2017
Volmaakte Liefde Dryf Vrees Uit
Mei 2017


Eerste Presidensie-boodskap, Mei 2017

Volmaakte Liefde Dryf Vrees Uit

Laat ons ons vrese eenkant skuif en eerder met vreugde, nederigheid, hoop en ʼn vaste vertroue lewe dat die Here met ons is.

My geliefde broers en susters, liewe vriende, wat ʼn voorreg en vreugde is dit om as ʼn wêreldwye Kerk te ontmoet, verenig in ons geloof en liefde vir God en Sy kinders.

Ek is veral dankbaar vir die teenwoordigheid van ons geliefde profeet, Thomas S. Monson. President, ons sal altyd u woorde van leiding, raad en wysheid ter harte neem. Ons is lief vir u, President Monson, en ons bid altyd vir u.

Jare gelede, terwyl ek as penpresident in Frankfurt, Duitsland, gedien het, het ʼn dierbare, maar ongelukkige suster my aan die einde van een van ons penvergaderings genader.

“Is dit nie verskriklik nie?” het sy gesê. “Daar was sekerlik vier of vyf mense vas aan die slaap gedurende u praatjie!”

Ek het vir ʼn oomblik gedink en geantwoord, “Ek is seker daarvan dat kerk-slaap van die gesondste van alle slape is.”

My wonderlike vrou, Harriet, het hierdie informele gesprek gehoor en later genoem dat dit een van die mooiste antwoorde was wat ek nog ooit gegee het.

Die Groot Ontwaking

ʼn Paar honderd jaar gelede in Noord-Amerika het ʼn beweging genaamd die “Groot Ontwaking” oor die land versprei. Een van die hoofdoelwitte was om die mense wat klaarblyklik aan die slaap was aangaande geestelike dinge, wakker te maak.

Jong Joseph Smith is beïnvloed deur die dinge wat hy gehoor het van die predikers wat deel was van hierdie godsdienstige ontwaking. Dit was een van die redes hoekom hy besluit het om opreg die wil van die Here te soek in private gebed.

Hierdie predikers het ʼn dramatiese, emosionele preekstyl gehad, met preke wat bekend was vir hulle heftige beklemtoning van die vurige verskrikkinge van die hel wat vir die sondaar gewag het.1 Hulle praatjies het mense nie laat slaap nie—maar hulle mag dalk ʼn paar nagmerries veroorsaak het. Hulle doel en metode was om mense deur middel van vrees in die kerk in te bring.

Vrees as Manipulasie

Geskiedkundig, is vrees dikwels gebruik as ʼn manier om mense te kry om te reageer. Ouers het dit al met hulle kinders gebruik, werkgewers met werknemers, en politici met kiesers.

Bemarkingskenners verstaan die krag van vrees en gebruik dit gereeld. Dit is hoekom sommige advertensies blyk asof hulle die boodskap oordra dat indien ons nie húlle ontbytgraan koop nie, of die nuutste videospeletjie of selfoon koop nie, ons die risiko loop om ʼn mistroostige lewe te lei en alleen en ongelukkig dood te gaan.

Ons glimlag hieroor en dink dat ons nooit so gemanipuleer sal word nie, maar soms doen ons dit wel. Nog erger, soms gebruik ons soortgelyke metodes om andere te kry om te doen wat ons wil.

My boodskap vandag het twee doelstellings: Die eerste is om ons aan te moedig om te oorweeg tot watter mate ons vrees gebruik om andere te motiveer—insluitende onsself. Die tweede is om ʼn beter manier voor te stel.

Die Probleem met Vrees

Eerstens, laat ons die probleem van vrees aanspreek. Wie van ons is nog nooit deur vrees gemotiveer om beter te eet, ʼn veiligheidsgordel te dra, geld te spaar of selfs van sonde te bekeer nie?

Dit is waar dat vrees ʼn kragtige invloed op ons aksies en gedrag kan hê. Maar daardie invloed neig om tydelik en oppervlakkig te wees. Vrees het selde die krag om ons harte te verander, en dit sal ons nooit kan omskep in mense wat lief is vir dít wat reg is nie en wat Hemelse Vader wil gehoorsaam nie.

