Handleidings en Roepings
3. Priesterskapsbeginsels


“3. Priesterskapsbeginsels,” Algemene Handleiding: Diens in Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (2020).

“3. Priesterskapsbeginsels,” Algemene Handleiding.

Beeld
jong man ontvang priesterskapseëning

3.

Priesterskapsbeginsels

3.0

Inleiding

Die priesterskap is die gesag en mag van God. Dit het altyd bestaan en sal voortgaan om te bestaan sonder einde (sien Alma 13:7–8; Leer en Verbonde 84:17–18). Hemelse Vader volbring sy werk deur die priesterskap “om die onsterflikheid en die ewige lewe van die mens teweeg te bring” (Moses 1:39). God gee gesag en mag aan sy seuns en dogters op aarde om te help om hierdie werk uit te voer (sien hoofstuk 1).

3.1

Herstelling van die Priesterskap

Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae is die enigste organisasie op aarde met priesterskapsgesag. Die Profeet Joseph Smith het die Aäroniese Priesterskap en die sleutels daarvan van Johannes die Doper ontvang (sien Leer en Verbonde 13:1). Hy het die Melgisédekse Priesterskap en die sleutels daarvan van die Apostels Petrus, Jakobus en Johannes ontvang (sien Leer en Verbonde 27:12–13).

Moses, Elías en Elía het in die Kirtland-tempel aan Joseph Smith verskyn en aan hom die verdere gesag gegee wat nodig is om God se werk in die laaste dae te volbring (sien Leer en Verbonde 110:11–16).

  • Moses het die sleutels van die versameling van Israel oorgeplaas (sien Gids tot die Skrifture, “Israel”).

  • Elías het die tydvak van die evangelie van Abraham oorgeplaas. Dit sluit in die herstelling van die verbond van Abraham (sien Abraham 2:9–11; Gids tot die Skrifture, “Verbond van Abraham”).

  • Elía het die sleutels van die verseëlingsmag oorgeplaas (sien Gids tot die Skrifture, “Verseël, Verseëling”). Hierdie sleutels verleen die gesag wat dit moontlik maak dat ordinansies wat op die aarde gedoen word in die volgende lewe bindend sal wees (sien Leer en Verbonde 128:9–10).

Elke lid van die Eerste Presidensie en die Kworum van die Twaalf Apostels hou vandag al hierdie priesterskapsleutels. Slegs die President van die Kerk, wat die senior Apostel is, is gemagtig om al hierdie sleutels uit te oefen. Hierdie leiers roep en magtig ander Kerklede om God se priesterskapsgesag en mag te gebruik om te help in die werk van heil en verlossing.

Vir inligting oor priesterskapsleutels, sien 3.4.1.

3.2

Seëninge van die Priesterskap

God stel groot seëninge beskikbaar aan al sy kinders deur verbonde en priesterskapsordinansies. Hierdie seëninge sluit in:

  • Doop en lidmaatskap in Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae.

  • Die gawe van die Heilige Gees.

  • Gebruik van die nagmaal.

  • Gesag en mag om in Kerkroepings en toegewysde take te dien.

  • Ontvangs van patriargale seëninge en ander priesterskapseëninge van heling, troos en leiding.

  • Om met God se mag in die tempel begiftig te word.

  • Om vir ewig aan jou familielede verseël te word.

  • Die belofte van die ewige lewe.

God se kinders kan hierdie seëninge van die priesterskap ontvang en groot vreugde ervaar wanneer hulle die evangelie van Jesus Christus uitleef.

3.3

Melgisédekse Priesterskap en Aäroniese Priesterskap

Die priesterskap in die Kerk het twee dele: die Melgisédekse Priesterskap en die Aäroniese Priesterskap (sien Leer en Verbonde 107:1).

3.3.1

Melgisédekse Priesterskap

Die Melgisédekse Priesterskap is “die Heilige Priesterskap, volgens die Orde van die Seun van God” (Leer en Verbonde 107:3). Dit is die mag waardeur die seuns en dogters van God soos Hy kan word (sien Leer en Verbonde 84:19–21; 132:19–20).

