Handleidings en Roepings
4. Leierskap en Rade in die Kerk van Jesus Christus


“4. Leierskap en Rade in die Kerk van Jesus Christus,” Algemene Handleiding: Diens in die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (2021).

“4. Leierskap en Rade in die Kerk van Jesus Christus,” Algemene Handleiding.

Beeld
wyksraadsvergadering

4.

Leierskap en Rade in die Kerk van Jesus Christus

4.0

Inleiding

As ʼn leier in die Kerk, is jy geroep deur inspirasie deur die Here se gevolmagtigde diensknegte. Jy het die voorreg om te help in Hemelse Vader se werk om “die onsterflikheid en die ewige lewe van die mens teweeg te bring” (Moses 1:39). Jy doen dit deur lede aan te moedig om deel te neem aan die werk van heil en verheffing vir hulleself, hul families en andere (sien hoofstuk 1). Jy sal vreugde ervaar wanneer jy God se kinders dien.

Deur Jesus Christus se voorbeeld te volg, sal jy dikwels andere een vir een dien. Jy sal ook geleenthede hê om leierskap in Kerkvergaderings en -aktiwiteite te voorsien. Daarbenewens kan jy belangrike diens deur rade lewer. Dit kan presidensievergaderings, wyksraadsvergaderings en ander insluit. Afdelings 4.3 en 4.4 gee riglyne vir effektiewe rade. Besonderhede oor spesifieke raadsvergaderings word verskaf in hoofstuk 29.

Jou toegewyde diens vereis ʼn opoffering van tyd, maar moenie jou eie behoeftes en die behoeftes van jou familie verwaarloos nie. Soek die leiding van die Heilige Gees om jou te help om prioriteite te handhaaf en te vervul (sien Mosia 4:27).

4.1

Die doel van Leierskap in die Kerk

Leiers moedig lede aan om deel te neem aan God se werk deur “ware volgelinge van … Jesus Christus” te word (Moroni 7:48). Om dit te doen, strewe leiers eerstens om die Saligmaker se getroue dissipels te wees deur sy leringe en voorbeeld te volg (sien Lukas 18:22). Dan kan hulle andere help om nader aan Hemelse Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees te kom. In die proses om ander te help, word hulle self beter dissipels (sien Mosia 18:26; Leer en Verbonde 31:5).

Om ʼn getroue dissipel te wees om ander te help om getroue dissipels te word, is die doel agter elke roeping in die Kerk. Elke roeping sluit geleenthede in om te dien, te lei en ander te versterk.

4.2

Beginsels van Leierskap in die Kerk

Die Saligmaker het die voorbeeld van leierskap vir sy Kerk tydens sy aardse bediening gestel. Sy sentrale doel was om die wil van sy Hemelse Vader te doen en ander te help om sy evangelie te verstaan en uit te leef (sien Johannes 5:30; Mosia 15:7). Hy het diegene wat Hy gelei het, liefgehad en daardie liefde getoon deur hulle te dien (sien Johannes 13:3–5).

Die Saligmaker het die vermoë van andere vergroot deur verantwoordelikheid en geleenthede aan hulle te gee om te groei (sien Matthéüs 10:5–8; Johannes 14:12). Hy het met duidelikheid en liefde aangemoedig en reggehelp (sien Johannes 21:15–17).

Die Here het gesê: “Laat elkeen sy plig leer, en om in die amp waarin hy aangestel is, in alle ywerigheid op te tree” (Leer en Verbonde 107:99). Hierdie woorde is van toepassing op almal wat verantwoordelikheid kry om in die Saligmaker se Kerk te dien en te lei.

Soek die Here se leiding om jou te help om die pligte van jou roeping te leer en te vervul. Wanneer jy die skrifture bestudeer, soek vir leierskapsbeginsels wat die Saligmaker getoon en geleer het. Deur die beginsels in hierdie hoofstuk toe te pas, sal jou ook help om meer doeltreffend in die Saligmaker se Kerk te lei.

