Handleidings en Roepings
27. Tempelordinansies vir die Lewendes


“27. Tempelordinansies vir die Lewendes,” Seleksies uit die Algemene Handleiding (2023).

“27. Tempelordinansies vir die Lewendes,” Seleksies uit die Algemene Handleiding

Beeld
bruid en bruidegom

27.

Tempelordinansies vir die Lewendes

27.0

Inleiding

Die tempel is die huis van die Here. Dit rig ons na ons Saligmaker, Jesus Christus. In tempels neem ons deel aan heilige ordinansies en sluit verbonde met Hemelse Vader wat ons aan Hom en ons Saligmaker verbind. Hierdie verbonde en ordinansies berei ons voor om terug te keer na Hemelse Vader se teenwoordigheid en om as families vir die ewigheid saam verseël te word.

In tempelverbonde en ordinansies, “word die mag van goddelikheid geopenbaar” (Leer en Verbonde 84:20).

Tempelverbonde en ordinansies is heilig. Die simbole wat met tempelverbonde geassosieer word, moet nie buite die tempel bespreek word nie. Ons moet ook nie die heilige inligting bespreek wat ons in die tempel belowe om nie openbaar te maak nie. Ons kan egter die basiese doelwitte en leerstelling van tempelverbonde en ordinansies en die geestelike gevoelens wat ons in die tempel het, bespreek.

Wyks- en penleiers bespreek die inligting in hierdie hoofstuk met lede wat hulself voorberei om die begiftigings- of verseëlingsordinansies te ontvang.

27.1

Ontvangs van Tempelordinansies

27.1.1

Voorbereiding om Tempelordinansies te Ontvang

Lede moet hulself geestelik voorberei om tempelordinansies te ontvang en om tempelverbonde te sluit en te eerbiedig.

Ouers het die primêre verantwoordelikheid om hul kinders te help om voor te berei om tempelordinansies te ontvang. Pen- en wyksleiers, bedieningsbroers- en susters en uitgebreide familielede ondersteun ouers in hierdie rol.

Hulpbronne om lede te help voorberei om tempelordinansies te ontvang, is beskikbaar by temples.ChurchofJesusChrist.org.

Lede wat voorberei om hul eie begiftiging te ontvang of om aan ʼn eggenoot verseël te word, word aangemoedig om aan ʼn tempelvoorbereidingskursus deel te neem (sien 25.2.8).

27.1.3

Lede Met Fisiese Gestremdhede

Waardige lede wat fisiese gestremdhede het, kan alle tempelordinansies ontvang. Hierdie lede word aangemoedig om die tempel by te woon saam met begiftigde familielede of vriende van dieselfde geslag wat hulle kan bystaan. Indien lede nie saam met ʼn familielid of vriend kan bywoon nie, kan hulle die tempel vooraf skakel om te sien watter reëlings getref kan word.

27.1.4

Vertalings- of Vertolkingshulp

Indien lede vertalings- of vertolkingshulp nodig het, moet hulle die tempel vooraf kontak om te sien of dit beskikbaar is.

27.1.5

Klere om na ʼn Tempel te Dra

Wanneer daar na ʼn tempel gegaan word, moet lede die tipe klere dra wat hulle gewoonlik na ʼn nagmaaldiens aantrek.

Sien 27.3.2.6 vir inligting oor die dra van klere na ʼn tempelhuwelik of -verseëling.

Sien 38.5 vir inligting oor:

  • Klere om te dra tydens die begiftigings- en verseëlingsordinansies.

  • Verkryging, dra en versorging van seremoniële tempelkleding en kledingstukke.

27.1.6

Kinderversorging

Kinders moet volwasse toesig hê as hulle op die tempelterrein is. Tempelwerkers is slegs beskikbaar om toesig oor kinders te hou in die volgende omstandighede:

  • As hulle aan ouers verseël word.

