2023
Dink Selestiaal!
November 2023


Maandelikse Liahona-boodskap, November 2023

Dink Selestiaal!

Jou keuses sal bepaal waar jy in die ewigheid sal lewe, die soort liggaam waarmee jy opgewek sal word, en diegene saam met wie jy vir ewig sal lewe.

My liewe broers en susters, ek is innig dankbaar om vandag met julle te praat. Op my ouderdom bring elke nuwe dag wonderlike sowel as uitdagende verrassings. Ek het drie weke gelede die spiere van my rug beseer. Dus, terwyl ek meer as 100 algemene konferensiepraatjies staande gelewer het, het ek vandag gedink ek sal dit doen terwyl ek sit. Ek bid dat die Gees vandag my woorde in julle harte sal indra.

Ek het onlangs my 99ste verjaardag gevier en sodoende my 100ste lewensjaar begin. Ek word dikwels die geheim gevra hoe om so lank te lewe. ʼn Beter vraag sou wees: “Wat het ek geleer in ʼn lewe van byna ʼn eeu?”

Vandag laat tyd my nie toe om die vraag volledig te beantwoord nie, maar mag ek een van die belangrikste lesse deel wat ek geleer het.

Ek het geleer dat Hemelse Vader se plan vir ons fantasties is, dat wat ons in hierdie lewe doen regtig saak maak en dat die Saligmaker se Versoening ons Vader se plan moontlik maak.1

Terwyl ek geworstel het met die intense pyn wat my onlangse besering veroorsaak het, het ek nog dieper waardering vir Jesus Christus en die onbegryplike gawe van sy Versoening gevoel. Dink daaraan! Die Saligmaker het “pyne en verdrukkinge en versoekinge van elke soort” verduur2 sodat Hy ons kan troos, genees, en red in tye van nood.3 Jesus Christus beskryf sy ervaring in Getsémané en op Gólgota: “Welke lyding My, naamlik God, die grootste van almal, laat bewe het vanweë pyn, en om te bloei van elke porie.”4 My besering het my keer op keer laat nadink oor “die grootheid van die Heilige Een van Israel.”5 Tydens my genesing het die Here sy goddelike krag op vreedsame en onmiskenbare maniere geopenbaar.

Beeld
Part of a worldwide series of photographs taken in connection with General Conference. September 30 - October 1, 2023. Pictures were taken in Peru.

Peru

As gevolg van Jesus Christus se oneindige Versoening, is ons Hemelse Vader se plan ʼn volmaakte plan! ʼn Begrip van God se wonderlike plan haal die misterie uit die lewe en die onsekerheid uit ons toekoms. Dit stel elkeen van ons in staat om te kies hoe ons hier op aarde gaan lewe en waar ons vir ewig sal lewe. Die ongegronde idee dat ons moet “eet, drink en vrolik [wees], want môre sterwe ons; en dit sal wel wees met ons”6 is een van die mees absurde leuens in die heelal.

Hier is die groot nuus van God se plan: die einste dinge wat jou sterflike lewe die beste sal maak wat dit kan wees, is presies dieselfde dinge wat jou lewe tot in alle ewigheid die beste sal maak wat dit kan wees! Om julle vandag te help om te kwalifiseer vir die ryk seëninge wat Hemelse Vader vir julle het, nooi ek julle uit om die praktyk van “selestiale denke” aan te neem!7 Om selestiaal te dink beteken om geestelik gesind te wees. Ons leer van die profeet Jakob van die Boek van Mormon dat “om geestelik gesind te wees is die ewige lewe.”8

Beeld
Part of a worldwide series of photographs taken in connection with General Conference. September 30 - October 1, 2023. Pictures were taken in Utah.

Verenigde State

Sterflikheid is ʼn meesterklas om te leer om die dinge van die grootste ewige belang te kies. Heeltemal te veel mense leef asof hierdie lewe al is wat daar is. Julle keuses vandag sal egter drie dinge bepaal: waar julle tot in alle ewigheid sal lewe, die soort liggaam waarmee julle opgewek sal word, en diegene saam met wie julle vir ewig sal lewe. Dink dus selestiaal.