“Die Melgisédekse Priesterskap hou die reg van presidensie.” Dit het “mag en gesag oor al die ampte in die kerk in alle tydperke van die wêreld, om geestelike dinge te bedien” (Leer en Verbonde 107:8). Deur hierdie gesag lei en beheer Kerkleiers al die geestelike werk van die Kerk (sien Leer en Verbonde 107:18). “Alle ander gesagsdraers of ampte in die kerk is aanhangsels van hierdie priesterskap” (Leer en Verbonde 107:5).

Die President van die Kerk is die presiderende hoëpriester oor die Melgisédekse Priesterskap (sien Leer en Verbonde 107:65–67). Die penpresident is die presiderende hoëpriester in die pen (sien Leer en Verbonde 107:8, 10; sien ook hoofstuk 5 in hierdie handleiding). Die biskop is die presiderende hoëpriester in die wyk (sien Leer en Verbonde 107:17; sien ook hoofstuk 7 in hierdie handleiding).

Vir inligting oor die ampte en verantwoordelikhede van die Melgisédekse Priesterskap, sien 8.1.

3.3.2

Aäroniese Priesterskap

Die Aäroniese Priesterskap is “ʼn aanhangsel van die … Melgisédekse Priesterskap” (Leer en Verbonde 107:14). Dit sluit die sleutels in van:

  • Die bediening van engele.

  • Die evangelie van bekering.

  • Bediening van uiterlike ordinansies, insluitend doop vir die vergifnis van sondes.

(Sien Leer en Verbonde 13:1; 84:26–27; 107:20.)

Die biskop is die president van die Aäroniese Priesterskap in die wyk (sien Leer en Verbonde 107:15).

Vir inligting oor die ampte en verantwoordelikhede van die Aäroniese Priesterskap, sien 10.1.3.

3.4

Priesterskapsgesag

Priesterskapsgesag is die magtiging om God te verteenwoordig en in sy Naam op te tree. Alle priesterskapsgesag in die Kerk word uitgeoefen onder die leiding van diegene wat priesterskapsleutels hou.

Waardige manlike Kerklede ontvang priesterskapsgesag deur toekenning van die priesterskap en ordinering tot priesterskapsampte. Alle Kerklede kan gedelegeerde gesag uitoefen wanneer hulle afgesonder of toegewys word om te help om God se werk te volbring. Lede is toerekenbaar voor God en aan diegene wat Hy aangewys het om te presideer vir hoe hulle sy gesag uitoefen (sien 3.4.4).

3.4.1

Priesterskapsleutels

Priesterskapsleutels is die gesag om die gebruik van die priesterskap ten behoewe van God se kinders te lei. Die gebruik van alle priesterskapsgesag in die Kerk word gelei deur diegene wat priesterskapsleutels hou (sien Leer en Verbonde 65:2).

3.4.1.1

Diegene Wat Priesterskapsleutels Hou

Jesus Christus hou al die sleutels van die priesterskap. Priesterskapsleutels word onder sy leiding aan mans gegee om in spesifieke roepings te gebruik om God se werk te volbring, soos hieronder verduidelik.

Die Here het al die sleutels wat betrekking het op die koninkryk van God op die aarde aan elkeen van sy Apostels toegeken. Die senior lewende Apostel, die President van die Kerk, is die enigste persoon op aarde wat gemagtig is om al daardie priesterskapsleutels uit te oefen (sien Leer en Verbonde 81:1–2; 107:64–67, 91–92; 132:7).

Priesterskapleiers word sleutels gegee sodat hulle in hul areas van verantwoordelikheid kan presideer onder die leiding van die President van die Kerk. Hierdie leiers sluit in:

  • Pen- en distrikspresidente.

  • Biskoppe en takpresidente.

  • Melgisédekse en Aäroniese Priesterskapskworum-presidente.

