“32. Bekering en Kerklidmaatskapsrade,” Algemene Handleiding: Diens in Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (2020).
“32. Bekering en Kerklidmaatskapsrade,” Algemene Handleiding.
32.
Bekering en Kerklidmaatskapsrade
32.0
Inleiding
Die meeste bekering vind plaas tussen ʼn individu, God en diegene wat deur ʼn persoon se sondes geraak is. Soms moet ʼn biskop of penpresident egter Kerklede help in hul pogings om te bekeer.
Biskoppe en penpresidente is liefdevol en besorgd wanneer hulle lede met bekering bystaan. Hulle volg die voorbeeld van die Saligmaker, wat individue opgehef het en hulle gehelp het om weg te draai van sonde en na God te keer (sien Matthéüs 9:10–13; Johannes 8:3–11).
Soos hieronder uiteengesit, is hierdie hoofstuk georganiseer om leiers deur die sleutelbesluite en handelinge te lei wat nodig is om iemand te help bekeer van ʼn ernstige sonde en om ander te help beskerm.
-
Die Kerk Se Rol Om ʼn Persoon Te Help Om Te Bekeer. Afdelings 32.1–32.4 verduidelik die Here se leerstelling van bekering en vergifnis. Hierdie afdelings verduidelik ook die drie doelstellings van Kerklidmaatskapsbeperkings of -onttrekking. Dit verduidelik bykomend die rol van biskoppe en penpresidente om met bekering te help.
-
Bepaling van die Opsie Om ʼn Persoon Te Help Om Te Bekeer. Afdelings 32.5–32.7 verskaf riglyne om te besluit of ʼn lidmaatskapsraad of persoonlike berading die gepaste opsie is om iemand te help om te bekeer.
-
Beheer van Persoonlike Berading. Afdeling 32.8 verskaf riglyne vir persoonlike berading deur die biskop of penpresident. Dit verduidelik ook informele Kerklidmaatskapsbeperkings.
-
Beheer van Kerklidmaatskapsrade. Afdelings 32.9–32.14 verduidelik wie verantwoordelik is vir lidmaatskapsrade, hoe om dit te lei en die moontlike besluite. Die resultate van daardie besluite word ook verduidelik.
-
Herstelling Van Kerklidmaatskapsvoorregte. Afdelings 32.15–32.17 verduidelik hoe ʼn persoon Kerklidmaatskapsvoorregte kan herstel deur bekering.
Verwysings na penpresidente is ook van toepassing op sendingpresidente, tensy anders aangedui. Verwysings na biskoppe is ook van toepassing op takpresidente.
DIE KERK SE ROL OM ʼn PERSOON TE HELP OM TE BEKEER
32.1
Bekering en Vergifnis
Die Here het gesê dat “geen onrein ding die koninkryk van die hemel kan beërwe nie” (Alma 11:37; sien ook 3 Nefi 27:19). Ons sondes maak ons onrein—onwaardig om in die teenwoordigheid van ons Hemelse Vader te woon. Dit bring ook vir ons angs in hierdie lewe.
God se wet van geregtigheid bring noodwendig gevolge mee wanneer ons sondig (sien Alma 42:14, 17–18). Sy groot plan van barmhartigheid kan egter “die eise van geregtigheid bevredig, en [ons] omhels in die arms van veiligheid” (Alma 34:16; sien ook Mosia 15:9).
Om sy plan van barmhartigheid teweeg te bring, het Hemelse Vader sy Eniggebore Seun, Jesus Christus, gestuur om vir ons sondes te versoen (sien Alma 42:15). Jesus het die prys betaal wat die wet van geregtigheid vir ons sondes vereis (sien Leer en Verbonde 19:15–19; sien ook Alma 42:24–25). Deur dié offerande, het beide die Vader en die Seun hulle oneindige liefde vir ons getoon (sien Johannes 3:16).
Wanneer ons “geloof … tot bekering” beoefen, vergewe Hemelse Vader ons en skenk barmhartigheid deur die Versoening van Jesus Christus (Alma 34:15; sien ook Alma 42:13). Wanneer ons gereinig en vergewe is, kan ons uiteindelik die koninkryk van God beërwe (sien Jesaja 1:18; Leer en Verbonde 58:42).
Bekering is meer as net om gedrag te verander. Dit is om weg te keer van sonde en om na Hemelse Vader en Jesus Christus te keer. Dit lei tot ʼn verandering van hart en verstand (sien Mosia 5:2; Alma 5:12–14; Helaman 15:7). Deur bekering word ons nuwe persone, met God versoen (sien 2 Korinthiërs 5:17–18; Mosia 27:25–26).
Die geleentheid om te bekeer is een van die grootste seëninge wat Hemelse Vader ons deur die gawe van sy Seun gegee het.
32.2
Doel van Kerklidmaatskapsbeperkings of -onttrekking
Wanneer ʼn persoon gedoop word, word hy of sy deel van die “huisgenote van God” (Efésiërs 2:19). Die doopverbond sluit ʼn belofte in om te streef om volgens Christus se leringe en gebooie te leef. Wanneer ʼn persoon te kort skiet, beoefen hy of sy geloof in Jesus Christus en bekeer, vertrouend op sy genade om te versterk en te vergewe.
As ʼn lid ʼn ernstige sonde pleeg, help die biskop of penpresident hom of haar om te bekeer. As deel van hierdie proses, sal hy dalk vir ʼn tyd sekere Kerklidmaatskapsvoorregte moet beperk. In sommige situasies mag hy dalk ʼn persoon se lidmaatskap vir ʼn tyd onttrek.
Beperking of onttrekking van ʼn persoon se lidmaatskap is nie bedoel om te straf nie. Hierdie handelinge is eerder soms nodig om ʼn persoon te help bekeer en ʼn verandering van hart te ervaar. Dit gee ʼn persoon ook tyd om geestelik voor te berei om sy of haar verbonde weer te hernu en te onderhou.
Die biskop of penpresident hou toesig oor lidmaatskapsbeperkings of -onttrekking soos uiteengesit in 32.5–32.14. Hierdie handelinge gaan gepaard met voorwaardes van bekering. As ʼn persoon opreg bekeer, kan sy of haar Kerklidmaatskapsvoorregte weer herstel word.
Wanneer lidmaatskapsbeperkings of -onttrekking nodig is, volg die biskop of penpresident die leiding van die Heilige Gees en die instruksies in hierdie hoofstuk. Hy tree op in ʼn gees van liefde (sien 32.3).
Kerklidmaatskapsbeperkings is geestelik, nie siviel of krimineel nie. Dit beïnvloed slegs ʼn persoon se status in die Kerk. (Sien Leer en Verbonde 134:10.)
Die drie doelstellings van lidmaatskapsbeperkings of -onttrekking is soos volg.
32.2.1
Help Om Ander Te Beskerm
Die eerste doel is om ander te help beskerm. Soms hou ʼn persoon ʼn fisiese of geestelike bedreiging in. Roofsugtige gedrag, fisiese leed, seksuele mishandeling, dwelmmisbruik, bedrog en afvalligheid is sommige maniere waarop dit kan voorkom. ʼn Biskop of penpresident handel met inspirasie om ander te beskerm wanneer iemand op hierdie en ander ernstige maniere ʼn bedreiging inhou (sien Alma 5:59–60).
32.2.2
Help ʼn Persoon om Toegang te Verkry tot die Verlossende Krag van Jesus Christus deur Bekering
Die tweede doel is om ʼn persoon te help om toegang te verkry tot die verlossende krag van Jesus Christus deur bekering. Deur hierdie proses kan hy of sy weer rein en waardig word om al God se seëninge te ontvang.
32.2.3
Beskerm die Integriteit van die Kerk
Die derde doel is om die integriteit van die Kerk te beskerm. Die beperking of onttrekking van ʼn persoon se Kerklidmaatskap kan nodig wees indien sy of haar gedrag die Kerk aansienlik benadeel (sien Alma 39:11). Die integriteit van die Kerk word nie beskerm deur die ernstige sondes te verberg of te minimaliseer nie—maar deur dit aan te spreek.
32.3
Die Rol van Regters in Israel
Biskoppe en penpresidente word geroep en afgesonder om regters in Israel te wees (sien Leer en Verbonde 107:72–74). Hulle hou priesterskapsleutels om die Here te verteenwoordig deur Kerklede te help om hulle te bekeer (sien Leer en Verbonde 13:1; 107:16–18).
Dikwels help biskoppe en penpresidente met bekering deur persoonlike berading. Hierdie ondersteuning kan informele beperking van sekere voorregte van Kerklidmaatskap vir ʼn tyd insluit. (Sien 32.8.)
Vir sommige ernstige sondes help leiers met bekering deur ʼn lidmaatskapsraad te hou (sien 32.6 en 32.9–32.14). Hierdie ondersteuning kan formele beperking van sekere voorregte van Kerklidmaatskap of onttrekking van ʼn persoon se lidmaatskap vir ʼn tyd insluit (sien 32.11.3 en 32.11.4).
Biskoppe en penpresidente help Kerklede om te verstaan dat God sy kinders liefhet. Omdat Hy wil hê hulle moet gelukkig wees en seëninge ontvang, gee Hy ook ontsettend baie om oor hulle gehoorsaamheid en bekering.
Biskoppe en penpresidente is liefdevol en besorgd wanneer hulle lede help om hulle te bekeer. Die Saligmaker se interaksie met die vrou wat in egbreuk betrap is, is ʼn riglyn (sien Johannes 8:3–11). Alhoewel Hy nie gesê het dat haar sondes vergewe is nie, het Hy haar nie veroordeel nie. In plaas daarvan, het Hy vir haar gesê “sondig nie meer nie”—om te bekeer en haar lewe te verander.
Hierdie leiers leer dat daar “blydskap … in die hemel [is] oor een sondaar wat hom bekeer” (Lukas 15:7). Hulle is verdraagsaam, ondersteunend en positief. Hulle inspireer hoop. Hulle leer en getuig dat almal as gevolg van die Saligmaker se versoeningsofferande kan bekeer en rein word.
Biskoppe en penpresidente soek leiding van die Gees om te weet hoe om elke persoon te help om te bekeer. Slegs vir die ernstigste sondes het die Kerk ʼn vasgestelde standaard oor watter aksies leiers moet neem (sien 32.6 en 32.11). Geen twee situasies is dieselfde nie. Die berading wat leiers gee en die proses van bekering wat hulle fasiliteer, moet geïnspireer wees en kan vir elke persoon verskillend wees.
Die Here ken elke persoon se omstandighede, vermoë en geestelike rypheid. Die Heilige Gees sal leiers help om te onderskei hoe om lede te help om die nodige veranderinge te maak, sodat hulle kan genees en die versoeking kan weerstaan om die sonde te herhaal.
Om iemand te help om te bekeer, terug te keer na God en te genees deur die Versoening van Jesus Christus, is een van die mees verblydende ervarings wat ʼn persoon kan hê. Leer en Verbonde 18:10–13 verduidelik:
“Onthou die waarde van siele is groot in die oë van God;
“Want, kyk, die Here julle Verlosser het die dood gely in die vlees; daarom, Hy het die pyn gely van alle mense, sodat alle mense mag bekeer en na Hom kom.
“En Hy het weer opgestaan uit die dood, sodat Hy alle mense na Hom mag bring, op voorwaarde van bekering.
“En hoe groot is sy vreugde oor die siel wat bekeer!”
32.4
Belydenis, Vertroulikheid en Rapportering aan Regeringsowerhede
32.4.1
Belydenis
Bekering vereis dat sondes aan Hemelse Vader bely word. Jesus Chrisus het gesê: “Hierdeur mag julle weet of ’n mens bekeer van sy sondes—kyk, hy sal hulle bely en hulle versaak” (Leer en Verbonde 58:43; sien ook Mosia 26:29).
Wanneer Kerklede ernstige sondes pleeg, sluit hulle bekering ook belydenis aan hul biskop of penpresident in. Hy is dan in staat om die sleutels van die evangelie van bekering namens hulle uit te oefen (sien Leer en Verbonde 13:1; 84:26–27; 107:18, 20). Dit help hulle om te genees en terug te keer na die evangeliese pad deur die krag van die Saligmaker se Versoening.
Die doel van belydenis is om lede aan te moedig om van hul las ontslae te raak, sodat hulle die Here se hulp ten volle kan soek om verandering en genesing. Die ontwikkeling van ʼn “gebroke hart en ʼn verslae gees” word aangehelp deur belydenis (2 Nefi 2:7). Vrywillige belydenis toon dat ʼn persoon ʼn begeerte het om te bekeer.
Wanneer ʼn lid bely, volg die biskop of penpresident die riglyne vir berading in 32.8. Hy soek biddend leiding oor die gepaste aksie om die lid te help om te bekeer (sien 32.5). Hy oorweeg of ʼn lidmaatskapsraad van hulp sou wees. Indien Kerkbeleid ʼn lidmaatskapsraad vereis, verduidelik hy dit (sien 32.6 en 32.10).
Soms het ʼn lid ʼn huweliksmaat of ʼn ander volwassene onreg aangedoen. As deel van bekering, moet hy of sy gewoonlik aan daardie persoon bely en vergifnis soek. ʼn Jeugdige wat ʼn ernstige sonde pleeg, word gewoonlik aangemoedig om met sy of haar ouers te beraadslaag.
32.4.2
Ernstige Sondes Wat Nie Bely Is Nie of Wat Ontken Word
ʼn Biskop of penpresident verneem gewoonlik van ʼn ernstige sonde deur belydenis of van ʼn ander persoon. Hy kan ook aansporings van die Heilige Gees ontvang oor ʼn potensiële ernstige sonde. Indien hy deur die Gees aangespoor voel dat iemand dalk met sonde worstel, kan hy ʼn onderhoud skeduleer. Gedurende die onderhoud deel hy sy bekommernisse in ʼn vriendelike, eerbiedige manier. Hy vermy enige toon van beskuldiging.
