Maandelikse Vir die Krag van die Jeug-boodskap, Desember 2024
Die Geboorte van Jesus Christus
Lees meer oor hierdie bekende Kerstoneel en hoe dit ons help om op die Saligmaker te fokus.
Betlehem
Betlehem beteken “huis van brood” in Hebreeus. Dit word soms die stad van Dawid genoem, uit wie se geslag die Messias geprofeteer is om te kom (sien Jeremia 23:5; Johannes 7:42). Samuel het Dawid as koning gesalf by Betlehem (sien 1 Samuel 16:1–13). Daar is geprofeteer dat die Messias daar gebore sou word (sien Mìga 5:2).
Herberg
Die Griekse woord vir herberg kan enige tydelike blyplek, insluitend ʼn gastekamer beteken. Maria “het [die Christuskind] in [ʼn] krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie” (Lukas 2:7). (Die Joseph Smith-vertaling sê “herberge.”) “Geen plek” kan beteken dat hulle weggewys is of dat geen plek waar hulle dalk gebly het, plek gehad het vir die geboorte van ʼn baba nie. Hulle het in welke geval ook al iewers heen gegaan waar daar ʼn krip was.
Krip
ʼn Krip is ʼn verhewe houer of trog wat kos vir diere bevat. In antieke Judea was dit meestal van klip gemaak. Herberge het sentrale binnehowe met krippe gehad, en baie huise het ook krippe in die groot hoofkamer gehad sodat diere oornag daar gehou kon word.
Doeke
Moeders draai al vir duisende jare pasgeborenes toe in ʼn kombers of lap. Dit kalmeer en troos hulle ná die skok om die baarmoeder te verlaat. Die lap wat Maria gebruik het, het moontlik ʼn spesiale merk gehad wat uniek was aan die familie.
Maria en Josef
Hulle was goeie en regverdige mense, en albei afstammelinge van Dawid. Elkeen is deur ʼn engel besoek ter voorbereiding van die Saligmaker se geboorte (sien Matthéüs 1:18–25; Lukas 1:26–38). Hulle het 100–140 km na Betlehem gereis. Maria was swanger tydens die reis.
Herders
Herders het hulle kuddes naby Betlehem opgepas. Volgens sommige geleerdes mag slegs skape wat vir tempeloffers bedoel is, naby ʼn stad grootgemaak word. Hierdie herders het dus moontlik skape opgepas wat Jesus Christus se offer vir ons sou verteenwoordig (sien Moses 5:6–7). Hulle het hulle kuddes verlaat om die Messias te sien, wie se versoeningsoffer die offer van diere sou wegneem.
Die Christuskind
Jesus Christus is die sentrale figuur van die Geboortetoneel—en ons lewens.
© 2024 by Intellectual Reserve, Inc. All rights reserved. Gedruk in die VSA. Engelse goedkeuring: 6/19. Vertalingsgoedkeuring: 6/19. Vertaling van Monthly For the Strength of Youth Message, December 2024. Afrikaans. 19346 501