2018
Die Korrekte Naam van die Kerk
November 2018


Die Korrekte Naam van die Kerk

Jesus Christus het ons beveel om die Kerk in sy Naam te noem want dit is sy Kerk, gevul met sy krag.

My geliefde broers en susters, op hierdie pragtige Sabbatdag verbly ons ons saam oor ons baie seëninge van die Here. Ons is baie dankbaar vir julle getuienisse oor die herstelde evangelie van Jesus Christus, vir die opofferings wat julle gemaak het om op sy verbondspad te bly of daarna terug te keer, en vir julle toegewyde diens in sy Kerk.

Ek voel vandag verplig om ʼn baie belangrike saak met julle te bespreek. ʼn Paar weke gelede het ek ʼn verklaring uitgereik aangaande ʼn koersregstelling vir die naam van die Kerk.1 Ek het dit gedoen omdat die Here die belangrikheid van die naam waarop Hy besluit het vir sy Kerk op my gedagtes ʼn indruk gemaak het, naamlik Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae.2

Soos julle sou verwag, was daar gemengde reaksies op hierdie verklaring en die hersiene stylgids.3 Baie lede het onmiddellik die naam van die Kerk op hulle blogs en sosiale media bladsye verander. Ander het gewonder hoekom, met alles wat in die wêreld aangaan, was dit nodig om iets so “onbenullig” te beklemtoon. En sommiges het gesê dit kan nie gedoen word nie, hoekom moet ons dan probeer? Laat ek verduidelik hoekom ons so diep omgee oor hierdie saak. Maar laat ek eers sê wat hierdie poging nie is nie:

  • Dit is nie ʼn naamsverandering nie.

  • Dit is nie “rebranding” nie.

  • Dit is nie kosmeties nie.

  • Dit is nie ʼn gier nie.

  • En dit is nie onbenullig nie.

Inteendeel, dit is ʼn korreksie. Dit is die bevel van die Here. Joseph Smith het nie die naam van die Kerk gegee wat deur hom herstel is nie; en ook nie Mormon nie. Dit was die Saligmaker wat gesê het: “Want so sal my kerk genoem word in die laaste dae, naamlik Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae.”4

Selfs vroeër in 34 n.C. het ons herrese Here ʼn soortgelyke opdrag aan lede van sy Kerk gegee toe Hy hulle in die Amerikas besoek het. Toe het Hy gesê:

“Julle sal die kerk na my Naam noem. …

“En hoe kan dit my kerk wees tensy dit na my Naam vernoem is? Want as ’n kerk vernoem word na Moses se naam, dan is dit Moses se kerk; of as dit vernoem word na die naam van ’n man, dan is dit die kerk van ’n man; maar as dit vernoem word na my Naam, dan is dit my kerk.”5

Dus, die naam van die Kerk is nie onderhandelbaar nie. Wanneer die Saligmaker duidelik verklaar wat die naam van sy Kerk moet wees en selfs sy verklaring voorafgaan met: “So sal my kerk genoem word,” is Hy ernstig. En as ons toelaat dat byname gebruik of aanvaar word of selfs daardie byname self onderskryf, voel Hy beledig.

Wat is in ʼn naam, of in hierdie geval, ʼn bynaam? Wanneer dit kom by byname van die Kerk, soos “LDH Kerk,” die “Mormoonse Kerk,” of die “Kerk van die Heiliges van die Laaste Dae,” is die belangrikste ding in daardie name die afwesigheid van die Saligmaker se Naam. Om die Here se Naam van die Here se Kerk te verwyder is ʼn groot oorwinning vir Satan. Wanneer ons die Saligmaker se Naam weglaat, is ons subtiel besig om alles wat Jesus Christus vir ons gedoen het—naamlik sy Versoening, te minag.