Mense wat bevrees is mag die regte dinge en doen, maar hulle voel nie die regte dinge nie. Hulle voel dikwels hulpeloos en gegrief, selfs kwaad. Mettertyd kan hierdie gevoelens lei tot wantroue, ʼn uitdagende houding en selfs opstandigheid.

Ongelukkig is hierdie onverstandige houding teenoor die lewe en leierskap nie beperk tot die sekulêre wêreld nie. Dit grief my om te hoor van Kerklede wat ongeregtige heerskappy uitoefen—óf in hulle tuistes, in hulle Kerkroepinge, by die werk, óf in hulle daaglikse interaksies met andere.

Dikwels mag mense baasspelery in ander afkeur, tog kan hulle dit nie in hulself sien nie. Hulle dring aan op gehoorsaamheid aan hulle eie arbitrêre reëls, maar wanneer andere nie hierdie willekeurige reëls volg nie, tugtig hulle diegene mondelings, emosioneel, en soms selfs fisies.

Die Here het gesê dat “wanneer ons probeer … om met enige mate van ongeregtigheid beheer of heerskappy of dwang uit te oefen oor die siele van die kinders van mense, … onttrek die hemele hulself [en] die Gees van die Here is gegrief.”2

Daar mag oomblikke wees wanneer ons ons aksies wil verdedig deur te glo dat die einddoel ons aksies regverdig. Ons mag selfs glo dat om baasspelerig, manipulerend en streng te wees, tot die voordeel van ander sal wees. Dit is nie so nie, want die Here het dit duidelik gemaak dat “die vrug van die Gees, daarteenoor, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid [en] getrouheid [is].”3

ʼn Beter Manier

Hoe meer ek my Hemelse Vader leer ken, hoe meer sien ek hoe Hy Sy kinders inspireer en lei. Hy is nie kwaad, wraaksugtig of vergeldend nie.4 Sy hele doel—Sy werk en Sy heerlikheid—is om ons te mentor, te verhoog en tot Sy volheid te lei.5

God het Homself aan Moses beskryf as “barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.”6

Ons Vader in die Hemel se liefde vir ons, Sy kinders, is by verre bó ons vermoë om te begryp.7

Beteken dit dat God gedrag wat teenstrydig is met Sy gebooie goedkeur of ignoreer? Nee, beslis nie!

Maar Hy wil meer as net ons gedrag verander. Hy wil ons geaardhede verander. Hy wil ons harte verander.

Hy wil hê dat ons moet uitreik en styf vashou aan die staaf van yster, ons vrese konfronteer en met dapperheid opwaarts en voorwaarts beur op die smal en eng pad. Hy wil dit vir ons hê omdat Hy ons liefhet en omdat dit die weg na geluk is.

Dus, hoe motiveer God Sy kinders om Hom in ons dag te volg?

Hy het Sy Seun gestuur!

God het Sy Eniggebore Seun, Jesus Christus gestuur om ons die regte weg te wys.

God motiveer deur oorreding, lankmoedigheid, sagmoedigheid, geduld en ongeveinsde liefde.8 God is aan ons kant. Hy het ons lief, en wanneer ons struikel, wil Hy hê dat ons moet opstaan, weer probeer en sterker word.

Hy is ons mentor.

Hy is ons groot en gekoesterde hoop.

Hy wil ons met geloof stimuleer.

Hy vertrou dat ons uit ons foute sal leer en korrekte keuses sal maak.

Hierdie is die beter weg!9

Wat van die Booshede van die Wêreld?

Een van die maniere waarop Satan wil hê dat ons andere moet manipuleer is deur te fokus op die booshede in die wêreld en dit selfs te oordryf.

Ons wêreld was nog altyd, en sal aanhou, om onvolmaak te wees. Hopeloos te veel onskuldige mense ly as gevolg van omstandighede van die natuur en as gevolg van andere se onmenslikheid. Die korrupsie en boosheid van ons dag is uniek en angswekkend.

