2022
Oorwin die Wêreld en Vind Rus
November 2022


Maandelikse Liahona-boodskap, November 2022

Oorwin die Wêreld en Vind Rus

Vind rus van die intensiteit, onsekerheid en smart van hierdie wêreld deur die wêreld te oorwin deur julle verbonde met God.

My liewe broers en susters, ek is dankbaar om julle op hierdie heerlike Sabbatoggend te groet. Julle is voortdurend in my gedagtes. Ek verwonder my oor die manier waarop julle oorgaan tot aksie wanneer julle ander in nood sien. Ek staan verstom oor die geloof en getuienis wat julle keer op keer demonstreer. Ek ween oor julle hartseer, teleurstellings en bekommernisse. Ek is lief vir julle. Ek verseker julle dat ons Hemelse Vader en sy Geliefde Seun, Jesus Christus, lief is vir julle. Hulle is deeglik bewus van julle omstandighede, jul goedheid, jul behoeftes en jul gebede om hulp. Ek bid weer en weer dat julle Hul liefde vir julle sal voel.

Dit is noodsaaklik om hul liefde te ervaar, want dit lyk asof ons daagliks aan ontstellende nuus blootgestel word. Julle het dalk dae gehad wat julle gewens het julle kon jul slaapklere aantrek, in ʼn bal kon opkrul en iemand vra om jul wakker te maak wanneer die onrus verby is.

Maar, my liewe broers en susters, so baie wonderlike dinge lê voor. In die komende dae sal ons die grootste manifestasies van die Saligmaker se krag sien wat die wêreld nog ooit gesien het. Tussen nou en die tyd wanneer Hy “met mag en groot heerlikheid” terugkeer,1 sal Hy ontelbare voorregte, seëninge en wonderwerke aan die gelowiges skenk.

Nietemin, ons leef huidiglik in wat sekerlik ʼn mees gekompliseerde tyd in die geskiedenis van die wêreld is. Die ingewikkeldhede en uitdagings laat baie mense oorweldig en uitgeput voel. Oorweeg egter ʼn onlangse ervaring wat lig kan werp op hoe julle en ek rus kan vind.

Gedurende die onlangse ope-huis van die Washington D.C.-tempel het ʼn lid van die ope-huiskomitee ʼn insiggewende gesprek opgemerk terwyl hy verskeie prominente joernaliste deur die tempel begelei het. Op een of ander manier het ʼn jong gesin by hierdie mediatoer aangesluit. Een verslaggewer het aanhou uitvra oor die “reis” van ʼn tempelganger soos hy of sy deur die tempel beweeg. Hy wou weet of die tempelreis simbolies is van die uitdagings in ʼn persoon se reis deur die lewe.

ʼn Jong seun in die familie het die gesprek gehoor. Toe die toergroep ʼn begiftigingskamer binnegaan, het die seun na die altaar gewys waar mense kniel om verbonde met God te sluit, en gesê: “O, dit is wonderlik. Hier is ʼn plek vir mense om te rus op hul tempelreis.”

Ek twyfel of die seun geweet het hoe diep sy waarneming was. Hy het waarskynlik geen idee gehad van die direkte verband tussen die sluit van ʼn verbond met God in die tempel en die Saligmaker se verstommende belofte nie:

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

“Neem my juk op julle en leer van My, … en julle sal rus vind vir julle siele;

“Want my juk is sag en my las is lig.”2

Beeld
skare by algemene konferensie

Liewe broers en sisters, ek treur oor diegene wat die Kerk verlaat omdat hulle voel lidmaatskap vereis te veel van hulle. Hulle het nog nie ontdek dat die sluit en onderhouding van verbonde die lewe eintlik makliker maak nie! Elke persoon wat verbonde sluit in doopvonte en in tempels—en dit onderhou—het verhoogde toegang tot die krag van Jesus Christus. Bepeins asseblief daardie verstommende waarheid!

Die beloning vir die onderhouding van verbonde met God is hemelse krag—krag wat ons versterk om ons beproewings, versoekings en hartseer beter te weerstaan. Hierdie krag vergemaklik ons pad. Diegene wat die hoër wette van Jesus Christus lewe, het toegang tot sy hoër krag. Verbondshouers is dus geregtig op ʼn spesiale soort rus wat na hulle kom deur hul verbondsverhouding met God.

Voordat die Saligmaker Homself aan die lyding van Getsémané en Golgota onderwerp het, het Hy aan sy Apostels verklaar: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”3 Jesus het daarna met elkeen van ons gepleit om dieselfde te doen toe Hy gesê het: “Ek wil dat julle die wêreld sal oorwin.”4

Liewe broers en susters, my boodskap aan julle is vandag, omdat Jesus Christus hierdie gevalle wêreld oorwin het en omdat Hy vir elkeen van ons versoening gedoen het, kan julle ook hierdie sondeversadigde, selfgesentreerde en dikwels uitputtende wêreld oorwin.

