Handleidings en Roepings
26. Tempelaanbevelings


“26. Tempelaanbevelings,” Seleksies uit die Algemene Handleiding (2023).

“26. Tempelaanbevelings,” Seleksies uit die Algemene Handleiding

Beeld
biskop wat ʼn onderhoud met ʼn man voer

26.

Tempelaanbevelings

26.0

Inleiding

Om die tempel binne te gaan is ʼn heilige voorreg. Wyks- en penleiers moedig alle lede aan om waardig te wees en ʼn geldige tempelaanbeveling te hê, selfs al woon hulle nie naby ʼn tempel nie.

Kerkleiers doen alles in hul vermoë om toe te sien dat almal wat die tempel binnegaan, waardig is om dit te doen (sien Psalm 24:3–5).

Lede moet ʼn geldige tempelaanbeveling hê om ʼn tempel binne te gaan.

ʼn Biskop beraadslaag met sy penpresident as hy vrae het oor tempelaanbevelings wat nie in hierdie hoofstuk beantwoord word nie. Die penpresident kan vrae aan die Kantoor van die Eerste Presidensie rig indien nodig.

26.1

Tipes Tempelaanbevelings

Daar is drie tipes aanbevelings:

  1. Tempelaanbeveling vir onbegiftigde lede. Hierdie aanbevelings is vir onbegiftigde lede wat aan hulle ouers verseël word of plaasvervangerdope en bevestigings uitvoer. Hulle word uitgereik deur Leader and Clerk Resources (LCR). Vir meer inligting, sien 26.4.

  2. Tempelaanbeveling vir lewende ordinansies. Hierdie aanbevelings is vir lede wat hulle eie begiftiging ontvang of aan ʼn eggenoot verseël word. Die aanbeveling vir lewende ordinansies is geheg aan ʼn gewone tempelaanbeveling vir begiftigde lede (hieronder beskryf).

  3. Tempelaanbeveling vir begiftigde lede. Hierdie aanbevelings is vir lede wat voorheen begiftig is. Hulle word uitgereik deur LCR. Hulle magtig ʼn lid om deel te neem aan alle tempelordinansies vir die afgestorwenes. Hulle word ook gebruik wanneer ʼn begiftigde lid verseël word aan lewende of afgestorwe ouers of kinders. Vir meer inligting, sien 26.3.

26.2

Beveiliging van Tempelaanbevelings

26.2.1

Priesterskapsleiers Beveilig Tempelaanbevelings

Priesterskapsleiers wat gemagtig is om tempelaanbevelingsboeke te hê, moet dit sorgvuldig beveilig.

Priesterskapsleiers verseker ook dat ongemagtigde individue nie toegang het tot tempelaanbevelingsinligting in LCR nie.

26.2.3

Verlore of Gesteelde Aanbevelings

Die biskop vra lede om hom so gou as moontlik in te lig as hulle aanbeveling verlore of gesteel word. Hy of ʼn toegewysde raadgewer of klerk gebruik LCR om die aanbeveling sou gou as moontlik te kanselleer. As hierdie stelsel nie beskikbaar is nie, kontak die biskop die tempelkantoor om die aanbeveling te kanselleer.

26.2.4

Houers van Aanbevelings Wat Nie die Standaarde van Waardigheid Uitlewe Nie

As die biskop bepaal dat ʼn lid wat ʼn geldige aanbeveling het, nie aan die standaarde van waardigheid voldoen nie (sien 26.3), versoek hy die aanbeveling van die lid. Hy gebruik LCR om die aanbeveling te kanselleer. As hierdie stelsel nie beskikbaar is nie, kontak die biskop die tempelkantoor om die aanbeveling te kanselleer.

26.3

Algemene Riglyne vir die Uitreik van Tempelaanbevelings

Priesterskapsleiers moet slegs ʼn aanbeveling uitreik as die lid die tempelaanbevelingsvrae toepaslik antwoord.

Tempelaanbevelingsonderhoude moet nie gejaagd wees nie. Hulle moet privaat wees. Die persoon met wie die onderhoud gevoer word, kan egter ʼn ander volwassene nooi om teenwoordig te wees.