Indien ʼn lid ontken dat hy ʼn ernstige sonde gepleeg het waarvan die biskop of penpresident inligting het om dit te ondersteun, kan ʼn lidmaatskapsraad steeds gehou word. ʼn Geestelike indruk alleen is egter nie voldoende om ʼn raad te hou nie (sien Leer en Verbonde 10:37). Die leier kan bykomende inligting versamel indien nodig. Hy volg die riglyne in 32.4.3 en 32.10.2.
32.4.3
Versameling van Inligting
Voordat hy ʼn lidmaatskapsraad hou, versamel die biskop of penpresident soveel inligting as wat hy nodig het. Inligting uit ʼn lid se belydenis is dikwels voldoende. Inligting kan ook van ʼn familielid, ʼn ander Kerkleier, ʼn slagoffer of ʼn deelnemer aan die sonde kom.
Wanneer inligting versamel word, moet die biskop of penpresident slegs metodes gebruik wat gepas is vir ʼn priesterskapleier. Hy moet nie waghou oor ʼn persoon se huis of hom of haar opneem sonder toestemming nie. Hy moet ook nie enige praktyke gebruik wat teen die wet is nie.
Valse beskuldigings is ongewoon, maar kan voorkom. Priesterskapleiers moet versigtig wees wanneer daar beperkte inligting buiten een persoon se woord is. Byvoorbeeld, ʼn lid wat van owerspel beskuldig word, kan die aanklag ontken. Die skrifture verduidelik dat “elke woord sal bevestig word teen hom of haar deur twee getuies van die kerk” (Leer en Verbonde 42:80). “Twee getuies” beteken twee afsonderlike bronne van inligting. Dit kan die kennis van ʼn deelnemer en ʼn ander betroubare bron insluit. Soms sal ʼn priesterskapleier dalk moet wag om op te tree totdat meer inligting beskikbaar word.
Wanneer ʼn Kerkleier inligting vir ʼn lidmaatskapsraad versamel, moet hy onmiddellik stop as hy uitvind dat wetstoepassers aktief besig is om die lid te ondersoek. Dit word gedoen om moontlike aansprake te vermy dat die leier die gereg moontlik gedwarsboom het. Vir regsadvies oor hierdie situasies in die Verenigde State en Kanada, kontak die penpresident die Kerk se Kantoor vir Regsadvies:
1-800-453-3860, uitbreiding 2-6301
1-801-240-6301
Buite die Verenigde State en Kanada, kontak die penpresident die area regsadviseurs by die areakantoor.
Normaalweg word ʼn lidmaatskapsraad nie gehou om gedrag te oorweeg wat deur ʼn siviele of kriminele hof ondersoek word, totdat die hof ʼn finale uitspraak gelewer het nie. In sommige gevalle kan dit ook gepas wees om ʼn lidmaatskapsraad uit te stel totdat die periode van regsappèl verstryk het of die appèl afgekeur is.
32.4.4
Vertroulikheid
Biskoppe, penpresidente en hul raadgewers het ʼn heilige plig om alle vertroulike inligting wat met hulle gedeel word, te beskerm. Hierdie inligting kan deur onderhoude, berading en belydenisse kom. Dieselfde plig van vertroulikheid geld vir almal wat aan lidmaatskapsrade deelneem. Vertroulikheid is noodsaaklik omdat lede dalk nie sondes sal bely of leiding sal soek as dít wat hulle deel, nie vertroulik gehou sal word nie. Die verbreking van ʼn vertroue skend lede se vertroue en veroorsaak dat hulle vertroue in hul leiers verloor.
In ooreenstemming met hul plig van vertroulikheid, mag ʼn biskop, penpresident of hul raadgewers sulke inligting slegs as volg deel:
-
Hulle moet met die lid se penpresident, sendingpresident of biskop beraadslaag oor die hou van ʼn lidmaatskapsraad of verwante aangeleenthede. Die penpresident kan ook met sy toegewysde Area Sewentig beraadslaag. Indien nodig, kan die Area Sewentig die penpresident verwys na die Area Presidensie. Slegs die penpresident besluit of ʼn raad gehou moet word of die uitslag daarvan.
-
Die persoon trek na ʼn nuwe wyk (of die priesterskapleier is onthef) terwyl lidmaatskapsaksie of ander ernstige aangeleenthede hangende is. In hierdie gevalle stel die leier die nuwe biskop of penpresident in kennis oor die aangeleenthede of hangende aksie (sien 32.14.7). Hy lig ook die leier in as die lid ʼn bedreiging vir ander kan inhou.
-
ʼn Biskop of penpresident verneem dat ʼn Kerklid wat buite die wyk of pen woon, moontlik by ʼn ernstige sonde betrokke was. In daardie geval kontak hy daardie lid se biskop vertroulik.
-
Dit is nodig om inligting tydens ʼn lidmaatskapsraad bekend te maak. Alle inligting wat versamel en gedeel word as deel van ʼn lidmaatskapsraad is vertroulik.
-
ʼn Lid verkies om toestemming vir die leier te gee om inligting met spesifieke persone te deel. Hierdie kan ouers, Kerkleiers of ander insluit wat ondersteuning kan bied. Die leier deel nie inligting verder as wat die lid toestemming gegee het nie.
-
Dit mag nodig wees om beperkte inligting oor die besluit van ʼn lidmaatskapsraad te deel (sien 32.12.2).
In alle ander situasies moet die leier verwys na 32.4.5. Hierdie gevalle sluit in waar die wet mag vereis dat ʼn misdaad, soos kindermishandeling, by regeringsowerhede gerapporteer moet word.
Om leiers te help om ander te beskerm en aan die wet te voldoen, voorsien die Kerk hulp van opgeleide professionele persone. Om hierdie leiding te ontvang, kontak leiers dadelik die Kerk se mishandelingshulplyn waar dit beskikbaar is (sien 32.4.5 en 38.6.2.1). Waar dit nie beskikbaar is nie, kontak die penpresident die area regsadviseurs by die areakantoor.
In slegs een situasie moet ʼn biskop of penpresident vertroulike inligting openbaar maak sonder om eers sulke leiding te soek. Dit is wanneer openbaarmaking nodig is om lewensgevaarlike skade of ernstige besering te voorkom en daar nie tyd is om leiding te soek nie. In sulke gevalle is die plig om ander te beskerm belangriker as die plig van vertroulikheid. Leiers moet siviele owerhede onmiddellik kontak.
Indien leiers aantekeninge hou of elektronies met mekaar kommunikeer, beskerm hulle toegang tot hierdie inligting. Hulle skrap of vernietig ook die inligting wanneer hulle dit nie meer nodig het nie. Hulle deel nie onnodiglik persoonlike inligting nie.
Siviele owerhede kan die vertroulikheid wat van ʼn priesterskapleier vereis word, betwis. As dit in die Verenigde State en Kanada gebeur, soek die penpresident regsadvies by die Kerk se Regsafdeling.
1-800-453-3860, uitbreiding 2-6301
1-801-240-6301
Buite die Verenigde State en Kanada, kontak die penpresident die area regsadviseurs by die areakantoor.
32.4.5
Rapportering aan Regeringsowerhede
Bekering van sommige sondes vereis dat ʼn persoon by regeringsowerhede rapporteer as hy of sy ʼn siviele wet oortree het. Biskoppe en penpresidente moedig lede aan om die wet te volg en sulke aangeleenthede te rapporteer. Hulle raai lede ook aan om bekwame regsadvies in te win wanneer hulle dit rapporteer. Die Kerk se beleid is om die wet te gehoorsaam.
Op baie plekke word priesterskapleiers deur die wet verplig om sommige onwettige gedrag waarvan hulle bewus word, te rapporteer. Sommige state en lande vereis byvoorbeeld dat kindermishandeling by wetstoepassingsowerhede gerapporteer word.
In sommige lande het die Kerk ʼn vertroulike mishandelingshulplyn gestig om biskoppe en penpresidente te help. Hierdie leiers moet dadelik die hulplyn kontak oor elke situasie waar ʼn persoon dalk mishandel is—of die gevaar loop om mishandel te word (sien 38.6.2.1). Dit is beskikbaar 24 uur per dag, 7 dae per week.
In lande wat nie ʼn hulplyn het nie, moet ʼn biskop wat van mishandeling verneem, sy penpresident kontak wat leiding van die area regsadviseur by die areakantoor moet soek.
Vir meer inligting oor die rapportering van mishandeling, sien 38.6.2.1 en 38.6.2.7.
BEPALING VAN DIE OPSIES OM ʼn PERSOON TE HELP BEKEER
32.5
Opsies Om ʼn Persoon Te Help Bekeer
ʼn Biskop of penpresident doen stappe om ander te beskerm, nadat hy bewus geword het dat ʼn lid ʼn ernstige sonde gepleeg het. Hy soek ook die leiding van die Heilige Gees om die opsie te bepaal om die persoon te help bekeer en om nader aan die Saligmaker te kom.
32.5.1
Oorsig van die Opsies
Die volgende tabel lys drie opsies om ʼn persoon te help bekeer. Dit gee ook ʼn opsomming van sommige van die oorwegings vir leiers wanneer hulle besluit watter opsie om te gebruik.
Opsies Om ʼn Persoon Te Help Bekeer
Opsie |
Sommige Oorwegings (sien ook 32.7). |
---|---|
Opsie Penlidmaatskapsraad | Sommige Oorwegings (sien ook 32.7). |
Opsie Wykslidmaatskapsraad | Sommige Oorwegings (sien ook 32.7).
|
Opsie Persoonlike Berading (sien 32.8) | Sommige Oorwegings (sien ook 32.7).
|
Persoonlike berading en informele beperkings deur die biskop of penpresident is soms nie voldoende om ʼn persoon te help om van ernstige sondes te bekeer nie. Die Here het lidmaatskapsrade voorsien om ʼn regter in Israel in hierdie situasies te ondersteun. (Sien Exodus 18:12–27; Mosia 26:29–36; Leer en Verbonde 42:80–83; 102.) Vir sommige ernstige sondes word ʼn raad deur Kerkbeleid vereis (sien 32.6.1). Die verbreking van tempelverbonde verhoog die waarskynlikheid dat ʼn lidmaatskapsraad nodig is (sien 32.7.4).
In ʼn wyk help die biskop se raadgewers in lidmaatskapsrade. In ʼn pen help die penpresident se raadgewers. In sommige penlidmaatskapsrade neem die hoëraad ook deel (sien 32.9.2). In ʼn lidmaatskapsraad ontmoet die biskop of penpresident die persoon in ʼn gees van liefde.
32.5.2
Bepaling van die Opsie en Tydsberekening
Wanneer besluit word watter van hierdie opsies ʼn persoon die beste sal kan help, soek leiers die leiding van die Heilige Gees. Hulle oorweeg ook die volgende faktore:
-
Die erns van die sonde en Kerkbeleid oor of ʼn raad vereis word (sien 32.6).
-
Die persoon se omstandighede (sien 32.7).
ʼn Biskop beraadslaag met die penpresident oor spesifieke situasies. Hy moet goedkeuring van die penpresident ontvang voordat ʼn lidmaatskapsraad gehou word.
Oor moeilike aangeleenthede kan die penpresident raad verkry van sy toegewysde Area Sewentig. Die penpresident moet met die Area Presidensie beraadslaag oor die aangeleenthede soos uiteengesit in 32.6.3. Slegs die penpresident besluit egter of ʼn raad gehou moet word om die gedrag aan te spreek. Indien ʼn raad gehou word, besluit die penpresident of biskop die uitslag daarvan.
Indien ʼn biskop of penpresident bepaal dat persoonlike berading voldoende is, volg hy die riglyne in 32.8. Indien hy bepaal dat ʼn lidmaatskapsraad nodig is of indien Kerkbeleid ʼn raad vereis, volg die een wat dit lei die prosedures in 32.9–32.14.
Voordat die raad gehou word, kan die biskop of penpresident bepaal dat informele lidmaatskapsbeperkings vir ʼn tydperk die beste sal wees. Hy hou die raad wanneer dit die lid se opregte bekering die beste sal aanmoedig. Hy moet egter nie ʼn raad uitstel as dit nodig is om ander te beskerm nie.
32.6
Erns van die Sonde en Kerkbeleid
Die erns van ʼn sonde is ʼn belangrike oorweging in die bepaling van die opsie wat sal (1) help om ander te beskerm en (2) ʼn persoon help om te bekeer. Die Here het gesê [dat] Hy “kan nie sonde aanskou met die geringste mate van aanvaarding nie” (Leer en Verbonde 1:31; sien ook Mosia 26:29). Sy diensknegte moet nie bewyse van ernstige sonde ignoreer nie.
Ernstige sondes is ʼn doelbewuste en groot oortreding teen die wette van God. Kategorieë van ernstige sondes word hieronder gelys.
Die volgende afdelings beskryf wanneer ʼn lidmaatskapsraad vereis word, wanneer dit nodig mag wees en wanneer dit nie nodig is nie.
32.6.1
Wanneer ʼn Lidmaatskapsraad Vereis Word
Die biskop of penpresident moet ʼn lidmaatskapsraad hou wanneer inligting aandui dat ʼn lid enige van die sondes wat in hierdie afdeling beskryf word, gepleeg het. Vir hierdie sondes word ʼn raad vereis, ongeag die lid se vlak van geestelike rypheid en evangeliebegrip.
Sien 32.11 vir potensiële uitkomste van rade wat byeengeroep is vir die sondes wat in hierdie afdeling gelys word. Informele lidmaatskapsbeperkings is nie ʼn opsie vir hierdie rade nie.
32.6.1.1
Gewelddadige Dade en Mishandeling
Moord. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis as ʼn lid iemand vermoor. Soos hier gebruik word, is moord die doelbewuste, ongeregverdige neem van ʼn mens se lewe. Onttrekking van ʼn persoon se Kerklidmaatskap word vereis.
Moord sluit nie polisie- of militêre optredes in die uitvoering van diens in nie. Aborsie word nie as moord in dié konteks gedefinieer nie. As dood per ongeluk veroorsaak is of deur verdediging van jouself of ander, kan die neem van ʼn menselewe nie gedefinieer word as moord nie. Dit kan ook waar wees in ander situasies soos wanneer ʼn persoon beperkte verstandelike vermoë het.