  • Tempelpresidente.

  • Sendingpresidente en sendelingopleidingsentrum-presidente.

  • Kerkgeskiedkundige terrein-presidente.

Hierdie leiers ontvang priesterskapsleutels wanneer hulle afgesonder word in hulle roepings.

Priesterskapsleutels word nie aan ander gegee nie, insluitend raadgewers vir plaaslike priesterskapleiers of presidente van Kerk-organisasies. Hierdie leiers word egter gedelegeerde gesag gegee wanneer hulle afgesonder word en wanneer hulle hul toegewysde take ontvang onder die leiding van diegene wat priesterskapsleutels hou. Presidente van Kerk-organisasies presideer onder die leiding van diegene wat priesterskapsleutels hou (sien 4.2.4).

Beeld
wyksraadsvergadering

3.4.1.2

Orde in die Here se Werk

Priesterskapsleutels verseker dat die werk van heil en verheffing op ʼn ordelike wyse uitgevoer word (sien Leer en Verbonde 42:11; 132:8). Diegene wat priesterskapsleutels hou, lei die Here se werk binne die areas van hulle verantwoordelikheid. Hulle doen dit in liefde en regverdigheid. Hierdie presiderende gesag is slegs geldig vir die spesifieke verantwoordelikhede van die leier se roeping. Wanneer priesterskapleiers onthef word van hul roepings, hou hulle nie meer die sleutels nie.

Almal wat in die Kerk dien, word afgesonder of toegewys onder die leiding van iemand wat priesterskapsleutels hou. Wanneer lede afgesonder of toegewys word, word hulle deur God gemagtig om in sy werk te dien.

3.4.2

Priesterskapstoekenning en Ordinering

Onder die leiding van diegene wat priesterskapsleutels hou, word die Aäroniese Priesterskap en die Melgisédekse Priesterskap aan waardige manlike lede van die Kerk toegeken (sien Leer en Verbonde 84:14–17). Nadat die gepaste priesterskap toegeken is, word die persoon geordineer tot ʼn amp in daardie priesterskap, byvoorbeeld diaken of ouderling. ʼn Priesterskaphouer beoefen die priesterskap volgens die regte en pligte van daardie amp (sien Leer en Verbonde 107:99).

Elke man in die Kerk van Jesus Christus behoort te strewe om waardig te wees om die Melgisédekse Priesterskap te ontvang en te gebruik om andere te dien. Wanneer ʼn man hierdie priesterskap ontvang, sluit hy ʼn verbond om sy priesterskapspligte getrou te vervul. Hy ontvang ook ʼn eed, of belofte, van ewige seëninge van God (sien Leer en Verbonde 84:33–44; sien ook Gids tot die Skrifture, “Eed en Verbond van die Priesterskap”).

Vir meer inligting oor toekenning en ordinering van priesterskap, sien 8.1.1, 10.6, 18.10, en 38.2.5.

3.4.3

Delegering van Priesterskapsgesag om in die Kerk te Dien

Priesterskapsgesag om in die Kerk te dien word aan lede gedelegeer op die volgende maniere:

  • Deur afsondering tot ʼn Kerkroeping

  • Deur toewysing van presiderende Kerkleiers

3.4.3.1

Afsondering

Wanneer mans en vroue afgesonder word onder die leiding van diegene wat die priesterskapsleutels hou, word hulle gesag van God gegee om in daardie roeping op te tree. Wanneer hulle van ʼn roeping onthef word, het hulle nie meer die gesag wat daarmee geassosieer word nie.

Sommige roepings word geassosieer met ampte en kworums van die priesterskap. Byvoorbeeld, ʼn man wat die Melgisédekse Priesterskap hou, mag geroep word as ʼn ouderlingskworum-president. Wanneer hy afgesonder word deur die penpresident, word hy priesterskapsleutels, gesag en verantwoordelikheid gegee om die werk van die ouderlingskworum te lei (sien 3.4.1).