Omdat die Saligmaker, deur sy oneindige Versoening, elkeen van ons verlos het van swakheid, foute en sonde, en omdat Hy elke pyn, bekommernis en las ervaar het wat julle nog ooit gehad het,5 dan as julle waarlik bekeer en sy hulp soek, kan jul uitstyg bo hierdie huidige onseker wêreld.

Julle kan die geestelik en emosioneel uitputtende plae van die wêreld oorwin, insluitend arrogansie, trots, woede, sedeloosheid, haat, hebsug, jaloesie en vrees. Ten spyte van die afleidings en verdraaiings om ons, kan julle ware rus vind—wat verligting en vrede beteken—selfs te midde van jul mees kwellende probleme.

Hierdie belangrike waarheid bring drie fundamentele vrae na vore:

Eerstens, wat beteken dit om die wêreld te oorwin?

Tweedens, hoe doen ons dit?

En derdens, hoe seën die oorwinning van die wêreld ons lewens?

Wat beteken dit om die wêreld te oorwin? Dit beteken om die versoeking te oorwin om meer om te gee vir die dinge van hierdie wêreld as die dinge van God. Dit beteken om die leer van Christus meer te vertrou as die filosofieë van mense. Dit beteken om julle in die waarheid te verlustig, misleiding te veroordeel en “nederige volgelinge van Christus” te word.6 Dit beteken om te kies om julle te weerhou van enigiets wat die Gees verdryf. Dit beteken om gewillig te wees om selfs ons gunsteling sondes “weg te gee.”7

Om die wêreld te oorwin beteken sekerlik nie om volmaak te word in hierdie lewe nie, en dit beteken ook nie dat julle probleme wonderbaarlik sal verdwyn nie—want dit sal nie. En dit beteken nie dat julle nie steeds foute sal maak nie. Maar om die wêreld te oorwin beteken wel dat julle sonde beter sal kan weerstaan. Julle harte sal versag namate jul geloof in Jesus Christus toeneem.8 Om die wêreld te oorwin beteken om te groei om God en sy Geliefde Seun meer lief te hê as wat julle enigiemand of enigiets anders liefhet.

Hoe oorwin ons dan die wêreld? Koning Benjamin het ons geleer hoe. Hy het gesê: “die natuurlike mens is ʼn vyand van God” en sal dit vir ewig wees “tensy hy toegee aan die verlokkinge van die Heilige Gees, en die natuurlike mens aflê en ʼn heilige word deur die versoening van Christus die Here.”9 Elke keer as julle die aansporings van die Gees soek en volg, elke keer as julle iets goeds doen—dinge wat “die natuurlike mens” nie sal doen nie—oorwin julle die wêreld.

Om die wêreld te oorwin is nie ʼn gebeurtenis wat in ʼn dag of twee plaasvind nie. Dit gebeur oor ʼn leeftyd soos ons herhaaldelik die leer van Christus omhels. Ons kweek geloof in Jesus Christus deur daagliks te bekeer en verbonde te onderhou wat ons met krag begiftig. Ons bly op die verbondspad en word geseën met geestelike krag, persoonlike openbaring, toenemende geloof en die bediening van engele. Om die leer van Christus uit te leef kan die kragtigste deugsame kringloop voortbring, wat geestelike momentum in ons lewens skep.10

Wanneer ons daarna streef om die hoër wette van Jesus Christus te lewe, begin ons harte en ons wesenlike geaardhede verander. Die Saligmaker verhef ons bo die aantrekkingskrag van hierdie gevalle wêreld deur ons te seën met groter naasteliefde, nederigheid, vrygewigheid, vriendelikheid, selfdissipline, vrede en rus.

Nou, julle mag dalk dink dat dit meer na moeilike geestelike werk as rus klink. Maar hier is die groot waarheid: terwyl die wêreld daarop aandring dat mag, besittings, gewildheid en vleeslike plesier geluk bring, bring dit nie! Dit kan nie! Wat dit wél voortbring, is niks behalwe ʼn leë plaasvervanger vir “die geseënde en gelukkige toestand van diegene wat die gebooie van God onderhou.”11

Die waarheid is dat dit baie meer uitputtend is om geluk te soek waar julle dit nooit kan vind nie! Wanneer julle jul egter aan Jesus Christus verbind en die geestelike werk doen wat vereis word om die wêreld te oorwin, het Hy, en Hy alleen, wel die krag om julle bó die aantrekkingskrag van hierdie wêreld te lig.

Nou, hoe seën die oorwinning van die wêreld ons lewens? Die antwoord is duidelik: die aangaan van ʼn verbondsverhouding met God bind ons aan Hom op ʼn manier wat alles omtrent die lewe makliker maak. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: ek het nie gesê dat die sluit van verbonde die lewe maklik maak nie. Trouens, verwag opposisie, want die teenstander wil nie hê dat julle die krag van Jesus Christus ontdek nie. Maar om julle met die Saligmaker te verbind, beteken dat julle toegang het tot sy sterkte en verlossende krag.