4.2.1

Berei Geestelik Voor

Jesus het Homself geestelik voorberei vir sy aardse sending (sien Lukas 4:1–2). Jy berei soortgelyk geestelik voor deur nader aan Hemelse Vader te kom deur gebed, skriftuurstudie en gehoorsaamheid aan sy gebooie. Om sy profete te volg, help jou ook om geestelik voor te berei (sien Leer en Verbonde 21:4–6).

Soek openbaring om te verstaan wat die behoeftes is van diegene wat jy lei en hoe om die werk te vervul wat God jou geroep het om te doen. Deur jou pogings om nader aan die Here te kom, kan jy leiding in jou persoonlike lewe, familie verantwoordelikhede en Kerkroeping ontvang.

Die Here het ook belowe om geestelike gawes te skenk aan diegene wat dit soek (sien Leer en Verbonde 46:8). Wanneer jy Hemelse Vader nederig vra om hierdie gawes te ontvang, sal Hy jou vermoë verhoog om diegene wat jy dien te lei en op te hef.

4.2.2

Dien Al God se Kinders

Jesus het die mense persoonlik gedien en uitgereik om diegene wat alleen, wanhopig of verlore gevoel het, op te hef en te leer. Hy het deur sy woorde en dade die mense gewys dat Hy hulle liefgehad het. Hy het die goddelike aard en ewige waarde van elke persoon herken.

Jy moet die mense wat jy dien, liefhê soos Jesus gedoen het. Bid “met al die energie van jou hart” om met sy liefde gevul te word (Moroni 7:48). Vestig opregte vriendskappe. Reik uit na diegene wat eensaam mag wees, vertroosting nodig het of ander behoeftes het. Jou liefde sal hulle lewens seën en mense help om ʼn begeerte te hê om na Christus te kom.

Help individue om hulle bekering te verdiep en hul geloof in Hemelse Vader en Jesus Christus te versterk. Help hulle om voor te berei om verbonde te sluit wanneer hulle hul volgende ordinansie ontvang. Moedig hulle aan om die verbonde te onderhou wat hulle gemaak het en deel te hê aan die seëninge van bekering. Help hulle om te weet dat hulle kan vorder tot die vervulling van hul goddelike potensiaal, ongeag die uitdagings waarvoor hulle te staan kom.

4.2.3

Onderrig die Evangelie van Jesus Christus

Alle leiers is onderwysers. Streef daarna om die Saligmaker se voorbeeld as ʼn onderwyser te volg (sien hoofstuk 17; Teaching in the Savior’s Way). Onderrig die leer van Jesus Christus en die beginsels van sy evangelie deur jou woorde en dade (sien 3 Nefi 11:32–33; Leer en Verbonde 42:12–14). Effektiewe onderrig inspireer mense om hulle verhouding met God te versterk en die evangelie uit te leef en na die ewige lewe te vorder.

Onderrig volgens die Saligmaker se wyse is meer as om te praat; dit sluit in om te luister en vrae te vra soos Hy gedoen het (sien Matthéüs 16:13–17).

Effektiewe onderwysers is ook ywerige leerders. Maak die studie van God se Woord ʼn hoë prioriteit in jou lewe. Verstaan dat leer ʼn lewenslange proses is. Probeer om by ander te leer, insluitend diegene wat jy onderrig. (Sien Leer en Verbonde 88:122.)

Onderrig uit die skrifture en die woorde van profete van die laaste dae (sien Leer en Verbonde 52:9). Onthou dat “die verkondiging van die woord … ʼn kragtiger uitwerking op die gemoed van die volk [het] as … enigiets anders” (Alma 31:5).

Soek die invloed van die Gees terwyl jy voorberei om te onderrig. Die Heilige Gees dra die waarheid na die harte en verstand van diegene wat jy onderrig (sien 2 Nefi 33:1).

