“Verbonde Verbind Ons met God,” Liahona, Februarie 2022
Maandelikse Liahona-boodskap, Februarie 2022
Verbonde Verbind Ons met God
Die sluit en nakoming van verbonde bring seëninge.
ʼn Verbond is ʼn belofte tussen Hemelse Vader en sy kinders. Hy stel die voorwaardes vir die verbonde wat ons met Hom sluit. Wanneer ons doen wat Hy vra, ontvang ons baie seëninge. En ons kry nie net seëninge op aarde nie—wanneer ons verbonde sluit en nakom, sal ons terugkeer om eendag met God en ons families in die hemel te woon.
Verbonde en Ordinansies
Ons sluit verbonde tydens sekere ordinansies. Ons moet daardie ordinansies ontvang en daardie verbonde nakom sodat ons kan terugkeer om met God te woon. Die verbonde word deur priesterskapsgesag uitgevoer. Daardie ordinansies sluit in doop en bevestiging, ontvangs van die Melgisédekse Priesterskap (vir mans), en die ordinansies wat ons in die tempel ontvang. Tydens die nagmaal hernu Kerklede die beloftes wat hulle aan God gemaak het (sien Leer en Verbonde 20:77, 79).
Verbonde Help Ons om Regverdig te Lewe
Wanneer ons gedoop word, belowe ons om Jesus Christus te volg, Hom altyd te onthou, en die gebooie te onderhou (sien Leer en Verbonde 20:37). God belowe dat sy Gees altyd met ons mag wees.
Wanneer mans die priesterskap ontvang, belowe hulle om waardig van God se priesterskapsmag te lewe. God belowe om hulle te seën. (Sien Leer en Verbonde 84:33–40.)
Verbonde Wat Ons in die Tempel Sluit
Wanneer Kerklede hulle begiftiging in die tempel ontvang, belowe hulle om regverdig te lewe en opofferings vir die evangelie te maak. Hulle word krag van God belowe (sien Leer en Verbonde 38:32; 109:22).
Tydens die tempelverseëling trou ʼn man en vrou vir ewig en belowe om getrou te wees aan mekaar en aan God. God belowe dat hulle na Hom kan terugkeer en vir ewig as families lewe. (Sien Leer en Verbonde 132:19–20.)
Ons Is ʼn Verbondsvolk
Diegene wat by die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae aansluit word God se verbondsvolk. Hulle beërwe ook die seёninge en verantwoordelikhede van die Abrahamiese verbond (sien Galásiërs 3:27–29). Om deel te wees van God se verbondsvolk beteken dat ons mekaar help soos ons nader aan Christus kom. Dit beteken ook dat ons werk om God se Kerk op die aarde te versterk. Wanneer ons ons verbonde onderhou, kan ons mag en krag van God ontvang.
© 2022 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Goedkeuring vir vertaling: 6/19. Vertaling van die Monthly Liahona Message, February 2022. Afrikaans. 18313 501