Vir die Krag van die Jeug
Verheug Jou in die Gawe van Priesterskapsleutels
Mei 2024


Maandelikse Liahona-boodskap, Mei 2024

Verheug Jou in die Gawe van Priesterskapsleutels

Priesterskapsleutels bestuur hoe die priesterskap van God gebruik kan word om die Here se doeleindes te bewerkstellig en almal te seën wat die herstelde evangelie aanneem.

My liewe broers en susters, vandag is ʼn historiese dag vir President Dallin H. Oaks en my. Dit was 40 jaar gelede, op 7 April 1984, toe ons onderskraag is tot die Kworum van die Twaalf Apostels. Ons het ons sedertdien in elke algemene konferensie verheug, insluitend hierdie een. Ons is weereens geseën met ʼn heilige uitstorting van die Gees. Ek hoop dat julle deur die komende maande die boodskappe van hierdie konferensie herhaaldelik sal bestudeer.

Beeld
Part of a worldwide series of photographs taken in connection with General Conference. April 6 - 7, 2024. Pictures were taken in England.

Verenigde Koninkryk

Toe ek gebore is, was daar ses funksionerende tempels in die Kerk—een elk in St. George, Logan, Manti en Salt Lake City, Utah; asook in Cardston, Alberta, Kanada; en Laie, Hawaii. Twee tempels het vroeër vir ʼn kort tydjie in Kirtland, Ohio en Nauvoo, Illinois gefunksioneer. Soos die groep lede van die Kerk weswaarts beweeg het, was die Heiliges gedwing om daardie twee tempels agter te laat.

Die Nauvoo-tempel is deur ʼn brand wat deur ʼn brandstigter gestig is, vernietig. Dit is herbou en toe deur President Gordon B. Hinckley toegewy. Die Kirtland-tempel is ontheilig deur vyande van die Kerk. Die Kirtland-tempel is later deur die Community of Christ verkry wat dit vir baie jare besit het.

Verlede maand het ons aangekondig dat Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae die Kirtland-tempel gekoop het, tesame met belangrike historiese terreine in Nauvoo. Ons het groot waardering vir die hartlike en wedersydse voordelige gesprekke wat ons met die leiers van die Community of Christ gehad het wat tot hierdie ooreenkoms gelei het.

Beeld
Kirtland-tempel.

Die Kirtland-tempel

Die Kirtland-tempel het buitengewone betekenis in die Herstelling van die evangelie van Jesus Christus. Verskeie gebeurtenisse wat daar plaasgevind het, is vir millennia voorspel en was noodsaaklik vir die Here se herstelde Kerk om sy laaste-dae-sending te vervul.

Die belangrikste van hierdie gebeure het op Paassondag, 3 April 1836 plaasgevind. Op daardie dag het Joseph Smith en Oliver Cowdery ʼn reeks merkwaardige besoeke beleef. Eerstens het die Here Jesus Christus verskyn. Die Profeet het opgeteken dat die Here se “oë was soos ʼn vuurvlam; die hare van sy hoof was wit soos suiwere sneeu; sy gelaat het geblink bó die helderheid van die son; en sy stem was soos die klank van ruisende groot waters.”

Tydens hierdie besoek het die Here sy identiteit bevestig. Hy het gesê: “Ek is die eerste en die laaste; Ek is Hy wat leef, Ek is Hy wat gedood was; Ek is julle Voorspraak by die Vader.”

Jesus Christus het toe verklaar dat Hy die tempel as sy huis aanvaar het en het hierdie verstommende belofte gemaak: “Ek sal myself aan my volk openbaar in barmhartigheid in hierdie huis.”

Hierdie betekenisvolle belofte geld vandag vir elke toegewyde tempel. Ek nooi julle uit om te bepeins wat die Here se belofte vir julle persoonlik beteken.

Ná die Verlosser se besoek, het Moses verskyn. Moses het aan Joseph Smith die sleutels vir die versameling van Israel en die terugkeer van die tien stamme toegeken.

Nadat hierdie visioen geëindig het, “Het Elías verskyn, en die tydvak van die evangelie van Abraham oorgedra” aan Joseph.