Verkragting. ʼn Lidmaatskapsraad word vir verkragting vereis. Soos hier gebruik, is verkragting geforseerde seksuele omgang of omgang met iemand wat nie wettige toestemming kan gee nie as gevolg van beperkte geestelike of fisiese vermoë. Soos hier gebruik word, sluit verkragting nie konsensuele seksuele omgang tussen twee minderjariges wat ongeveer dieselfde ouderdom is, in nie.
Skuldigbevinding Aan Seksuele Aanranding. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn lid skuldig bevind word aan seksuele aanranding.
Kinder- of Jeugmishandeling. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn persoon ʼn kind of jeugdige mishandel soos verduidelik in 38.6.2.3.
Mishandeling van ʼn Huweliksmaat of ʼn Ander Volwassene. Daar is ʼn spektrum van erns in mishandelende gedrag. Sien 38.6.2.4 vir wanneer ʼn lidmaatskapsraad vereis word vir mishandeling van ʼn huweliksmaat of ʼn ander volwassene.
Gewelddadige Roofsugtige Gedrag. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn volwassene mense herhaaldelik fisies beseer deur gewelddadige gedrag en ʼn bedreiging vir ander inhou.
32.6.1.2
Seksuele Onsedelikheid
Bloedskande. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis vir bloedskande soos gedefinieer in 38.6.10. Onttrekking van ʼn persoon se Kerklidmaatskap word byna altyd vereis.
Kinderpornografie. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn persoon betrokke is by kinderpornografie soos uiteengesit in 38.6.6.
Veelvoudige Huwelik. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn persoon bewustelik in ʼn veelvoudige huwelik tree. Sommige veelvoudige huwelike kan in die geheim plaasvind, met ʼn huweliksmaat wat nie bewus is van een of meer ander huweliksmaats nie. Onttrekking van ʼn persoon se Kerklidmaatskap word vereis indien ʼn persoon bewustelik in ʼn veelvoudige huwelik tree.
Seksuele Roofsugtige Gedrag. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn persoon herhaaldelik mense seksueel benadeel en ʼn bedreiging vir ander inhou.
32.6.1.3
Dade van Bedrog
Finansiële Roofsugtige Gedrag. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn volwassene ʼn geskiedenis het om mense doelbewus en herhaaldelik finansieel te benadeel en ʼn bedreiging vir ander inhou (sien 38.6.2.4). Dit sluit beleggingsbedrog en soortgelyke aktiwiteite in. Onopsetlike finansiële verliese as gevolg van ekonomiese toestande word nie as bedrog beskou nie. Indien litigasie betrokke is, kan priesterskapleiers besluit om te wag tot die uitslag finaal is.
32.6.1.4
Skendings van Vertroue
Ernstige Sonde Terwyl ʼn Prominente Kerkposisie Beklee Word. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn lid ʼn ernstige sonde pleeg terwyl ʼn prominente posisie beklee word. Hierdie sluit Algemene Gesagsdraers, Algemene Kerkbeampte, Area Sewentig, tempelpresident of -matrone, sendingpresident of sy metgesel, penpresident, patriarg of biskop in. Dit is nie van toepassing op takpresidente nie. ʼn Takpresident se Kerklidmaatskapsvoorregte kan egter beperk of onttrek word, net soos vir ander lede.
32.6.1.5
Sommige Ander Dade
Strafregtelike Skuldigbevinding. ʼn Lidmaatskapsraad word in meeste gevalle vereis wanneer ʼn persoon strafregtelik skuldig bevind is.
32.6.2
Wanneer ʼn Lidmaatskapsraad Moontlik Nodig Is
ʼn Lidmaatskapsraad kan moontlik nodig wees in die volgende gevalle.
32.6.2.1
Gewelddadige Dade en Mishandeling
Die Here het beveel, ”Jy sal nie … doodmaak, nóg iets dergeliks doen” (Leer en Verbonde 59:6; kursief bygevoeg). Gewelddadige dade en mishandeling waarvoor ʼn lidmaatskapsraad nodig mag wees, sluit in (maar is nie beperk tot) dié wat hieronder gelys word nie.
Poging tot Moord. Doelbewus probeer om iemand dood te maak.
Seksuele Mishandeling, Insluitend Aanranding en Teistering. Seksuele mishandeling dek ʼn wye reeks aksies (sien 38.6.18). ʼn Lidmaatskapsraad mag nodig wees vir ʼn persoon wat iemand seksueel aangerand of mishandel het. Sien 38.6.18.3 vir wanneer ʼn raad vereis word.
Mishandeling van ʼn Huweliksmaat of ʼn Ander Volwassene. Daar is ʼn spektrum van erns in mishandelingsgedrag (sien 38.6.2.4). ʼn Lidmaatskapsraad mag nodig wees vir ʼn persoon wat ʼn huweliksmaat of ander volwassene mishandel het. Sien 38.6.2.4 vir wanneer ʼn raad vereis word.
32.6.2.2
Seksuele Onsedelikheid
Die Here se wet van kuisheid volgens God se wet, is onthouding van seksuele verhoudings buite ʼn huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou (sien Exodus 20:14; Leer en Verbonde 63:16). ʼn Lidmaatskapsraad mag nodig wees vir seksuele onsedelikheid soos beskryf in 38.6.5. Sien 32.6.1.2 vir wanneer ʼn raad vereis word.
32.6.2.3
Dade van Bedrog
Die Tien Gebooie leer: “Jy mag nie steel nie” of “valse getuienis … spreek nie” (Exodus 20:15–16). ʼn Lidmaatskapsraad mag nodig wees vir dade soos roof, huisbraak, diefstal, geldverduistering, meineed en bedrog. Sien 38.8.2 vir affiniteitsbedrog. Sien 32.6.1.3 vir wanneer ʼn raad vir bedrieglike dade vereis word.
32.6.2.4
Skendings van Vertroue
ʼn Lidmaatskapsraad mag nodig wees indien ʼn lid:
-
ʼn Ernstige sonde pleeg terwyl ʼn gesags- of vertrouensposisie in die Kerk of die gemeenskap beklee word.
-
ʼn Ernstige sonde pleeg wat wyd bekend is.
Sien 32.6.1.4 vir wanneer ʼn raad vereis word.
32.6.2.5
Sommige Ander Dade
Koning Benjamin het geleer: “Ek kan julle nie al die dinge vertel waardeur julle sonde mag begaan nie; want daar is verskillende maniere en wyses, en wel soveel dat ek hulle nie kan tel nie” (Mosia 4:29). ʼn Lidmaatskapsraad mag nodig wees indien ʼn persoon:
-
ʼn Patroon toon van ernstige sondes pleeg (sien Leer en Verbonde 82:7).
-
Doelbewus familie verantwoordelikhede versaak, insluitend nie-betaling van kinderbystand en onderhoud.
-
Onwettige dwelms verkoop.
-
Ander ernstige kriminele dade pleeg.
ʼn Lidmaatskapsraad mag nodig wees indien ʼn lid hom- of haarself onderwerp aan, uitvoer, reël vir, betaal vir of ʼn aborsie aanmoedig. Sien 38.6.1 vir riglyne.
Wanneer ʼn Lidmaatskapsraad Vereis Word of Moontlik Nodig Is
Soort Sonde |
Lidmaatskapsraad Word Vereis (sien 32.6.1) |
Lidmaatskapsraad Is Moontlik Nodig (sien 32.6.2) |
---|---|---|
Soort Sonde Gewelddadige Dade en Mishandeling | Lidmaatskapsraad Word Vereis (sien 32.6.1)
| Lidmaatskapsraad Is Moontlik Nodig (sien 32.6.2) |
Soort Sonde Seksuele Onsedelikheid | Lidmaatskapsraad Word Vereis (sien 32.6.1)
| Lidmaatskapsraad Is Moontlik Nodig (sien 32.6.2)
|
Soort Sonde Dade van Bedrog | Lidmaatskapsraad Word Vereis (sien 32.6.1)
| Lidmaatskapsraad Is Moontlik Nodig (sien 32.6.2)
|
Soort Sonde Skendings van Vertroue | Lidmaatskapsraad Word Vereis (sien 32.6.1)
| Lidmaatskapsraad Is Moontlik Nodig (sien 32.6.2)
|
Soort Sonde Sommige Ander Dade | Lidmaatskapsraad Word Vereis (sien 32.6.1)
| Lidmaatskapsraad Is Moontlik Nodig (sien 32.6.2)
|
32.6.3
Wanneer die Penpresident met die Area Presidensie Beraadslaag oor of ʼn Lidmaatskapsraad of Ander Aksie Nodig Is
Sommige aangeleenthede vereis ekstra sensitiwiteit en leiding. Om te weet hoe om die beste te help, moet die penpresident met die Area Presidensie beraadslaag oor die situasies in hierdie afdeling. Slegs die penpresident besluit egter of ʼn raad gehou moet word om die gedrag aan te spreek. Indien ʼn raad gehou word, besluit die penpresident of biskop die uitslag daarvan.
Indien ʼn lidmaatskapsraad gehou word vir een van die aangeleenthede wat in hierdie afdeling uiteengesit word, moet die besluit van die raad wees “bly in goeie status,” “formele lidmaatskapsbeperkings,” of “onttrekking van lidmaatskap.” Die Eerste Presidensie se goedkeuring word vereis om formele beperkings te verwyder of die persoon weer toe te laat tot die Kerk (sien 32.16.1, nommer 9).
32.6.3.1
Ander Aksie
Indien ʼn lidmaatskapsraad nie gehou word nie, kan ander aksies insluit:
-
Informele lidmaatskapsbeperkings (sien 32.8.3).
-
Lidmaatskapsrekord aantekening (sien 32.14.5).
-
Ordinansie-beperkings, wat ʼn persoon beperk om die priesterskap te ontvang of te beoefen of ʼn tempel-aanbeveling te ontvang of te gebruik.
ʼn Penpresident beraadslaag met die Area Presidensie voordat een van hierdie aksies geneem word.
32.6.3.2
Afvalligheid
Kwessies van afvalligheid het dikwels ʼn impak buite die grense van ʼn wyk of pen. Dit moet dadelik aangespreek word om ander te beskerm.
Die biskop beraadslaag met die penpresident as hy voel dat ʼn lid se optrede afvalligheid mag uitmaak. Die biskop of penpresident kan die lid onder informele lidmaatskapsbeperkings plaas (sien 32.8.3). Die penpresident beraadslaag dadelik met die Area Presidensie. Slegs die penpresident besluit egter of ʼn lidmaatskapsraad of ander aksie nodig is.
Soos hier gebruik word, verwys afvalligheid na ʼn lid wat betrokke is by enige van die volgende:
-
Herhaaldelik in duidelike en doelbewuste openbare opposisie optree teen die Kerk, sy leer, sy beleid of sy leiers.
-
Volhou in onderrig as Kerkleer wat nie Kerkleer is nie, nadat dit deur die biskop of penpresident reggestel is.
-
ʼn Patroon toon om opsetlik te werk om die geloof en aktiwiteit van Kerklede te verswak.
-
Voortgaan om die leerstellings van afvallige sektes te volg nadat dit deur die biskop of penpresident reggestel is.
-
Formele aansluiting by ʼn ander kerk en hul leringe bevorder (Totale onaktiwiteit in die Kerk of bywoning van ʼn ander kerk beteken op sigself nie afvalligheid nie. Indien ʼn lid egter formeel aansluit by ʼn ander kerk en hul leringe voorstaan, mag die onttrekking van sy of haar lidmaatskap nodig wees.)
Die Saligmaker het die Nefiete geleer dat hulle moet aanhou om ʼn persoon wat gesondig het, te dien. “Maar as hy nie bekeer nie, sal hy nie gereken word onder my volk nie, sodat hy my volk nie vernietig nie” (3 Nefi 18:31).
32.6.3.3
Verduistering van Kerkfondse
As ʼn persoon Kerkfondse verduister of waardevolle Kerkeiendom steel, beraadslaag die penpresident met die Area Presidensie oor of ʼn lidmaatskapsraad of ander optrede nodig mag wees. Leiers oorweeg:
-
Die bedrag wat verduister of gesteel is.
-
Of terugbetaling plaasgevind het.
-
Die persoon se vlak van berou.
Oor die algemeen, indien ʼn lid Kerkfondse verduister of waardevolle Kerkeiendom steel, sal dit op sy of haar lidmaatskapsrekord aangeteken word. Wanneer bekering voltooi is, kan ʼn penpresident versoek dat die aantekening verwyder word (sien 32.14.5).
32.6.3.4
Transgender-individue
Biskoppe en penpresidente wat werk met persone wat identifiseer as transgender moet die riglyne volg in 38.6.23.
32.6.4
Wanneer ʼn Lidmaatskapsraad Nie Normaalweg Nodig Is Nie
ʼn Lidmaatskapsraad is normaalweg nie nodig in die volgende gevalle nie.
32.6.4.1
Versuim om aan Sekere Kerkstandaarde te Voldoen
ʼn Lidmaatskapsraad word nie gehou vir die aksies hieronder gelys nie. Let egter op die uitsondering in die laaste item.
-
Onaktiwiteit in die Kerk
-
Vervul nie Kerklike pligte nie
-
Betaal nie tiendes nie
-
Sondes van nie-nakoming nie
-
Masturbasie
-
Nie voldoen aan die Woord van Wysheid nie
-
Pornografie gebruik, behalwe vir kinderpornografie (soos uiteengesit in 38.6.6) of intensiewe of kompulsiewe gebruik van pornografie wat beduidende skade aan ʼn lid se huwelik of familie veroorsaak het (soos uiteengesit in 38.6.13).
32.6.4.2
Besigheidsmislukkings of Nie-betaling van Skuld
Leiers moet nie lidmaatskapsrade gebruik om besigheidsgeskille te besleg nie. Besigheidsmislukkings en nie-betaling van skuld is nie redes om ʼn lidmaatskapsraad te hou nie. ʼn Raad moet egter gehou word vir ernstige aktiwiteite van bedrog of ander ernstige misleidende finansiële praktyke (sien 32.6.1.3).
