2021
Die Priesterskap is God se Mag
Augustus 2021


“Die Priesterskap is God se Mag,” Liahona, Augustus 2021

Maandelikse Liahona-boodskap, Augustus 2021

Die Priesterskap is God se Mag

God seën ons deur die mag van die priesterskap. Priesterskapseëninge is vir elkeen beskikbaar.

Die priesterskap is die mag van God. Hy gebruik hierdie mag om al sy kinders te seën en hulle te help om terug te keer om saam met Hom te woon. God het priesterskapsmag aan sy kinders op aarde gegee. Met hierdie mag kan priesterskapsleiers die Kerk lei, en priesterskapsdraers kan heilige ordinansies soos die doop uitvoer, wat ons help om nader aan God te kom. Elke man en vrou wat priesterskapsordinansies waardig ontvang en die verbonde (heilige beloftes) hou, het toegang tot die mag van God.

Beeld
nagmaal

Priesterskapsmag Is Aan Joseph Smith Gegee

Toe Jesus Christus op die aarde was, het Hy sy Kerk gelei deur priesterskapsmag. Hy het ook hierdie mag aan sy Apostels gegee. In die eeue nadat hulle dood is, het baie lede van die Kerk weggeval. Hulle het die evangelie en die wyse waarop die Kerk funksioneer, verkeerdelik verander. Die priesterskap van God was nie meer op die aarde nie. In 1829 het Jesus vir Johannes die Doper en die Apostels Petrus, Jakobus en Johannes gestuur om die priesterskap aan Joseph Smith te gee. Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae is die enigste organisasie op aarde met hierdie gesag van God.

Beeld
herstelling van die Melgisédekse Priesterskap

The Voice of Peter, James, and John (Die Stem van Petrus, Jakobus en Johannes), deur Linda Curley Christensen en Michael T. Malm

Priesterskapsleutels

Priesterskapsleutels is die gesag om die gebruik van die priesterskap te rig, soos om toestemming te gee om ordinansies uit te voer. Jesus Christus hou al die priesterskapsleutels. Die President van die Kerk is die enigste persoon op aarde wat die sleutels van die priesterskap mag gebruik om die hele Kerk te rig. Onder sy leiding kan ander sekere sleutels gebruik om God se werk te doen. Leiers soos biskoppe en penpresidente gebruik priesterskapsleutels om in hulle wyke en penne te lei. Omdat roepings om te dien van leiers met priesterskapsleutels kom, oefen mans en vroue wat in roepings dien priesterskapsgesag uit wanneer hulle hul pligte uitvoer.

Melgisédekse Priesterskap en Aäroniese Priesterskap

Die priesterskap het twee dele: die Melgisédekse Priesterskap en die Aäroniese Priesterskap. Deur die Melgisédekse Priesterskap lei Kerkleiers al die geestelike werk van die Kerk, soos sending- en tempelwerk. Die Aäroniese Priesterskap funksioneer onder die gesag van die Melgisédekse Priesterskap. Dit word gebruik om ordinansies soos die doop en die nagmaal uit te voer.

Beeld
doop

Seëninge van die Priesterskap

Deur verbonde en ordinansies stel God seëninge beskikbaar aan al sy kinders. Hierdie seëninge sluit die doop, die gawe van die Heilige Gees, die nagmaal en tempelordinansies in. Mans en vroue wat in die tempel begiftig is, ontvang ʼn gawe van God se priesterskapsmag deur hulle verbonde. Ons kan ook priesterskapseëninge van genesing, troos en leiding ontvang.

Beeld
pasgetroudes by die tempel

Wat Sê die Skrifture oor die Priesterskap?

Die priesterskap wat in die voortyd bestaan het, is dieselde wat nou bestaan (sien Moses 6:7).

Priesterskapsleutels verseker dat ons die Here se werk op ʼn ordelike wyse verrig (sien Leer en Verbonde 42:11).

Mans wat die priesterskap hou, kan dit slegs gebruik “volgens die beginsels van regverdigheid” (Leer en Verbonde 121:36).

Sommige van die pligte van diegene wat die priesterskap hou, word in Leer en Verbonde 20:38–67 beskryf.

Druk