  • As hulle die verseëling van hul lewende broers en susters, stiefbroers en -susters of halfbroers- en susters aan hulle ouers bywoon.

27.1.7

Vergadering met Lede nadat Hulle Tempelordinansies Ontvang Het

Lede het dikwels vrae nadat hul tempelordinansies ontvang het. Begiftigde familielede, die biskop, ander wyksleiers en bedieningsbroers en -susters kan met lede vergader om hul tempelervaring te bespreek.

Hulpbronne om vrae te help antwoord is beskikbaar by temples.ChurchofJesusChrist.org.

27.2

Die Begiftiging

Die woord begiftiging beteken “ʼn geskenk.” Die tempelbegiftiging is letterlik ʼn geskenk van God waardeur Hy sy kinders seën. Van die geskenke wat lede deur die tempelbegiftiging ontvang, sluit in:

  • Groter kennis van die Here se doelwitte en leringe.

  • Krag om alles te doen wat Hemelse Vader wil hê sy kinders moet doen.

  • Goddelike leiding wanneer hulle die Here, hul gesinne en ander dien.

  • Verhoogde hoop, vertroosting en vrede.

Die vervulling van hierdie seëninge hang af van die getrouheid aan die evangelie van Jesus Christus.

Die begiftiging word in twee dele ontvang. In die eerste deel ontvang ʼn persoon ʼn preliminêre ordinansie wat die voorbereidende ordinansie genoem word. Die voorbereidende ordinansie staan ook as die was en salwing bekend (sien Exodus 29:4–9). Dit sluit spesiale seëninge in wat verband hou met die persoon se goddelike erfenis en potensiaal.

Gedurende die voorbereidende ordinansie, word die lid gemagtig om die tempelkleding te dra. Die kleding verteenwoordig sy of haar persoonlike verhouding met God en die verbintenis om die verbonde wat in die tempel gesluit is, te gehoorsaam. Wanneer lede getrou is aan hulle verbonde en die kleding behoorlik regdeur hul lewens dra, dien dit ook as beskerming. Vir inligting oor die dra en versorging van die kleding, sien 38.5.5.

In die tweede deel van die begiftiging word die plan van saligheid geleer, insluitend die Skepping, die Val van Adam en Eva, die Versoening van Jesus Christus, die Afvalling en die Herstelling. Lede ontvang ook instruksie oor hoe om na die Here se teenwoordigheid terug te keer.

In die begiftiging word lede genooi om die volgende heilige verbonde te sluit:

  • Leef die wet van gehoorsaamheid en streef daarna om Hemelse Vader se gebooie te onderhou.

  • Gehoorsaam die wet van opoffering, wat beteken opoffering om die Here se werk te ondersteun asook bekering met ʼn gebroke hart en verslae gees.

  • Gehoorsaam die wet van die evangelie van Jesus Christus, wat die hoër wet is wat Hy onderrig het terwyl Hy op die aarde was.

  • Onderhou die wet van kuisheid, wat beteken dat ʼn lid slegs seksuele verhoudings het met die persoon aan wie hy of sy wettig getroud is volgens God se wet.

  • Onderhou die wet van toewyding, wat beteken dat lede hulle tyd, talente en alles waarmee die Here hulle geseën het, toewy om Jesus Christus se Kerk op die aarde op te bou.

In ruil daarvoor belowe Hemelse Vader dat diegene wat getrou bly aan hul tempelverbonde, begiftig sal word “met krag van omhoog” (Leer en Verbonde 38:32, 38; sien ook Lukas 24:49; Leer en Verbonde 43:16).

27.2.1

Wie Mag die Begiftiging Ontvang

Alle verantwoordbare volwasse lede van die Kerk word genooi om voor te berei vir en die ontvangs van hul eie begiftiging. Alle voorvereiste ordinansies moet uitgevoer en aangeteken word voordat lede die begiftiging kan ontvang (sien 26.3.1).

