Studiehulp
Israel


Israel

Die Here het die naam Israel aan Jakob gegee, die seun van Isak en kleinseun van Abraham in die Ou Testament (Gén. 32:28; 35:10). Die naam Israel kan verwys na Jakob self, sy nageslag, of na die koninkryk wat daardie afstammelinge eens besit het in Ou Testamentiese tye (2 Sam. 1:24; 23:3). Nadat Moses die kinders van Israel uit Egiptiese slawerny gelei het (Ex. 3–14), het rigters vir meer as driehonderd jaar oor hulle geheers. Vanaf Koning Saul het konings regeer oor verenigde Israel tot die dood van Salomo, toe tien stamme in opstand gekom het teen Rehábeam om ’n aparte nasie te vorm. Nadat die koninkryk van Israel verdeel was, het die noordelike stamme wat die groter gedeelte was, die naam Israel behou, terwyl die suidelike koninkryk Juda genoem is. Die land Kanaän word vandag ook Israel genoem. In ’n ander sin beteken Israel ’n ware gelowige in Christus (Rom. 10:1; 11:7; Gal. 6:16; Efés. 2:12).

Die twaalf stamme van Israel

Abraham se kleinseun, Jakob, wie se naam verander is na Israel, het twaalf seuns gehad. Hulle afstammelinge het bekend geword as die twaalf stamme van Israel of die kinders van Israel. Hierdie is die twaalf stamme: Ruben, Símeon, Levi, Juda, Íssaskar, en Sebulon (die seuns van Jakob en Lea); Dan en Náftali (die seuns van Jakob en Bilha); Gad en Aser (die seuns van Jakob en Silpa); Josef en Benjamin (die seuns van Jakob en Ragel) (Gén. 29:32–30:24; 35:16–18).

Jakob het aan die hoof van elke stam ’n seëning gegee voor sy dood (Gén. 49:1–28). Vir verdere inligting, sien die naam van elke seun van Jakob.

Ruben, die eersgebore seun van Jakob se eerste vrou, Lea, het sy geboorteregseëning en die dubbele gedeelte van sy erfenis vanweë onsedelikheid verloor (Gén. 49:3–4). Die geboortereg het toe na Josef gegaan, wat die eersgebore seun van Jakob se tweede vrou, Ragel, was (1 Kron. 5:1–2). Levi, wie se stam die Here gekies het om te dien as sy priesterskapdienaars, het nie ’n erfdeel ontvang nie vanweë hulle spesiale roeping om onder al die stamme te dien. Dit het Josef toegelaat om sy dubbele aandeel te deel met Josef se seuns, Efraim en Manasse (1 Kron. 5:1; Jer. 31:9), wat beskou is as afsonderlike stamme van Israel (JSV, Gén. 48:5–6 [Bylae]).

Lede van die stam van Juda moes die heersers wees totdat die Messias kom (Gén. 49:10; JSV, Gén. 50:24 [Bylae]). In die laaste dae het die stam van Efraim die voorreg om die boodskap van die Herstelling van die evangelie uit te dra na die wêreld en om verstrooide Israel te versamel (Deut. 33:13–17). Die tyd sal kom dat deur die evangelie van Jesus Christus, Efraim ’n leierskapsrol sal hê om al die stamme van Israel te verenig (Jes. 11:12–13; L&V 133:26–34).

Die verstrooiing van Israel

Die Here het die twaalf stamme van Israel verstrooi en gestraf vanweë hulle ongeregtigheid en rebelsheid. Nogtans het die Here ook hierdie verstrooiing van sy uitverkore volk onder die nasies van die wêreld gebruik om daardie nasies te seën.

Die versameling van Israel

Die huis van Israel sal in die laaste dae voor die koms van Christus versamel word (Gel. Art. 1:10). Die Here versamel sy volk Israel wanneer hulle Hom aanvaar en sy gebooie hou.

Die tien verlore stamme van Israel

Die tien stamme van Israel het die noordelike koninkryk van Israel gevorm en is gevange weggevoer na Assur in 721 v.C. Gedurende daardie tyd het hulle na die “noordelike lande” gegaan en die ander stamme het nie kennis gedra van hulle verblyfplek nie. In die laaste dae sal hulle terugkeer.