2023
Vredemakers Benodig
Mei 2023


Maandelikse Liahona-boodskap, Mei 2023

Vredemakers Benodig

Jy het handelingsmag om twis of versoening te kies. Ek spoor julle aan om te kies om ʼn vredemaker te wees, nóú en altyd.

My liewe broers en susters, dit is ʼn vreugde om saam met julle te wees. Gedurende die afgelope ses maande was julle voortdurend in my gedagtes en in my gebede. Ek bid dat die Heilige Gees dít sal kommunikeer wat die Here wil hê julle moet hoor terwyl ek nou met julle praat.

Tydens my chirurgiese internskap baie jare gelede het ek ʼn chirurg bygestaan wat ʼn been vol hoogs aansteeklike gangreen geamputeer het. Die operasie was moeilik. Toe, om by die spanning te voeg, het een van die span ʼn taak swak uitgevoer, en die chirurg het in woede uitgebars. In die middel van sy woedebui gooi hy sy skalpel vol kieme. Dit het in my voorarm beland!

Almal in die teater—behalwe die buite-beheer chirurg—was geskok oor hierdie gevaarlike oortreding van chirurgiese praktyk. Gelukkig het ek nie besmet geraak nie. Maar hierdie ervaring het ʼn blywende indruk op my gelaat. In daardie uur het ek myself belowe dat wat ook al in my teater gebeur het, ek nooit beheer oor my emosies sal verloor nie. Ek het ook daardie dag belowe om nooit iets in woede te gooi nie—of dit nou skalpels of woorde is.

Selfs nou, dekades later, wonder ek of die besmette skalpel wat in my arm beland het, enigsins meer toksies was as die giftige twis wat ons gemeenskapsdialoog en te veel persoonlike verhoudings vandag besmet. Dit lyk asof beskaafdheid en ordentlikheid verdwyn het gedurende hierdie era van polarisasie en passievolle meningsverskille.

Vulgariteit, foutvindery en kwaadpraat van ander is ál te algemeen. Té veel kenners, politici, vermaaklikheidskunstenaars en ander beïnvloeders slinger voortdurend beledigings. Ek is baie bekommerd dat soveel mense blykbaar glo dat dit heeltemal aanvaarbaar is om enigiemand wat nie met hulle saamstem nie, te veroordeel, te beswadder en te belaster. Baie lyk gretig om ʼn ander se reputasie te beskadig met patetiese en pittige stekies!

Woede oorreed nooit nie. Vyandigheid bou niemand op nie. Twis lei nooit tot geïnspireerde oplossings nie. Ongelukkig sien ons soms twisgierige gedrag selfs binne ons eie geledere. Ons hoor van diegene wat hul eggenote en kinders verkleineer, van diegene wat woede-uitbarstings gebruik om ander te beheer, en van diegene wat familielede straf met die “stille behandeling.” Ons hoor van jeug en kinders wat boelie en van werknemers wat hul kollegas belaster.

My liewe broers en susters, dit behoort nie te wees nie. As dissipels van Jesus Christus moet ons voorbeelde wees van hoe om met ander om te gaan—veral wanneer ons meningsverskille het. Een van die maklikste maniere om ʼn ware volgeling van Jesus Christus te identifiseer, is hoe deernisvol daardie persoon ander mense behandel.

Beeld
familie wat konferensie kyk

Suid-Afrika

Die Saligmaker het dit duidelik gemaak in sy preke aan volgelinge in beide hemisfere. “Salig is die vredemakers,” het Hy gesê.1 “As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.”2 En dan het Hy natuurlik die vermaning gegee wat elkeen van ons uitdaag: “Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.”3

Voor sy dood het die Saligmaker sy Twaalf Apostels beveel om mekaar lief te hê soos Hy hulle liefgehad het.4 En toe het Hy bygevoeg: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”5

Die Saligmaker se boodskap is duidelik: Sy ware dissipels bou, lig, bemoedig, oorreed en inspireer—maak nie saak hoe moeilik die situasie is nie. Ware dissipels van Jesus Christus is vredemakers.6

Vandag is Palmsondag. Ons berei ons voor om die belangrikste en allesoortreffende gebeurtenis wat ooit op aarde opgeteken is, te herdenk, naamlik die Versoening en Opstanding van die Here Jesus Christus. Een van die beste maniere waarop ons die Saligmaker kan eer, is om ʼn vredemaker te word.7