Baie ander Kerkroepings word nie geassosieer met priesterskapsampte en kworums nie. Maar alle Kerklede wat afgesonder word om te dien word goddelike gesag en verantwoordelikheid gegee om in hulle roepings op te tree. Byvoorbeeld:

  • ʼn Vrou wat deur die biskop geroep en afgesonder word as die wyk se Verligtingsvereniging-president, word die gesag gegee om die werk van die Verligtingsvereniging in die wyk te lei.

  • ʼn Man of vrou wat deur ʼn lid van die bisdom geroep en afgesonder word as ʼn onderwyser in die Primêre Organisasie, word die gesag gegee om kinders in die Primêre Organisasie in die wyk te onderrig.

Almal wat geroep en afgesonder word, dien onder die leiding van diegene wat oor hulle presideer (sien 3.4.1.2).

Vir meer inligting oor afsondering van lede vir Kerkroepings, sien 18.11.

3.4.3.2

Toegewysde Taak

Presiderende Kerkleiers kan gesag delegeer deur toegewysde take. Wanneer mans en vroue hierdie toegewysde take ontvang, word hulle die gesag van God gegee om te handel. Byvoorbeeld:

  • Die Eerste Presidensie en die Kworum van die Twaalf Apostels delegeer gesag aan Sewentigs wat toegewysde take ontvang het om areas te beheer en te presideer by penkonferensies.

  • Sendingpresidente delegeer gesag aan manlike en vroulike sendelinge wat toegewysde take ontvang om ander sendelinge te lei en op te lei.

  • Gesag word aan Kerklede gedelegeer om te dien as bedieningsbroers en bedieningsusters. Dit gebeur wanneer hulle onder die biskop se leiding deur die ouderlingskworum-president of Verligtingsverening-president ʼn taak toegewys word.

Gesag wat gedelegeer word deur ʼn toegewysde taak is beperk tot die spesifieke verantwoordelikhede en duur van die toegewysde taak.

Vir meer inligting oor toegewysde take deur delegering, sien 4.2.5.

3.4.4

Regverdige Uitoefening van Priesterskapsgesag

Kerkleiers en lede gebruik toegekende of gedelegeerde priesterskapsgesag om die lewens van andere te seën.

Hierdie gesag kan slegs in regverdigheid gebruik word (sien Leer en Verbonde 121:36). Dit word beoefen deur oorreding, lankmoedigheid, saggeaardheid, sagmoedigheid, liefde en vriendelikheid (sien Leer en Verbonde 121:41–42). Leiers beraadslaag met andere in ʼn gees van eenheid en soek die Here se wil deur openbaring (sien Leer en Verbonde 41:2). Vir meer inligting oor beraadslaging met andere, sien 4.4.3.

Diegene wat priesterskapsgesag uitoefen, forseer nie hulle wil op andere af nie. Hulle gebruik dit nie vir selfsugtige redes nie. As ʼn persoon dit onregverdig gebruik, “[onttrek] die hemele hulleself [en] die Gees van die Here is gegrief” (Leer en Verbonde 121:37).

Sommige Kerkroepings sluit ʼn verantwoordelikheid om te presideer in. Vir inligting oor presidering in die Kerk, sien 4.2.4.

Beeld
twee mans en ʼn vrou wat praat

3.5

Priesterskapsmag

Priesterskapsmag is die mag waardeur God sy kinders seën. God se priesterskapsmag vloei na alle lede van die Kerk—vroulik en manlik—wanneer hulle die verbonde onderhou wat hulle met Hom gesluit het. Lede sluit hierdie verbonde wanneer hulle priesterskapsordinansies ontvang. (Sien Leer en Verbonde 84:19–20.)

Die seëninge van priesterskapsmag wat lede kan ontvang, sluit in:

  • Leiding vir hulle lewens.

  • Inspirasie om te weet hoe om familielede en andere te dien.

  • Krag om uitdagings te verduur en te oorkom.

