“God Sal Ons Onderskraag en Bewaar,” Liahona, Aug. 2024.
Maandelikse Liahona-boodskap, Augustus 2024
God Sal Ons Onderskraag en Bewaar
Soos kaptein Moroni, kan ons goddelike hulp en krag ontvang vir die stryd wat ons in die lewe in die gesig staar.
Toe ek die Boek van Mormon die eerste keer gelees het, het ek die geskiedenis van oorloë tussen die Nefiete en die Lamaniete geniet. Ek was gefassineer deur die geloof, vindingrykheid en taktiek wat deur Kaptein Moroni gebruik is, ʼn militêre bevelvoerder wat aangestel is as die leier van al die Nefitiese leërs toe hy net 25 jaar oud was. Hy was wys, sterk en skerpsinnig. Hy was heeltemal verbind tot die vryheid en welsyn van sy mense. (Sien Alma 48:11–12.)
In plaas daarvan om militêre sukses aan homself toe te skryf, skryf Moroni die sukses toe aan God en aan die heilige ondersteuning wat sy leërs van nie-strydende vroue en kinders ontvang het. Hy het aan ʼn verslane vyandelike leier gesê: “Die Here [het] julle in ons hande uitgelewer. En nou wil ek hê dat julle moet verstaan dat dit … is vanweë ons godsdiens en ons geloof in Christus.” Moroni het toe hierdie profetiese insig gedeel: “God sal ons onderskraag, en behoed, en bewaar, solank as ons getrou is aan Hom, en aan ons geloof, en ons godsdiens” (Alma 44:3, 4).
Met verloop van tyd het ek besef dat Moroni beginsels gedemonstreer het wat ons kan toepas om ons te help om die uitdagings van ons moderne lewens die hoof te bied. Wanneer ons geloof in Jesus Christus, die Saligmaker van die wêreld, beoefen, sal Hy ons seën met sy krag. Maar vir Hom om dit te doen en vir ons om sy seëninge te herken, moet ons ons doel verstaan, beplan vir sukses en voorberei vir die metaforiese stryd wat ons in die gesig staar, net soos Moroni voorberei het vir en die werklike stryd in sy lewe. Wanneer ons dít doen, sal Hemelse Vader en Jesus Christus ons onderskraag en bewaar.
Verstaan Wat Ons Doel Is
Moroni het die volk herhaaldelik herinner aan wie hulle was (erfgename van die Abrahamitiese verbond), aan wie hulle behoort het (geliefde kinders van God) en die saak waarvoor hulle geveg het (familie, geloof en vryheid). Moroni het sy volk geleer dat hulle geveg het vir hul eie voortbestaan en vir vryheid van onderdrukking en slawerny. Daarteenoor het hul vyande geveg vir persoonlike verryking en mag deur ander te onderwerp.
Toe sommige Nefiete probeer het om gesag vir persoonlike gewin te gebruik, het Moroni sy mantel geskeur en die kernelemente van sy boodskap daarop geskryf: “Ter herinnering aan ons God, ons godsdiens, en vryheid, en ons vrede, ons vroue, en ons kinders.” Hy het hierdie vlag, wat hy “die vaandel van vryheid” genoem het, aan die punt van ʼn paal gehys en dit gebruik om die mense te herinner aan waaroor die stryd gaan en om hulle tot die saak byeen te bring. (Sien Alma 46:12–13, 19–20.)
In die geestelike stryd van die lewe “[is] ons worstelstryd … nie teen vlees en bloed nie, maar teen … heersers van die duisternis … [en] teen bose geeste” (Efésiërs 6:12). Ons moet ook herinner word aan waaroor die stryd gaan. Ouderling Neal A. Maxwell (1926–2004), ʼn voormalige lid van die Kworum van die Twaalf Apostels, het hierdie gedagte in ʼn welsprekende, hoewel kort, gesprek uitgespreek.
Ek het Ouderling Maxwell in 2004 in sy hospitaalkamer besoek, kort voor sy dood. Hy was so vriendelik teenoor almal wat hom besoek of gehelp het. Gesondheidswerkers het in sy kamer ingegaan en huilend uitgekom. Ek het vir hom gesê: “Ouderling Maxwell, dit is baie moeilik.” Hy het gelag en gesê: “O, Dale, ons is ewige wesens wat in ʼn sterflike wêreld leef. Ons is uit ons element, soos ʼn vis uit die water. Dit is eers wanneer ons ʼn ewige perspektief het dat enige hiervan enige sin sal maak.”
Ons moet nooit die groot samestelling van ons goddelike natuur en ewige bestemming en die diaboliese kragte wat ons teëstaan, uit die oog verloor nie. Deur Hemelse Vader se plan reg te verstaan, sal dit ons motiveer om aan te hou veg vir ons ewige heil en vir ons vryheid van geestelike slawerny.
Hoe om te Beplan om Suksesvol te Wees
Gedurende die veldslae wat sy leërs geveg het, het Moroni beplan om sukses te verseker. Hy het spioene gebruik om die aktiwiteite en planne van sy vyande te ontdek. Hy het leiding by die profeet, Alma, gesoek. Moroni het toe daardie geïnspireerde insette in sy benadering tot die veldslag gebruik. Hy het hulpbronne volgens behoefte ontplooi en meer soldate in stede geplaas wat minder versterk was. Hy het operasionele planne strategies opgestel op grond van die nuutste inligting.
