Maandelikse Liahona-boodskap, November 2024
Die Here Jesus Christus Sal Weer Kom
Nou is die tyd vir jou en vir my om vir die Tweede Koms van ons Heer en Saligmaker, Jesus Christus voor te berei.
My liewe broers en susters, ek is dankbaar dat die Here my geseën het om met julle te praat.
In hierdie konferensie het die Here deur sy diensknegte met ons gepraat. Ek moedig julle aan om hulle boodskappe te bestudeer. Gebruik hulle as ʼn lakmoestoets van wat waar en nie waar is nie gedurende die volgende ses maande.
Die bewaring en opknapping van die Salt Lake-tempel en ander areas op Tempelplein is al vir byna vyf jaar aan die gang. Huidige projeksies dui daarop dat hierdie werk teen die einde van 2026 voltooi sal wees. Ons is dankbaar vir almal wat aan hierdie massiewe projek werk.
Gedurende die laaste ses maande het ons nege tempels in vyf lande toegewy of hertoegewy. Tussen nou en die einde van die jaar sal ons nog vyf toewy.
Vandag is ons bly om planne aan te kondig om nog 17 tempels te bou. Luister asseblief eerbiedig terwyl ek die plekke aankondig.
-
Juchitán de Zaragoza, Mexiko
-
Santa Ana, El Salvador
-
Medellín, Colombia
-
Santiago, Dominikaanse Republiek
-
Puerto Montt, Chili
-
Dublin, Ierland
-
Milaan, Italië
-
Abuja, Nigerië
-
Kampala, Uganda
-
Maputo, Mosambiek
-
Coeur d’Alene, Idaho
-
Queen Creek, Arizona
-
El Paso, Texas
-
Huntsville, Alabama
-
Milwaukee, Wisconsin
-
Summit, New Jersey
-
Price, Utah
My liewe broers en susters, sien julle wat reg voor ons oë gebeur? Ek bid dat ons nie die grootsheid van hierdie oomblik mis nie! Die Here verhaas inderdaad sy werk.
Waarom bou ons tempels teen so ʼn ongekende pas? Waarom? Want die Here het ons opdrag gegee om dit te doen. Die seëninge van die tempel help om Israel aan beide kante van die voorhangsel te versamel. Hierdie seëninge help ook ʼn volk voorberei wat sal help om die wêreld vir die Tweede Koms van die Here voor te berei!
Soos die profeet Jesaja geprofeteer het, en soos gedenk in Handel se Messiah, wanneer Jesus Christus terugkeer: “[sal] die heerlikheid van die Here … geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien.”
Op daardie dag: “[sal] die heerskappy… wees op sy skouer; en sy Naam sal wees: Wonderbaar, Raadsman, die Sterke God, die Ewige Vader, die Vredevors.”
Jesus Christus sal vanaf beide ou Jerusalem heers asook die Nuwe Jerusalem “gebou op die Amerikaanse kontinent.” Vanuit hierdie twee middelpunte sal Hy die sake van sy Kerk bestuur.
Op daardie dag sal die Here as “Koning van die konings en Here van die here” bekend staan. Diegene wat saam met Hom is sal “geroepe en uitverkore en getrou” wees.
Broers en susters, nou is die tyd vir jou en vir my om vir die Tweede Koms van ons Heer en Saligmaker, Jesus Christus voor te berei. Nou is die tyd om ons dissipelskap ons hoogste prioriteit te maak. Hoe kan ons dit doen in ʼn wêreld wat met allerhande afleidings gevul is?
Gereelde aanbidding in die tempel sal ons help. Ons fokus op Jesus Christus in die huis van die Here. Ons leer van Hom. Ons sluit verbonde om Hom te volg. Ons leer Hom ken. Wanneer ons ons tempelverbonde onderhou, verkry ons groter toegang tot die Here se versterkende krag. In die tempel ontvang ons beskerming teen die teisterings van die wêreld. Ons ervaar in groot oorvloed die suiwere liefde van Jesus Christus en ons Hemelse Vader! Ons voel vrede en geestelike gerusstelling, in teenstelling met die onstuimigheid van die wêreld.
Hier is my belofte aan julle: “Elke opregte soeker van Jesus Christus sal Hom in die tempel vind.” Julle sal sy genade voel. Julle sal antwoorde op jul mees kwellende vrae vind. Julle sal die vreugde van sy evangelie beter begryp.
Ek het geleer dat die belangrikste vraag wat ons elkeen moet beantwoord is dit: “Aan wie of aan wat sal ek my lewe gee?”