Beskou dit van sy perspektief: In die vooraardse bestaan was Hy Jehova, die God van die Ou Testament. Onder die leiding van sy Vader, was Hy die Skepper van hierdie en ander wêrelde.6 Hy het gekies om Homself te onderwerp aan die wil van sy Vader en iets te doen vir al God se kinders wat niemand anders kon doen nie! Neerbuigend om na die aarde te kom as die Eniggeborene van die Vader in die vlees, het hulle wreedaardig teen Hom uitgevaar, bespot, bespoeg en gegésel. In die Tuin van Getsemané het ons Saligmaker elke pyn, elke sonde, en al die angs en lyding wat ooit deur julle en my en elkeen wat ooit geleef het en nog sal lewe, ervaar. Onder die gewig van daardie afgryslike las, het Hy van elke porie gebloei.7 Al hierdie lyding is nog meer intens gemaak toe Hy wreedaardig op Golgóta se kruis gekruisig is.

Deur hierdie afgryslike ervarings en sy daaropvolgende Opstanding—sy oneindige Versoening—het Hy onsterflikheid geskenk aan almal en elkeen van ons losgekoop van die uitwerking van sonde op voorwaarde van ons bekering.

Na die Saligmaker se Opstanding en die dood van sy Apostels, is die wêreld in eeue van duisternis gedompel. Toe, in die jaar 1820, het God die Vader en sy Seun, Jesus Christus, verskyn aan die Profeet Joseph Smith om die Herstelling van die Here se Kerk in te lui.

Na alles wat Hy verduur het—en na alles wat Hy gedoen het vir die mensdom—besef ek met diepe spyt dat ons onwetend aanvaar het dat die Here se herstelde Kerk by ander name genoem word, elkeen waarvan die heilige naam van Jesus Christus uitgewis is!

Elke Sondag wanneer ons waardiglik van die nagmaal gebruik, maak ons weer eens ons heilige belofte aan ons Hemelse Vader dat ons gewillig is om die Naam van sy Seun, Jesus Christus, op ons te neem.8 Ons belowe om Hom te volg, te bekeer, sy gebooie te onderhou, en Hom altyd te onthou.

Wanneer ons sy Naam weglaat van sy Kerk, verwyder ons Hom onnadenkend as die sentrale fokus van ons lewens.

Om die Saligmaker se Naam op ons te neem, sluit in om aan andere te verklaar en te getuig—deur ons aksies en ons woorde—dat Jesus die Christus is. Was ons so bang om aanstoot te gee aan iemand wat ons “Mormone” genoem het, dat ons gefaal het om die Saligmaker te verdedig, om op te staan vir Hom naamlik in die naam waarvolgens sy Kerk genoem word?

As ons as ʼn groep en as individue toegang mag verkry tot die mag van die Versoening van Jesus Christus—om ons te reinig en te genees, om ons te versterk en te vergroot, en uiteindelik om ons te verhef—moet ons Hom duidelik erken as die oorsprong van daardie mag. Ons kan begin deur sy Kerk by die naam te noem wat Hy beveel het.

Vir baie van die wêreld is die Here se Kerk huidiglik weggesteek as die “Mormoonse Kerk.” Maar ons as lede van die Here se Kerk weet wie aan die hoof daarvan staan: Jesus Christus self. Ongelukkig dink baie wat die term Mormoon hoor, dat ons Mormon aanbid. Nie so nie! Ons eer en respekteer daardie groot antieke Amerikaanse profeet.9 Maar ons is nie Mormon se dissipels nie. Ons is die Here se dissipels.

In die vroeë dae van die herstelde Kerk, is terme soos Mormoonse Kerk en Mormone10, dikwels gebruik as skeldname—wrede terme, beledigende terme—bedoel om God se hand in die herstelling van die kerk van Jesus Christus in hierdie laaste dae uit te wis.11

Broers en susters, daar is baie wêreldse argumente teen die herstelling van die korrekte naam van die Kerk. Vanweë die digitale wêreld waarin ons leef en deur die optimalisering van soekenjins wat almal van ons help om inligting wat ons nodig het feitlik oombliklik te vind—insluitende inligting oor die Here se Kerk—sê kritici dat ‘n regstelling op hierdie tydstip onwys is. Andere voel dat aangesien ons so wyd bekend staan as “Mormone” en as die “Mormoonse Kerk”, ons die beste daarvan moet maak.

