Dit kan fisies, verbaal en op ander maniere voorkom. Vir leiding oor berading van lede wat seksuele mishandeling, verkragting of ander vorme van seksuele aanranding ervaar het, sien 38.6.18.2.

As lede vermoed of bewus word van seksuele mishandeling, tree hulle op om slagoffers en ander so gou as moontlik te beskerm. Dit sluit in rapportering aan burgerlike owerhede en om die aandag van die biskop of penpresident daarop te vestig. As ʼn kind mishandel is, moet lede die instruksies in 38.6.2 volg.

38.6.18.3

Lidmaatskapsrade

ʼn Lidmaatskapsraad kan nodig wees vir ʼn persoon wat iemand seksueel aangerand of mishandel het. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn lid verkragting gepleeg het of skuldig bevind word aan ʼn ander vorm van seksuele aanranding (sien 32.6.1.1).

ʼn Raad moet ook gehou word vir seksuele aktiwiteit met ʼn kwesbare volwassene. Soos hier gebruik, is ʼn kwesbare volwassene ʼn persoon wat, as gevolg van fisiese of geestelike beperkings, óf nie tot die aktiwiteit kan instem óf nie die aard daarvan kan verstaan nie.

Om ander vorme van seksuele mishandeling aan te spreek, soek leiers die Gees se leiding oor of persoonlike berading of ʼn lidmaatskapsraad die mees gepaste optrede is (sien 32.6.2.2 en 32.8). In ernstige gevalle is ʼn raad nodig. Leiers kan met hulle direkte priesterskapsleier beraadslaag oor die opsie.

Indien lidmaatskapbeperkings voortspruit uit ʼn lidmaatskapsraad wat vir ʼn oortreder van seksuele mishandeling gehou word, word dit op daardie persoon se lidmaatskapsrekord aangeteken.

Vir inligting oor berading in gevalle van mishandeling, sien 38.6.2.2. Vir inligting oor berading aan slagoffers van seksuele aanranding, sien 38.6.18.2.

38.6.23

Transgender-individue

Transgender-individue staar komplekse uitdagings in die gesig. Lede en nie-lede wat identifiseer as transgender—en hul familie en vriende—moet met sensitiwiteit, vriendelikheid, deernis en ʼn oorvloed van Christelike liefde behandel word. Almal is welkom om nagmaaldienste, ander Sondagvergaderings en sosiale geleenthede van die Kerk by te woon (sien 38.1.1).

Geslag is ʼn noodsaaklike kenmerk van Hemelse Vader se plan van geluk. Die beoogde betekenis van geslag in die familieproklamasie is biologiese geslag by geboorte. Sommige mense ervaar gevoelens van ongemak tussen hul biologiese geslag en hul geslagsidentiteit. As gevolg hiervan kan hulle as transgender identifiseer. Die Kerk neem nie ʼn standpunt in oor die oorsake van mense wat hulself as transgender identifiseer nie.

Die meeste Kerkdeelname en sommige priesterskapsordinansies is geslagsneutraal. Transgender-persone kan gedoop en bevestig word soos uiteengesit in 38.2.3.14. Hulle kan ook die nagmaal gebruik en priesterskapseëninge ontvang. Priesterskapordinering en tempelordinansies word egter ontvang ooreenkomstig biologiese geslag by geboorte.

Kerkleiers raai vrywillige mediese of chirurgiese ingryping met die doel om na die teenoorgestelde geslag van ʼn persoon se biologiese geslag by geboorte oor te skakel, af (“geslagshertoewysing”). Leiers beveel aan dat hierdie aksies rede vir Kerklidmaatskapbeperkings sal wees.

Leiers adviseer ook teen sosiale oorgang. ʼn Sosiale oorgang sluit in die verandering van kleredrag of versorging, of die verandering van ʼn naam of voornaamwoorde, om jouself voor te stel as anders as sy of haar biologiese geslag by geboorte. Leiers beveel aan dat diegene wat sosiaal oorgaan, sommige Kerklidmaatskapsbeperkings vir die duur van hierdie oorgang sal ervaar.

Beperkings sluit in die ontvangs of uitoefening van die priesterskap, ontvangs of gebruik van ʼn tempelaanbeveling, en die ontvangs van sommige Kerkroepinge. Alhoewel sommige voorregte van Kerklidmaatskap beperk word, word ander Kerkdeelname verwelkom.

Transgender-individue wat nie mediese, chirurgiese of sosiale oorgang na die teenoorgestelde geslag najaag nie en waardig is, kan Kerkroepings, tempelaanbevelings en tempelordinansies ontvang.