Beeld
President Ezra Taft Benson

Ek bevestig weer ʼn diepgaande leerstelling van President Ezra Taft Benson: “Mans en vroue wat hul lewens aan God oorgee, sal ontdek dat Hy baie meer uit hul lewens kan maak as wat hulle kan. Hy sal hul vreugdes verdiep, hul visie verbreed, hul verstand verlig, … hulle help om gelukkiger te voel, hul seëninge vermenigvuldig, hul geleenthede vermeerder, hul siele vertroos, vriende voorsien en vrede uitstort.”12

Hierdie onvergelyklike voorregte volg diegene wat die ondersteuning van die hemel soek om hulle te help om hierdie wêreld te oorwin. Daarom gee ek aan lede van die hele Kerk dieselfde opdrag wat ek verlede Mei aan ons jong volwassenes gegee het. Ek het hulle toe aangespoor—en ek pleit nou by julle—om beheer te neem van jul eie getuienis van Jesus Christus en sy evangelie. Werk daarvoor. Voed dit sodat dit sal groei. Voed dit die waarheid. Moenie dit besoedel met valse filosofieë van ongelowige mans en vroue nie. Wanneer julle die voortdurende versterking van jul getuienis van Jesus Christus jul hoogste prioriteit maak, wees op die uitkyk vir wonderwerke wat in julle lewe gebeur.13

Beeld
President Nelson by die kansel by algemene konferensie

My pleidooi aan julle vanoggend is om rus te vind van die intensiteit, onsekerheid en angs van hierdie wêreld deur die wêreld te oorwin deur jul verbonde met God. Laat Hom deur julle gebede en jul optrede weet dat julle ernstig is om die wêreld te oorwin. Vra Hom om julle verstand te verlig en die hulp te stuur wat julle nodig het. Teken elke dag die gedagtes aan wat by julle opkom terwyl julle bid en volg dit dan pligsgetrou op. Spandeer meer tyd in die tempel, en probeer om te verstaan hoe die tempel julle leer om bó hierdie gevalle wêreld uit te styg.14

Soos ek voorheen gesê het, is die versameling van Israel die belangrikste werk wat vandag op die aarde plaasvind. Een kritieke element van hierdie versameling is om ʼn volk voor te berei wat in staat is, gereed en waardig is om die Here te ontvang wanneer Hy weer kom, ʼn volk wat Jesus Christus alreeds bó hierdie gevalle wêreld gekies het, ʼn volk wat hul verheug in hul handelingsmag om die hoër, heiliger wette van Jesus Christus te lewe.

Beeld
moeder en dogter kyk na portrette van Presidente van die Kerk in die Konferensiesentrum

Ek doen ʼn beroep op julle my liewe broers en susters om hierdie regverdige volk te word. Koester en eer julle verbonde bo alle ander verpligtinge. As julle God in jul lewe laat heers, belowe ek julle groter vrede, vertroue, vreugde en ja, rus.

Met die krag van die heilige apostelskap wat in my gesetel is, seën ek julle in jul strewe om hierdie wêreld te oorwin. Ek seën julle om jul geloof in Jesus Christus te vermeerder en beter te leer hoe om van sy krag te put. Ek seën julle om waarheid van dwaling te kan onderskei. Ek seën julle om meer om te gee vir die dinge van God as die dinge van hierdie wêreld. Ek seën julle om die behoeftes van diegene rondom julle raak te sien en diegene wat julle liefhet te versterk. Omdat Jesus Christus hierdie wêreld oorwin het, kan julle ook. Ek getuig so in die heilige naam van Jesus Christus, amen.

Notas

  1. Joseph Smith—Matthéüs 1:36: “Dan sal die teken van die Seun van die Mens verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde weeklaag; en hulle sal die Seun van die Mens sien neerdaal in die wolke van die hemel, met mag en groot heerlikheid.”

  2. Matthéüs 11:28–30; beklemtoning bygevoeg.

  3. Johannes 16:33; beklemtoning bygevoeg.

  4. Leer en Verbonde 64:2; beklemtoning bygevoeg.

  5. Sien Alma 7:11–13.

  6. 2 Nefi 28:14.

  7. Sien die verslag van Koning Lamoni se vader in Alma 22, veral Alma 22:18.

  8. Sien Mosia 5:7.

  9. Mosia 3:19; beklemtoning bygevoeg.

  10. Sien 2 Nefi 31; 3 Nefi 27:16–20.

  11. Mosia 2:41.

  12. Teachings of Presidents of the Church: Ezra Taft Benson (2014), 42–43.

  13. Sien Russell M. Nelson, “Choices for Eternity” (worldwide devotional for young adults, May 15, 2022), broadcasts.ChurchofJesusChrist.org.

  14. President David O. McKay het gesê dat ons in die tempel “tree-vir-tree klim na die Ewige Teenwoordigheid” (in Truman G. Madsen, The Temple: Where Heaven Meets Earth [2008], 11).

Druk