My besluit om Jesus Christus te volg is die belangrikste besluit wat ek nog ooit gemaak het. Tydens mediese skool het ek ʼn getuienis verkry van die godheid van God die Vader en sy Seun, Jesus Christus. Sedertdien was ons Saligmaker die rots waarop ek my lewe gebou het. Daardie keuse het die grootste verskil gemaak! Daardie keuse het so baie ander besluite makliker gemaak. Daardie keuse het vir my doel en rigting gegee. Dit het my ook gehelp om die storms van die lewe te trotseer. Laat ek twee voorbeelde deel:
Eerstens, toe my vrou Dantzel onverwags oorlede is, kon ek nie een van ons kinders kontak nie. Daar was ek, alleen, gebroke en het om hulp uitgeroep. Met dankbaarheid, deur sy Gees, het die Here my geleer hoekom my dierbare Dantzel huis toe geneem is. Met daardie begrip was ek getroos. Met verloop van tyd kon ek my droefheid beter hanteer. Later het ek met my geliefde vrou Wendy getrou. Sy was ʼn sentrale deel van my tweede voorbeeld.
Toe ek en Wendy op ʼn opdrag in ʼn verre land was, het gewapende rowers ʼn geweer teen my kop gedruk en die sneller getrek. Maar die geweer het nie afgevuur nie. Gedurende daardie ondervinding was albei van ons lewens bedreig. Tóg het ek en Wendy ʼn onmiskenbare vrede gevoel. Dit was die vrede “wat alle verstand te bowe gaan.”
Broers en susters, die Here sal julle ook vertroos! Hy sal julle versterk. Hy sal julle met vrede seёn, selfs te midde van chaos.
Luister asseblief na hierdie belofte van Jesus Christus aan julle: “Ek sal aan julle regter- en aan julle linkerhand wees, en my Gees sal in julle harte wees, en my engele rondom julle, om julle te versterk.”
Daar is geen beperking op die Saligmaker se vermoë om julle te help nie. Sy onbegryplike lyding in Getsémané en op Gólgota was vir julle! Sy oneindige Versoening is vir julle!
Ek moedig julle aan om elke week tyd toe te wy—vir die res van julle lewe—om jul begrip van die Versoening van Jesus Christus te verhoog. My hart is seer vir diegene wat in sonde vasgevang is en nie weet hoe om daaruit te kom nie. Ek huil oor diegene wat geestelik sukkel of wat swaar laste alleen dra omdat hulle nie verstaan wat Jesus Christus vir hulle gedoen het nie.
Jesus Christus het julle sonde, julle pyn, julle hartseer en julle swakhede op Homself geneem. Julle hoef dit nie alleen te dra nie! Hy sal julle vergewe as julle jul bekeer. Hy sal julle seёn met wat julle nodig het. Hy sal julle gewonde siele genees. As julle julself aan Hom juk, sal julle laste ligter voel. As julle verbonde sal sluit en onderhou om Jesus Christus te volg, sal julle vind dat die pynlike oomblikke van jul lewe tydelik is. Julle beproewings sal “verswelg [word] in die vreugde van Christus.”
Dit is nie te vroeg of te laat om ʼn toegewyde dissipel van Jesus Christus te word nie. Dan sal julle die seëninge van sy Versoening ten volle ervaar. Julle sal ook meer doeltreffend wees om te help met die versameling van Israel.
My liewe broers en susters, in die toekoms sal Jesus Christus na die aarde terugkeer as die duisendjarige Messias. Daarom doen ek vandag ʼn beroep op julle om julle lewens weer toe te wy aan Jesus Christus. Ek doen ʼn beroep op julle om verstrooide Israel te help versamel en om die wêreld voor te berei vir die Tweede Koms van die Here. Ek doen ʼn beroep op julle om te spreek van Christus, te getuig van Christus, om geloof in Christus te hê en om julle te verbly in Christus!
Kom na Christus en “offer julle ganse [siele]” aan Hom. Dít is die geheim tot ʼn lewe van vreugde!
Die beste kom nog, my liewe broers en susters, want die Saligmaker kom weer! Die beste kom nog omdat die Here sy werk verhaas. Die beste kom nog as ons ons harte en ons lewens ten volle tot Jesus Christus keer.
Ek lewer my plegtige getuienis dat Jesus Christus die Seun van God is. Ek is sy dissipel. Ek is geëerd om sy dienskneg te wees. “Die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien” met sy Tweede Koms. Daardie dag sal met vreugde vir die regverdiges gevul wees!
Deur die mag van die heilige priesterskapsleutels wat ek hou, verklaar ek hierdie waarheid aan julle en aan die ganse wêreld! In die Naam van Jesus Christus, amen.
© 2024 by Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, November 2024. Afrikaans. 19349 501