Liahona
ʼn Patroon vir Eenheid in Jesus Christus
Oktober 2024


“ʼn Patroon vir Eenheid in Jesus Christus,” Liahona, Okt. 2024.

Maandelikse Liahona-boodskap, Oktober 2024

ʼn Patroon vir Eenheid in Jesus Christus

Soos ons verenig in Jesus Christus soos die mense in 4 Nefi, vervang ons begeerte om een te wees ons verskille en dit lei tot vreugde.

Beeld
Christus statue [Christus standbeeld]

Ons leef in ʼn era waar ʼn toenemende vlaag van onenigheid en redekaweling oor die hele wêreld versprei. Met behulp van tegnologie en aangespoor deur mense wie se harte koud geword het, dreig hierdie verdelende magte om ons harte met minagting te vul en ons kommunikasie met twis te bederf. Gemeenskaplike bande breek. Oorloë woed.

In hierdie konteks smag ware volgelinge van Jesus Christus na vrede en probeer hulle aktief om ʼn ander soort samelewing te bou—een wat op die leringe van Jesus Christus gegrond is. Vir hierdie doel het die Here ons beveel: “wees een; en as julle nie een is nie, is julle nie myne nie” (Leer en Verbonde 38:27). Eenheid is inderdaad ʼn keurmerk van die ware Kerk van Jesus Christus.

Hoe werk ons teen die magte van verdeeldheid en twis? Hoe kan ons eenheid bereik?

Gelukkig gee 4 Nefi in die Boek van Mormon ons ʼn voorbeeld. Hierdie hoofstuk teken kortliks aan hoe die mense geleef het nadat die Saligmaker hulle besoek het, hulle geleer het en sy Kerk onder hulle gestig het. Hierdie verslag wys hoe hierdie mense ʼn salige en vreedsame eenheid bereik het en dit gee ons ʼn patroon wat ons kan volg om hierdie selfde eenheid vir onsself te verkry.

Bekering

In 4 Nefi 1:1, lees ons: “Die dissipels van Jesus het ʼn kerk van Christus gestig in al die lande rondomheen. En [mense] wat na hulle gekom het, … [het] waarlik bekeer … van hulle sondes.”

Ons verenig rondom die Here en Saligmaker Jesus Christus. Terwyl elke persoon leer van Jesus Christus, sy evangelie en sy Kerk, getuig die Heilige Gees van die waarheid in elke persoon se hart. Elkeen van ons kan dan die Saligmaker se uitnodiging aanvaar om geloof in Hom te hê en Hom te volg deur te bekeer.

So begin ʼn individu se reis van bekering—weg van selfsugtige en sondige begeertes en voort na die Saligmaker. Hy is die fondasie van ons geloof. En as elkeen van ons opsien na Hom in elke gedagte (sien Leer en Verbonde 6:36), word Hy ʼn verenigende mag in ons lewens.

Verbonde

Die verslag in 4 Nefi gaan voort om te verklaar dat diegene wat na die Kerk gekom en van hulle sondes bekeer het, “is gedoop in die Naam van Jesus; en hulle het ook die Heilige Gees ontvang” (4 Nefi 1:1). Hulle het ʼn verbond gesluit—ʼn spesiale, bindende verhouding—met God.

Wanneer ons verbonde sluit en onderhou, neem ons die Here se naam op onsself as individue. Boonop neem ons sy Naam op ons as ʼn volk. Almal wat verbonde sluit en daarna streef om dit te onderhou, word die Here se volk, sy spesiale eiendom (sien Exodus 19:5). Dus reis ons op die verbondspad beide individueel en gesamentlik. Ons verbondsverhouding met God gee ons ʼn gemeenskaplike saak en ʼn gemeenskaplike identiteit. Terwyl ons onsself verbind tot die Here, help Hy ons om ons “harte [te] verenig in eenheid en in liefde, die een teenoor die ander” (Mosia 18:21).

Regverdigheid, Gelykheid en Hulp aan die Armes

Die verslag in 4 Nefi gaan voort: “Daar was geen twiste en redekawelings onder hulle nie, en elke mens het regverdig gehandel die een met die ander.

“En hulle het alle dinge in gemeen gehad onder hulle; daarom was daar nie ryk en arm, slaaf en vryman nie, maar hulle is almal vrygemaak, en deelgenote van die hemelse gawe” (4 Nefi 1:2–3).

In ons tydelike handelinge, wil die Here hê dat ons opreg en regverdig met mekaar moet wees en nie mekaar bedrieg of benadeel nie (sien 1 Thessalonicense 4:6). Soos ons nader aan die Here groei, sal ons “nie begeertes hê om mekaar kwaad aan te doen nie, maar om vreedsaam te lewe, en om aan elke man te gee wat hom toekom” (Mosia 4:13).

Die Here het ons ook beveel om te sorg vir die armes en behoeftiges. Ons moet “van [ons] besittings deel” om hulle te help, volgens ons vermoë om dit te kan doen, sonder om hulle te oordeel (sien Mosia 4:21–27).

Elkeen van ons moet “sy broer ag soos homself” (Leer en Verbonde 38:24). As ons die Here se volk wil wees en verenig moet wees, moet ons mekaar nie net as gelykes behandel nie, maar ons moet mekaar ook werklik as gelykes beskou en in ons harte voel dat ons gelyk is—gelyk voor God, van gelyke waarde en gelyke potensiaal.