Die Saligmaker se Versoening het dit vir ons moontlik gemaak om alle boosheid—insluitend twis—te oorwin. Maak geen fout nie: twis is boos! Jesus Christus het verklaar dat diegene wat “die gees van twis” het, nie van Hom is nie, maar “van die duiwel is, wat die vader van twis is, en hy spoor die harte van mense aan om met toorn te veg, die een teen die ander.”8 Diegene wat twis aanmoedig, haal ʼn bladsy uit Satan se boek, of hulle dit besef of nie. “Geen mens kan twee meesters dien nie.”9 Ons kan nie Satan ondersteun met ons verbale aanslae en dan dink dat ons God steeds kan dien nie.

Beeld
pa en seun by Konferensiesentrum

My liewe broers en susters, hoe ons mekaar behandel, maak regtig saak! Hoe ons met en oor ander by die huis, by die kerk, by die werk en aanlyn praat, maak regtig saak. Vandag vra ek ons om op ʼn hoër, heiliger manier met ander om te gaan. Luister asseblief aandagtig. “Indien daar enigiets is wat deugsaam, lieflik, of van goeie berig of prysenswaardig is”10 wat ons oor ʼn ander persoon kan sê—hetsy in sy gesig of agter haar rug—dít moet ons standaard van kommunikasie wees.

As ʼn paartjie in jou wyk skei, of ʼn jong sendeling vroeg terugkeer huis toe, of ʼn tiener twyfel oor sy getuienis, het hulle nie jou oordeel nodig nie. Hulle moet die suiwer liefde van Jesus Christus ervaar wat in jou woorde en dade weerspieël word.

As ʼn vriend op sosiale media sterk politieke of sosiale sienings het wat alles waarin jy glo oortree, sal ʼn kwaai, snydende antwoord van jou nie help nie. Om brûe van begrip te bou, sal baie meer van jou verg, maar dit is presies wat jou vriend nodig het.

Twis verdryf die Gees—elke keer. Twis versterk die vals idee dat konfrontasie die manier is om verskille op te los; maar dit is nooit. Twis is ʼn keuse. Die maak van vrede is ʼn keuse. Jy het handelingsmag om twis of versoening te kies. Ek spoor julle aan om te kies om ʼn vredemaker te wees, nou en altyd.11

Broers en susters, ons kan letterlik die wêreld verander—een persoon en een interaksie op ʼn slag. Hoe? Deur te toon hoe om eerlike meningsverskille met wedersydse respek en waardige dialoog te bestuur.

Verskille van opinie is deel van die lewe. Ek werk elke dag saam met toegewyde dienaars van die Here wat nie altyd ʼn saak op dieselfde manier sien nie. Hulle weet ek wil hul idees en eerlike gevoelens hoor oor alles wat ons bespreek—veral sensitiewe kwessies.

Beeld
President Dallin H. Oaks en President Henry B. Eyring

My twee edele raadgewers, President Dallin H. Oaks en President Henry B. Eyring, is voorbeeldig in die manier waarop hulle hul gevoelens uitdruk—veral as hulle mag verskil. Hulle doen dit met suiwer liefde vir mekaar. Nie een van die twee suggereer dat hy die beste weet en daarom sy posisie streng moet verdedig nie. Nie een van die twee het die behoefte om met die ander mee te ding nie. Omdat elkeen gevul is met naasteliefde, “die suiwere liefde van Christus,”12 kan ons beraadslagings deur die Gees van die Here gelei word. Hoe lief het en eer ek hierdie twee groot manne!

Beeld
Eerste Presidensie tydens konferensie

Naasteliefde is die teenmiddel vir twis. Naasteliefde is die geestelike gawe wat ons help om die natuurlike mens, wat selfsugtig, verdedigend, trots en jaloers is, af te werp. Naasteliefde is die hoofkenmerk van ʼn ware volgeling van Jesus Christus.13 Naasteliefde definieer ʼn vredemaker.