Toe het Elía, die profeet verskyn. Sy verskyning het Maleági se belofte vervul dat voor die Tweede Koms, die Here Elía sou stuur om “die hart van die vaders terug [te] bring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders.” Elía het die sleutels van die verseëlingsmag aan Joseph Smith toegeken.

Beeld

Tempelplein

Die betekenis dat hierdie sleutels deur drie hemelse boodskappers onder leiding van die Here na die aarde teruggegee word, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Priesterskapsleutels vorm die gesag en mag van die presidensie. Priesterskapsleutels beheer hoe die priesterskap van God gebruik kan word om die Here se doeleindes te bewerkstellig en almal te seën wat die herstelde evangelie van Jesus Christus aanneem.

Dit is belangrik om daarop te let dat vóór die organisasie van die Kerk, hemelse boodskappers die Aäroniese en Melgisédekse Priesterskappe aan die Profeet Joseph toegeken het en aan hom sleutels van beide priesterskappe gegee het. Hierdie sleutels het aan Joseph Smith gesag gegee om die Kerk in 1830 te organiseer.

Toe in die Kirtland-tempel in 1836, was die toekenning van hierdie drie priesterskapsleutels—naamlik sleutels van die versameling van Israel, sleutels van die evangelie van Abraham en sleutels van die verseëlingsgesag—belangrik. Hierdie sleutels het Joseph Smith gemagtig—en alle opvolgende Presidente van die Here se Kerk—om Israel aan beide kante van die voorhangsel te versamel, om alle verbondskinders met die seëninge van Abraham te seën, om ʼn bekragtigingseël op priesterskapsordinansies en verbonde te plaas en om families vir ewig te verseël. Die krag van hierdie priesterskapsleutels is oneindig en asembenemend.

Dink hoe anders julle lewe sou wees as priesterskapsleutels nie op die aarde herstel is nie. Sonder priesterskapsleutels sou julle nie met die krag van God begiftig kon word nie. Sonder priesterskapsleutels sou die Kerk slegs as ʼn betekenisvolle onderrig- en humanitêre organisasie kon dien, maar nie veel meer nie. Sonder priesterskapsleutels sou niemand van ons toegang hê tot noodsaaklike ordinansies en verbonde wat ons vir ewig aan ons geliefdes verbind en ons uiteindelik toelaat om saam met God te lewe nie.

Priesterskapsleutels onderskei Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae van enige ander organisasie op aarde. Baie ander organisasies kan én maak die lewe beter hier in die sterflikheid. Maar geen ander organisasie kan en sal jou lewe na die dood beïnvloed nie.

Priesterskapsleutels gee ons die gesag om al die seëninge wat aan Abraham belowe is, uit te reik na elke man en vrou wat sy of haar verbonde onderhou. Tempelwerk maak hierdie wonderlike seëninge beskikbaar vir al God se kinders, ongeag waar of wanneer hulle gelewe het of nou lewe. Laat ons ons verheug dat priesterskapsleutels weereens op die aarde is!

Beeld
Part of a worldwide series of photographs taken in connection with General Conference. April 6 - 7, 2024. Pictures were taken in Kenya .

Kenia

Ek nooi julle uit om die volgende drie stellings noukeurig te oorweeg:

  1. Die versameling van Israel is ʼn bewys dat God al sy kinders oral liefhet.

  2. Die evangelie van Abraham is ʼn verdere bewys dat God al sy kinders oral liefhet. Hy nooi almal uit om na Hom te kom—“swart en wit, slaaf en vryman, man en vrou; … almal is gelyk voor God.”

  3. Die verseëlingskrag is goddelike bewys van hoe God al sy kinders oral liefhet en wil hê dat elkeen van hulle moet kies om na Hom terug te keer huis toe.

Priesterskapsleutels wat deur die Profeet Joseph Smith herstel is, maak dit vir elke man en vrou wat hulle verbonde onderhou moontlik om ongelooflike persoonlike geestelike voorregte te geniet. Hier weer is daar baie wat ons van die heilige geskiedenis van die Kirtland-tempel kan leer.