32.6.4.3
Siviele Geskille
Lidmaatskapsrade word nie gehou om siviele geskille te besleg nie (sien Leer en Verbonde 134:11).
32.7
Omstandighede van die Persoon
Die Here het gesê: “My arm van barmhartigheid is uitgestrek na julle, en wie ook al wil kom, hom sal Ek ontvang; en geseënd is hulle wat na My kom” (3 Nefi 9:14). ʼn Persoon se omstandighede is ʼn belangrike oorweging by die bepaling van:
-
Die gepaste opsie om hom of haar te help om van ernstige sondes te bekeer (sien 32.5 en 32.6).
-
Die besluite wat in persoonlike berading of lidmaatskapsrade geneem word (sien 32.8 en 32.11).
Biskoppe en penpresidente soek die verstand en wil van die Here vir elke situasie. Hulle oorweeg die volgende faktore om te bepaal watter opsie om te gebruik en wat die uitslag sal wees. Hierdie faktore dikteer nie ʼn bepaalde besluit nie. Hulle is eerder hulpmiddels tot ʼn besluit wat leiers biddend moet neem en soos gelei deur die Gees.
32.7.1
Omvang van die Sonde
Die erns van ʼn sonde word aan die omvang daarvan gemeet. Dit kan die aantal en frekwensie van die sondes wat gepleeg is insluit, die erns van die skade wat daaruit voortspruit en die aantal mense wat daardeur benadeel is.
32.7.2
Belange van die Slagoffer
Leiers oorweeg die belange van die slagoffers en ander. Dit kan insluit ʼn persoon se huweliksmaat en ander familielede. Leiers oorweeg ook die erns van die skade.
32.7.3
Bewys van Bekering
Geestelike leiding is nodig om te onderskei of ʼn persoon opreg bekeer het. Sulke bekering word meer betroubaar getoon deur regverdige optrede oor ʼn tydperk, eerder as deur intense berou tydens ʼn enkele onderhoud. Faktore om in ag te neem sluit in:
-
Krag van geloof in Jesus Christus.
-
Die aard van die belydenis.
-
Die diepte van berou vir die sonde.
-
Restitusie aan die persone wat te nagekom is.
-
Voldoening aan wetlike vereistes.
-
Sukses om die sonde te versaak.
-
Getrouheid in die nakoming van die gebooie sedert die sonde.
-
Eerlikheid met Kerkleiers en ander.
-
Gewilligheid om die raad van die Kerkleiers te volg.
32.7.4
Verbreking van Tempelverbonde
Die Here het verklaar: “Want van hom aan wie veel gegee is, word veel vereis” (Leer en Verbonde 82:3). ʼn Persoon wat die tempelbegiftiging ontvang het, het verbonde gesluit om ʼn hoër standaard te leef. Die verbreking van hierdie verbonde vergroot die erns van die sonde. Dit verhoog die waarskynlikheid dat ʼn lidmaatskapsraad nodig is.
32.7.5
Posisie van Vertroue of Gesag
Die erns van ʼn sonde word vergroot indien ʼn persoon dit gepleeg het terwyl in ʼn vertrouens- of gesagsposisie, soos ʼn ouer, leier of onderwyser.
32.7.6
Herhaling
ʼn Patroon van herhaling van dieselfde ernstige sonde kan dui op diepgewortelde gedrag of verslawing wat die vordering van ware bekering belemmer. Bykomend tot lidmaatskapsbeperkings wat nodig mag wees, kan verslawingsherstelprogramme en professionele berading van hulp wees (sien 32.8.2).
32.7.7
Ouderdom, Volwassenheid en Ervaring
Leiers neem ouderdom, volwassenheid en ervaring in ag wanneer ʼn lid berading kry of die uitslag van ʼn lidmaatskapsraad besluit word. Toegeeflikheid is dikwels gepas vir diegene wat onvolwasse is in die evangelie. Toegeeflikheid mag byvoorbeeld gepas wees vir jong lede wat betrokke is by immorele gedrag, indien hule die sonde versaak en opregte bekering toon. Ernstiger optrede mag egter nodig wees indien hulle volhou met die gedrag.
32.7.8
Verstandelike Vermoë
Geestelike siekte, verslawing of beperkte verstandelike kapasiteit verskoon nie ʼn persoon wat ʼn ernstige sonde gepleeg het nie. Hierdie is egter faktore om in ag te neem. As deel daarvan om ʼn persoon te help om te bekeer, soek leiers die Here se leiding oor die persoon se begrip van evangeliebeginsels en vlak van verantwoordbaarheid.
32.7.9
Vrywillige Belydenis
ʼn Vrywillige belydenis en goddelike berou vir iemand se optredes toon ʼn begeerte om te bekeer.
32.7.10
Tydsverloop tussen Sonde en Belydenis
Belydenis is deel van bekering en moet nie uitgestel word nie. Soms word ʼn sonde gevolg deur ʼn lang periode van restitusie en getroue lewe. As ʼn lid ʼn sonde bely en dit nie herhaal het nie, kan dit toon dat hy of sy dit versaak het. In daardie geval kan belydenis die proses van bekering voltooi, eerder as om dit te begin.
BESTUUR VAN PERSOONLIKE BERADING
32.8
Persoonlike Berading en Informele Lidmaatskapsbeperkings
Persoonlike berading is dikwels voldoende om ander te beskerm en ʼn persoon te help om toegang te verkry tot die verlossende krag van Jesus Christus se Versoening deur bekering. Sulke berading kan lede ook help om te waak teen ernstiger sondes. Met persoonlike berading kan leiers ook informele lidmaatskapsbeperkings oplê om ʼn lid van sommige ernstige sondes te help bekeer (sien 32.8.3).
Ernstige sondes moet nie ligtelik opgeneem word nie (sien Leer en Verbonde 1:31). Die verbreking van tempelverbonde verhoog die waarskynlikheid dat ʼn lidmaatskapsraad nodig is (sien 32.7.4).
Riglyne om leiers te help om te weet wanneer berading en informele beperkings voldoende kan wees, word hieronder gelys (sien ook 32.7):
-
ʼn Persoon het nie ʼn sonde gepleeg wat ʼn lidmaatskapsraad vereis nie (sien 32.6.1).
-
ʼn Persoon het vrywillig bely en is opreg berouvol.
-
ʼn Persoon bekeer van ʼn ernstige sonde wat hy of sy nie voorheen gepleeg het nie.
-
ʼn Persoon se sonde het nie tempelverbonde verbreek nie.
-
ʼn Persoon het beduidende versagtende omstandighede.
32.8.1
Persoonlike Berading
Die volgende riglyne geld wanneer ʼn biskop of penpresident ʼn lid berading gee om hom of haar te help bekeer.
-
Vra net genoeg inligting om vas te stel (1) wat die lid se houding ten opsigte van die sondige gedrag is, en (2) die aard, frekwensie en duur van die gedrag. Moenie vir meer besonderhede vra as wat nodig is om die situasie te verstaan nie. Moenie vrae vra wat uit persoonlike nuuskierigheid ontstaan nie.
-
Vra hoe die gedrag ander beïnvloed het.
-
Fokus op positiewe toestande wat die persoon se bekering en toewyding aan die Here verdiep. Moedig die persoon aan om spesifieke aksies te neem om ʼn verandering van gedrag en verandering van hart teweeg te bring om te bekeer. Nooi hom of haar om nader aan die Saligmaker te kom, sy krag te soek en om sy verlossende liefde te voel.
-
Moedig opbouende aktiwiteite aan soos bid, skriftuurstudie en bywoning van Kerkbyeenkomste. Leer dat familiegeskiedenis en tempelwerk die invloed van die teëstander kan verminder. Moedig aan om ander te dien en die evangelie te deel.
-
Moedig aan om restitusie te doen aan diegene wat deur sondes benadeel is en vra om vergifnis.
-
Moedig aan om weg te keer van slegte invloede. Help lede om voorkomende stappe te doen om spesifieke versoekings te weerstaan.
-
Besef dat jy ʼn geestelike leier is, nie ʼn professionele berader nie. Bykomend tot die berading wat jy voorsien, kan sommige lede baat vind by gedragsberading. Sommiges ly aan geestesongesteldheid. Wanneer nodig, raai lede aan om hulp te soek van gekwalifiseerde mediese en geestesgesondheidswerkers.
-
Wees biddend en soek leiding van die Gees voordat informele lidmaatskapsbeperkings opgelê word. Sommige lede kan baat vind deur die voorregte van Kerklidmaatskap meer aktief uit te oefen, eerder as om dit te beperk.
-
Volg op om aanmoediging te gee, geestelike krag te versterk en vordering te monitor.
Nadat ʼn lid aan ʼn biskop of penpresident bely het, kan opvolgberading op verskeie maniere plaasvind. Die leier kan dit self verskaf. Of, met die lid se toestemming, kan hy een van sy raadgewers aanwys om dit aan te bied.
Met die lid se toestemming, kan ʼn biskop of penpresident lede van die ouderlingskworum of Verligtingsvereniging aanwys om op spesifieke maniere te help. Vir die jeug kan hy die Jongdamespresidensie of Aäroniese Priesterskapskworum raadgewers aanwys om te help. Diegene wat aangewys word om te help, is geregtig op inspirasie om daardie opdrag te vervul (sien 4.2.6).
Wanneer iemand aangewys word om te help met opvolgberading, gee die leier net genoeg inligting wat nodig is om die lid te help. Die aangewese persoon moet vertroulikheid handhaaf. Hy of sy lig ook die biskop in van die lid se vordering en behoeftes.
32.8.2
Help Persone met Verslawings
Persoonlike berading behels soms om lede te help bekeer van sondes wat verband hou met of veroorsaak word deur verslawings. Hierdie verslawings kan middels of ʼn wye reeks gedragswyses insluit. Verslawings benadeel individue, huwelike en families. Biskoppe kan lede raad gee om hulp te soek by die Kerk se verslawingsherstelprogramme en by gekwalifiseerde mediese en geestesgesondheidswerkers.
ʼn Toenemend algemene verslawing is pornografiegebruik. Hetsy ʼn verslawing of ʼn toevallige gedrag, pornografiegebruik van enige aard is skadelik. Die gebruik daarvan verdryf die Gees. Dit verswak die vermoë om krag te put wat spruit uit die onderhouding van verbonde. Dit benadeel ook kosbare verhoudings.
Persoonlike berading en informele lidmaatskapsbeperkings is gewoonlik voldoende om ʼn persoon te help om van die gebruik van pornografie te bekeer. Lidmaatskapsrade word gewoonlik nie gehou nie. Vir uitsonderings, sien 38.6.6 en 38.6.13. Professionele berading kan van hulp wees.
Penpresidente en biskoppe ondersteun familielede soos nodig. Ouers kan ingesluit word wanneer die jeug berading kry oor pornografiegebruik. Die huweliksmaat kan ingesluit word wanneer ʼn getroude persoon berading kry.
Vir meer inligting oor die berading van lede wat betrokke is by pornografie, sien 38.6.13.
32.8.3
Informele Lidmaatskapsbeperkings
Benewens die aanmoediging van positiewe optredes tydens berading, kan ʼn biskop of penpresident sommige voorregte vir ʼn tydperk informeel beperk. Indien met wysheid toegepas, kan hierdie beperkings help met bekering en geestelike vordering. Hulle word beskou as informeel omdat dit nie op ʼn lidmaatskapsrekord aangeteken word nie.
Informele beperkings kan ʼn paar weke, ʼn paar maande of langer duur indien nodig vir die persoon om ten volle te bekeer. In ongewone omstandighede kan die tyd langer as een jaar wees.
Leiers soek die leiding van die Gees oor watter beperkings ʼn persoon die beste sal help om te bekeer. Dit kan insluit (maar is nie beperk tot) die opskorting van die voorreg om in ʼn Kerkroeping te dien, die uitoefening van die priesterskap of toegang tot ʼn tempel. Die leier kan die persoon ook beperk om ʼn praatjie, les of gebed in die Kerk te gee. As die leier die reg tot toegang van ʼn tempel opskort, kanselleer hy die tempelaanbeveling in die Leader and Clerk Resources (LCR).
Gebruik van die nagmaal is ʼn belangrike deel van bekering. Dit moet nie die eerste beperking wees wat aan ʼn berouvolle persoon gegee word wat ʼn gebroke hart en verslae gees het nie. Indien ʼn persoon egter ernstige sondes gepleeg het, kan ʼn leier dié voorreg vir ʼn tyd opskort.
Leiers vertel gewoonlik vir niemand anders van informele beperkings nie, tensy dit nodig is om te weet nie (sien 32.12.2).
Die biskop of penpresident kan informele beperkings verwyder soos deur die Gees gelei wanneer die persoon spesifieke vordering in opregte bekering maak. As die lid in die patroon van sonde voortgaan, kan dit help of nodig wees om ʼn lidmaatskapsraad te hou.
BESTUUR VAN KERKLIDMAATSKAPSRADE
Kerklidmaatskapsrade word gehou wanneer die biskop of penpresident bepaal dat dit van hulp kan wees of wanneer dit deur Kerkbeleid vereis word (sien 32.6). Dit word op wyk-, pen-, tak-, distriks- of sendingvlak gehou. Hierdie afdeling verskaf inligting oor hoe om dit te bestuur.
32.9
Deelname en Verantwoordelikheid
Die volgende tabel toon wie gewoonlik aan lidmaatskapsrade deelneem.
Deelnemers aan Lidmaatskapsrade | |
---|---|
Wykslidmaatskapsraad | Deelnemers aan Lidmaatskapsrade
|
Penlidmaatskapsraad | Deelnemers aan Lidmaatskapsrade |
32.9.1
Penpresident
Die penpresident:
-
Het gesag oor lidmaatskapsrade in die pen; die meeste van hierdie rade word egter deur biskoppe gehou.
-
Moet goedkeuring gee voordat ʼn biskop ʼn lidmaatskapsraad kan hou.
-
Hou ʼn penlidmaatskapsraad indien ʼn man of vrou wat die tempelbegiftiging ontvang het, se lidmaatskap waarskynlik onttrek sal word.