Sommige kinders, jeug en volwassenes word hormoonterapie voorgeskryf deur ʼn professionele medikus om geslagsdisforie te vergemaklik of selfmoordgedagtes te verminder. Voordat ʼn persoon met sulke terapie begin, is dit belangrik dat hy of sy (en die ouers van ʼn minderjarige) die potensiële risiko’s en voordele verstaan. As hierdie lidmate nie probeer om oor te skakel na die teenoorgestelde geslag nie en waardig is, kan hulle Kerkroepinge, tempelaanbevelings en tempelordinansies ontvang.

As ʼn lid besluit om sy of haar voorkeurnaam of aanspreekvoornaamwoorde te verander, kan die naamvoorkeur in die voorkeurnaamveld op die lidmaatskaprekord genoteer word. Die persoon kan op die voorkeurnaam in die wyk aangespreek word.

Omstandighede wissel grootliks van eenheid tot eenheid en persoon tot persoon. Lede en leiers beraadslaag biddend saam en met die Here. Areapresidensies sal plaaslike leiers help om individuele situasies sensitief aan te spreek. Biskoppe beraadslaag met die penpresident. Penpresidente en sendingpresidente moet raad van die Area Presidensie verkry (sien 32.6.3 en 32.6.3.1).

Vir verdere inligting oor die begrip en ondersteuning van transgender-individue, sien “Transgender” op ChurchofJesusChrist.org.

38.8

Administratiewe Beleide

38.8.2

Affiniteitsbedrog

Affiniteitsbedrog vind plaas wanneer ʼn persoon ʼn ander se vertroue uitbuit om hom of haar te bedrieg. Dit kan gebeur wanneer beide mense aan dieselfde groep behoort, soos die Kerk. Dit kan ook gebeur deur ʼn posisie van vriendskap of vertroue te misbruik, soos ʼn Kerkroeping of gesinsverhouding. Affiniteitsbedrog is gewoonlik vir finansiële gewin.

Kerklede moet eerlik wees in hulle handelinge en met integriteit optree. Affiniteitsbedrog is ʼn skandelike verraad van vertroue. Die oortreders kan onderhewig wees aan strafregtelike vervolging. Kerklede wat affiniteitsbedrog pleeg, kan ook onderworpe wees aan lidmaatskapsbeperkings of -onttrekking. Sien 32.6.2.3 en 32.6.1.3 vir leiding oor lidmaatskapsrade vir bedrieglike dade.

Lede mag nie verklaar of impliseer dat hul saketransaksies geborg word deur, onderskryf word deur, of die Kerk of sy leiers verteenwoordig nie.

38.8.24

Kerksregsafdeling vir Kerksake

Wanneer regshulp nodig is vir Kerksake, moet leiers die Kerk se regsadviseur kontak. In die Verenigde State en Kanada, kontak die penpresident die Kerk se Kantoor van die Algemene Raad:

  • 1-800-453-3860, uitbreiding 2-6301

  • 1-801-240-6301

Buite die Verenigde State en Kanada, kontak die penpresident die area se regsadviseur by die areakantoor.

38.8.24.1

Betrokkenheid of Dokumente in Regstappe

Kerkleiers moet hulself nie by siviele of strafregtelike sake vir lidmate in hul eenhede betrek sonder om eers die Kerk se regsadviseur te raadpleeg nie. Dieselfde beleid is van toepassing op praat met of skryf aan prokureurs of hofpersoneel, insluitend per e-pos.

Leiers moet met die Kerk se regsadviseur praat as hulle in hul Kerkhoedanighede:

  • Glo dat hulle in ʼn regsaak moet getuig of kommunikeer.

  • Deur die regsproses vereis word om in ʼn regsaak te getuig of te kommunikeer.

  • Beveel word om bewyse te lewer.

  • Gevra word om dokumente of inligting vrywillig te verskaf.

  • Gevra word om met prokureurs of burgerlike owerhede te kommunikeer oor regstappe, insluitend vonnisoplegging of paroolverhore.

Hoe goed ook al bedoel, Kerkleiers wat inligting in regsake deel, kan verkeerd vertolk word en skadelik wees. Die deel daarvan kan veral skadelik wees vir slagoffers en hulle gesinne. Om die Kerk se beleid te volg, help ook om te keer dat die Kerk onvanpas by regsake betrek word.

38.8.24.2

Getuienis in Regsake

Kerkleiers mag nie namens die Kerk getuig in enige regsake sonder vooraf goedkeuring van die Kantoor van die Algemene Raad nie. Hierdie beleid is ook van toepassing op vonnisoplegging en paroolverhore. Kerkleiers mag nie verbale of skriftelike bewyse in hul leierskapskapasiteit sonder hierdie goedkeuring verskaf nie.

Leiers moet nie voorstel of impliseer dat hul getuienis in regstappe die Kerk se posisie verteenwoordig nie.

Leiers moet nie die getuienis van ʼn getuie in enige regstappe beïnvloed nie.

Kontakinligting vir die Kerk se regsadviseur word verskaf in 38.8.24.