Joseph Smith se toewydingsgebed van die Kirtland-tempel is ʼn les oor hoe die tempel vir jou en my geestelik bemagtig om die uitdagings van die lewe in hierdie laaste dae die hoof te bied. Ek moedig julle aan om daardie gebed te bestudeer, opgeteken in Leer en Verbonde afdeling 109. Daardie toewydingsgebed, wat deur openbaring ontvang is, leer dat die tempel “ʼn huis van gebed, ʼn huis van vas, ʼn huis van geloof, ʼn huis van geleerdheid, ʼn huis van heerlikheid, ʼn huis van orde, ʼn huis van God” is.

Hierdie lys kenmerke is veel meer as ʼn beskrywing van ʼn tempel. Dit is ʼn belofte oor wat sal gebeur met diegene wat in die huis van die Here dien en aanbid. Hulle kan verwag om antwoorde op gebed, persoonlike openbaring, groter geloof, sterkte, vertroosting, groter kennis en groter krag te ontvang.

Tyd in die tempel sal julle help om selestiaal te dink en ʼn visie te kry van wie julle werklik is, wat julle kan word, en die soort lewe wat julle vir ewig kan hê. Gereelde tempelaanbidding sal die manier waarop julle julself sien en hoe julle by God se wonderlike plan inpas, verhoog. Ek belowe julle dit.

Ons word ook belowe dat ons in die tempel “ʼn volheid van die Heilige Gees [mag] ontvang.” Stel julle voor wat daardie belofte beteken in terme van om die hemele oop te hê vir elke opregte soeker na die ewige waarheid.

Ons is instruksie gegee dat almal wat in die tempel aanbid die mag van God sal hê en engele “opdrag oor hulle.” Hoeveel verhoog dit julle selfvertroue om te weet dat jy as begiftigde vrou of man, bewapen met die krag van God, nie die lewe alleen hoef te trotseer nie? Watter moed gee dit jou om te weet dat engele jou werklik sal help?

Ten slotte, ons word belowe dat “geen sameswering van boosheid” sal seëvier oor diegene wat in die huis van die Here aanbid nie.

Beeld
Part of a worldwide series of photographs taken in connection with General Conference. April 6 - 7, 2024. Pictures were taken in Ecuador.

Ecuador

Dit is noodsaaklik vir elkeen van ons vandag om die geestelike voorregte wat in die tempel moontlik gemaak word, te verstaan.

My liewe broers en susters, hier is my belofte. Niks sal jou meer help om aan die ysterstaaf vas te hou as om so gereeld in die tempel te aanbid as wat jou omstandighede dit toelaat nie. Niks sal jou meer beskerm wanneer jy die wêreld se miswolke van duisternis teëkom nie. Niks sal jou getuienis van die Here Jesus Christus en sy Versoening versterk of jou help om God se grootse plan meer te verstaan nie. Niks sal jou gees meer troos gedurende tye van pyn nie. Niks sal die hemele meer oopmaak nie. Niks!

Die tempel is die poort na die grootste seëninge wat God vir elkeen van ons in die vooruitsig het, want die tempel is die enigste plek op aarde waar ons ál die seëninge wat aan Abraham belowe is, kan ontvang. Dit is waarom ons alles in ons vermoë doen, onder die leiding van die Here, om die tempelseëninge vir alle lede van die Kerk meer toeganklik te maak. Ons is daarom bly om aan te kondig dat ons beplan om ʼn nuwe tempel in elk van die volgende 15 plekke te bou:

  • Uturoa, Frans-Polinisië

  • Chihuahua, Mexiko

  • Florianópolis, Brasilië

  • Rosario, Argentinië

  • Edinburg, Skotland

  • Brisbane, Australië-suid-area

  • Victoria, Brits-Columbië

  • Yuma, Arizona

  • Houston, Texas suid-area

  • Des Moines, Iowa

  • Cincinnati, Ohio

  • Honolulu, Hawaii

  • West Jordan, Utah

  • Lehi, Utah

  • Maracaibo, Venezuela

My dierbare broers en susters, Ek getuig dat dit Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae is. Hy staan aan die hoof van die Kerk. Ons is sy dissipels.

Laat ons ons verheug in die herstelling van die priesterskapsleutels, wat dit vir jou en my moontlik maak om elke geestelike seëning wat ons gewillig is en waardig is, te ontvang. Ek getuig so in die heilige Naam van Jesus Christus, amen.

Druk