As hierdie ʼn bespreking was oor die “branding” van ʼn mensgemaakte organisasie, sou daardie argumente dalk oortuig. Maar in hierdie kritieke saak kyk ons na Hom wie se Kerk hierdie is en erken dat die Here se wyse nie, en nooit die mens se wyse, sal wees nie. As ons geduldig sal wees en as ons ons deel goed sal doen, sal die Here ons deur hierdie belangrike taak lei. Ons weet immers dat die Here diegene help wat soek om sy wil te doen, net soos Hy Nefi gehelp het om die taak om die skip te bou om die see oor te steek uit te voer.12

Ons wil beleef en geduldig wees in ons pogings om hierdie foute reg te stel. Verantwoordelike media sal simpatiek wees in hulle reaksie op ons versoek.

In ʼn vorige algemene konferensie het Ouderling Benjamín De Hoyos van so ʼn geval gepraat. Hy het gesê:

“Etlike jare gelede terwyl ek in die kantoor van publieke sake van die Kerk in Mexiko gedien het, is [ek en ʼn metgesel] genooi om deel te neem aan ʼn radio “talk show”. … [Een van die programbestuurders] het [ons] gevra: ‘Hoekom het die Kerk so ʼn lang naam? …’

Ek en my metgesel het geglimlag oor so ʼn skitterende vraag en toe voortgegaan om te verduidelik dat die naam van die Kerk nie deur die mens gekies is nie. Dit is deur die Saligmaker gekies. … Die programbestuurder het dadelik en met respek geantwoord: ‘Ons sal dit dus met groot plesier herhaal.’”13

Daardie verslag voorsien ʼn patroon. Een vir een sal ons beste pogings as individue vereis word om foute wat deur die jare ingesluip het reg te stel.14 Die res van die wêreld mag of mag nie ons leiding volg deur ons op die korrekte naam te noem nie. Maar dit is skynheilig van ons om gefrustreerd te wees as die meeste van die wêreld die Kerk en sy lede op die verkeerde name noem as ons dit self doen.

Ons gewysigde stylgids is van hulp. Dit lui: “In die eerste verwysing word die volle naam van die Kerk verkies: ‘Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste dae.’ Wanneer ʼn verkorte [tweede] verwysing nodig is, word die terme ‘die Kerk’ of die ‘Kerk van Jesus Christus’ aangemoedig. Die ‘herstelde Kerk van Jesus Christus’ is ook akkuraat en word aangemoedig.”15

As iemand sou vra: “Is jy ʼn Mormoon?” kan jy antwoord: “As jy vra of ek ʼn lid van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae is, ja, ek is!”

As iemand vra: “Is jy ʼn Heilige van die Laaste Dae?”16 kan jy antwoord: “Ja, ek is. Ek glo in Jesus Christus en is ʼn lid van sy herstelde Kerk.”

My geliefde broers en susters, ek belowe julle dat as ons ons bes sal doen om die korrekte naam van die Here se Kerk te herstel, sal Hy wie se kerk hierdie is, sy mag en seëninge uitstort op die hoofde van die Heiliges van die Laaste Dae,17 soos ons nog nooit voorheen gesien het nie. Ons sal die kennis en mag van God hê om ons te help om die seëninge van die herstelde evangelie van Jesus Christus na elke nasie, familie, taal en volk te neem om die wêreld voor te berei vir die Tweede Koms van die Here.

Dus, wat is in ʼn naam? Wanneer dit by die naam van die Here se Kerk kom, is die antwoord “Alles!” Jesus Christus het ons beveel om die Kerk in sy Naam te noem want dit is sy Kerk, gevul met sy krag.

Ek weet dat God leef. Jesus is die Christus. Hy lei sy Kerk vandag. Ek getuig so in die heilige naam van Jesus Christus, amen.

