Ordinansies en Proklamasies
Herstellingsproklamasie


Die Herstelling van die Volheid van die Evangelie van Jesus Christus

’n Tweehonderdjarige Proklamasie aan die Wêreld

Hierdie proklamasie is deur President Russell M. Nelson gelees as deel van sy boodskap by die 190ste Jaarlikse Algemene Konferensie, 5 April 2020, in Salt Lake City, Utah.

Ons verklaar plegtig dat God sy kinders in elke nasie van die wêreld liefhet. God die Vader het ons die goddelike geboorte, die onvergelyklike lewe, en die oneindige soenoffer van sy Geliefde Seun, Jesus Christus, gegee. Deur die mag van die Vader, het Jesus weer opgestaan en die dood oorwin. Hy is ons Saligmaker, ons Voorbeeld, en ons Verlosser.

Tweehonderd jaar gelede, op ’n pragtige lente-oggend in 1820, het Joseph Smith na die woud naby sy huis in noordelike New York, VSA, gegaan om te bid om te weet by watter kerk hy moes aansluit. Hy het vrae gehad aangaande die heil van sy siel en het vertrou dat God hom sou lei.

Ons verklaar in nederigheid dat God die Vader en sy Seun, Jesus Christus, in antwoord op sy gebed aan Joseph verskyn het en die “wederoprigting van alle dinge” (Handelinge 3:21) ingelui het soos in die Bybel voorspel is. Hy het in hierdie visioen geleer dat Christus se Nuwe Testamentiese Kerk na die dood van die oorspronklike Apostels ophou bestaan het op die aarde. Joseph sou instrumenteel wees in die terugkeer daarvan.

Ons bevestig dat onder die leiding van die Vader en die Seun, hemelse boodskappers gekom het om Joseph te onderrig en die Kerk van Jesus Christus te hervestig. Die herrese Johannes die Doper het die gesag om te doop deur onderdompeling vir die vergifnis van sondes herstel. Drie van die oorspronklike twaalf Apostels—Petrus, Jakobus en Johannes—het die apostelskap en sleutels van priesterskapsgesag herstel. Andere het ook gekom, insluitend Elía, wat die gesag om families vir ewig in ewige verhoudings te bind wat die dood transendeer.

Ons getuig verder dat Joseph Smith die gawe en mag van God gegee is om ’n antieke kroniek: die Boek van Mormon—Nog ’n Testament van Jesus Christus, te vertaal. ’n Deel van hierdie heilige teks sluit in ’n verslag van die persoonlike bediening van Jesus Christus onder die mense in die Westelike Halfrond kort ná sy Opstanding. Dit leer omtrent die doel van die lewe en verduidelik die leer van Christus, wat sentraal tot dié doel is. As ’n meegaande skriftuur tot die Bybel, getuig die Boek van Mormon dat alle mense seuns en dogters is van ’n liefdevolle Hemelse Vader, dat Hy ’n goddelike plan vir ons lewens het, en dat sy Seun, Jesus Christus, vandag spreek net soos in die dae van ouds.

Ons verklaar dat die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, georganiseer op 6 April 1830, Christus se herstelde Kerk van die Nuwe Testament is. Hierdie Kerk is geanker in die volmaakte lewe van sy hoof hoeksteen, Jesus Christus, en in sy oneindige Versoening en letterlike Opstanding. Jesus Christus het weer eens Apostels geroep en hulle priesterskapsgesag gegee. Hy nooi ons almal om na Hom en sy Kerk te kom, om die Heilige Gees, en die ordinansies van heil te ontvang, en om ewigdurende vreugde te ontvang.

Tweehonderd jaar het nou verbygegaan sedert hierdie Herstelling deur God die Vader en sy Geliefde Seun, Jesus Christus, begin is. Miljoene dwarsoor die wêreld het ’n kennis van hierdie voorspelde gebeure aangeneem.

Ons verklaar met vreugde dat die beloofde Herstelling voortgaan deur voortdurende openbaring. Die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie, omdat God “alle dinge onder een hoof in Christus [sal] verenig” (Efésiërs 1:10).

Met eerbied en dankbaarheid nooi ons as sy Apostels almal om te weet—soos ons—dat die hemele geopen is. Ons bevestig dat God sy wil vir sy geliefde seuns en dogters bekendmaak. Ons getuig dat diegene wat die boodskap van die Herstelling biddend bestudeer en in geloof optree, geseënd sal wees om hul eie getuienis van die goddelikheid en doel daarvan te ontvang om die wêreld voor te berei vir die beloofde Tweede Koms van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus.

Druk