Leer lede om hulleself toe te wy om die evangelie biddend te bestudeer, beide persoonlik en met hulle families.

As jy geroep of toegewys is om te presideer in ʼn Kerkvergadering of aktiwiteit, maak seker dat die onderrig opbouend en leerstellig korrek is (sien Leer en Verbonde 50:21–23).

4.2.4

Presideer in Regverdigheid

Die Here het geopenbaar dat “noodsaaklikerwys is daar presidente, of presiderende amptenare” in sy Kerk (Leer en Verbonde 107:21). Diegene wat priesterskapsleutels hou, presideer in hul verantwoordelikheidsareas, soos ʼn kworum of wyk.

Ander organisasies in die Kerk, insluitend die Verligtingsvereniging, Jongdames, Primêre Organisasie en Sondagskool, word ook deur ʼn presiderende beampte gelei. Hierdie leiers word geroep, afgesonder en gedelegeerde gesag gegee deur iemand wat priesterskapsleutels hou of iemand wat hy gemagtig het (sien 3.4.3).

Elke presiderende amptenaar dien onder die leiding van ʼn persoon wat priesterskapsleutels hou (sien 3.4.1). Hierdie struktuur verskaf orde en duidelike lyne van verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid om die Here se werk te doen.

ʼn Presiderende beampte kan ʼn tydelike delegasie aan ʼn ander persoon gee om te presideer. As ʼn president van die Verligtingsvereniging byvoorbeeld afwesig sal wees van ʼn Verligtingsvereniging se Sondagvergadering, sal sy haar eerste raadgewer toewys om in die vergadering te presideer. As die eerste raadgewer ook afwesig sal wees, sal die president haar tweede raadgewer toewys om te presideer.

ʼn Leier wat in ʼn Kerkorganisasie, vergadering of aktiwiteit presideer, verseker dat die Here se doelwitte bereik word. Deur dit te doen, volg die leier evangeliebeginsels, Kerkbeleide en die leiding van die Heilige Gees.

Diegene wat presideer, volg die voorbeeld van Jesus Christus deur met teerheid, sagmoedigheid en suiwer liefde te dien (sien Johannes 13:13–15). ʼn Roeping of toegewysde taak om te presideer maak nie die persoon wat dit ontvang belangriker of meer gewaardeerd as andere nie (sien Leer en Verbonde 84:109–10).

As jy geroep of aangewys is om te presideer, volg die Saligmaker se lering dat “elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees” (Matthéüs 20:27; sien verse 26–28). Beraadslaag met ander en soek eenheid om die Here se wil te verstaan en sy werk te doen (sien Leer en Verbonde 41:2; sien ook 4.4 in hierdie handleiding).

Dit is nie wys om te strewe om te presideer in enige organisasie in die Here se Kerk nie (sien Leer en Verbonde 121:37). Dien eerder nederig en getrou in die posisie waartoe jy geroep is. Strewe om die Here se werk te volbring met ʼn oog enkel gerig op sy heerlikheid (sien Leer en Verbonde 4:5). Vertrou dat die Here jou geleenthede sal gee om te groei en Hemelse Vader se kinders te seën.

Beeld
wyksvergadering

4.2.5

Delegeer Verantwoordelikheid en Verseker Verantwoordbaarheid

Die Saligmaker het sy dissipels betekenisvolle toewysings en verantwoordelikhede gegee (sien Lukas 10:1). Hy het hulle ook die geleentheid gegee om rekenskap te gee van die werk wat hulle gegee is om te doen (sien Lukas 9:10).

As ʼn leier kan jy ander help om te groei deur toewysings aan hulle te delegeer. Sodoende sal jy hulle ook help om die seëninge te ontvang wat uit bediening kom. Strewe om alle lede in God se werk te betrek.

