2024
Jesus Christus Is die Bron van “Lewende,” “Goeie” en “Uitnemender Hoop”
Desember 2024


“Jesus Christus Is die Bron van ‘Lewende,’ ‘Goeie’ en ‘Uitnemender Hoop,’” Liahona, Des. 2024.

Maandelikse Liahona-boodskap, Desember 2024

Jesus Christus Is die Bron van “Lewende,” “Goeie” en “Uitnemender Hoop”

Mag ons in hierdie spesiale seisoen van die viering van die geboorte van die baba in Betlehem altyd onthou dat Jesus Christus in die wêreld gekom het om ons Saligmaker en Verlosser te wees.

Maria en Josef met die baba Jesus

The Nativity [Die Geboorte van Jesus Christus], deur Sharlotte Andrus

Die Apostel Petrus en die Boek van Mormon profete Jakob en Moroni beklemtoon die geestelike gawe van hoop in Christus op leersame soortgelyke maniere.

Petrus het byvoorbeeld verklaar: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ʼn lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1 Petrus 1:3; beklemtoning bygevoeg). Let asseblief op die gebruik van die woord “lewende” om “hoop” te beskryf.

Jakob het verkondig: “Daarom, geliefde broers, wees versoen met Hom deur die versoening van Christus, sy Eniggebore Seun, en julle mag ʼn opstanding verkry volgens die krag van die opstanding wat in Christus is, en aangebied word as eerste vrugte van Christus tot God, deur julle geloof, en ʼn gewisse hoop van heerlikheid in Hom verkry, voordat Hy Hom geopenbaar het in die vlees” (Jakob 4:11; beklemtoning bygevoeg). Let asseblief op die gebruik van die woord “gewisse” om “hoop” te beskryf.

En Moroni het verkondig: “En ek onthou ook dat U gesê het dat U ʼn woning berei het vir die mens, ja, en wel onder die wonings van u Vader, waarin die mens ʼn uitnemender hoop mag hê; daarom moet die mens hoop, of hy kan nie ʼn erfenis ontvang in die plek wat U berei het nie” (Ether 12:32; beklemtoning bygevoeg). Let asseblief op die gebruik van die woord “uitnemende” om “hoop” te beskryf.

Wat Is Hoop in Christus?

Die geestelike gawe van hoop in Christus is die vreugdevolle afwagting van die ewige lewe deur die “verdienste, en die barmhartigheid, en die genade van die Heilige Messias” (2 Nefi 2:8) en ʼn sterk begeerte na die beloofde seëninge van geregtigheid. Die byvoeglike naamwoorde “lewende,” “goeie” en “uitnemender” in hierdie verse suggereer ʼn steeds groterwordende en lewendige versekering van die Opstanding en van die ewige lewe deur geloof in Jesus Christus.

Die profeet Mormon het verduidelik:

“En verder, my geliefde broers, ek wil met julle spreek aangaande hoop. Hoe is dit dat julle geloof kan verkry, tensy julle hoop sal hê?

“En wat is dit waarvoor julle sal hoop? Kyk ek sê vir julle dat julle hoop sal hê deur die versoening van Christus en die krag van sy opstanding, om opgewek te word tot die ewige lewe, en dit vanweë julle geloof in Hom volgens die belofte.

“Daarom, as ʼn mens geloof het, moet hy noodwendig hoop hê; want sonder geloof kan daar geen hoop wees nie” (Moroni 7:40–42).

Die Vader se Plan van Geluk

Hoop in Christus wat lewend, goed en uitnemender is begin met die kennis dat God die Ewige Vader leef. Hy is ons Vader, en ons is sy geesteskinders. Ons is letterlik geestelike seuns en dogters van God en het goddelike eienskappe van Hom geërf.

Die Vader is die outeur van die plan van geluk (sien Abraham 3:22–28). As geestelike seuns en dogters van God het ons “sy plan aanvaar waardeur sy kinders ʼn fisiese liggaam en aardse ondervinding kon verkry om na volmaaktheid te vorder en om uiteindelik hul goddelike bestemming as erfgename van die ewige lewe te behaal.” Ons leer in die skrifture: “Die Vader het ʼn liggaam van vlees en been so tasbaar soos die mens sʼn; die Seun ook” (Leer en Verbonde 130:22). Die verkryging van fisiese liggame is dus noodsaaklik in die proses om na ons goddelike bestemming te vorder.

Ons is dubbele wesens. Ons geeste, die ewige deel van ons, is geklee in fisiese liggame wat onderworpe is aan die begeertes en aptyte van sterflikheid. Die Vader se plan van geluk is ontwerp om leiding aan sy kinders te gee, om hulle te help om veilig na Hom terug te keer met herrese, verhewe liggame, en om die seëninge van ewige vreugde en geluk te ontvang.

