Skrifture
Amptelike Verklaring 2


Amptelike Verklaring 2

Die Boek van Mormon leer dat “almal gelyk is voor God”, insluitend “swart en wit, slaaf en vryman, man en vrou” (2 Nefi 26:33). Regdeur die geskiedenis van die Kerk is mense van elke ras en etniese groep in baie lande gedoop en het geleef as getroue lede van die Kerk. Gedurende Joseph Smith se leeftyd is ’n paar swart manlike lede van die Kerk geordineer tot die priesterskap. Vroeg in sy geskiedenis het Kerkleiers opgehou om die priesterskap aan swart mans van Afrika-afkoms toe te ken. Kerkrekords bied nie duidelike insigte in die oorsprong van hierdie praktyk nie. Kerkleiers het geglo dat ’n openbaring van God nodig was om hierdie praktyk te verander en het in gebed leiding gesoek. Die openbaring het na Kerkpresident Spencer W. Kimball gekom en is bevestig aan ander Kerkleiers in die Salt Lake-tempel op 1 Junie 1978. Die openbaring het alle beperkings met betrekking tot ras wat eens toegepas was op die priesterskap verwyder.

Aan Alle Belanghebbendes

Op 30 September 1978, tydens die 148ste Sesmaandelikse Algemene Konferensie van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, is die volgende deur President N. Eldon Tanner, Eerste Raadgewer in die Eerste Presidensie van die Kerk voorgelê:

Vroeg in Junie hierdie jaar het die Eerste Presidensie aangekondig dat ’n openbaring ontvang is deur President Spencer W. Kimball wat priesterskap- en tempelseëninge toeganklik maak vir alle waardige manlike lede van die Kerk. President Kimball het versoek dat ek die konferensie inlig dat nadat hy hierdie openbaring ontvang het, wat na hom gekom het na langdurige oordenking en gebed in die heilige kamers van die heilige tempel, hy dit aan sy raadgewers voorgelê het wat dit aanvaar en goedgekeur het. Dit is toe aan die Kworum van die Twaalf Apostels voorgelê wat dit eenparig aanvaar het, en is vervolgens aan al die ander Algemene Gesagsdraers voorgelê wat dit insgelyks eenparig goedgekeur het.

President Kimball het versoek dat ek nou hierdie brief voorlees:

8 Junie 1978

Aan alle algemene en plaaslike priesterskapampsdraers van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae dwarsdeur die wêreld:

Geagte Broers

Terwyl ons die uitbreiding van die werk van die Here oor die aarde aanskou het, is ons dankbaar dat mense van vele nasies gereageer het op die boodskap van die herstelde evangelie en in steeds toenemende getalle by die Kerk aangesluit het. Op sy beurt het dit ons geïnspireer met ’n begeerte om aan elke waardige lid van die Kerk toegang te gee tot al die voorregte en seëninge wat die evangelie bied.

Bewus van die beloftes gemaak deur die profete en presidente van die Kerk wat ons voorafgegaan het dat op een of ander tyd, in God se ewige plan, al ons broers wat waardig is die priesterskap mag ontvang, en die getrouheid van diegene van wie die priesterskap weerhou is, waargeneem het, het ons lank en ernstig ten behoewe van hulle gepleit, ons getroue broers, en vele ure in die Bo-kamer van die Tempel deurgebring en die Here gesmeek om goddelike leiding.

Hy het ons gebede verhoor, en het deur openbaring bevestig dat die langbeloofde dag gekom het wanneer elke getroue, waardige man in die Kerk die heilige priesterskap mag ontvang, met mag om die goddelike gesag daarvan uit te oefen, en saam met sy geliefdes elke seëning wat daaruit voortvloei te geniet, insluitende die seëninge van die tempel. Daarom mag alle waardige manlike lede van die Kerk geordineer word tot die priesterskap sonder inagneming van ras of kleur. Priesterskapleiers word opdrag gegee om die beleid te volg om met alle kandidate vir ordinering tot óf die Aäroniese óf die Melgisédekse priesterskap sorgvuldige onderhoude te voer om te verseker dat hulle aan die vereisde standaarde van waardigheid voldoen.

Ons verklaar met alle erns dat die Here nou sy wil bekendgemaak het vir die seëning van al sy kinders dwarsdeur die aarde wat wil ag slaan op die stem van sy gevolmagtigde diensknegte en hulleself voorberei om elke seëning van die evangelie te ontvang.

Die uwe

Spencer W. Kimball

N. Eldon Tanner

Marion G. Romney

Die Eerste Presidensie

Aangesien ons Spencer W. Kimball as die profeet, siener, en openbaarder, en president van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae erken, word dit voorgestel dat ons as ’n gekonstitueerde byeenkoms hierdie openbaring aanvaar as die woord en wil van die Here. Al diegene ten gunste, dui dit aan deur u regterhand omhoog te lig. Enigeen daarteen met dieselfde teken.

Die stemming om die voorafgaande mosie te onderskraag was eenparig bevestigend.

Salt Lake City, Utah, 30 September 1978.

Druk