2021
Een Seun Red ʼn Dorpie
April 2021


“Een Seun Red ʼn Dorpie,” Vir die Krag van die Jeug, Apr. 2021, 10–11.

Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, April 2021

Een Seun Red ʼn Dorpie

Tom Fanene was maar net 12 jaar oud, maar toe ʼn verwoestende siekte sy Samoaanse dorpie tref, is hy gevra om groot dinge te doen.

Beeld
Samoaanse eiland met seun wat siek dorpenaar help

Illustrasie deur James Madsen; foto van Getty Images

Soos wat hierdie jaar se jeugtema sê, julle “lê die fondament vir ʼn groot werk” (Leer en Verbonde 64:33). Dwarsdeur die Kerk se geskiedenis het jongmense dikwels op kritieke tye ʼn noodsaaklike rol in die opbou van God se koninkryk gespeel. Hier is een voorbeeld.

Eilandepidemie

Meer as 100 jaar gelede, op die Samoa-eilande in die Stille Oseaan, was ʼn jong man met die naam Tom Fanene van groot hulp tydens ʼn lewe-en-dood-situasie vir lede van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae.

Tom het in ʼn dorpie met die naam Sauniatu gebly, wat deur die Heiliges van die Laaste Dae in die area gestig is as ʼn plek vir hulle om bymekaar te kom en ʼn gemeenskap te vorm. Net soos die Heiliges van God in ander tye en plekke, het hulle beproewings sowel as wonderwerke beleef terwyl hulle saamgewerk het om God se koninkryk op te bou. Een beproewing het in1918 plaasgevind toe ʼn grieppandemie die dorpie getref het.

So gou as wat die siekte die eiland bereik het, was dit verwoestend en het dit vinnig versprei. Byna elkeen van die ongeveer 400 inwoners was as gevolg daarvan bedlêend. Slegs ʼn paar van hulle was gesond genoeg om rond te beweeg: ʼn ouer man en die12-jarige Tom.

Geloof en Harde Werk

Tom se familie het al vantevore geloof beoefen toe iemand siek was en het wonderwerke as gevolg daarvan gesien. Tom se jonger broer Ailama was ʼn paar jaar tevore siek. Hulle pa, Elisala, het ʼn droom gehad waarin hy spesifieke instruksies gekry het oor hoe om Ailama te versorg: vind ʼn wili-wili-boom, verwyder van die bas en stamp die sap uit. Elisala het dit gedoen en die sap vir Ailama gebring, wat dit gedrink het en gou herstel het. Tom het dus gesien hoe om op te tree in geloof en hoe dit kan help om siekte te oorkom.

Gedurende die griepepidemie van 1918, het Tom geloof beoefen terwyl hy hard gewerk het om vir die inwoners van die dorpie te sorg. “Ek het elke oggend van huis tot huis gegaan om die mense kos te gee en skoon te maak en om uit te vind wie gesterf het,” het hy gesê.

Hy het emmers water van ʼn fontein gaan haal en water na elke huis gebring. Hy het klapperbome geklim, kokosneute gepluk, hulle afgeskilfer en oopgemaak om die sap bymekaar te maak om dit na die siek mense te bring. Hy het ook al die hoenders in die dorpie geslag om sop vir elke familie te maak.

Maak ʼn Verskil

Gedurende hierdie pandemie het ongeveer ʼn kwart van al die mense in Samoa aan griep gesterf. Van die mense in Tom se dorpie het ook gesterf. Tom het gehelp om grafte te grawe en meer as 20 van die mense van die dorpie te begrawe, waaronder sy eie pa, Elisala.

Maar danksy Tom se harde werk en liefdevolle sorg, het baie mense in sy dorpie oorleef. Hy het ʼn groot verskil gemaak aan daardie mense en aan die opbou van die Here se koninkryk in Samoa. Hy het “die fondament gelê van ʼn groot werk”.

En op jou eie manier doen jy dit ook.

Miskien word jy nie gevra om die soort dinge te doen wat Tom gedoen het nie, maar jy beoefen in werklikheid jou geloof op verskillende maniere wat ʼn groot verskil vir jou, vir ander mense en vir die bou van God se koninkryk sal maak.

Jy stel ʼn voorbeeld vir jou familie, vriende en ander deur deugsaamheid, geduld, vriendelikheid en liefde te betoon. Jy dien ander. Jy neem deel aan skriftuurstudie en gebed. Jy deel die waarhede van die herstelde evangelie van Jesus Christus.

Gedurende die afgelope jaar het baie van julle selfs hierdie dinge gedoen terwyl julle die effek van ʼn pandemie verduur het. Dalk het julle nie water en kokosneute gaan haal en 400 mense versorg tot hulle weer gesond was nie, maar julle het op baie ander maniere vir mense troos, hoop, vreugde en vrede gebring.

Jou ouderdom is minder belangrik as jou geloof en jou bereidwilligheid om te werk en ander te dien. Voorbeelde uit die verlede, soos dié van Tom Fanene, kan jou help om te sien dat jy nodig is om die fondament te lê vir God se groot werk.

Druk