Wanneer ons onsself voor God verootmoedig en met al die energie van ons harte bid, sal God ons naasteliefde skenk.14

Diegene wat met hierdie goddelike gawe geseën is, is lankmoedig en vriendelik. Hulle is nie jaloers op ander nie en is nie vasgevang in hul eie belang nie. Hulle word nie maklik uitgelok nie en dink nie kwaad van ander nie.15

Broers en susters, die suiwer liefde van Christus is die antwoord op die twis wat ons vandag kwel. Naasteliefde dring ons “om mekaar se laste te dra”16 eerder as om laste op mekaar te laai. Die suiwer liefde van Christus laat ons toe om “te staan as getuies van God te alle tye en in alle dinge”17veral in gespanne situasies. Naasteliefde stel ons in staat om te demonstreer hoe mans en vroue van Christus praat en optree—veral wanneer hulle onder skoot is.

Ek praat nou nie van “vrede ten alle koste” nie.18 Ek praat daaroor om ander te behandel op maniere wat ooreenstem met die onderhouding van die verbond wat jy sluit wanneer jy die nagmaal gebruik. Jy sluit ʼn verbond om altyd die Saligmaker te onthou. In situasies wat hoogs gelaai en vol twis is, nooi ek jou uit om Jesus Christus te onthou. Bid om die moed en wysheid te hê om te sê of te doen wat Hy sou doen. Soos ons die Vredevors volg, sal ons sy vredemakers word.

Op hierdie stadium dink jy dalk dat hierdie boodskap regtig iemand sal help wat jy ken. Miskien hoop jy dat dit hom of haar sal help om vriendeliker met jou te wees. Ek hoop dit sal! Maar ek hoop ook dat jy diep in jou hart sal kyk om te sien of daar skerwe van trots of jaloesie is wat jou verhoed om ʼn vredemaker te word.19

As jy ernstig is om Israel te help versamel en om verhoudings te bou wat deur die ewighede sal duur, is dit nou die tyd om bitterheid opsy te sit. Dit is nou die tyd om op te hou aandring dat dit jou manier of geen manier is nie. Dit is nou die tyd om op te hou om dinge te doen wat ander op eiers laat loop uit vrees dat dit jou sal ontstel. Dit is nou die tyd om jou oorlogswapens te begrawe.20 As jou verbale arsenaal gevul is met beledigings en beskuldigings, is dit nou die tyd om dit weg te sit.21 Jy sal opstaan as ʼn geestelike sterk man of vrou van Christus.

Die tempel kan ons help in ons strewe. Daar word ons begiftig met God se krag, wat ons die vermoë gee om Satan, die aanstigter van alle twis, te oorwin.22 Werp hom uit jou verhoudings! Let daarop dat ons ook die teëstander bestraf elke keer as ons ʼn misverstand uit die weg ruim of weier om aanstoot te neem. In plaas daarvan, kan ons die tere barmhartigheid betoon wat kenmerkend is van ware dissipels van Jesus Christus. Vredemakers stuit die teëstander.

Laat ons as volk ʼn ware lig op die berg word—ʼn lig wat “nie verberg [kan] word nie.”23 Kom ons wys dat daar ʼn vreedsame, eerbiedige manier is om komplekse kwessies op te los en ʼn verligte manier om meningsverskille uit te werk. Wanneer jy die liefde demonstreer wat ware volgelinge van Jesus Christus openbaar, sal die Here jou pogings bó jou rykste verbeelding vergroot.

Beeld
meisie wat konferensie kyk

Uruguay

Die evangelienet is die grootste net in die wêreld. God het almal genooi om na Hom te kom, “swart en wit, slaaf en vryman, man en vrou.”24 Daar is plek vir almal. Daar is egter geen ruimte vir vooroordeel, veroordeling of twis van enige aard nie.

My liewe broers en susters, die beste kom nog vir diegene wat hul lewens gee om ander op te bou. Ek nooi julle vandag om jul dissipelskap te ondersoek binne die konteks van die manier waarop julle ander behandel. Ek seën julle om enige aanpassings te maak wat nodig mag wees sodat julle gedrag veredelend, eerbiedig en verteenwoordigend is van ʼn ware volgeling van Jesus Christus.

Ek seën julle om aggressiwiteit met smeking te vervang, vyandigheid met begrip en twis met vrede.

God lewe! Jesus is die Christus. Hy staan aan die hoof van hierdie Kerk. Ons is sy diensknegte. Hy sal ons help om sy vredemakers te word. Ek getuig so in die heilige naam van Jesus Christus, amen.

Druk