-
Kan ʼn raad hou indien ʼn lid teen die besluit van ʼn wykslidmaatskapsraad appelleer.
-
Moet goedkeuring gee voordat ʼn wykslidmaatskapsraad se aanbeveling om ʼn onbegiftigde persoon se lidmaatskap te onttrek, finaal is.
32.9.2
Hoëraad
Lede van die hoëraad neem nie gewoonlik deel aan penlidmaatskapsrade nie. Die hoëraad kan egter deelneem in moeilike situasies (sien Leer en Verbonde 102:2). Die penpresidensie kan byvoorbeeld die hoëraad nooi om deel te neem wanneer:
-
Daar betwiste feite is.
-
Hulle waarde en balans toevoeg.
-
Die lid hulle deelname versoek.
-
ʼn Lid van die penpresidensie of sy familie betrokke is (sien 32.9.7).
32.9.3
Biskop (of Takpresident in ʼn Pen)
Die biskop:
-
Het gesag oor wykslidmaatskapsrade.
-
Beraadslaag met die penpresident en verkry sy goedkeuring voordat ʼn raad gehou word.
-
Mag nie ʼn raad hou indien ʼn man of vrou wat die tempelbegiftiging ontvang het, se Kerklidmaatskap waarskynlik onttrek sal word nie. ʼn Penlidmaatskapsraad moet in daardie situasies gehou word.
-
Kan genooi word om ʼn penlidmaatskapsraad by te woon vir ʼn wykslid wie se lidmaatskap hersien word. Sy bywoning moet deur die penpresident en die persoon goedgekeur word.
ʼn Wyks- of taklidmaatskapsraad kan aanbeveel dat ʼn persoon se Kerklidmaatskap onttrek word as hy of sy nie begiftig is nie. Die penpresident se goedkeuring word egter vereis voordat die besluit finaal is.
Soms word ʼn wykslidmaatskapsraad gehou vir ʼn lid wat begiftig is en die verrigtinge openbaar dat die lid se lidmaatskap waarskynlik onttrek sal word. In hierdie situasies verwys die biskop die aangeleentheid na die penpresident.
32.9.4
Sendingpresident
Die sendingpresident:
-
Het gesag oor lidmaatskapsrade in sendingtakke en -distrikte.
-
Moet goedkeuring gee voordat ʼn distriks- of takpresident ʼn lidmaatskapsraad kan hou.
-
Hou ʼn lidmaatskapsraad indien ʼn man of vrou wat die tempelbegiftiging ontvang het, se Kerklidmaatskap waarskynlik onttrek sal word. Indien tyd en afstand dit verhinder, kan hy een van sy raadgewers aanwys om oor die raad te presideer. Hy stel twee ander Melgisédekse Priesterskaphouers aan om deel te neem.
-
Waar moontlik, hou lidmaatskapsrade vir diegene wat nie begiftig is nie. Indien tyd en afstand dit verhinder, kan hy drie Melgisédekse Priesterskaphouers magtig om dit te hou. In dié geval, lei die lid se distrikspresident of takpresident gewoonlik die raad.
-
Mag ʼn raad hou indien ʼn lid teen die besluit van ʼn distriks- of taklidmaatskapsraad appelleer.
-
Hou ʼn lidmaatskapsraad met goedkeuring van ʼn Algemene Gesagsdraer van die Sendingdepartement, indien ʼn sendeling ʼn ernstige sonde gepleeg het in die sendingveld (sien 32.9.8). Hy hersien ook die aangeleentheid met ʼn lid van die Area Presidensie en beraadslaag met die penpresident van die sendeling se tuispen.
-
Moet goedkeuring gee voordat ʼn tak- of distrikslidmaatskapsraad se aanbeveling om ʼn onbegiftigde persoon se lidmaatskap te onttrek, finaal is.
Indien ʼn sendeling ʼn ernstige sonde bely wat hy of sy gepleeg het voor sending, kontak die sendingpresident sy verteenwoordiger in die veld in die Sendingdepartement vir leiding.
Wanneer ʼn sendingpresident ʼn lidmaatskapsraad hou, stel hy twee Melgisédekse Priesterskaphouers aan om hom te help. Slegs in buitengewone omstandighede moet hy jong sendelinge aanstel om te help. Hy volg dieselfde prosedures as in ʼn penlidmaatskapsraad (sien 32.10). ʼn Hoëraad of distriksraad neem egter nie deel nie.
32.9.5
Distriks- of Takpresident in ʼn Sending
ʼn Distriks- of takpresident in ʼn sending kan ʼn lidmaatskapsraad hou wanneer dit deur die sendingpresident gemagtig is. Die distriksraad neem nie deel nie.
ʼn Distriks- of taklidmaatskapsraad kan aanbeveel dat ʼn persoon se Kerklidmaatskap onttrek word indien hy of sy nie die tempelbegiftiging ontvang het nie. Die sendingpresident se goedkeuring word egter vereis voor die besluit finaal is.
32.9.6
Pen- of Wyksklerk
Die pen- of wyksklerk:
-
Hou skriftelike aantekeninge van die raad net so lank as wat nodig is om die Kerklidmaatskapsraad Verslagvorm in te dien.
-
Berei die vorm voor indien gevra word deur die leier wat die raad gelei het.
-
Neem nie deel aan die bespreking of besluit in die raad nie.
32.9.7
Deelname onder Buitengewone Omstandighede
Indien ʼn raadgewer in die penpresidensie nie in staat is om deel te neem aan ʼn lidmaatskapsraad nie, vra die penpresident ʼn hoëraadslid of ʼn ander hoëpriester om sy plek in te neem. Indien die penpresident nie in staat is om deel te neem nie, kan die Eerste Presidensie een van sy raadgewers magtig om in sy plek te presideer.
Indien ʼn raadgewer in die bisdom nie in staat is om deel te neem aan ʼn lidmaatskapsraad nie, kan die biskop ʼn hoëpriester in die wyk vra om sy plek in te neem. Indien die biskop nie in staat is om deel te neem nie, verwys hy die aangeleentheid na die penpresident, wat ʼn penlidmaatskapsraad belê. Die biskop mag nie ʼn raadgewer aanwys om ʼn lidmaatskapsraad byeen te roep nie.
Indien ʼn lidmaatskapsraad gehou word vir ʼn familielid van die biskop of een van sy raadgewers, word dit op penvlak gehou. Indien dit gehou word vir ʼn familielid van een van die penpresident se raadgewers, wys die penpresident ʼn ander hoëpriester aan om die raadgewer se plek in te neem. Indien ʼn raad gehou word vir ʼn familielid van die penpresident, beraadslaag hy met die Kantoor van die Eerste Presidensie.
Indien ʼn lid beswaar maak teen die deelname van die biskop of sy raadgewers, word die lidmaatskapsraad op penvlak gehou. Indien ʼn lid beswaar maak teen die deelname van een van die penpresident se raadgewers, wys die penpresident ʼn ander hoëpriester aan om die raadgewer se plek in te neem. Indien ʼn lid beswaar maak teen die deelname van die penpresident of indien die penpresident voel dat hy nie onpartydig kan wees nie, beraadslaag hy met die Kantoor van die Eerste Presidensie.
32.9.8
Bepaling Watter Leier ʼn Raad Hou Onder Spesiale Omstandighede
Lidmaatskapsrade word byna altyd in die geografiese Kerkeenheid gehou wat die persoon se lidmaatskapsrekord het.
Soms is ʼn lidmaatskapsraad nodig vir ʼn persoon wat trek. Indien die trek binne dieselfde pen is, beraadslaag die penpresident met die biskoppe van beide wyke en besluit waar dit moet plaasvind.
Indien die lid buite die pen trek, beraadslaag die penpresidente van beide penne en besluit waar die raad moet plaasvind. Indien hulle besluit dat dit in die vorige wyk of pen gehou moet word, bly die lidmaatskapsrekord in daardie wyk totdat die raad voltooi is. Andersins word die rekord oorgedra na die nuwe wyk. Die biskop of penpresident stel die huidige biskop of penpresident vertroulik in kennis hoekom ʼn raad nodig is.
Soms is ʼn lidmaatskapsraad nodig vir ʼn lid wat tydelik weg van die huis af woon. ʼn Raad mag byvoorbeeld nodig wees vir ʼn student of ʼn lid in die weermag. Die biskop waar die lid tydelik woon, kan berading en ondersteuning bied. Hy kan egter nie ʼn lidmaatskapsraad hou tensy die lidmaatskapsrekord in sy eenheid is nie en hy met die biskop van die tuiswyk beraadslaag het nie.
Soms pleeg ʼn sendeling ʼn ernstige sonde in die sendingveld wat eers geopenbaar word nadat hy of sy onthef is. Die biskop en penpresident beraadslaag wie van hulle die lidmaatskapsraad moet hou. Een van hulle beraadslaag met die vorige sendingpresident voor dit gehou word.
32.10
Prosedures vir Lidmaatskapsrade
32.10.1
Kennisgewing en Voorbereiding vir die Raad
Die biskop of penpresident gee ʼn lid skriftelik kennis van ʼn lidmaatskapsraad wat om sy/haar ontwil gehou sal word. Hy teken die brief. Dit sluit die volgende inligting in:
“Die [bisdom of penpresidensie] hou ʼn lidmaatskapsraad om jou ontwil. Die raad sal gehou word op [datum en tyd] te [plek].
“Hierdie raad sal oorweeg [som die wangedrag op in algemene terme, maar gee nie besonderhede of bewyse nie].
“Jy word genooi om die raad by te woon om jou antwoord te gee. Jy kan skriftelike verklarings indien van persone wat relevante inligting kan verskaf. Jy kan die persone nooi om namens jou met die raad te praat indien dit vooraf deur die penpresident of biskop goedgekeur is. Jy kan ook [die wyk Verligtingsverenigingpresident of die ouderlingskworumpresident] nooi om teenwoordig te wees en ondersteuning te bied.
“Enigiemand wat dit bywoon, moet bereid wees om te voldoen aan die eerbiedwaardige aard van die raad, insluitend die prosedures en vertroulikheid. Regsadviseurs en ondersteuners buiten dié waarna hierbo verwys word, mag nie teenwoordig wees nie.”
ʼn Finale paragraaf kan ʼn uitdrukking van liefde, hoop en besorgdheid insluit.
Riglyne oor wie die persoon mag nooi om met die raad te praat, word verskaf in 32.10.3, nommer 4.
Indien die brief nie persoonlik afgelewer kan word nie, kan dit per geregistreerde of gesertifiseerde pos gestuur word en ʼn bewys aangevra word.
Die biskop of penpresident skeduleer ʼn lidmaatskapsraad op ʼn tyd wat vir die persoon geleë is. Hy verseker ook dat daar tyd is om verklarings van slagoffers van die wangedrag te bekom, indien hulle verlang om dit te verskaf (sien 32.10.2).
Die biskop of penpresident berei die lid voor vir die raad deur die doel en prosedures te verduidelik. Hy verduidelik ook die besluite wat die raad kan bereik en die resultate daarvan. Indien ʼn lid bely het, verduidelik die leier dat die belydenis in die lidmaatskapsraad gebruik sal moet word.
32.10.2
Bekom Verklarings van Slagoffers
Wanneer ʼn Kerklid ʼn slagoffer (soos vir bloedskande, kindermishandeling, mishandeling van huweliksmaat of bedrog) is, kontak die biskop of penpresident daardie persoon se huidige biskop of penpresident. Hierdie leiers bepaal of dit van hulp sal wees om die slagoffer die geleentheid te gee om ʼn skriftelike verklaring te verskaf oor die wangedrag en die gevolge daarvan. Hierdie verklarings kan in ʼn lidmaatskapsraad gelees word (sien 32.10.3, nommer 3). Kerkleiers het nie magtiging om kontak te inisieer met slagoffers wat nie lede van die Kerk is nie.
Enige vergadering met ʼn slagoffer vir hierdie doel word by sy of haar huidige biskop of penpresident gehou. Indien ʼn slagoffer ʼn verklaring verskaf, gee die leier dit vir die biskop of penpresident wat die lidmaatskapsraad hou. Leiers moet baie versigtig wees om verdere trauma te vermy.
Enige navraag oor ʼn slagoffer wat jonger as 18 is, word deur die kind se ouers of wettige voogde gedoen, tensy dit die slagoffer in gevaar kan stel.
Vir inligting oor biskoppe en penpresidente wat leiding in gevalle van mishandeling ontvang, sien 32.4.5 en 38.6.2.1.
32.10.3
Lei die Raad
Onmiddellik voor die raad begin, vertel die biskop of penpresident vir die deelnemers vir wie die raad is en wat die gerapporteerde wangedrag is. Indien nodig, verduidelik hy die prosedures van die raad.
Die persoon, indien teenwoordig, word dan in die vertrek verwelkom. Indien die biskop genooi is om die penlidmaatskapsraad by te woon, word hy ook op hierdie tydstip die vertrek binnegenooi. Indien die persoon die wyk Verligtingsverenigingpresident of die ouderlingskworumpresident genooi het om teenwoordig te wees en ondersteuning te bied, word hy of sy ook in die vertrek verwelkom.
Die biskop of penpresident lei die raad in ʼn gees van liefde, soos hieronder uiteengesit.
-
Hy nooi iemand om ʼn openingsgebed te doen.
-
Hy verstrek die gerapporteerde wangedrag. Hy gee die persoon (indien teenwoordig) ʼn geleentheid om hierdie bewering te bevestig, ontken of hierdie verklaring te verhelder.
-
Indien die lid die wangedrag bevestig, gaan die biskop of penpresident voort na nommer 5 hieronder. Indien die lid dit ontken, bied die biskop of penpresident inligting daaroor aan. Dit kan die aanbieding van betroubare dokumente en die voorlees van enige geskrewe verklarings van slagoffers insluit (sien 32.10.2). As hy so ʼn verklaring lees, beskerm hy die identiteit van die slagoffer.
