Skrifture
Leer en Verbonde 102


Afdeling 102

Notule van die organisering van die eerste hoëraad van die Kerk, te Kirtland, Ohio, 17 Februarie 1834. Die oorspronklike notule is gehou deur Ouderlinge Oliver Cowdery en Orson Hyde. Die Profeet het die notule die volgende dag hersien, en die volgende dag is die reggestelde notule eenparig aanvaar deur die hoëraad as “’n patroon en grondwet van die hoëraad” van die Kerk. Verse 30 tot 32, wat te make het met die Raad van die Twaalf Apostels, is in 1835 onder toesig van Joseph Smith ingevoeg toe hierdie gedeelte voorberei is vir publikasie in die Leer en Verbonde.

1–8, ’n Hoëraad word aangestel om belangrike probleme op te los wat ontstaan in die Kerk; 9–18, Prosedures word gegee vir die aanhoor van sake; 19–23, Die president van die raad gee die beslissing; 24–34, Appèlprosedures word uiteengesit.

1 Hierdie dag het ’n algemene raad van vier en twintig hoëpriesters byeengekom by die huis van Joseph Smith, Jr., deur openbaring, en oorgegaan om die hoëraad van die kerk van Christus te organiseer, wat moes bestaan uit twaalf hoëpriesters, en een of drie presidente soos die saak mag vereis.

2 Die hoëraad is aangestel deur openbaring vir die doel om belangrike probleme op te los wat mag ontstaan in die kerk, wat nie opgelos kon word deur die kerk of die biskop se raad tot die bevrediging van die partye nie.

3 Joseph Smith, Jr., Sidney Rigdon en Frederick G. Williams is erken as presidente deur die stem van die raad; en Joseph Smith, Snr., John Smith, Joseph Coe, John Johnson, Martin Harris, John S. Carter, Jared Carter, Oliver Cowdery, Samuel H. Smith, Orson Hyde, Sylvester Smith, en Luke Johnson, hoëpriesters, is gekies om ’n staande raad van die kerk te wees, deur die eenparige stem van die raad.

4 Die bogenoemde raadslede is toe gevra of hulle hul aanstellings aanvaar, en of hulle sou optree in daardie amp ooreenkomstig die wet van die hemel, waarop hulle almal geantwoord het dat hulle hul aanstellings aanvaar het, en hulle ampte sou uitvoer ooreenkomstig die genade van God wat aan hulle toegeken is.

5 Die getal wat die raad uitgemaak het, wat gestem het in die naam van en vir die kerk in die aanstelling van bogenoemde raadslede was drie en veertig, as volg: nege hoëpriesters, sewentien ouderlinge, vier priesters en dertien lede.

6 Besluit: dat die hoëraad nie mag kan hê om op te tree sonder dat sewe van die boegenoemde raadslede, of hul behoorlik aangestelde opvolgers teenwoordig is nie.

7 Hierdie sewe sal die mag hê om ander hoëpriesters aan te stel, wat hulle waardig en bekwaam mag ag om op te tree in die plek van afwesige raadslede.

8 Besluit: dat wanneer ’n vakature sal ontstaan deur die dood, verwydering vanuit die amp vanweë oortreding, of verhuising vanuit die grense van hierdie kerkregering, van enige van die bogenoemde raadslede, sal dit gevul word deur die nominering van die president of presidente, en goedgekeur word deur die stem van ’n algemene raad van hoëpriesters, byeengeroep vir daardie doel, om op te tree in die naam van die kerk.

9 Die president van die kerk, wat ook die president van die raad is, word aangestel deur openbaring, en erken in sy administrasie deur die stem van die kerk.

10 En dit is ooreenkomstig die waardigheid van sy amp dat hy moet presideer oor die raad van die kerk; en dit is sy voorreg om bygestaan te word deur twee ander presidente, aangestel volgens dieselfde wyse waardeur hy self aangestel is.

11 En in die geval van die afwesigheid van een of beide van diegene wat aangestel is om hom by te staan, het hy die mag om te presideer oor die raad sonder ’n assistent; en in geval hy self afwesig is, het die ander presidente mag om in sy plek te presideer, beide of enigeen van hulle.

12 Wanneer ’n hoëraad van die kerk van Christus behoorlik georganiseer is, volgens die voorafgaande patroon, sal dit die plig wees van die twaalf raadslede om die lot te werp deur nommers, en daardeur bepaal wie van die twaalf eerste sal spreek, beginnende by nommer een en so in opeenvolging tot nommer twaalf.

13 Wanneer hierdie raad byeenkom om ’n saak te behandel, sal die twaalf raadslede besluit of dit ’n moeilike een is of nie; indien nie, sal slegs twee van die raadslede daaroor spreek, volgens die bogenoemde geskrewe wyse.