Priesterskapsleiers moet geen vereistes voeg by dié wat in die tempelaanbevelingsboek uiteengesit is nie. Hulle moet ook geen vereistes verwyder nie.

In penne aktiveer ʼn lid van die penpresidensie of ʼn penklerk die tempelaanbeveling in LCR nadat dit uitgereik is. In distrikte aktiveer ʼn lid van die sendingpresidensie of ʼn sendingklerk die aanbeveling. Aanbevelings vir plaasvervangerdope en bevestigings word geaktiveer wanneer hulle deur ʼn lid van die bisdom of deur die takpresident gedruk word.

26.3.1

Tempelaanbevelingsonderhoude vir Lede in Wyke en Takke

In ʼn wyk voer die biskop of ʼn toegewysde raadgewer tempelaanbevelingsonderhoude en reik die aanbevelings uit aan diegene wat waardig is. In ʼn tak voer slegs die takpresident tempelaanbevelingsonderhoude en reik aanbevelings uit.

In ʼn wyk voer die biskop persoonlik onderhoude met lede wat:

  • Hulle eie begiftiging ontvang (sien 27.1 en 27.2).

  • Aan ʼn eggenoot verseёl word (sien 27.3).

In dringende gevalle waar die biskop nie beskikbaar is nie, kan hy een van sy raadgewers magtig om hierdie onderhoude te voer.

Voordat ʼn aanbeveling uitgereik word in enige van die bogenoemde situasies, gaan die biskop die lid se rekord na om te verifieer dat dit nie ʼn aantekening oor kerklidmaatskapsbeperkings bevat nie. Vir lede wat hul eie begiftiging ontvang of aan ʼn eggenoot verseël word, verseker hy ook dat:

  • Die persoon se doop en bevestiging op die lidmaatskapsrekord aangeteken is.

  • Broers die Melgisédekse Priesterskap ontvang het.

Na die onderhoud deur ʼn lid van die bisdom of die takpresident, voer ʼn lid van die penpresidensie onderhoude met lede wat in ʼn pen woon. ʼn Lid van die sendingpresidensie voer die tweede onderhoud vir lede wat in ʼn distrik woon. ʼn Distrikspresident voer nie tempelaanbevelingsonderhoude tensy hy deur die Eerste Presidensie gemagtig is nie.

26.3.2

Tempelaanbevelingsonderhoude vir Lede in Afgesonderde Areas

Sommige lede woon in gebiede wat duur reise of groot moeite vereis om met ʼn lid van die pen- of sendingpresidensie te vergader. In hierdie situasies mag ʼn tempelpresident ʼn onderhoud met die persoon voer en die aanbeveling onderteken. Hy beraadslaag met die pen- of sendingpresident voor hy die onderhoud voer. Die biskop, ʼn gemagtigde raadgewer of die takpresident moes reeds ʼn onderhoud met die lid gevoer het en die aanbeveling onderteken het.

26.4

Uitreiking van Tempelaanbevelings aan Onbegiftigde Lede

26.4.1

Algemene Riglyne

Tempelaanbevelings word as volg aan onbegiftigde lede uitgereik:

  • Vir lede van 11 jaar en ouer om vir die afgestorwenes gedoop en bevestig te word. (Jongdames en geordineerde jongmans kom in aanmerking vir ʼn tempelaanbeveling vanaf Januarie van die jaar wat hulle 12 word.)

  • Vir lede van 8 tot 20 jaar om aan hul ouers verseël te word. Kinders jonger as 8 het nie ʼn aanbeveling nodig om aan hulle ouers verseël te word nie (sien 26.4.4).

  • Vir lede van 8 tot 20 jaar om die verseëlings van hul lewende broers en susters, stiefbroers of -susters of halfbroers en -susters aan hul ouers waar te neem.

Lede wat voorheen begiftig is, kry nie een van die aanbevelings wat in hierdie afdeling uiteengesit is nie.