-
Indien die lid die wangedrag ontken, kan hy of sy inligting aan die raad voorlê. Dit kan geskrewe wees. Of die lid kan persone wat relevante inligting kan verskaf, vra om een op ʼn slag met die raad te praat. Sulke persone moet Kerklidmate wees, tensy die biskop of penpresident vooraf bepaal dat ʼn nie-lid dit mag bywoon. Hulle wag in ʼn aparte vertrek totdat hulle gevra word om te praat. Elke persoon verlaat die raadskamer wanneer hy of sy klaar is. Hulle moet bereid wees om te voldoen aan die eerbiedwaardige aard van die raad, insluitend die prosedures en vertroulikheid. Lede mag nie regsadviseurs teenwoordig hê nie. Hulle mag ook nie meer ondersteuners hê as dié waarna verwys word in die tweede paragraaf in hierdie afdeling nie.
-
Die biskop of penpresident kan vrae aan die lid op ʼn beleefde en eerbiedige manier vra. Hy kan ook vrae vra aan ander persone wat die lid gevra het om inligting te verskaf. Raadgewers in die bisdom of penpresidensie kan ook vrae vra. Enige vrae moet kort en beperk wees tot die kernfeite.
-
Nadat al die relevante inligting voorgelê is, verskoon die biskop of penpresident die lid van die vertrek. Die klerk word ook verskoon, tensy die hoëraad deelgeneem het aan ʼn penlidmaatskapsraad. Indien die lid se biskop teenwoordig is vir ʼn penlidmaatskapsraad, word hy verskoon. Indien die Verligtingsverenigingpresident of die ouderlingskworumpresident dit bywoon om ondersteuning te bied, word hy of sy ook verskoon.
-
Die biskop of penpresident vra vir kommentaar of insigte van sy raadgewers. Indien die hoëraad deelgeneem het aan ʼn penlidmaatskapsraad, vra hy vir hulle kommentaar en insigte.
-
Met sy raadgewers, soek die biskop of penpresident bidded die Here se wil oor die aangeleentheid. Slegs die penpresident en sy raadgewers of die biskop en sy raadgewers moet gedurende dié tyd in die vertrek wees. Indien ʼn penlidmaatskapsraad die hoëraad insluit, gaan die penpresidensie gewoonlik na die penpresident se kantoor.
-
Die biskop of penpresident vertel vir sy raadgewers van sy besluit en vra hulle om dit te onderskraag. Indien ʼn penlidmaatskapsraad die hoëraad insluit, keer die penpresidensie terug na die vertrek en vra die hoëraad om dit te onderskraag. Indien ʼn raadgewer of hoëraad ʼn ander opinie het, luister die biskop of die penpresident en probeer om die verskille op te los. Verantwoordelikheid vir die besluit berus by die presiderende amptenaar.
-
Hy nooi die persoon terug in die vertrek. Indien die klerk verskoon is, word hy ook in die vertrek genooi. Indien die lid se biskop teenwoordig is vir ʼn penlidmaatskapsraad, word hy ook in die vertrek genooi. Indien die Verligtingsverenigingpresident of die ouderlingskworumpresident dit bywoon om ondersteuning te bied, word hy of sy ook terug verwelkom.
-
Die biskop of penpresident deel die raad se besluit in ʼn gees van liefde mee. Indien die besluit is om die persoon se Kerklidmaatskapsvoorregte formeel te beperk of lidmaatskap te onttrek, verduidelik hy die voorwaardes (sien 32.11.3 en 32.11.4). Hy verduidelik ook hoe om die beperkings te oorkom en gee ander instruksies en raad. ʼn Biskop of penpresident kan ʼn raad vir ʼn tydperk verdaag om meer leiding of inligting te soek voordat ʼn besluit geneem word. In daardie geval, verduidelik hy dit.
-
Hy verduidelik die persoon se reg om te appelleer (sien 32.13).
-
Hy nooi iemand om die sluitingsgebed te doen.
Of die persoon teenwoordig is of nie, stel die biskop of penpresident hom of haar in kennis van die besluit soos verduidelik in 32.12.1.
Geen deelnemer aan ʼn lidmaatskapsraad word toegelaat om ʼn oudio-, video- of geskrewe opname te maak nie. ʼn Klerk mag aantekeninge maak met die doel om die Verslag van Kerklidmaatskapsraad op te stel. Sulke aantekeninge moet egter nie ʼn woord-vir-woord rekord of transkripsie wees nie. Nadat die verslag opgestel is, vernietig hy dadelik enige aantekeninge.
32.11
Besluite van Lidmaatskapsrade
Die besluite van lidmaatskapsrade moet deur die Gees gelei word. Dit moet die liefde en hoop weerspieël wat die Saligmaker bied aan diegene wat hulle bekeer. Moontlike besluite word hieronder beskryf. Wanneer hierdie besluite geneem word, neem die leiers die omstandighede in ag wat uiteengesit is in 32.7.
Na enige lidmaatskapsraad, dien die biskop of penpresident dadelik ʼn Verslag van Kerklidmaatskapsraadvorm in deur LCR (sien 32.14.1).
Moontlike besluite van lidmaatskapsrade word uiteengesit in die volgende afdelings.
32.11.1
Bly in Goeie Aansien
In sommige gevalle mag ʼn persoon onskuldig wees en in goeie aansien bly. In sommige gevalle mag ʼn persoon wat die sonde gepleeg het, opreg bekeer het en in goeie aansien wees. Die biskop of penpresident mag raad gee en vermaning oor toekomstige optredes. Na die raad gaan hy voort om ondersteuning te gee soos nodig.
32.11.2
Persoonlike Berading met die Biskop of Penpresident
In sommige lidmaatskapsrade kan leiers bepaal dat die lid nie in goeie aansien is nie—maar dat formele lidmaatskapsbeperkings nie geregverdig is nie. In hierdie gevalle mag die raad besluit dat die persoon persoonlike berading moet ontvang asook regstelling van die biskop of penpresident. Hierdie berading kan informele lidmaatskapsbeperkings insluit soos uiteengesit in 32.8.3.
Persoonlike berading en informele lidmaatskapsbeperkings is nie ʼn opsie wanneer ʼn raad gehou word vir die sondes hieronder gelys in 32.6.1 nie.
32.11.3
Formele Lidmaatskapsbeperkings
In sommige lidmaatskapsrade kan leiers bepaal dat dit die beste is om ʼn persoon se Kerklidmaatskapsvoorregte vir ʼn tydperk formeel te beperk. Formele beperkings kan voldoende wees vir almal, behalwe die ernstigste sondes of situasies, waarvoor lidmaatskap onttrek sou word (sien 32.11.4).
Diegene wat formele lidmaatskapsbeperkings het, is steeds lede van die Kerk. Hulle Kerklidmaatskapsvoorregte word egter soos volg beperk:
-
Hulle mag nie ʼn tempel binnegaan nie. Hulle mag egter voortgaan om die tempelkleding te dra indien begiftig. Indien die lid ʼn tempelaanbeveling het, kanselleer die leier dit in LCR.
-
Hulle mag nie die priesterskap uitoefen nie.
-
Hulle mag nie die nagmaal gebruik of aan die onderskraging van Kerkamptenare deelneem nie.
-
Hulle mag nie ʼn praatjie, les of gebed in die Kerk gee nie. Hulle mag ook nie in ʼn Kerkroeping dien nie.
Hulle word aangemoedig om Kerkdienste en -aktiwiteite by te woon indien hul gedrag ordelik is. Hulle word ook aangemoedig om tiendes en offerandes te betaal.
Die biskop of penpresident kan ander voorwaardes byvoeg soos die vermyding van pornografiese materiaal en ander bose invloede. Hy voeg gewoonlik positiewe voorwaardes by. Dit mag gereelde Kerkbywoning, gereelde gebed en lees van die skrifture en ander Kerkmateriale insluit.
Indien ʼn persoon se Kerklidmaatskapsvoorregte formeel beperk is, word dit aangeteken op die lidmaatskapsrekord.
Die tydperk van formele beperking is gewoonlik ten minste een jaar en kan langer wees. Wanneer die lid gespesifiseerde vordering in opregte bekering maak, hou die biskop of penpresident nog ʼn raad om die verwydering van die beperkings te oorweeg (sien 32.16.1). Indien die lid in die patroon van sonde voortgaan, kan die leier nog ʼn raad hou om ander maatreëls te oorweeg.
32.11.4
Onttrekking van Lidmaatskap
In sommige lidmaatskapsrade kan leiers besluit dat dit die beste is om ʼn persoon se Kerklidmaatskap vir ʼn tydperk te onttrek (sien Mosia 26:36; Alma 6:3; Moroni 6:7; Leer en Verbonde 20:83).
Onttrekking van ʼn persoon se Kerklidmaatskap word vereis vir moord (soos omskryf in 32.6.1.1) en veelvoudige huwelike (soos verduidelik in 32.6.1.2). Dit word byna altyd vir bloedskande vereis soos verduidelik in 32.6.1.2 en 38.6.10.
Soos deur die Gees gelei, kan die onttrekking van ʼn persoon se lidmaatskap ook soos volg nodig wees:
-
Vir diegene wie se gedrag hulle ʼn ernstige bedreiging vir ander inhou.
-
Vir diegene wat besonder ernstige sondes gepleeg het.
-
Vir diegene wat nie bekering toon van ernstige sonde nie (sien oorwegings 32.7).
-
Vir diegene wat ernstige sondes pleeg wat die Kerk benadeel.
ʼn Wyks-, tak- of distrikslidmaatskapsraad kan onttrekking van Kerklidmaatskap van ʼn persoon aanbeveel wat nie die tempelbegiftiging ontvang het nie. Die goedkeuring van die pen- of sendingpresident is egter nodig voordat finaal besluit word.
Diegene wie se Kerklidmaatskap onttrek is, mag nie enige voorregte van lidmaatskap geniet nie.
-
Hulle kan nie ʼn tempel binnegaan of tempelkleding dra nie. Indien die persoon ʼn tempelaanbeveling het, kanselleer die leier dit in LCR.
-
Hulle mag nie die priesterskap uitoefen nie.
-
Hulle mag nie die nagmaal gebruik of aan die onderskraging van Kerkamptenare deelneem nie.
-
Hulle mag nie ʼn praatjie, les of gebed in die Kerk gee nie of ʼn aktiwiteit in die kerk lei nie. Hulle mag ook nie in ʼn Kerkroeping dien nie.
-
Hulle mag nie tiendes en offerandes betaal nie.
Hulle word aangemoedig om Kerkdienste en -aktiwiteite by te woon indien hul gedrag ordelik is.
Diegene wie se Kerklidmaatskap onttrek is, kan oorweeg word vir hertoelating deur doop en bevestiging. Gewoonlik moet hulle eers vir ten minste een jaar opregte bekering toon. Die biskop of penpresident hou ʼn ander lidmaatskapsraad om hertoelating te oorweeg (sien 32.16.1).
Lidmaatskapsraadbesluite en Gevolge
Besluit |
Gevolge |
---|---|
Besluit Bly in Goeie Aansien (sien 32.11.1) | Gevolge
|
Besluit Persoonlike Berading met die Biskop of Penpresident (sien 32.11.2) | Gevolge
|
Besluit Formele Lidmaatskapsbeperkings (sien 32.11.3) | Gevolge
|
Besluit Onttrekking van Lidmaatskap (sien 32.11.4) | Gevolge
|
32.11.5
Vrae omrent Beslissing van Moeilike Aangeleenthede
Biskoppe rig vrae oor handleidingsriglyne vir lidmaatskapsrade aan die penpresident.
Oor moeilike aangeleenthede kan die penpresident raad verkry van sy toegewysde Area Sewentig. Die penpresident moet met die Area Presidensie beraadslaag oor die aangeleenthede soos uiteengesit in 32.6.3. Die penpresident moet egter nie ʼn Area Sewentig of Algemene Gesagsdraer vra hoe om oor moeilike aangeleenthede te besluit nie. Die penpresident besluit of ʼn raad gehou moet word om die gedrag aan te spreek. Indien ʼn raad gehou word, besluit die penpresident of biskop die uitslag daarvan.
32.11.6
Eerste Presidensie-gesag
Die Eerste Presidensie het finale gesag oor alle Kerklidmaatskapsbeperkings en -onttrekking.
32.12
Kennisgewings en Aankondigings
Die besluit van ʼn lidmaatskapsraad word aan die persoon meegedeel—en aan andere soos nodig—soos hieronder verduidelik.
32.12.1
Stel ʼn Persoon in Kennis van die Besluit
Die biskop of penpresident vertel gewoonlik vir die persoon van die uitslag van die raad wanneer dit afgesluit word. Hy mag egter ʼn raad vir ʼn tydperk verdaag om meer leiding of inligting te soek voordat ʼn besluit geneem word.
ʼn Wyks-, tak- of distrikslidmaatskapsraad kan onttrekking van Kerklidmaatskap van ʼn persoon aanbeveel wat nie die tempelbegiftiging ontvang het nie. Die goedkeuring van die pen- of sendingpresident is egter nodig voordat finaal besluit word.
Die biskop of penpresident verduidelik die gevolge van die besluit soos uiteengesit in 32.11. Hy gee gewoonlik ook raad oor die voorwaardes van bekering, sodat beperkings verwyder kan word of die persoon in die Kerk hertoegelaat kan word.
Die biskop of penpresident gee die persoon spoediglik skriftelik kennis van die besluit en die gevolge. Hierdie kennisgewing bestaan uit ʼn algemene verklaring dat die aksie geneem is in reaksie op gedrag wat strydig is met die wette en orde van die Kerk. Dit kan ook raad insluit oor die verwydering van lidmaatskapsbeperkings of hertoelating tot die Kerk. Dit moet die persoon in kennis stel dat hy of sy teen die besluit kan appelleer (sien 32.13).
Indien die persoon nie die raad bywoon nie, kan skriftelike kennisgewing voldoende wees om hom of haar van die besluit in kennis te stel. Die biskop of penpresident kan ook met die persoon vergader.
Die biskop of penpresident gee nie aan die persoon ʼn afskrif van die Verslag van Kerklidmaatskapsraadvorm nie.