Notas

  1. “Die Here het die belangrikheid van die naam wat Hy vir sy Kerk geopenbaar het, naamlik Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, in my siel benadruk. Ons het werk voor ons om onsself in harmonie met sy wil te bring. In die afgelope weke het verskeie Kerkleiers en -departemente die nodige stappe ingestel om dit te doen. Bykomende inligting oor hierdie belangrike saak sal die komende maande beskikbaar gestel word” (Russell M. Nelson, in “The Name of the Church” [amptelike verklaring, 16 Aug. 2018], mormonnewsroom.org).

  2. Voorafgaande Presidente van die Kerk het soortgelyke versoeke gerig. Byvoorbeeld, President George Albert Smith het gesê: “Moenie die Here in die steek laat deur hierdie die Mormoonse Kerk te noem nie. Hy het dit nie die Mormoonse Kerk genoem nie” (in Conference Report, Apr. 1948, 160).

  3. Sien “Style Guide—The Name of the Church,” mormonnewsroom.org.

  4. Leer en Verbonde 115:4.

  5. 3 Nefi 27:7–8.

  6. Sien Moses 1:33.

  7. Sien Leer en Verbonde 19:18.

  8. Sien Moroni 4:3; Leer en Verbonde 20:37, 77.

  9. Mormon was een van die vier hoofskrywers van die Boek van Mormon, die ander was Nefi, Jakob en Moroni. Almal was ooggetuies van die Here, net soos die geïnspireerde vertaler daarvan, die Profeet Joseph Smith.

  10. Selfs die woord Mormoniete was onder die honende terme wat gebruik is (sien History of the Church, 2:62–63, 126).

  11. Ander skeldname is blykbaar in Nuwe Testamentiese Tye gebruik. Gedurende die Apostel Paulus se verhoor voor Felix, is hy “ʼn leier van die sekte van die Nasaréners” (Handelinge 24:5) genoem. Aangaande die gebruik van die frase “van die Nasaréners,” het een kommentator geskryf: “Dit was die naam wat gewoonlik gegee is aan Christene as teken van minagting. Hulle is so genoem omdat Jesus van Nasaret was” (Albert Barnes, Notes, Explanatory and Practical, on the Acts of the Apostles [1937], 313).

    Soortgelyk verklaar ʼn ander kommentaar: “Soos ons Here minagtend ‘Die Nasaréner’ genoem is (Matt. xxvi. 71), het die Jode sy dissipels ‘Nasaréners’ genoem. Hulle wou nie erken dat hulle Christene was nie, naamlik dissipels van die Messias” (The Pulpit Commentary: The Acts of the Apostles, red. H. D. M. Spence en Joseph S. Exell [1884], 2:231).

    In ʼn soortgelyke trant, het Ouderling Neal A. Maxwell opgemerk: “Regdeur die skriftuurlike geskiedenis sien ons herhaalde pogings om die profete te verneder in ʼn poging om hulle te ignoreer—om hulle te etiketteer om hulle te minag. Hulle word egter grootliks geïgnoreer deur hulle tydgenote en deur die sekulêre geskiedenis. Vroeë Christene is immers slegs ‘die sekte van die Nasaréners genoem.’ (Handelinge 24:5.)” (“Out of Obscurity,” Ensign, Nov. 1984, 10).

  12. Sien 1 Nefi 18:1–2.

  13. Benjamín De Hoyos, “Called to Be Saints,” Liahona, Mei 2011, 106.

  14. Alhoewel ons geen beheer het oor wat ander mense ons mag noem nie, is ons ten volle in beheer oor hoe ons na onsself verwys. Hoe kan ons verwag dat andere die korrekte naam van die Kerk eerbiedig indien as ons as sy lede nie so doen nie?

  15. Style Guide—The Name of the Church, ” mormonnewsroom.org.

  16. Die term heilige word dikwels in die Bybel gebruik. In Paulus se Sendbrief aan die Efésiërs, byvoorbeeld, gebruik hy die woord heilige ten minste een maal in elke hoofstuk. ʼn Heilige is ʼn persoon wat in Jesus Christus glo en streef om Hom te volg.

  17. Sien Leer en Verbonde 121:33.