ʼn Manlike lid van die Kerk wat oud genoeg is om die priesterskap te hou, moet tot ʼn priesterskapsamp geordineer word voordat hy ʼn tempelaanbeveling kan ontvang.

26.4.2

Tempelaanbevelings vir Nuut-gedoopte Lede

Die biskop voer onderhoude met nuwe lede wat van ʼn gepaste ouderdom is om slegs ʼn tempelaanbeveling vir plaasvervangerdope en bevestigings te ontvang. Hy voer hierdie onderhoud kort na die lid se bevestiging, normaalweg binne ʼn week (sien 26.4.1). Vir broers kan hierdie onderhoud deel vorm van die onderhoud om die Aäroniese Priesterskap te ontvang.

26.4.3

Tempelaanbevelings Slegs vir Plaasvervangerdope en Bevestigings

Tempelaanbevelings wat uitgereik word vir plaasvervangerdope en bevestigings mag slegs vir daardie doel gebruik word.

26.4.4

Tempelaanbevelings vir die Verseëling van Lewende Kinders aan Ouers

Lede wat 21 of ouer is mag aan hulle ouers verseël word of ʼn verseëling waarneem slegs as hulle (1) begiftig is en (2) ʼn geldige tempelaanbeveling het.

26.5

Uitreiking van Tempelaanbevelings onder Spesiale Omstandighede

26.5.1

Lede wat Hulle Eie Begiftiging Ontvang

Waardige lede wat hul eie begiftiging wil ontvang, kan dit doen wanneer hulle aan al die volgende voorwaardes voldoen:

  • Hulle ten minste 18 jaar oud is.

  • Hulle hoërskool, sekondêre skool of die ekwivalent voltooi het of nie meer bywoon nie.

  • Een volle jaar verloop het sedert hul bevestiging.

  • Hulle ʼn begeerte het om tempelverbonde te ontvang en regdeur hulle lewens te eer.

Daarbenewens moet ʼn man die Melgisédekse Priesterskap hou voordat hy sy begiftiging ontvang. Vir inligting oor lede wat voorberei om hul eie begiftiging te ontvang, sien 25.2.8. Vir inligting oor wie die begiftiging mag ontvang, sien 27.2.1.

26.5.3

Jong Sendelinge Wat Terugkeer van Diens Weg van die Huis

Die sendingpresident dateer en aktiveer die aanbeveling sodat dit drie maande ná die datum waarop die sendeling terugkeer huis toe, verval.

Die biskop voer ʼn onderhoud met teruggekeerde sendelinge om ʼn nuwe tempelaanbeveling uit te reik naby die einde van die verstrykingstydperk van drie maande.

26.5.4

Lede Wat Nie in Dieselfde Wyk Gewoon Het vir Ten Minste Een Jaar Nie

Die biskop of ʼn toegewysde raadgewer kontak die vorige biskop voor hulle die tempelaanbevelingsonderhoud voer.

26.5.7

Lede Wat as Transgender Identifiseer

Die penpresident moet met die Area Presidensie beraadslaag om individuele situasies met sensitiwiteit en Christelike liefde aan te spreek (sien 38.6.23).

26.5.8

Lede Wat ʼn Ernstige Sonde Gepleeg Het

ʼn Lid wat ʼn ernstige sonde gepleeg het mag nie ʼn tempelaanbeveling ontvang voordat hy of sy bekeer het nie (sien 32.6).

26.5.9

Lede Wat Hertoegelaat Is ná Onttrekking van Kerklidmaatskap of Bedanking

26.5.9.1

Lede Wat Nie Voorheen Begiftig Was Nie

Hierdie lede mag nie aanbevelings ontvang om hul eie begiftiging te ontvang voordat een volle jaar verstryk het ná die datum van hulle hertoelating tot die Kerk deur doop en bevestiging.

26.5.9.2

Lede Wat Voorheen Begiftig Was

Lede wat voorheen begiftig was, mag geen vorm van tempelaanbeveling ontvang voordat hulle tempelseëninge herstel is deur die ordinansie van herstelling van seëninge nie.

Druk