Delegering sal ook jou diens meer doeltreffend maak. As jy probeer om te veel te doen, sal jy “heeltemal uitgeput raak” (Exodus 18:18). Soek die leiding van die Gees oor wat om te delegeer sodat jy op jou hoogste prioriteite kan fokus.

Delegering is meer as om net ʼn toegewysde taak te gee. Dit sluit ook in om te onderrig en die ander persoon te vertrou om die toegewysde taak te doen. Dit sluit gewoonlik die volgende elemente in:

  • Vergader met die persoon om hom of haar te nooi om die Here in ʼn toewysing te dien. Help die persoon om die toewysing en sy doelstellings te verstaan, insluitend hoe sy of haar diens ander sal seën.

  • Beraadslaag saam oor die toewysing, wie anders betrokke kan wees en wanneer dit voltooi moet wees. Verseker dat die persoon die toegewysde taak verstaan en gewillig is om dit te aanvaar. Spreek jou vertroue uit in sy of haar vermoëns.

  • Moedig die persoon aan om inspirasie te soek oor hoe om die toewysing uit te voer. Toon jou vertroue en help die persoon om suksesvol te wees. Gee leiding en ondersteuning soos nodig.

  • Vra die persoon van tyd tot tyd om oor die toewysing verslag te doen. Aanvaar die persoon se beste pogings en spreek waardering uit vir wat hy of sy gedoen het.

4.2.6

Berei Ander Voor om Leiers en Onderwysers te Wees

Die Saligmaker het sy Apostels voorberei om leiers in sy Kerk te word. Jy sal eweneens ook andere help voorberei om leiers en onderwysers te wees. Die Here se werk fokus daarop om mense te help, nie net om Kerkprogramme te administreer nie. Hierdie programme is nie die einddoel nie. Dit bestaan om mense te help groei.

Wees biddend wanneer jy oorweeg wie in Kerkroepings of toewysings kan dien. Onthou dat die Here diegene sal kwalifiseer wat Hy roep. Die belangrikste is dat hulle gewillig moet wees om te dien, nederig die Here se hulp sal soek en strewe om waardig te wees. Roepings en toegewysde take kan hulle help groei deur geleenthede te bied om hulle geloof te beoefen, hard te werk en te voel dat God hulle pogings vergroot. Gee leiding en hulp aan jeug, nuwe lede en andere wat ekstra ondersteuning mag nodig hê om hulle roepings te vervul.

Somtyds word dieselfde persone herhaaldelik na leierskapsposisies geroep. Dit kan hulle en hul families oorlaai en andere die geleenthede ontneem. Probeer om alle lede geleenthede te gee om te dien en te groei.

Vir meer inligting oor Kerkroepinge, sien hoofstuk 30.

4.2.7

Beplan Vergaderings, Lesse en Aktiwiteite met Duidelike Doelstellings

Soek die Gees se leiding wanneer jy vergaderings, lesse en aktiwiteite beplan wat duidelike doelwitte het. Hierdie doelstellings moet individue en families versterk, hulle nader aan Christus bring en help om God se werk van heil en verheffing te bewerkstellig (sien hoofstukke 1 en 2). Wanneer jy beplan, volg die beginsels in hoofstukke 20 en 29.

Maak langtermyn planne vir jou organisasie. Hou ʼn jaar-kalender. Fokus daarop om lede se geestelike groei aan te moedig.

4.2.8

Evalueer Jou Pogings

Hersien gereeld jou verantwoordelikhede en geestelike groei as ʼn leier. Oorweeg ook die groei van diegene wat jy lei. Eenheids-, priesterskapskworum- en ander organisasieleiers kan die sleutel-aanwysers, die kwartaallikse verslag en ander verslae in Leader and Clerk Resources hersien om te sien waar daar vordering is en waar daar potensiaal vir groei is.