Hy het daardeur voordele bó vyandelike leërs verkry. Hy was nooit tevrede met vorige oorwinnings nie; hy het eerder voortgegaan om sy en sy leërs se vermoëns te verbeter om toekomstige uitdagings die hoof te bied.
Ons kan soortgelyke benaderings gebruik om geestelike antagoniste te hanteer. Ons kan begin deur te herken wat Satan in ons lewens probeer doen. Hy probeer ons aandag aflei van ons doel. Wanneer ons voor versoeking te staan kom, moet ons onsself afvra:
-
Hoe vergelyk hierdie optrede van my kant af met die geopenbaarde woord van God?
-
Wat is die gevolge van hierdie optrede?
-
Sal hierdie aksie my help om my doel op aarde te vervul?
Ons moet ook die uiteindelike uitkoms herken wanneer ons selfs aan klein versoekings toegee. Soos ons toegee aan versoeking, verbruik ons “gif met verdrag” (Alma 47:18), ʼn mees effektiewe strategie wat gebruik word deur die magte van goddeloosheid wat tot geestelik noodlottige resultate kan lei.
Ons kan onsself teen Satan se versoekings versterk deur die leiding te volg wat ons van ons laaste-dae profeet ontvang. Deur dít te doen, help ons om ʼn ewige perspektief te behou waardeur ons ons optrede kan evalueer. Deur te beplan hoe ons die versoekings wat in verskillende areas van ons lewens ontstaan, sal trotseer, sal ons help om die meer korrekte keuses in die oomblik te maak. Voorafbeplande strategieë en benaderings sal ons help om onsself te verdedig teen afleidings van ons ewige doel.
ʼn Voorbeeld is dié van tegnologie. Tegnologie kan ʼn tweesnydende swaard wees, beide nuttig en nadelig, afhangende van hoe ons dit gebruik. Om ons te help om wyse keuses oor ons toestelle te maak, kan jonk en oud verwys na “Taking Charge of Technology” en For the Strength of Youth: A Guide for Making Choices. Dit herinner ons aan ons doel, rig ons na Jesus Christus en help ons om die Heilige Gees in ons lewens in te nooi. Deur te beplan hoe, wanneer en waar ons tegnologie gaan gebruik, sal ons versterk teen lae morele wêreldse taktiek.
Voorbereiding vir Metaforiese Veldslae
In afwagting van komende gevegte het Moroni sy volk individueel voorberei met borsplate, skilde, helms en dik klere. Hy het sy mense gesamentlik voorberei deur stede met forte te omsingel en walle grond rondom hulle op te werp.
Ons berei ons individueel geestelik voor deur die gebooie van God te onderhou. Ons sluit en onderhou verbonde met God wat die krag van Jesus Christus in ons lewens intrek. Ons hou ons besig met persoonlike, private dade van toewyding, soos bid, vas en om die skrifture te bestudeer. Ons tree ook op in geloof en reageer op die geestelike leiding wat ons ontvang. Ons berei pligsgetrou voor vir en gebruik die nagmaal waardig. Wanneer ons dit doen, word die Saligmaker ʼn sterker invloed in ons lewens, net soos Hy ʼn invloed was vir Moroni, wat standvastig was in sy geloof in Jesus Christus. Moroni het geweet hy kan op die Saligmaker staatmaak vir leiding en verlossing (sien Alma 48:16). Ons kan ook op Jesus Christus staatmaak vir leiding en verlossing.
Ons kan verder voorberei deur ons families te versterk. Ons Hemelse Vader het ons in families georganiseer om ons te help om gelukkig te wees en te leer hoe om na Hom terug te keer. Ons families kan ʼn bron van hulp vir ons wees. Ons kan almal vreugde en liefde ervaar deur te onthou dat ons deel is van God se groot familie, ongeag die individuele omstandighede van ons families.
Ons kan gesamentlik krag kry en voorberei vir ons geestelike stryd terwyl ons verenig met gemeenskappe van Heiliges. Ons penne en distrikte bied so ʼn plek van toevlug en verdediging. Ons kan mekaar geestelik voed, mekaar help om die gebooie van God te onderhou en mekaar aanmoedig om op Christus te vertrou, altyd en veral in tye van uitdaging. Wanneer ons bymekaarkom, besef ons dat ons nie ons stryd alleen veg nie. Ons het vriende, onderwysers en leiers wat ons kan help en beskerm. Ons is almal sterker wanneer ons saam voorberei.
Dit is opmerklik dat Moroni al die geluk van sy mense toegeskryf het aan die feit dat hulle getrou was aan hul geloof in God en hul godsdiens. Soos Moroni, moet ons besef dat vreugde kom as gevolg van Hemelse Vader en sy plan en as gevolg van Jesus Christus en sy Versoening. Wanneer ons ons doel verstaan, beplan vir sukses en voorberei vir metaforiese veldslae, ontvang ons goddelike hulp en krag.
Soos Moroni, weet ek dat Hemelse Vader en Jesus Christus die uiteindelike vryheid van slawerny bring—vryheid van die dood en sonde. Hulle seën ons met hul krag wanneer ons in Hulle glo en Hulle in alles vertrou.
© 2024 deur Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly Liahona Message, August 2024. Afrikaans. 19294 501