32.12.2
Stel Andere in Kennis van ʼn Besluit
Indien ʼn biskop of penpresident ʼn persoon se lidmaatskapsvoorregte in persoonlike berading informeel beperk, lig hy gewoonlik niemand anders in nie (sien 32.8.3). Hierdie leiers kommunikeer egter met mekaar oor informele beperkings wanneer hulle lede help.
Indien ʼn persoon se lidmaatskapsvoorregte in ʼn lidmaatskapsraad formeel beperk of onttrek word, kommunikeer die biskop of penpresident die besluit alleenlik aan diegene wat dit moet weet. Die volgende riglyne is van toepassing.
-
Hy neem die behoeftes van slagoffers en potensiële slagoffers en die gevoelens van die persoon se familie in ag.
-
Hy kommunikeer nie die besluit indien die persoon daarteen appelleer nie. Hy kan egter kommunikeer dat dit geappelleer word, indien hy voel dit is nodig om potensiële slagoffers te beskerm. Hy kan dit ook kommunikeer om die genesing van slagoffers te ondersteun (alhoewel hy nie slagoffers se name bekend maak nie) of om die integriteit van die Kerk te beskerm.
-
Soos nodig, kommunikeer die biskop die besluit in vertroulikheid aan wyksraadslede. Dit is om leiers in te lig wat die persoon mag oorweeg om beskikbaar te wees vir roepings, om lesse te onderrig of gebede of praatjies te gee. Dit is ook om leiers aan te moedig om sorg en ondersteuning aan die lid en sy of haar familie te bied.
-
Met goedkeuring van die penpresident, kan die biskop die besluit in sy wyk se ouderlingskworum en Verligtingsvereniging vergaderings kommunikeer, indien die volgende by die situasie betrokke is:
-
Roofsugtige gedrag wat andere kan bedreig.
-
Onderrig van valse leer of ander vorms van afvalligheid.
-
Opvallende sondes soos die beoefening van veelvoudige huwelike of gebruik van kultus leringe om aanhangers te lok.
-
Weerspreek die handelinge of leringe van algemene of plaaslike Kerkleiers in die openbaar.
-
-
In sulke gevalle moet die penpresident dalk ook ʼn kommunikasie aan lede van ander wyke in die pen magtig.
-
In sommige gevalle mag die biskop of penpresident voel dat dit sal help om sommige of al die slagoffers en hulle families in kennis te stel dat ʼn lidmaatskapsraad vir die persoon gehou is. Hy doen dit deur hul biskop of penpresident.
-
Indien ʼn persoon se roofsugtige neigings ander in gevaar stel, mag die biskop of penpresident waarskuwings gee om ander te help beskerm. Hy maak nie vertroulike inligting bekend nie en spekuleer nie.
-
In alle ander gevalle beperk die biskop of penpresident enige kommunikasie tot ʼn algemene verklaring. Hy verklaar eenvoudig dat die persoon se Kerklidmaatskapsvoorregte beperk of onttrek is vir gedrag wat strydig is met die wette en orde van die Kerk. Hy vra diegene wat teenwoordig is om dit nie te bespreek nie. Hy vra nie vir ʼn stem vir onderskraging nie.
-
Indien ʼn lid in goeie aansien is na ʼn lidmaatskapsraad (sien 32.11.1), kan die biskop of penpresident dit kommunikeer om gerugte uit die weg te ruim.
32.12.3
Kommunikeer Bedanking van Lidmaatskap
In sommige gevalle sal ʼn biskop dalk moet kommunikeer dat ʼn persoon sy of haar lidmaatskap in die Kerk bedank het (sien 32.14.9). Die biskop verskaf geen ander besonderhede nie.
32.13
Appèl Teen ʼn Besluit
ʼn Lid kan teen die besluit van ʼn wykslidmaatskapsraad binne 30 dae by die penpresident appelleer. Die penpresident hou ʼn penlidmaatskapsraad om die appèl te oorweeg. Hy kan ook ʼn biskop vra om ʼn raad saam te roep en ʼn besluit te heroorweeg, veral as daar nuwe inligting is.
ʼn Lid kan teen die besluit van ʼn penlidmaatskapsraad appelleer deur binne 30 dae ʼn brief aan die Eerste Presidensie te skryf. Die lid gee die brief aan die penpresident om dit aan die Eerste Presidensie voor te lê.
In ʼn sending kan ʼn lid die besluit van ʼn tak- of distrikslidmaatskapsraad binne 30 dae by die sendingpresident appelleer. Die sendingpresident hou ʼn lidmaatskapsraad om die appèl te oorweeg. Indien tyd of afstand hom verhoed om dit te doen, volg hy die instruksies in 32.9.4.
Indien ʼn sendingpresident die raad gelei het, kan die lid die besluit appelleer deur ʼn brief binne 30 dae aan die Eerste Presidensie te skryf. Die lid gee die brief aan die sendingpresident om dit aan die Eerste Presidensie voor te lê.
ʼn Persoon wat teen ʼn besluit appelleer, spesifiseer skriftelik die beweerde foute of onregverdigheid in die prosedure of besluit.
Indien ʼn lidmaatskapsraad gehou word om die appèl te oorweeg, is een van twee besluite moontlik:
-
Handhaaf die aanvanklike besluit.
-
Wysig die aanvanklike besluit.
Eerste Presidensie besluite is finaal en kan nie weer teen geappelleer word nie.
32.14
Verslae en Lidmaatskapsrekords
32.14.1
Verslag van Kerklidmaatskapsraad
Na enige lidmaatskapsraad, dien die biskop of penpresident dadelik ʼn Verslag van Kerklidmaatskapsraadvorm in deur LCR. Hy mag die klerk vra om die verslag voor te berei. Hy verseker dat geen hardekopieë of elektroniese kopieë van die vorm plaaslik gehou word nie. Hy verseker ook dat enige aantekeninge wat gebruik is om die verslag voor te berei, dadelik vernietig word.
32.14.2
Formele Kerklidmaatskapsbeperkings
Formele lidmaatskapsbeperkings word op ʼn persoon se lidmaatskapsrekord aangeteken. Die Kerkhoofkwartier maak dié aantekening nadat die Verslag van Kerklidmaatskapsraad ontvang is. Wanneer ʼn lid bekeer het, moet die leier ʼn ander raad hou om die verwydering van hierdie beperkings te oorweeg (sien 32.16.1).
32.14.3
Rekords ná ʼn Persoon se Kerklidmaatskap Onttrek Is
Indien ʼn persoon se Kerklidmaatskap onttrek is, verwyder die Kerkhoofkwartier die lidmaatskapsrekord na ontvangs van die Verslag van Kerklidmaatskapsraad. Indien die persoon dit verlang, help leiers om hom of haar voor te berei om hertoegelaat te word tot die Kerk deur doop en bevestiging (sien 32.16.1).
32.14.4
Rekords ná Hertoelating tot die Kerk
Nadat ʼn persoon hertoegelaat is tot die Kerk, stuur die biskop ʼn Verslag van Kerklidmaatskapsraadvorm in. ʼn Doop- en Bevestigingsertifikaat word nie geskep nie. Die doop en bevestiging word eerder op die Verslag van Kerklidmaatskapsraadsvorm aangeteken.
Indien die lid nie begiftig is nie, ken die Kerkhoofkwartier ʼn lidmaatskapsrekord toe wat die datums van sy of haar oorspronklike doop en ander ordinansies aandui. Die rekord verwys nie na die verlies van Kerklidmaatskap nie.
Indien die lid begiftig is, word die lidmaatskapsrekord opgedateer deur die Kerkhoofkwartier om die nuwe doop- en bevestigingdatums aan te dui. Hierdie rekord sluit ook die boodskap “Herstel van Seëninge Vereis” in. Nadat die lid se seëninge herstel is (sien 32.17.2), word die lidmaatskapsrekord opgedateer om die datums van die oorspronklike doop en ander ordinansies aan te dui. Dit verwys nie na die verlies van Kerklidmaatskap nie.
32.14.5
Lidmaatskapsrekords met Aantekeninge
Soos deur die Eerste Presidensie gemagtig, teken die Kerkhoofkwartier ʼn persoon se lidmaatskapsrekord aan in enige van die situasies hieronder gelys.
-
Die biskop of penpresident stuur ʼn Verslag van Kerklidmaatskapsraadvorm in wat aandui dat die persoon se lidmaatskap formeel beperk of onttrek is vir enige van die volgende gedrag:
-
Bloedskande
-
Seksuele mishandeling van ʼn kind of jeugdige, seksuele uitbuiting van ʼn kind of jeugdige of ernstige fisiese of emosionele mishandeling van ʼn kind of jeugdige
-
Betrokkenheid by kinderpornografie soos uiteengesit in 38.6.6
-
Veelvoudige huwelike
-
Volwasse seksuele roofsugtige gedrag
-
Transgender-aksies om oor te gaan na die teenoorgestelde van ʼn persoon se biologiese geslag by geboorte (sien 38.6.23)
-
Verduistering van Kerkfondse of steel van Kerkeiendom
-
Kerk welsynsmisbruik
-
Dreigende gedrag (soos seksueel, gewelddadig of finansieel) of gedrag wat die Kerk benadeel
-
-
Die biskop en penpresident lê ʼn skriftelike kennisgewing voor dat die persoon:
-
Erken het of skuldig bevind is aan ʼn misdaad t.o.v. een van die aksies hierbo gelys.
-
Aanspreeklik bevind is in ʼn siviele aksie van bedrog of ander onwettige optredes wat een van die aksies hierbo gelys, insluit.
-
Wanneer ʼn biskop ʼn lidmaatskapsrekord met ʼn aantekening ontvang, volg hy die instruksies in die aantekening.
Slegs die Eerste Presidensie mag magtiging gee om ʼn aantekening van ʼn lidmaatskapsrekord te verwyder. Die penpresident gebruik LCR om ʼn aanbeveling te doen om ʼn aantekening te verwyder. Die Kantoor van die Eerste Presidensie stel hom in kennis of die aanbeveling goedgekeur is of nie.
32.14.6
Rapportering van Diefstal van Kerkfondse
Indien ʼn persoon se lidmaatskap beperk of onttrek is vanweë die verduistering van Kerkfondse, rapporteer die biskop of penpresident dit soos uiteengesit in 34.9.5.
32.14.7
Verhuisingsbeperkings op Lidmaatskapsrekords
Soms verhuis ʼn Kerklidmaat terwyl lidmaatskapsaksie of ander ernstige sake hangende is. Soms moet die biskop inligting deel met die nuwe biskop voordat die lidmaatskapsrekord na die nuwe eenheid oorgedra word. In hierdie gevalle kan die biskop (of klerk indien gemagtig) ʼn “verhuisings”-beperking op die lidmaatskapsrekord plaas. Die rekord bly in die eenheid totdat die biskop (of klerk indien gemagtig) die beperking verwyder. Dit bied ʼn geleentheid aan die biskop om bekommernisse en inligting te kommunikeer.
32.14.8
Rekords van Diegene Wat Gevangenisstraf Uitdien
Sommige lede is skuldig bevind aan ʼn misdaad en is in die gevangenis. Die biskop of penpresident van die eenheid waar die persoon gebly het toe die misdaad gepleeg is, gaan voort met enige nodige aksie vir formele lidmaatskapsbeperkings of -onttrekking. Indien lidmaatskapsvoorregte beperk is, stuur die leier (of klerk indien gemagtig) die lidmaatskapsrekord aan na die eenheid wat verantwoordelik is vir die plek waar die persoon gevange gehou word. Indien lidmaatskap onttrek is, kontak die biskop of penpresident die leier van daardie eenheid. (Sien 32.15.)
32.14.9
Versoeke om Lidmaatskap te Bedank
Indien ʼn lid vra om sy of haar lidmaatskap in die Kerk te bedank, reik die biskop uit om te sien of hy of sy gewillig is om die probleme te bespreek en probeer om dit op te los. Die biskop en lid kan ook met die penpresident beraadslaag. Die leier verseker dat die lid die volgende gevolge van Kerklidmaatskapsbedanking verstaan:
-
Dit herroep alle ordinansies.
-
Dit verwyder alle lidmaatskapsvoorregte.
-
Hertoelating deur doop en bevestiging kan slegs plaasvind na ʼn deeglike onderhoud en in baie gevalle ʼn lidmaatskapsraad (sien 32.16.2).
-
ʼn Persoon wat voorheen begiftig is, kom in aanmerking om ʼn herstelling van seëninge te ontvang alleenlik met die goedkeuring van die Eerste Presidensie en na ten minste een volle jaar van hertoelating (sien 32.17.2).
Indien die lid steeds Kerklidmaatskap wil bedank, gee hy of sy ʼn skriftelike, getekende versoek aan die biskop. Die biskop stuur die versoek aan die penpresident deur LCR. Die penpresident hersien en stuur dan die versoek deur daardie stelsel. Leiers moet spoediglik op versoeke optree.
ʼn Persoon kan ook lidmaatskap bedank deur ʼn getekende, genotariële versoek aan die Kerkhoofkwartier te stuur.
ʼn Minderjarige wat sy of haar Kerklidmaatskap wil bedank, volg dieselfde prosedure as ʼn volwassene, met een uitsondering: die versoek moet deur die minderjarige geteken word (indien oor die ouderdom van 8) en deur die ouer(s) of voog(de) wat wettige toesig oor die minderjarige het.
Indien ʼn lid wat lidmaatskap bedank dreig met regstappe teen die Kerk of sy leiers, volg die penpresident die instruksies in 38.8.24.
ʼn Versoek om lidmaatskap te bedank moet aandag gegee word selfs al het priesterskapleiers inligting oor ʼn ernstige sonde. Enige inligting oor onopgeloste sondes word aangeteken wanneer die versoek deur LCR ingestuur word. Dit laat priesterskapleiers toe om sulke aangeleenthede in die toekoms op te los indien die persoon vir hertoelating tot die Kerk aansoek doen (sien 32.16.2).
ʼn Priesterskapleier moet nie aanbeveel dat Kerklidmaatskap bedank moet word om die hou van ʼn lidmaatskapsraad te vermy nie.