Jou sukses as ʼn leier word hoofsaaklik gemeet aan jou toewyding om God se kinders te help om getroue dissipels van Jesus Christus te word. Omdat alle mense handelingsmag het, mag sommige verkies om die verbondspad te verlaat. Dit mag jou by tye ontmoedig, maar wanneer jy na die Here keer, sal Hy jou ophef en vertroos (sien Alma 26:27). Jy kan weet dat die Here gelukkig is met jou pogings wanneer jy die Gees deur jou voel werk.

4.3

Rade in die Kerk

Hemelse Vader het rade gestig as ʼn belangrike deel van die ontvangs van inspirasie, die neem van besluite en om sy werk te volbring. Rade het bestaan voordat die wêreld geskep is. Elkeen van ons het aan hierdie rade deelgeneem voordat ons na die aarde gekom het. (Sien Leer en Verbonde 121:32; Abraham 3:22–28.)

Volgens hierdie patroon word die Kerk van Jesus Christus op elke vlak deur rade bestuur. Byvoorbeeld, die Raad van die Eerste Presidensie en Kworum van die Twaalf Apostels (sien 5.1.1.1, Areapresidensies (sien 5.2.1), penpresidensies en bisdomme is almal rade. Benewens die pen- en wyksrade, is elke presidensie van ʼn Kerkorganisasie, kworum of klas ook ʼn raad.

Die Here het die leiers van sy Kerk beveel om saam te beraadslaag om sy werk te doen (sien Leer en Verbonde 41:2–3). Rade bied geleenthede vir raadslede om openbaring te ontvang terwyl hulle die behoeftes van God se kinders probeer verstaan en beplan hoe om hulle te help om daaraan te voldoen.

Beeld
twee mans wat praat

4.4

Beginsels van Doeltreffende Rade

Sommige beginsels van doeltreffende rade word in hierdie afdeling uiteengesit. Hierdie beginsels kan leiers in Kerkrade sowel as ouers in hulle familierade help.

4.4.1

Doel van Rade

Die hoofdoel van rade is om lede te help om saam te werk om Goddelike leiding te soek oor sake wat individue en gesinne sal seën (sien Leer en Verbonde 43:8–9). Rade plaas spesiale klem om lede te help om ordinansies te ontvang en die gepaardgaande verbonde te onderhou. Raadslede soek ook inspirasie oor die beplanning en koördinering van die Here se werk binne die areas van hulle verantwoordelikheid.

Sommige administratiewe sake, soos kalenderbeplanning, mag nie bespreking in ʼn raadsopset vereis nie. Baie hiervan kan hanteer word deur kommunikasie voor en ná vergaderings.

Raadslede gee besondere sorg aan individue en gesinne met dringende behoeftes. Rade help om hulp te koördineer. Vir inligting oor sommige van hierdie behoeftes, saam met hulpbronne om te verstaan en te help, sien Life Help in die Evangeliese Biblioteek.

4.4.2

Voorbereiding vir Raadsvergaderings

Daar word van presidensies en rade verwag om gereeld te vergader. Elke presidensie en raad het ʼn leier wat geroep en afgesonder is. Hierdie leiers soek die Here se leiding in die beplanning van raadsvergaderings. Hulle soek ook insette van raadslede om te besluit oor wat om te bespreek.

Leiers laat raadslede vooraf van die sake vir bespreking weet. Raadslede berei voor om insigte oor hierdie sake te deel. Vir wyks- en penrade vind baie van hierdie voorbereiding in presidensievergaderings plaas.

Raadslede berei hulle geestelik voor om aan raadsvergaderings deel te neem. Hulle probeer om ontvanklik te wees vir die influisteringe van die Gees.

4.4.3

Bespreking en Besluite

Die Here het gesê: “Laat een spreek op ’n keer en laat almal luister na sy woorde, sodat wanneer almal gespreek het, dat almal deur almal opgebou kan word, en sodat elkeen ’n gelyke voorreg mag hê” (Leer en Verbonde 88:122). Hierdie beginsel is van toepassing op Kerkrade.