27.2.1.1

Nuutgedoopte Lede

Waardige volwasse nuwe lede kan hulle begiftiging ten minste een volle jaar vanaf die datum van hul bevestiging ontvang.

27.2.1.2

Lede Wat ʼn Onbegiftigde Eggenoot Het

ʼn Waardige lid wie se eggenoot nie begiftig is nie, kan sy of haar eie begiftiging ontvang wanneer aan die volgende voorwaardes voldoen word:

  • Die onbegiftigde eggenoot gee sy of haar toestemming.

  • Die lid, biskop en penpresident vol vertroue is dat die verantwoordelikheid wat met die tempelverbonde geneem word, nie ʼn ontwrigting in die huwelik sal wees nie.

Hierdie voorwaardes geld hetsy die eggenoot ʼn lid van die Kerk is of nie.

27.2.1.3

Lede Wat Intellektuele Gestremdhede Het

Lede wat intellektuele gestremdhede het kan hul eie begiftiging ontvang indien:

  • Hulle alle voorvereiste ordinansies ontvang het (sien 26.3.1).

  • Hulle die intellektuele vermoë het om die gepaardgaande verbonde te verstaan, te sluit en te onderhou.

Die biskop beraadslaag met die lid en waar van toepassing, met sy of haar ouers. Hy soek ook die leiding van die Gees. Hy kan met die penpresident beraadslaag.

27.2.2

Besluit Wanneer om die Begiftiging te Ontvang

Die besluit om die begiftiging te ontvang is persoonlik en moet biddend gemaak word. Die begiftiging is ʼn seëning van krag en openbaring aan almal wat voorberei om dit te ontvang. Lede kan kies om hul eie begiftiging te ontvang wanneer hulle aan al die volgende voorwaardes voldoen:

  • Hulle ten minste 18 jaar oud is.

  • Hulle hoërskool, sekondêre skool of die ekwivalent voltooi het of nie meer bywoon nie.

  • Een volle jaar verloop het sedert hul bevestiging.

  • Hulle ʼn begeerte voel om heilige tempelordinansies regdeur hul lewens te ontvang en te eerbiedig.

Lede wat ʼn sendingroeping ontvang het of voorberei om in die tempel verseël te word, moet die begiftiging ontvang.

Voor die uitreiking van ʼn tempelaanbeveling aan ʼn lid om die begiftiging te ontvang, moet die biskop en penpresident voel dat die persoon voorbereid is om heilige tempelverbonde te verstaan en te onderhou. Hierdie geskiktheid word individueel vir elke persoon bepaal.

27.2.3

Beplanning en Skedulering van die Begiftiging

27.2.3.1

Ontvangs van ʼn Aanbeveling vir Lewende Ordinansies

ʼn Lid moet ʼn aanbeveling vir lewende ordinansies ontvang om ʼn tempel binne te gaan en die begiftiging te ontvang. Vir inligting oor hierdie aanbevelings, sien 26.5.1.

27.2.3.2

Kontak die Tempel

Lede wat beplan om die begiftiging te ontvang, moet die tempel vooraf kontak om die ordinansie te skeduleer.

27.2.3.3

Begeleiders vir Lede wat die Begiftiging Ontvang

Lede wat hul eie begiftiging ontvang, kan ʼn begiftigde lid van dieselfde geslag nooi om as ʼn begeleider op te tree en hulle tydens die begiftigingsessie by te staan. ʼn Begeleider moet ʼn geldige tempelaanbeveling hê. Indien nodig, kan die tempel ʼn begeleider voorsien.

27.3

Verseëling van Man en Vrou

ʼn Tempelverseëling verbind ʼn man en vrou vir tyd en alle ewigheid. Hulle sal hierdie seëninge ontvang as hulle getrou is aan die verbonde wat hulle in die tempel gesluit het. Deur hierdie ordinansie, kan hulle kinders ook deel wees van hul ewige familie.

