Exodus
’n Boek geskryf deur Moses in die Ou Testament wat die uittog van die Israeliete uit Egipte beskryf. Die vroeë geskiedenis van Israel soos opgeteken in Exodus kan in drie dele verdeel word: (1) die volk se slawerny in Egipte, (2) hulle uittog uit Egipte onder Moses se leierskap, en (3) hulle toegewydheid aan God se diens in hulle godsdienstige en politieke lewe.
Die eerste gedeelte, Exodus 1:1–15:21, handel oor die verdrukking van Israel in Egipte; die vroeë geskiedenis en roeping van Moses; die Exodus en die instelling van die Pasga; en die opmars na die Rooi See, die vernietiging van Farao se leër en Moses se oorwinningslied.
Die tweede gedeelte, Exodus 15:22–18:27, handel oor Israel se verlossing en die gebeure op die reis van die Rooi See tot by Sinai, die bitter waters van Mara, die gee van kwartels en manna, die onderhouding van die Sabbat, die wonderbaarlike gawe van water by Ráfidim, en die stryd aldaar met die Amalekiete; die aankoms van Jetro in die kamp en sy raad om die volk te regeer.
Die derde gedeelte, hoofstukke 19–40, handel oor Israel se toewyding aan God se diens gedurende die plegtige gebeurtenisse by Sinai. Die Here het die volk afgesonder as ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie; Hy het die Tien Gebooie gegee; en Hy het voorskrifte gegee ten opsigte van die tabernakel, die inrigting daarvan en aanbidding daarin. Dan volg die verslag van die volk se sonde om ’n goue kalf te aanbid en laastens die verslag van die bou van die tabernakel en voorsiening vir sy dienste.