“Ons Is Geroep om Goed te Doen,” Liahona, Junie 2024.
Maandelikse Liahona-boodskap, Junie 2024
Ons Is Geroep om Goed te Doen
Ons bou die koninkryk van God terwyl ons ander dien, ons lig omhoog hou en vir geloofsvryheid staan.
Gídeon het valse leerstellings geken toe hy dit gehoor het. Hy het dit voorheen van Koning Noag en sy priesters gehoor—priesters wat “in die hoogmoed van hulle harte verhef geword het” en wat “onderhou [is] in hulle luiheid, en in hulle afgodery, en in hulle hoererye, deur die belastings wat koning Noag geplaas het op sy volk” (Mosia 11: 5–6).
Erger nog, Koning Noag het die profeet Abinadi laat doodmaak en probeer om Alma en sy bekeerlinge te vernietig (sien Mosia 17; 18:33–34). Om ʼn einde aan sulke boosheid te maak, het Gídeon belowe om die koning te stop, wat hy net gespaar het as gevolg van ʼn Lamanitiese inval (sien Mosia 19:4–8).
Later het Gídeon die priesters van Noag tereg blameer vir die wegvoer van 24 Lamanitiese dogters. Hy het opgemerk dat Abinadi se profesie teen die volk vervul is omdat hulle geweier het om te bekeer. (Sien Mosia 20:17–22.) Hy het gehelp om die volk van Limhi, wat in slawerny van die Lamaniete was, te verlos (sien Mosia 22:3–9).
Nou ouer, het Gídeon weer beide trots en boosheid gekonfronteer toe hy voor Nehor gestaan het, wat priesterlis onder die volk ingebring het. Nehor het “die kerk teengestaan” en probeer om die volk te verlei. (Sien Alma 1:3, 7, 12; sien ook 2 Nefi 26:29.)
Deur die woord van God as sy wapen te gebruik, het moedige Gídeon, Nehor tereggewys oor sy boosheid. Woedend het Nehor, Gídeon aangeval en met sy swaard doodgemaak. (Sien Alma 1:7–9.) Só het die dae van “ʼn regverdige man” geëindig wat “baie goed onder hierdie volk gedoen het” (Alma 1:13).
Die laaste dae waarin ons leef bied ons ruim geleenthede om Gídeon na te volg as “ʼn werktuig … in die hande van God” (Alma 1:8) deur “van waarde” (Mosia 22:4) te wees vir ander, te staan vir regverdigheid, en bedreigings vir ons vryheid om God te aanbid en te dien te weerstaan. Wanneer ons Gídeon se getroue voorbeeld volg, kan ons ook baie goed doen.
Verenig in Diens
“As [die Saligmaker se] volgelinge, streef ons daarna om God en ons naaste regoor die wêreld lief te hê,” het die Eerste Presidensie gesê. “Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae is gretig om ander te seën en om diegene wat behoeftig is te help. Ons is geseënd om die vermoë, hulpbronne en betroubare globale verbindings te hê om hierdie heilige verantwoordelikheid uit te voer.”
Ek is dankbaar vir die onselfsugtige diens en bediening wat lede van die Kerk in ons tempels en in hulle wyke, takke en penne aanbied. Ek is ook dankbaar dat Kerklede in tallose gemeenskaps-, opvoedkundige en liefdadigheidsorganisasies dien en dat hulle jaarliks by duisende humanitêre projekte betrokke is en miljoene ure vrywillig werk in byna 200 lande en gebiede.
Een manier waarop die Kerk diensgeleenthede in verskeie lande verbreed, is deur JustServe.org. Geborg deur die Kerk, maar beskikbaar vir enigiemand wat ander wil seën, “verbind JustServe.org gemeenskapsvrywilligersbehoeftes met vrywilligers” wat “die lewensgehalte in die gemeenskap verbeter.”
Die Kerk en sy lede span ook saam met diensorganisasies regoor die wêreld. Die Kerk was, danksy sy lede, “die grootste enkele Rooikruisbloedskenkingsbydraer in 2022.” Boonop het die Kerk onlangs ʼn skenking van $8.7 miljoen aan die Rooikruis gemaak.
Die Kerk verenig ook met organisasies om skoon water- en sanitasieprojekte na gebiede regoor die wêreld te bring. In 2022 het die Kerk aan 156 sulke projekte deelgeneem. Ons werk ook saam met en skenk aan ander agentskappe wat verligting aan God se kinders wat ly, bring.
“Wanneer ons hande vat om behoeftige mense te dien,” het President Henry B. Eyring, Tweede Raadgewer in die Eerste Presidensie gesê, “verenig die Here ons harte.”