Kerkleiers moedig lede aan om voor te berei om in ʼn tempel te trou en verseël te word. Waar tempelhuwelike nie wettiglik erken word nie, kan gemagtigde Kerkleiers of ander siviele huwelike uitvoer wat gevolg word deur ʼn tempelverseëling (sien 38.3). Hierdie patroon kan ook gevolg word wanneer ʼn tempelhuwelik kan veroorsaak dat ouers of onmiddellike familielede uitgesluit voel omdat hulle nie die tempelseremonie kan bywoon nie.

27.3.1

Wie Mag in ʼn Tempel Verseël Word

Alle verantwoordbare ongetroude lede van die Kerk word genooi om voor te berei vir ʼn tempelverseëling. Diegene wat siviel getroud is, word aangemoedig om in die tempel verseël te word vir tyd en ewigheid, sodra hulle voorbereid is. Lede moet begiftig wees voordat hulle verseël kan word (sien 27.2).

Paartjies wat in die tempel verseël word moet óf (1) siviel getroud wees voor die verseëling óf (2) getroud en verseël word in dieselfde tempelseremonie. Sien 27.3.2.

27.3.1.2

Lede Wat Intellektuele Gestremdhede Het

Lede wat intellektuele gestremdhede het kan aan hulle eggenoot of verloofde verseël word indien:

  • Hulle alle voorvereiste ordinansies insluitend die begiftiging ontvang het (sien 27.2.1.3).

  • Hulle die intellektuele vermoë het om die gepaardgaande verbonde te verstaan, te sluit en te onderhou.

Die biskop beraadslaag met die lid en sy of haar eggenoot of verloofde. Hy soek ook die leiding van die Gees. Hy kan beraadslaag met die penpresident.

27.3.2

Beplanning en Skedulering van ʼn Tempelhuwelik of -verseëling

27.3.2.1

Ontvangs van ʼn Aanbeveling vir Lewende Ordinansies

ʼn Lid moet ʼn aanbeveling vir lewende ordinansies ontvang om aan sy of haar huweliksmaat verseël te word. Vir inligting oor hierdie aanbevelings, sien 26.3.

27.3.2.2

Kontak die Tempel

Lede wat beplan om te trou of aan ʼn eggenoot verseël te word, moet die tempel vooraf kontak om die ordinansie te skeduleer.

27.3.2.3

Verkryging van ʼn Huwelikslisensie

Voor die huwelik, moet ʼn paartjie ʼn wettige huwelikslisensie kry wat geldig is waar die huwelik uitgevoer sal word. Indien die paartjie beplan om beide getroud en verseël te word tydens dieselfde seremonie, moet hulle ʼn geldige huwelikslisensie na die tempel bring.

Paartjies wat verseël word ná ʼn siviele huwelik, hoef nie ʼn huwelikslisensie na die tempel te bring nie. In plaas daarvan verskaf hulle die datum en plek van hul siviele huwelik as deel van die rekordverifikasieproses.

27.3.2.4

Begeleiders vir die Bruid en Bruidegom

ʼn Begiftigde suster kan die bruid vergesel om haar in die aantrekkamer by te staan. ʼn Begiftigde broer kan dieselfde vir die bruidegom doen. ʼn Begeleider moet ʼn geldige tempelaanbeveling hê. Indien nodig, kan die tempel ʼn begeleider voorsien.

27.3.2.5

Wie Voer ʼn Tempelhuwelik of -verseëling Uit

ʼn Tempelhuwelik of verseëling word gewoonlik deur ʼn verseëler uitgevoer wat toegewys is by die tempel waar die paartjie in die huwelik sal tree of verseël sal word. Indien ʼn familielid of kennis die verseëlingsgesag hou en toegewys is by die tempel waar die paartjie in die huwelik sal tree of verseël sal word, kan hulle hom nooi om die huwelik of verseëling uit te voer.

