Hel
Openbarings van die laaste dae heg ten minste twee betekenisse aan die woord hel. Eerstens is dit die tydelike verblyfplek in die geesteswêreld vir diegene wat ongehoorsaam was in die sterflike lewe. In hierdie sin het hel ’n einde. Die geeste daar sal die evangelie geleer word en een of ander tyd na hulle bekering sal hulle opstaan na ’n graad van heerlikheid waarvoor hulle waardig is. Diegene wat nie wil bekeer nie, maar wat nogtans nie seuns van die verdoemenis is nie, sal in die hel bly gedurende die Millennium. Na hierdie duisend jaar van pyniging sal hulle opstaan na ’n telestiale heerlikheid (L&V 76:81–86; 88:100–101).
Tweedens is dit die permanente verblyfplek van diegene wat nie verlos is deur die Versoening van Jesus Christus nie. In hierdie sin is hel permanent. Dit is vir diegene wat steeds vieslik gevind word (L&V 88:35, 102). Dit is die plek waar Satan, sy engele, en die seuns van die verdoemenis—diegene wat die Seun verloën het nadat die Vader Hom geopenbaar het, vir ewig sal woon (L&V 76:43–46).
Die skrifture verwys somtyds na die hel as die buitenste duisternis.