In my eerste boodskap as President van die Kerk het ek julle aangemoedig om met die einde in gedagte te begin. Dit beteken om die selestiale koninkryk jou ewige doel te maak en dan noukeurig te oorweeg waar elkeen van jou besluite terwyl jy hier op aarde is, jou in die volgende wêreld sal plaas.9

Die Here het duidelik geleer dat slegs mans en vroue wat as man en vrou in die tempel verseël is en wat hulle verbonde onderhou, deur die ewighede saam sal wees. Hy het gesê: “Alle verbonde, kontrakte, verbintenisse, verpligtinge, ede, geloftes, verrigtinge, betrekkinge, verbondenhede, of verwagtinge wat nie gemaak en gesluit en verseël is deur die Heilige Gees van belofte nie, … het ʼn einde wanneer die mens dood is.”10

As ons dus nou onverstandig kies om telestiale wette uit te leef, kies ons om met ʼn telestiale liggaam opgewek te word. Ons kies om nie vir ewig saam met ons families te woon nie.

Dus, my liewe broers en susters, hoe en waar en saam met wie wil julle vir ewig lewe? Julle kan kies.11

Wanneer julle keuses maak, nooi ek julle uit om verby die huidige situasie te kyk—ʼn ewige uitsig te neem. Stel Jesus Christus eerste, want jou ewige lewe is afhanklik van jou geloof in Hom en in sy Versoening.12 Dit hang ook af van jou gehoorsaamheid aan sy wette. Gehoorsaamheid baan die weg vir ʼn vreugdevolle lewe vir jou vandag en ʼn groot, ewige beloning môre.

Wanneer jy met ʼn dilemma gekonfronteer word, dink selestiaal! Wanneer jy deur versoeking getoets word, dink selestiaal! Wanneer die lewe of geliefdes jou in die steek laat, dink selestiaal! Wanneer iemand voortydig sterf, dink selestiaal! Wanneer iemand aan ʼn verwoestende voortdurende siekte ly, dink selestiaal! Wanneer die druk van die lewe deur jou gedagtes maal, dink selestiaal! Wanneer jy herstel van ʼn ongeluk of besering, soos ek nou doen, dink selestiaal!

Terwyl jy daarop fokus om selestiaal te dink, verwag om teenstand te ondervind.13 Dekades gelede het ʼn professionele kollega my gekritiseer omdat ek “te veel tempel” in my gehad het, en meer as een studieleier het my gepenaliseer weens my geloof. Ek is egter oortuig daarvan dat selestiale denke my loopbaan verbeter het.

Wanneer jy selestiaal dink, sal jou hart geleidelik verander. Jy sal meer gereeld en meer opreg wil bid. Moet asseblief nie toelaat dat jou gebede soos ʼn inkopielys klink nie. Die Here se perspektief oortref jou sterflike wysheid. Sy reaksie op jou gebede mag jou verras en sal jou help om selestiaal te dink.

Dink aan die Here se reaksie op Joseph Smith toe hy om verligting gepleit het in die Liberty-tronk. Die Here het die Profeet geleer dat sy onmenslike behandeling hom ervaring sou gee en vir sy beswil sou wees.14 “Indien jy dit goed verduur,” het die Here belowe, “sal God jou omhoog verhef.”15 Die Here het Joseph geleer om selestiaal te dink en ʼn ewige beloning voor te stel eerder as om op die folterende probleme van die dag te fokus. Ons gebede kan—en behoort—aktiewe gesprekke met ons Hemelse Vader te wees.

Wanneer jy selestiaal dink, sal jy vind dat jy enigiets vermy wat jou van jou handelingsmag beroof. Enige verslawing—of dit nou video- of aanlynspeletjies, dobbel, skuld, dwelms, alkohol, woede, pornografie, seks of selfs kos is—beledig God. Hoekom? Omdat jou obsessie jou god word. Jy kyk eerder daarna as na Hom vir vertroosting. As jy sukkel met ʼn verslawing, soek die geestelike en professionele hulp wat jy nodig het. Moet asseblief nie toelaat dat ʼn obsessie jou beroof van jou vryheid om God se wonderlike plan te volg nie.