27.3.2.6

Gepaste Klere vir ʼn Tempelhuwelik of -verseëling

Bruid se Rok. ʼn Bruid se rok wat in die tempel gedra word, moet wit, fatsoenlik in ontwerp en materiaal en vry van oordadige versiering wees. Dit moet ook die tempelkleding bedek. Deursigtige materiaal moet uitgevoer word.

ʼn Bruid se rok moet lang moue of driekwart moue hê om soortgelyk te wees aan ander rokke wat in die tempel gedra word. Rokke moet nie ʼn sleep hê nie, tensy dit vasgesteek of verwyder kan word vir die verseëlingseremonie.

Die tempel kan ʼn rok voorsien indien dit nodig is of verlang word.

Bruidegom se Klere. Die bruidegom dra normale tempelklere tydens die huweliks- of verseëlingseremonie (sien 38.5.1 en 38.5.2).

Gaste se Klere. Diegene wat ʼn huweliks- of verseëlingseremonie bywoon, moet soortgelyke klere dra as wat hulle na ʼn nagmaaldiens sou dra. Lede wat na ʼn verseëling kom direk van ʼn begiftigingsessie, kan seremoniële tempelklere dra.

Blomme. Die paartjie en hulle gaste moet nie blomme tydens die huweliks- of verseëlingseremonie dra nie.

27.3.2.7

Uitruil van Ringe ná ʼn Tempelhuwelik of -verseëling

Die uitruil van ringe is nie deel van die tempelverseëlingseremonie nie. Paartjies kan egter ringe uitruil ná die seremonie in die verseëlingskamer. Paartjies moet nie op enige ander tyd of plek in ʼn tempel of op tempelgronde ringe uitruil nie.

Paartjies wat getroud en verseël is in dieselfde seremonie, kan ringe op ʼn later tyd uitruil om familielede te akkommodeer wat nie ʼn tempelhuwelik kan bywoon nie. Die uitruiling moet nie enige deel van huweliks- of verseëlingseremonie herhaal nie. Die paartjie moet nie plegtige beloftes uitruil nadat hulle in die tempel getroud en verseël is nie.

Paartjies wat siviel getroud is voor hul tempelverseëling, kan ringe uitruil by hul siviele seremonie, by hul tempelverseëling of by beide seremonies.

27.3.4

Wie Mag ʼn Tempelhuwelik of -verseëling Bywoon

Paartjies moet slegs intieme familielede en vriende na ʼn tempelhuwelik of verseëling nooi. Verantwoordbare lede moet begiftig wees en ʼn geldige tempelaanbeveling hê om dit by te woon.

Die penpresident kan ʼn persoon wat nie gedoop of begunstig is as gevolg van intellektuele gestremdhede, magtig om die tempelhuwelik of verseëling van sy of haar lewende broers of susters by te woon. Die persoon moet:

  • Ten minste 18 jaar oud wees.

  • Eerbiedig kan bly tydens die seremonie.

Die penpresident skryf ʼn brief waarin hy aandui dat die persoon gemagtig is om die verseëling by te woon. Hierdie brief word by die tempel voorgelê.

27.4

Verseëling van Lewende Kinders aan die Ouers

Kinders wat gebore is nadat hul moeder aan ʼn eggenoot in ʼn tempel verseël is, word in die verbond van daardie verseëling gebore. Hulle hoef nie die ordinansie van verseëling aan ouers te ontvang nie.

Kinders wat nie in die verbond gebore is nie, kan deel word van ʼn ewige familie deur aan hulle geboorte- of aanneemouers verseël te word. Hierdie kinders is geregtig op dieselfde seëninge as diegene wat in die verbond gebore is.

27.4.2

Kontak die Tempel

ʼn Paartjie wat hul kinders aan hulle verseël wil hê, of kinders wat graag aan hulle afgestorwe ouers verseël wil word, moet die tempel vooraf kontak om die ordinansie te skeduleer.

Druk