Gehoorsaamheid

Die volgende les uit 4 Nefi kom in hierdie eenvoudige uitdrukking: “Hulle het gewandel volgens die gebooie wat hulle ontvang het van hulle Here en hulle God” (4 Nefi 1:12).

Die Here het hierdie volk sy leer geleer, aan hulle gebooie gegee en diensknegte geroep om hulle te bedien. Een van sy doeleindes om dit te doen was om te verseker dat daar geen redekawelings onder hulle sou wees nie (sien 3 Nefi 11:28–29; 18:34).

Ons gehoorsaamheid aan die leringe van die Here en sy diensknegte is noodsaaklik vir ons om verenig te word. Dit sluit in ons toewyding om die gebod te gehoorsaam om te bekeer wanneer ons tekort skiet en om mekaar te help terwyl ons daarna streef om beter te doen en elke dag beter te wees.

Beeld
mense wat na skrifture in ʼn vergadering kyk

Saam Vergader

Vervolgens leer ons dat die volk in 4 Nefi “[volgehou het] met vas en gebed, en om dikwels byeen te kom, beide om te bid en om die woord van die Here aan te hoor” (4 Nefi 1:12).

Ons moet saam vergader. Ons weeklikse aanbiddingsbyeenkomste is ʼn belangrike geleentheid vir ons om krag te vind, beide individueel en gesamentlik. Ons neem deel aan die nagmaal, leer, bid, sing saam en ondersteun mekaar. Ander byeenkomste help ook om ʼn gevoel van samehorigheid, vriendskap en gedeelde doelwitte te bevorder.

Liefde

Die verslag in 4 Nefi gee ons dan wat miskien die hoofsleutel tot dit alles is—die ding waarsonder ware eenheid nie bereik kan word nie: “Daar [was] geen onenigheid in die land … nie vanweë die liefde van God wat in die harte van die volk gewoon het” (4 Nefi 1:15).

Persoonlike vrede word bereik wanneer ons, in nederige onderdanigheid, God waarlik liefhet. Dit is die eerste en groot gebod. Om God meer as enigiemand of enigiets anders lief te hê, is die toestand wat ware vrede, vertroosting, vertroue en vreugde meebring. Soos ons liefde vir God en Jesus Christus ontwikkel, sal liefde vir familie en naaste natuurlik volg.

Die grootste vreugde wat ons ooit sal ervaar, gebeur wanneer ons gevul is met liefde vir God en vir al sy kinders.

Naasteliefde, die suiwere liefde van Christus, is die teenmiddel vir twis. Dit is die hoofkenmerk van ʼn ware volgeling van Jesus Christus. Wanneer ons onsself voor God verootmoedig en met al die energie van ons harte bid, sal Hy aan ons naasteliefde skenk (sien Moroni 7:48).

Terwyl ons almal daarna streef om God se liefde in ons harte te laat leef, sal die wonderwerk van eenheid vir ons heeltemal natuurlik lyk.

Goddelike Identiteit

Uiteindelik het die volk in 4 Nefi ʼn teken van eenheid getoon wat ons aandag verdien: “Daar was geen rowers nie, nóg moordenaars, nóg was daar Lamaniete, nóg enige ander soort -iete; maar hulle was een, die kinders van Christus, en erfgename van die koninkryk van God” (4 Nefi 1:17).

Die etikette wat die volk vir honderde jare verdeel het, het gewyk voor ʼn meer blywende en veredelende identiteit. Hulle het hulself—en al die ander—volgens hulle verhouding met Hemelse Vader en Jesus Christus beskou.

Diversiteit en verskille kan vir ons goed en betekenisvol wees. Maar ons belangrikste identiteite is dié wat verband hou met ons goddelike oorsprong en doel.

In die eerste plek is elkeen van ons ʼn kind van God. Tweedens, as ʼn lid van die Kerk is elkeen van ons ʼn kind van die verbond. En derdens, elkeen van ons is ʼn dissipel van Jesus Christus. Ek doen ʼn beroep op elkeen van ons om nie toe te laat dat enige ander identifiseerder hierdie drie blywende benamings “verplaas, vervang of voorrang bo dit geniet nie.”

Beeld
familie wat op die vloer bymekaar sit

Wees Een

God het almal uitgenooi om na Hom toe te kom. Daar is plek vir almal. Ons mag verskil in ons kulture, politiek, etnisiteite, voorkeure en op baie ander maniere. Maar soos ons in Jesus Christus verenig, vervaag sulke verskille in hul betekenis en word dit vervang deur ons oorheersende begeerte om een te wees—sodat ons syne kan wees.

Neem die lesse wat in 4 Nefi geleer word ter harte. Soos elkeen van ons daarna streef om hierdie noodsaaklike elemente van eenheid in ons lewens toe te pas, kan dit van ons gesê word, soos dit van hulle was: “Waarlik kon daar nie ʼn gelukkiger volk wees onder al die mense wat geskape is deur die hand van God nie” (4 Nefi 1:16).

Notas

  1. Vir meer oor die betekenis en seëninge om verbonde met God te sluit, sien Russell M. Nelson, “The Everlasting Covenant,” Liahona, Okt. 2022, 4–11.

  2. Russell M. Nelson, “Choices for Eternity” (wêreldwye gewyde byeenkoms vir jong volwassenes, 15 Mei 2022), Evangeliese Biblioteek.

Druk