Deur selestiaal te dink, sal jou ook help om die wet van kuisheid te gehoorsaam. Min dinge sal jou lewe vinniger bemoeilik as om hierdie goddelike wet te oortree. Vir diegene wat verbonde met God gesluit het, is onsedelikheid een van die vinnigste maniere om jou getuienis te verloor.

Baie van die teëstander se mees meedoënlose versoekings behels oortredings van morele reinheid. Die mag om lewe te skep is die een voorreg van goddelikheid wat Hemelse Vader sy sterflike kinders toelaat om uit te oefen. God het dus duidelike riglyne gestel vir die gebruik van hierdie lewende, goddelike mag. Fisieke intimiteit is slegs vir ʼn man en ʼn vrou wat met mekaar getroud is.

Baie van die wêreld glo dit nie, maar die openbare mening is nie die arbiter van die waarheid nie. Die Here het verklaar dat geen onkuise mens die hemelse koninkryk sal bereik nie. Wanneer jy dus besluite neem oor moraliteit, dink asseblief selestiaal. En as jy onkuis was, pleit ek by jou om jou te bekeer. Kom na Christus en ontvang sy belofte van volkome vergifnis wanneer jy ten volle van jou sondes bekeer.16

Beeld
Three young children sit together and watch a session of conference together. Part of a worldwide series of photographs taken in connection with General Conference. September 30 - October 1, 2023. Pictures were taken in Denmark.

Denemarke

Wanneer jy selestiaal dink, sal jy beproewings en teëstand in ʼn nuwe lig beskou. Wanneer iemand vir wie jy lief is die waarheid aanval, dink selestiaal en moenie jou getuienis bevraagteken nie. Die Apostel Paulus het geprofeteer dat “in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang.”17

Daar is geen einde aan die teëstander se misleidings nie. Wees asseblief voorbereid. Moet nooit raad neem van diegene wat nie glo nie. Soek leiding by stemme wat jy kan vertrou—van profete, sieners en openbaarders en van die influisteringe van die Heilige Gees, “wat alle dinge aan julle [sal] toon wat julle moet doen.”18 Doen asseblief die geestelike werk om jou vermoë om persoonlike openbaring te ontvang, te verhoog.19

As jy selestiaal dink, sal jou geloof vermeerder. Toe ek ʼn jong intern was, was my inkomste $15 per maand. Een aand het my vrou Dantzel gevra of ek tiendes op daardie karige toelae betaal. Ek het nie. Ek het vinnig bekeer en die bykomende $1.50 in maandelikse tiendes begin betaal.

Was die Kerk enigsins anders omdat ons ons tiendes vermeerder het? Natuurlik nie. Deur ʼn volle tiendebetaler te word, het my egter verander. Dit is tóé dat ek geleer het dat die betaling van tiendes alles oor geloof gaan, nie geld nie. Toe ek ʼn volle tiendebetaler geword het, het die vensters van die hemel vir my begin oopgaan. Ek skryf verskeie daaropvolgende professionele geleenthede toe aan ons getroue betaling van tiendes.20

Om tiendes te betaal vereis geloof, en dit bou ook geloof in God en sy Geliefde Seun.

Die keuse om ʼn deugsame lewe in ʼn geseksualiseerde, verpolitiseerde wêreld te lei, bou geloof.

Om meer tyd in die tempel deur te bring, bou geloof. En jou diens en aanbidding in die tempel sal jou help om selestiaal te dink. Die tempel is ʼn plek van openbaring. Daar word jy gewys hoe jy na ʼn selestiale lewe kan vorder. Daar word jy nader aan die Saligmaker getrek en groter toegang tot sy krag gegee. Daar word jy gelei om die probleme in jou lewe op te los, selfs jou mees verwarrende probleme.