Hou Jou Lig Omhoog
As die Saligmaker se dissipels, seën ons ook ons naaste as ons ons verbonde onderhou en Christelike lewens lei. Die Boek van Mormon leer dat “die mense van die kerk” nie net regverdigheid moet kies nie, maar moet ook hulle regverdige stemme laat hoor as hulle wil hê die Here moet hulle beskerm en voorspoedig maak (sien Alma 2:3–7; sien ook Mosia 29:27). Die Here verwag van ons om ons geloof en oortuigings te deel en om ons lig omhoog te hou. “Kyk, Ek is die lig wat julle sal omhoog hou” (3 Nefi 18:24).
“Ons dien nie ons Saligmaker goed as ons die mens meer as God vrees nie,” het President Dallin H. Oaks, Eerste Raadgewer in die Eerste Presidensie, gesê. Hy het bygevoeg: “Ons is geroep om die Here se standaarde te vestig, nie om die wêreld s’n te volg nie.”
Of dit nou by die skool of universiteit, werk of speel, met vakansie, op ʼn afspraak of aanlyn is, die Here se dissipels is nie “skaam … om die naam van Christus op hulle te neem” nie (Alma 46:21). Deur ons woorde en ons werke getuig ons dat God leef en dat ons sy Seun volg.
“Ons geloof is nie gekompartementaliseer nie, of dit behoort sekerlik nie te wees nie. Geloof is nie net vir by die kerk nie, dit is nie net vir by die huis nie, dit is nie net vir by die [skool of universiteit] nie,” het Paul Lambert, ʼn Heilige van die Laaste-dae wat ʼn kenner is van godsdienstige pluralisme, opgemerk. “Dit is vir alles wat jy doen.”
Ons weet nie watter impak ons getuienis, goeie voorbeeld en goeie dade op ander kan hê nie. Maar as ons vir die regte dinge staan en die Saligmaker se lig omhoog hou, sal mense ons raaksien en die hemel sal aan ons kant wees.
Staan vir Geloofsvryheid
Vandag se priesterlis, met toenemende sekulêre samelewings wat mense van geloof teenstaan, is nie so anders as dié van die Boek van Mormon-tye nie. Die stem van diegene wat godsdiens se belangrike rol in openbare en politieke arenas teëstaan, word al hoe harder. Sekulariste en regerings, insluitend baie skole en universiteite, dwing gedrag af en proseliteer immoraliteit, ateïsme en morele relativisme.
Aanvalle op geloofsvryheid sal suksesvol wees as ons nie opstaan vir ons geloofsregte nie. “As ʼn kerk,” het ek onlangs onderrig, “verenig ons met ander godsdiensgroepe wat mense van alle gelowe en oortuigings beskerm asook hulle reg om hul oortuigings uit te spreek.”
ʼn Oorlog is in die hemel gevoer oor morele handelingsmag—ons vryheid om te kies. Om ons handelingsmag te bewaar, vereis dat ons ywerig moet wees om ons geloofsvryheid te beskerm.
Lewendige godsdiensgeloof versterk en beskerm families, gemeenskappe en nasies. Dit kweek wetsgehoorsaamheid, boesem respek in vir lewe en eiendom en leer naasteliefde, eerlikheid en moraliteit—deugde wat nodig is om ʼn regverdige, vrye en burgerlike samelewing voort te sit. Ons hoef nooit om verskoning te vra vir ons geloof nie.
Ons sendelingpogings, ons plaasvervangende werk in die tempels, ons pogings om die koninkryk van God te bou en ons eie geluk vereis dat ons opstaan vir godsdiensgeloof en -vryheid. Ons kan nie daardie vryheid verloor sonder om ander vryhede te verloor nie.
Die Profeet Joseph Smith het geleer: “Dit is ʼn liefde vir vryheid wat my siel inspireer—burgerlike en geloofsvryheid vir die hele mensdom.” Geloofsvryheid sal ook ons siele inspireer as ons raad van Kerkleiers volg:
-
“Bly ingelig oor kwessies van openbare belang en praat dan met moed en beleefdheid.”
-
“Weet dat die erosie van geloofsvryheid ʼn beduidende impak op ons geleenthede sal hê om in krag en evangeliekennis te groei, om deur heilige ordinansies geseën te word, en om op die Here te vertrou om sy Kerk te lei.”
-
“Staan op en praat om te bevestig dat God bestaan en dat daar absolute waarhede is wat sy gebooie bepaal.”
-
“Bevraagteken wette wat ons vryheid om ons geloof te beoefen sal benadeel.”
-
“Gaan die wêreld in om goed te doen, om geloof in die Almagtige God te bou en om ander na ʼn gelukkiger plek te bring.”
-
Studiehulpbronne by religiousfreedom.ChurchofJesusChrist.org en by religiousfreedomlibrary.org/documents.
Ons bou die koninkryk van God as ons dien, ons lig omhoog hou en staan vir geloofsvryheid. Mag die Here ons seën in ons pogings om “baie goed” onder ons families, gemeenskappe en nasies te doen.
© 2024 by Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gepubliseer in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, June 2024. Afrikaans. 19347 501