14 Maar as dit as moeilik beskou word, sal vier aangestel word; en indien nog moeiliker, ses; maar in geen geval sal meer as ses aangestel word om te spreek nie.

15 Die aangeklaagde, in alle sake, het die reg op een helfte van die raad, om belediging of onregverdigheid te voorkom.

16 En die raadslede wat aangestel is om te spreek voor die raad moet die saak aanbied, na die getuienis ondersoek is, in die ware lig daarvan voor die raad; en elkeen mag spreek ooreenkomstig billikheid en geregtigheid.

17 Daardie raadslede wat gelyke nommers trek, dit wil sê, 2, 4, 6, 8, 10 en 12, is die individue wat moet opstaan namens die aangeklaagde, en belediging en onregverdigheid voorkom.

18 In alle gevalle sal die klaer en aangeklaagde die voorreg hê om vir hulleself voor die raad te spreek, nadat die getuienisse aangehoor is en die raadslede wat aangestel word om oor die saak te spreek, hulle kommentaar afgesluit het.

19 Nadat die getuienisse aangehoor is en die raadslede, die klaer en aangeklaagde gespreek het, sal die president ’n beslissing gee volgens die begrip wat hy van die saak sal hê, en die twaalf raadslede versoek om dit goed te keur deur hulle stem.

20 Maar indien die oorblywende raadslede, wat nie gespreek het nie, of enigeen van hulle, nadat hulle die getuienisse en pleidooie onpartydig gehoor het, ’n fout ontdek in die beslissing van die president, kan hulle dit bekendmaak, en die saak sal ’n herverhoor hê.

21 En indien, na ’n sorgvuldige herverhoor, enige bykomende lig op die saak gewerp word, sal die beslissing dienooreenkomstig verander word.

22 Maar ingeval geen bykomende lig gewerp word nie, sal die eerste beslissing bly staan, aangesien die meerderheid van die raad die mag het om dit te bepaal.

23 In die geval van probleme rakende ’n lering of beginsel, indien daar nie genoegsaam geskryf is om die saak duidelik te maak vir die begrip van die raad nie, mag die president navraag doen en die wil van die Here verkry deur openbaring.

24 Die hoëpriesters het, wanneer hulle op reis is, die mag om ’n raad byeen te roep en te organiseer volgens die voorafgaande wyse, om probleme op te los, wanneer die partye of enigeen van hulle dit sal versoek.

25 En die genoemde raad van hoëpriesters sal mag hê om een van hulle eie groep aan te stel om tydelik te presideer oor sodanige raad.

26 En dit sal die plig van die genoemde raad wees om onmiddellik ’n afskrif van hulle verrigtinge, tesame met ’n volledige verklaring van die getuienis wat hulle beslissing vergesel, aan die hoëraad van die setel van die Eerste Presidensie van die Kerk te stuur.

27 Sou die partye of enigeen van hulle ontevrede wees met die beslissing van die genoemde raad, mag hulle appelleer by die hoëraad van die setel van die Eerste Presidensie van die Kerk, en ’n herverhoor hê, in welke geval die saak daar aangehoor sal word, volgens die voorafgaande geskrewe patroon, asof geen sodanige beslissing gegee was nie.

28 Hierdie raad van hoëpriesters op reis moet slegs belê word betreffende die moeilikste gevalle van kerklike sake; en geen gewone of normale saak sal genoegsaam wees om so ’n raad te belê nie.

29 Die reisende of elders gevestigde hoëpriesters het die mag om te sê of dit noodsaaklik is om so ’n raad te belê of nie.

30 Daar is ’n onderskeid tussen die hoëraad of reisende hoëpriesters, en die reisende hoëraad wat bestaan uit die twaalf apostels, ten opsigte van hulle beslissings.

31 Oor die besluit van die eersgenoemde kan geappelleer word; maar oor die beslissing van laasgenoemde kan dit nie.

32 Laasgenoemde kan slegs bevraagteken word deur die algemene gesagsdraers van die kerk in geval van oortreding.

33 Besluit: dat die president of presidente van die setel van die Eerste Presidensie van die Kerk mag sal hê om te bepaal of enige so ’n saak, wat geappelleer mag word, regverdiglik geregtig is op ’n herverhoor, nadat die appèl en die gepaardgaande getuienisse en verklarings ondersoek is.

34 Die twaalf raadslede het toe voortgegaan om die lot te werp of te stem, om te bepaal wie eerste sou spreek, en die volgende was die uitslag, naamlik: 1, Oliver Cowdery; 2, Joseph Coe; 3, Samuel H. Smith; 4, Luke Johnson; 5, John S. Carter; 6, Sylvester Smith; 7, John Johnson; 8, Orson Hyde; 9, Jared Carter; 10, Joseph Smith, Snr.; 11, John Smith; 12, Martin Harris.Na gebed het die konferensie verdaag.

Oliver Cowdery,

Orson Hyde,

Klerke