Die ordinansies en verbonde van die tempel is van ewige betekenis. Ons gaan voort om meer tempels te bou om hierdie heilige moontlikhede in elkeen van julle lewens ʼn werklikheid te maak. Ons is dankbaar om ons planne aan te kondig om ʼn tempel op elk van die volgende 20 plekke te bou:

  • Savai’i, Samoa

  • Cancún, Mexiko

  • Piura, Peru

  • Huancayo, Peru

  • Viña del Mar, Chili

  • Goiânia, Brasilië

  • João Pessoa, Brasilië

  • Calabar, Nigerië

  • Cape Coast, Ghana

  • Luanda, Angola

  • Mbuji-Mayi, Demokratiese Republiek van die Kongo

  • Laoag, Filippyne

  • Osaka, Japan

  • Kahului, Maui, Hawaii

  • Fairbanks, Alaska

  • Vancouver, Washington

  • Colorado Springs, Colorado

  • Tulsa, Oklahoma

  • Roanoke, Virginië

  • Ulaanbaatar, Mongolië

Die Here lei ons om hierdie tempels te bou om ons te help om selestiaal te dink. God lewe. Jesus is die Christus. Sy Kerk is herstel om al God se kinders te seën. Ek getuig so in die heilige naam van Jesus Christus, amen.

Notas

  1. Sien Johannes 6:38.

  2. Alma 7:11.

  3. Sien Alma 7:12.

  4. Leer en Verbonde 19:18.

  5. 2 Nefi 9:40.

  6. 2 Nefi 28:7.

  7. Dit kan makliker wees om ons hier te bekeer en geestelik te vorder, terwyl ons gees met ons liggaam verenig is, as in die volgende wêreld tussen die tyd dat ons sterf en opgewek word. Soos Amulek die afvallige Zoramiete geleer het: “Hierdie lewe is die tyd … om voor te berei om God te ontmoet” (sien Alma 34:32–35).

  8. 2 Nefi 9:39.

  9. Sien Mosia 4:30, waar Koning Benjamin sy volk vermaan: “As julle nie op julself let nie, en julle gedagtes, en julle woorde, en julle dade, en die gebooie van God onderhou nie, en volhard in die geloof nie … , moet julle vergaan.”

  10. Leer en Verbonde 132:7; beklemtoning bygevoeg.

  11. Natuurlik kan jou handelingsmag nie die handelingsmag van ʼn ander en die gepaardgaande gevolge ignoreer nie. Ek was desperaat om aan my ouers verseël te word. Ek moes egter wag totdat hulle gekies het om hulle begiftiging te ontvang toe hulle meer as 80 jaar oud was. Toe is hulle verseël as man en vrou, en ons kinders is aan hulle verseël.

  12. Die skrifture getuig herhaaldelik dat die gawe van die ewige lewe slegs moontlik is deur die verdienste, barmhartigheid en genade van die Saligmaker Jesus Christus (sien byvoorbeeld Moroni 7:41; sien ook 2 Nefi 2:6–8, 27).

  13. Sien 2 Nefi 2:11.

  14. Sien Leer en Verbonde 122:7.

  15. Leer en Verbonde 121:8.

  16. Sien Jesaja 1:16–18; Leer en Verbonde 58:42–43.

  17. 1 Timótheüs 4:1. Die volgende vers gaan voort: “deur die geveinstheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (vers 2). Paulus het ook verklaar dat almal wat “godvrugtig wil lewe in Jesus Christus, vervolg sal word” (2 Timótheüs 3:12).

  18. 2 Nefi 32:5; klem bygevoeg. As ons sal vra, sal ons “openbaring op openbaring ontvang, kennis op kennis” (Leer en Verbonde 42:61).

  19. Sien Russell M. Nelson, “Revelation for the Church, Revelation for Our Lives,” Liahona, Mei 2018, 96.

  20. Dit beteken nie ʼn oorsaak-en-gevolg-verhouding nie. Sommige wat nooit tiendes betaal nie, kry professionele geleenthede, terwyl sommige wat tiendes betaal, dit nie kry nie. Die belofte is dat die vensters van die hemel geopen sal word vir die tiendebetaler. Die aard van die seëninge sal wissel.

Druk