Tydens ʼn raadsvergadering verduidelik die leier (of iemand wat die leier toewys) die saak wat oorweeg word. Die leier moedig dan bespreking onder alle raadslede aan, vra vrae en soek idees.

Die leier moedig lede aan om openlik en eerlik te praat. Die uiteenlopende agtergronde, ouderdomme, ervarings en standpunte van raadslede verryk die raad. Lede deel voorstelle en luister met respek na mekaar. Wanneer hulle soek om die Here se wil te ken, kan ʼn gees van inspirasie en eenheid seëvier.

In ʼn raad wat vroue en mans insluit, soek die leier insigte en idees van albei. Vroue en mans het dikwels verskillende perspektiewe wat die nodige balans bied. Mans en vroue bereik beter besluite en het groter sukses in die Here se diens, aangesien hulle mekaar se bydraes waardeer en saamwerk.

‘n Leier lei die raad se besprekings. Hy of sy moet egter meer luister as praat. Wanneer ʼn raadsleier sy of haar perspektief te vroeg deel, kan dit die bydraes van ander inhibeer. Indien nodig, herlei of herfokus die raadsleier die bespreking liefdevol.

Na die bespreking kan die leier óf besluit oor ʼn aksie óf ʼn besluit uitstel terwyl hy bykomende inligting en leiding soek. Die besluit moet deur die bespreking ingelig word en deur die Gees bevestig word. Die raadsproses help om geïnspireerde besluite te neem wat verder gaan as ʼn leier se eie beste oordeel. Die leier kan ook die saak na ʼn ander raad verwys.

Raadslede kan soms onsekere gevoelens oor ʼn belangrike besluit hê. Wanneer dit gebeur, kan die leier wag vir ʼn ander vergadering om die saak verder te oorweeg en geestelike bevestiging en eenheid te soek. In sommige gevalle wil ʼn raadslid dalk individueel met die leier vergader om sy of haar bekommernisse te bespreek.

4.4.4

Eenheid

Die Here het sy dissipels beveel om “een te wees” (Leer en Verbonde 38:27). Raadslede probeer om een in begeerte en doel met Hemelse Vader en Jesus Christus te word. Hulle streef na eenheid in hulle besprekings en besluite. Hulle probeer ook om “van een hart en een gees” te wees terwyl hulle saamwerk (Moses 7:18).

Raadslede moet twis, onregverdige oordeel en skinderpraatjies vermy (sien 3 Nefi 11:28–30). Wanneer hulle in eenheid optree, sal Hemelse Vader hulle pogings seën.

4.4.5

Aksie en Aanspreeklikheid

Raadslede doen die meeste van hul werk voor en ná raadsvergaderings. Tydens vergaderings soek hulle inspirasie in die ontwikkeling van planne om besluite te implementeer. Die raadsleier nooi lede uit om opdragte met betrekking tot hierdie planne na te kom. Raadslede nooi gewoonlik ander in hulle organisasie om te help. Individue moet nie oorlaai word met toewysings nie.

Raadslede rapporteer oor hulle toewysings. Vordering vereis gewoonlik volgehoue aandag en opvolgopdragte.

4.4.6

Vertroulikheid

Alle persoonlike inligting moet met respek behandel word. Leiers gebruik diskresie wanneer persoonlike inligting met ʼn raad gedeel word. Hulle verkry gewoonlik ʼn lid se toestemming om hierdie inligting te deel.

Die raad respekteer die begeertes van enigeen wat vertroulikheid versoek. Raadslede moet nie persoonlike inligting buite die raad deel nie, tensy dit nodig is om ʼn opdrag van die raadsleier uit te voer.

Sommige sake is te sensitief om voor ʼn hele raad te bring. Soos toepaslik, hersien leiers hierdie sake met individuele lede van die raad. Of hulle kan sekere sake na ʼn ander raad verwys.

Druk