  • Gawes van die Gees om hulle vermoëns te vergroot.

  • Openbaring om te weet hoe om die werk te vervul waarvoor hulle geordineer, afgesonder of aangewys is.

  • Hulp en krag om meer soos Jesus Christus en Hemelse Vader te word.

3.5.1

Verbonde

ʼn Verbond is ʼn heilige belofte tussen God en sy kinders. God gee die voorwaardes vir die verbond, en sy kinders stem in om daardie voorwaardes te gehoorsaam. God belowe om sy kinders te seën wanneer hulle die verbond onderhou.

Lede sluit verbonde met God wanneer hulle die ordinansies vir heil en verheffing ontvang (sien 18.1). Almal wat tot die einde volhard deur hulle verbonde te onderhou, sal die ewige lewe beërwe (sien 2 Nefi 31:17–20; Leer en Verbonde 14:7). Om tot die einde te volhard sluit in om geloof in Hemelse Vader en Jesus Christus te beoefen en elke dag te bekeer.

Ouers, Kerkleiers en andere help individue om voor te berei om verbonde te sluit wanneer hulle die ordinansies van die evangelie ontvang. Hulle verseker dat die persoon die verbonde verstaan wat hy of sy gaan sluit. Nadat ʼn persoon ʼn verbond gesluit het, help hulle hom of haar om dit te onderhou. (Sien Mosia 18:8–11, 23–26.)

3.5.2

Ordinansies

ʼn Ordinansie is ʼn heilige daad wat deur die gesag van die priesterskap uitgevoer word. Ordinansies het altyd deel gevorm van die evangelie van Jesus Christus. Die eerste ordinansies op aarde is in die dae van Adam en Eva uitgevoer (sien Génesis 1:28; Moses 6:64–65).

In baie ordinansies sluit individue verbonde met God. Voorbeelde sluit in die doop, die nagmaal, die begiftiging, en die huweliksverseëlingsordinansie. In ander ordinansies soos patriargale seëninge of seëninge van die siekes, sluit individue nie verbonde nie, maar hulle ontvang wel leiding en krag om verbonde te onderhou.

Ordinansies het simboliese betekenis wat individue na Hemelse Vader en Jesus Christus rig. In die ordinansies wat verbonde insluit, help die simboliek individue om die beloftes wat hulle maak, en die seëninge wat hulle ontvang deur hulle getrouheid, te verstaan.

Elke ordinansie laat individue toe om ryk geestelike seëninge te ontvang. Die Here het geopenbaar: “In die ordinansies [van die priesterskap] word die mag van goddelikheid geopenbaar” (Leer en Verbonde 84:20). Ordinansies van heil en verheffing is noodsaaklik vir die ewige lewe. Vir meer inligting, sien 18.1.

Lewende individue ontvang die ordinansies van heil en verheffing vir hulself. Waar moontlik, keer hulle dan terug na die tempel om hierdie ordinansies plaasvervangend vir diegene wat dood is, te doen. Vir meer inligting oor die uitvoering van ordinansies vir die dode, sien hoofstuk 28.

3.6

Die Priesterskap en die Huis

Alle Kerklede wat hulle verbonde onderhou—vroue, mans en kinders—word geseën met God se priesterskapsmag in hulle huise om hulleself en hul families te versterk (sien 3.5). Hierdie mag sal lede help in God se werk van heil en verheffing in hulle persoonlike lewens en families (sien 2.2).

Mans wat die Melgisédekse Priesterskap hou, kan priesterskapseëninge aan familielede gee om leiding, genesing en vertroosting te bied. Wanneer nodig, kan Kerklede ook uitgebreide familielede, bedieningsbroers of plaaslike Kerkleiers nader vir hierdie seëninge. Vir meer inligting oor priesterskapseëninge, sien 18.13 en 18.14.

Vir inligting oor presidering in die familie, sien 2.1.3.

Beeld
vrou wat ʼn priesterskapseëning ontvang

Druk