Leiers gaan voort om diegene te bedien wat hul lidmaatskap bedank, tensy hulle geen kontak versoek.
HERSTEL VAN LIDMAATSKAPSVOORREGTE
Indien ʼn persoon se Kerklidmaatskapsvoorregte beperk of onttrek is, sal leiers deelgenootskap, beraadslaging en ondersteuning aan die persoon gee as hy of sy dit toelaat. Hierdie afdeling verduidelik hoe daardie voorregte herstel kan word.
32.15
Gaan Voort om te Dien
Die biskop of penpresident se rol as ʼn algemene regter eindig nie as ʼn lid lidmaatskapsbeperkings opgelê is of sy Kerklidmaatskap onttrek is nie. Hy gaan voort om te dien soos die persoon toelaat, sodat hy of sy weer die seëninge van Kerklidmaatskap kan geniet. Die biskop vergader gereeld met die persoon en wanneer dit van hulp kan wees en van toepassing is, met sy of haar huweliksmaat. Die Saligmaker het die Nefiete geleer:
“Julle sal hom nie uitwerp uit … plekke van aanbidding nie, want diesulkes sal julle aanhou om te dien; want julle weet nie of hulle sal terugkom en bekeer, en na My kom met volle voorneme van hart nie, en Ek sal hulle genees; en julle sal die middel wees om heil na hulle te bring” (3 Nefi 18:32).
Die tyd net ná ʼn persoon se lidmaatskap beperk of onttrek is, is moeilik en krities vir sy of haar familie. Leiers moet sensitief wees vir hierdie behoeftes en families aanmoedig en bystaan.
Die biskop maak seker dat lede wat omgee aangewys word om ʼn persoon wie se Kerklidmaatskap beperk of onttrek is te dien, soos die persoon dit toelaat. Hulle dien ook ander familielede. Individue onder lidmaatskapsbeperkings kan baat by deelname aan indeksering (sien 25.4.3).
Indien die persoon uit die wyk trek, stel die biskop die nuwe biskop in kennis en verduidelik wat nog moet gebeur voordat Kerklidmaatskapsbeperkings verwyder kan word. Indien die persoon se Kerklidmaatskap onttrek is of die persoon sy/haar lidmaatskap bedank het, maak die biskop dieselfde kontak as die persoon ingestem het om deur Kerkleiers bygestaan te word.
32.16
Verwydering van Formele Beperkings of Hertoelating tot die Kerk
32.16.1
Lidmaatskapsrade om Formele Beperkings Op te Hef of ʼn Persoon Her Toe te Laat
Wanneer lidmaatskapsvoorregte in ʼn lidmaatskapsraad beperk of onttrek word, moet ʼn ander raad gehou word om die verwydering van die beperkings of hertoelating van die persoon tot die Kerk te oorweeg. Hierdie raad behoort ook dieselfde vlak van gesag (of hoër) as die aanvanklike raad te hê. As ʼn pen- of sendingpresident byvoorbeed oor die aanvanklike raad gepresideer het, presideer ʼn pen- of sendingpresident oor die raad om die verwydering van die beperkings of hertoelating van die persoon te oorweeg.
Die huidige biskop of penpresident hou die raad. Hy maak eers seker dat die persoon bekeer het en gereed en waardig is om die seëninge van Kerklidmaatskap te geniet.
Diegene wie se Kerklidmaatskap formeel beperk is, moet gewoonlik vir ten minste een jaar opregte bekering toon voordat dit oorweeg word om die beperkings te verwyder. Diegene wie se Kerklidmaatskap onttrek is, moet byna altyd vir ten minste een jaar opregte bekering toon voordat hulle vir hertoelating oorweeg kan word. Vir ʼn lid wat ʼn prominente Kerkposisie beklee het ten tye van die ernstige sonde, is die tydperk oor die algemeen langer (sien 32.6.1.4).
ʼn Raad wat die verwydering van beperkings of hertoelating van ʼn persoon tot die Kerk oorweeg, volg dieselfde riglyne as ander lidmaatskapsrade. ʼn Biskop het die goedkeuring van die penpresident nodig om die raad te hou. In ʼn sending het ʼn tak- of distrikspresident die goedkeuring van die sendingpresident nodig.
Die volgende riglyne is van toepassing wanneer ʼn lidmaatskapsraad gehou word om die verwydering van Kerklidmaatskapsbeperkings of die hertoelating van ʼn persoon tot die Kerk te oorweeg. Nie al hierdie riglyne mag in elke geval van toepassing wees nie.
-
Hersien die aanvanklike lidmaatskapsraad. Die biskop of penpresident hersien die Verslag van Kerklidmaatskapsraadvorm. Hy versoek ʼn afskrif deur LCR. Nadat die vorm hersien is, kan hy die biskop of penpresident kontak waar die aanvanklike raad gehou is om duidelikheid te verkry.
-
Voer ʼn onderhoud met die persoon. Die biskop of penpresident voer ʼn deeglike onderhoud met die persoon om die sterkte van sy of haar geloof in Jesus Christus asook die mate van bekering te bepaal. Hy bepaal ook of die persoon voldoen het aan die voorwaardes wat in die aanvanklike aksie uiteengesit is.
-
Bepaal die status van kriminele of siviele hofaksie. Soms het ʼn persoon die pleeg van ʼn misdaad erken of is daaraan skuldig bevind. Soms is ʼn persoon aanspreeklik bevind in ʼn siviele aksie van bedrog of ander onwettige dade. In hierdie gevalle hou die leier gewoonlik nie ʼn raad totdat die persoon aan alle voorwaardes van enige vonnis, bevel of uitspraak deur die regsowerhede voldoen het nie. Hierdie voorwaardes kan gevangenisstraf, proeftydperk, parool en boetes of restitusie insluit. Uitsonderings vereis die goedkeuring van die Eerste Presidensie voordat ʼn lidmaatskapsraad gehou word. Hierdie uitsonderings kan iemand insluit wat wetlike vereistes voltooi het en opregte bekering getoon het, maar wat op lewenslange parool is of ʼn aansienlike boete opgelê is.
-
Kontak die priesterskapleiers van die slagoffers. Die biskop of penpresident kontak die huidige biskop of penpresident van enige slagoffers (sien 32.10.2).
-
Gee kennis van die raad. Hy stel die persoon in kennis van die datum, tyd en plek van die raad.
-
Lei die raad. Hy lei die raad volgens die riglyne in 32.10.3. Hy vra die persoon wat hy of sy gedoen het om te bekeer. Hy vra ook oor sy of haar toewyding aan Jesus Christus en die Kerk. Wanneer alle relevante aangeleenthede voorgelê is, verskoon hy die lid. Saam met sy raadgewers bid hy om te oorweeg watter stappe om te doen. Die drie moontlike besluite is:
-
Gaan voort met lidmaatskapsbeperkings of -onttrekking.
-
Verwyder beperkings of magtig hertoelating.
-
Doen ʼn aanbeveling aan die Eerste Presidensie dat beperkings verwyder of hertoelating gemagtig word (indien nodig volgens die “Aansoek vir Eerste Presidensie goedkeuring” hieronder).
-
-
Deel die besluit mee. Nadat die raad ʼn besluit geneem het, deel die presiderende beampte dit met die persoon. Indien goedkeuring van die Eerste Presidensie nodig is, verduidelik hy dat die besluit ʼn aanbeveling aan die Eerste Presidensie is.
-
Stuur ʼn verslag. Die biskop of penpresident stuur ʼn Verslag van Kerklidmaatskapsraadvorm deur LCR. Hy kan die klerk vra om die verslag voor te berei. Hy verseker dat geen harde kopieë of elektroniese kopieë plaaslik gehou word nie. Hy verseker ook dat al die aantekeninge wat gebruik is om die verslag voor te berei, spoediglik vernietig word.
-
Doen Aansoek om Eerste Presidensie Goedkeuring (indien nodig). Onder die volgende omstandighede is die goedkeuring van die Eerste Presidensie nodig om formele lidmaatskapsbeperkings te verwyder of die persoon weer in die Kerk toe te laat. Hierdie goedkeuring word vereis selfs al het die optrede plaasgevind nadat Kerklidmaatskap formeel beperk of onttrek is.
-
Moord
-
Bloedskande
-
Seksuele mishandeling van ʼn kind of jeugdige, seksuele uitbuiting van ʼn kind of jeugdige of ernstige fisiese of emosionele mishandeling van ʼn kind of jeugdige deur ʼn volwassene of deur ʼn jeugdige wat etlike jare ouer is
-
Betrokkenheid by kinderpornografie wanneer daar ʼn regsskuldigbevinding is
-
Afvalligheid
-
Veelvoudige huwelike
-
Pleeg ʼn ernstige sonde terwyl ʼn prominente Kerkposisie beklee word
-
Transgender-aksies om oor te gaan na die teenoorgestelde van ʼn persoon se biologiese geslag by geboorte (sien 38.6.23)
-
Verduistering van Kerkfondse of eiendom
-
-
Gee skriftelik kennis van die besluit. Die biskop of penpresident verseker dat die persoon spoediglik skriftelike kennis gegee word van die besluit en die gevolge daarvan.
-
Doop en bevestiging. Indien ʼn persoon se Kerklidmaatskap onttrek is in die aanvanklike raad, moet hy of sy weer gedoop en bevestig word. Indien Eerste Presidensie goedkeuring nodig is, kan hierdie ordinansies alleenlik uitgevoer word nadat goedkeuring ontvang is. ʼn Doop- en Bevestigingsertifikaat word nie geskep nie (sien 32.14.4).
32.16.2
Hertoelating ná Bedanking van Kerklidmaatskap
Indien ʼn persoon formeel Kerklidmaatskap bedank, moet hy of sy gedoop en bevestig word vir hertoelating tot die Kerk. Hertoelating vir volwassenes word nie gewoonlik oorweeg nie tot ten minste een jaar na lidmaadskapsbedanking.
Wanneer ʼn persoon hertoelating versoek, kry die biskop of penpresident ʼn afskrif van die Verslag van Administratiewe Aksie-vorm wat die versoek vir bedanking vergesel. Hy kan dit verkry deur LCR.
Die biskop of penpresident voer dan ʼn deeglike onderhoud met die persoon. Hy vra na die redes vir die oorspronklike versoek en die begeerte vir hertoelating. In ʼn gees van liefde vra hy uit oor ernstige sondes wat die persoon dalk voor of na bedanking van lidmaatskap gepleeg het. Die leier gaan nie voort met hertoelating totdat hy tevrede is dat die persoon bekeer het en gereed en waardig is om die seëninge van Kerklidmaatskap te geniet nie.
Riglyne vir hertoelating na bedanking:
-
ʼn Lidmaatskapsraad word gehou indien die persoon se lidmaatskap ten tye van bedanking formeel beperk is.
-
ʼn Lidmaatskapsraad word gehou indien die persoon ʼn ernstige sonde gepleeg het, insluitend afvalligheid, voordat lidmaatskap bedank is.
Onder ander omstandighede word ʼn lidmaatskapsraad nie gehou nie, tensy die biskop of penpresident bepaal dat dit nodig sou wees.
Wanneer ʼn lidmaatskapsraad nodig is vir ʼn persoon wat die tempelbegiftiging ontvang het, hou die penpresident dit. Wanneer ʼn raad nodig is vir ʼn persoon wat nie begiftig is nie, hou die biskop dit met goedkeuring van die penpresident.
Indien die persoon betrokke was by enige gedrag in 32.16.1, nommer 9, hetsy voor of na die bedanking van Kerklidmaatskap, word die Eerste Presidensie se goedkeuring vir hertoelating vereis. Indien die persoon betrokke was by enige gedrag in 32.14.5, nommer 1, hetsy voor of na die bedanking van Kerklidmaatskap, sal ʼn aantekening op die lidmaatskapsrekord gemaak word.
ʼn Persoon wat hertoelating versoek, moet aan dieselfde vereistesvoldoen as andere wat gedoop word. Wanneer die biskop of penpresident tevrede is dat die persoon waardig en opreg is om hertoegelaat te wil word, mag die persoon gedoop en bevestig word. ʼn Doop- en Bevestigingsertifikaat word nie geskep nie (sien 32.14.4).
32.17
Kerkaktiwiteit, Ordinering en Herstelling van Seëninge ná Hertoelating
32.17.1
Kerkaktiwiteit en Ordinering
Die volgende tabel dui die toepaslike vlak van Kerkaktiwiteit aan vir ʼn persoon wat deur doop en bevestiging hertoegelaat is.
Nie Voorheen Begiftig Nie |
Voorheen Begiftig | |
---|---|---|
Vorige Priesterskaphouers | Nie Voorheen Begiftig Nie
| Voorheen Begiftig
|
Ander Lede | Nie Voorheen Begiftig Nie
| Voorheen Begiftig
|
32.17.2
Herstelling van Seëninge
Persone wat voorheen die tempelbegiftiging ontvang het en wat deur doop en bevestiging hertoegelaat is, kan hulle priesterskap- en tempelseëninge alleenlik deur die ordinansie van herstelling van seëninge ontvang (sien Leer en Verbonde 109:21). Hulle word nie geordineer tot priesterskapampte of weer begiftig nie. Hierdie seëninge is herstel deur die ordinansie. Broers word in hul vorige priesterskapamp herstel, behalwe die amp van Sewentig, biskop of patriarg.
Slegs die Eerste Presidensie kan die uitvoer van die ordinansie van herstel van seëninge goedkeur. Hulle sal nie ʼn aansoek vir hierdie ordinansie oorweeg vroeër as een jaar nadat die persoon deur doop en bevestiging hertoegelaat is nie. Die biskop of penpresident doen aansoek vir ʼn herstel van seëninge deur LCR.
Indien die Eerste Presidensie die herstel van seëninge goedkeur, wys hulle ʼn Algemene Gesagsdraer of penpresident aan om ʼn onderhoud met die persoon te voer. Indien die persoon waardig is, voer hierdie leier die ordinansie uit om die persoon se seëninge te herstel.
Vir inligting oor lidmaatskapsrekords en die herstelling van seëninge, sien 32.14.4.