Maria met die baba Jesus

The Christ Child [Die Christuskind], deur Sharlotte Andrus

Die Verlossingsrol van Jesus Christus in die Vader se Plan

Jesus Christus is die Eniggebore Seun van die Ewige Vader. Hy het in die wêreld gekom om die wil van sy Vader te doen (sien 3 Nefi 27:13). Jesus Christus is die een gesalfde van die Vader om sy persoonlike verteenwoordiger te wees in alles wat betrekking het op die saligheid van die mensdom. Hy is ons Saligmaker en Verlosser omdat Hy beide die dood en sonde oorkom het.

Alma het vir die volk van Gideon geprofeteer oor die reddingswerk van die Messias:

“En Hy sal uitgaan, en pyne verduur en verdrukkinge en versoekinge van elke soort; en dit sodat die woord vervul mag word wat sê dat Hy die pyne en siektes van sy volk op Hom sal neem.

“En Hy sal die dood op Hom neem, sodat Hy die bande van die dood kan losmaak wat sy volk bind; en Hy sal hulle krankhede op Hom neem, sodat sy binneste vervul mag wees met barmhartigheid volgens die vlees, sodat Hy mag weet volgens die vlees hoe om sy volk by te staan volgens hulle krankhede.

“Nou, die Gees weet alle dinge; nogtans, die Seun van God ly volgens die vlees, sodat Hy die sondes van sy volk op Hom mag neem sodat Hy hulle oortredinge mag uitwis volgens die krag van sy verlossing (Alma 7:11–13).

Die eerste beginsel van die evangelie is geloof in die Here Jesus Christus. Ware geloof fokus in en op die Saligmaker en stel ons in staat om op Hom te vertrou en volle vertroue in sy krag te hê om ons van die dood te red, ons van sonde te reinig en ons te seën met krag bó ons eie.

Moroni het getuig: “En vanweë die verlossing van die mens, wat gekom het deur Jesus Christus, word hulle teruggebring na die teenwoordigheid van die Here; ja, dit is waardeur alle mense verlos word, omdat die dood van Christus die opstanding teweegbring, wat ʼn verlossing teweegbring uit ʼn eindelose slaap, uit welke slaap alle mense opgewek sal word deur die krag van God wanneer die trompet sal blaas; en hulle sal te voorskyn kom, beide klein en groot, en almal sal staan voor sy regbank, verlos en bevry van hierdie ewige band van die dood, welke dood ʼn tydelike dood is” (Mormon 9:13).

Ek getuig dat die Saligmaker die bande van die dood verbreek het. Hy is opgewek, Hy leef en Hy is die enigste bron van lewende, goeie en uitnemender hoop.

ʼn Anker vir die Siel

Die profeet Ether het getuig: “Daarom, wie ook al in God glo mag met sekerheid hoop op ʼn beter wêreld, ja, en wel ʼn plek aan die regterhand van God, welke hoop kom van geloof, en ʼn anker maak vir die siele van mense, wat hulle sterk en standvastig sal maak, en altyd goeie werke doen, wat gelei word om God te verheerlik” (Ether 12:4; beklemtoning bygevoeg).

Mag ons in hierdie spesiale seisoen van die viering van die geboorte van die baba in Betlehem altyd onthou dat Jesus Christus in die wêreld gekom het om ons Saligmaker en Verlosser te wees. Hy bied aan ons die kosbare geestelike gawes van lewe, lig, vernuwing, liefde, vrede, perspektief, vreugde en hoop.

Ek nooi julle uit om gepas te soek na die geestelike gawe van hoop in die Saligmaker deur die leringe en getuienisse van antieke en moderne profete oor sy versoeningsoffer en letterlike Opstanding te bestudeer. Wanneer julle dit doen, belowe ek dat jul getuienis van die Verlosser se goddelikheid versterk sal word, jul bekering tot Hom verdiep sal word, julle begeerte en vasberadenheid om as ʼn dapper getuie van Hom te staan, verhoog sal word, en julle sal geseën word met ʼn anker vir jul siele—naamlik lewende, goeie en uitnemender hoop.

Met die Apostels wat deur die eeue heen van Hom getuig het, verklaar ek met blydskap my getuienis dat Jesus Christus die lewende Seun van die lewende God is. Hy is ons herrese Verlosser met ʼn verheerlikte, tasbare liggaam van vlees en been. En as gevolg van die verlossing en versoening met God wat die Here vir die hele mensdom moontlik maak, kan ons die geestelike versekering ontvang en ʼn lewende, goeie en uitnemender hoop dat “almal in Christus lewend gemaak [sal] word” (1 Korinthiërs 15:22).

Nota

  1. Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld,” Evangeliese Biblioteek.