Maar ten spyte hiervan, sou ek nie om in hierdie tyd te leef, verruil vir enige ander tyd in die geskiedenis van die wêreld nie. Ons is so geseënd om in ʼn dag van ongeëwenaarde voorspoed, ontwikkeling en voordeel te leef. Meeste van alles is ons geseënd om die volheid van die evangelie van Jesus Christus te hê wat aan ons ʼn unieke perspektief op die gevare van die wêreld gee en ons wys hoe ons hierdie gevare kan vermy of aanpak.

Wanneer ek aan hierdie seëninge dink, wil ek op my knieë neerval en my Hemelse Vader loof vir Sy oneindige liefde vir al Sy kinders.

Ek glo nie dat God wil hê dat Sy kinders bevrees moet wees, of op die booshede van die wêreld moet fokus nie. “Want God het ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.”10

Hy het ons ʼn oorvloed redes gegee om te juig. Ons moet hulle net vind en herken. Die Here herinner ons dikwels “moenie vrees nie,” “hou goeie moed,”11 en “moenie vrees nie, klein kudde.”12

Die Here Sal ons Veldslae Veg

Broers en susters, ons is die Here se “klein kudde.” Ons is die Heiliges van die laaste dae. Inherent in ons naam is ons verpligting om uit te sien na ons Verlosser se terugkeer en onsself en die wêreld voor te berei om Hom te ontvang. Daarom, laat ons God dien en ons medemens liefhê. Laat ons dit met ʼn natuurlike vertroue, met nederigheid doen, sonder om neer te sien op enige ander godsdiens of groep mense. Broers en susters, ons het die opdrag om die woord van God te bestudeer en om die stem van die Gees te volg, sodat ons die “tekens van die tye [mag] ken, en die tekens van die koms van die Seun van die Mens.”13

Ons is dus nie onkundig oor die uitdagings van die wêreld nie, of onbewus van die probleme van ons tyd nie. Maar dit beteken nie dat ons onsself of andere met aanhoudende vrees moet belas nie. Eerder as om op die ontsaglikheid van ons uitdagings te fokus, sou dit nie beter wees om op die oneindige grootheid, goedheid en absolute mag van ons God te fokus, om op Hom te vertrou en met ‘n vreugdevolle hart voor te berei vir die terugkoms van Jesus, die Christus nie?

As Sy verbondsvolk hoef ons nie deur vrees verlam te word nie omdat slegte dinge mag gebeur nie. Ons moet eerder met geloof, dapperheid, vasberadenheid en vertroue in God vorentoe beweeg soos ons die uitdagings en geleenthede wat voorlê, nader.14

Ons loop nie die pad van dissipelskap alleen nie. “Dit is die Here jou God … wat saam met jou gaan; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”15

“Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.”16

In die aangesig van vrees, laat ons dapper wees, ons geloof bymekaarskraap, en selfversekerd wees in die belofte dat “elke wapen wat teen jou gesmee word, niks sal uitrig nie.”17

Leef ons in gevaarlike tye en onsekerheid? Beslis.

God het gesê, “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”18

Kan ons genoegsame geloof uitoefen om te glo en daarvolgens te handel? Kan ons ons verpligtinge en heilige verbonde nakom? Kan ons die gebooie van God onderhou, selfs onder uitdagende omstandighede? Natuurlik kan ons!

Ons kan omdat God ons belowe het, “Alles sal meëwerk tot julle beswil, as julle opreg wandel.”19 Daarom, laat ons ons vrese eenkant skuif en eerder lewe met vreugde, nederigheid, hoop en ‘n vaste vertroue dat die Here met ons is.

Volmaakte Liefde Dryf Vrees Uit

My geliefde vriende, my liewe broers en susters in Christus, as ons ooit vind dat ons in vrees en angstigheid leef, of as ons vind dat ons eie woorde, houding of aksies vrees in andere veroorsaak, bid ek met al die krag van my siel dat ons van hierdie vrees bevry mag word deur die goddelik-aangestelde teenmiddel vir vrees: die suiwere liefde van Christus, want “volmaakte liefde dryf die vrees buite.”20

Christus se volmaakte liefde oorkom versoekings om seer te maak, te dwing, baasspelerig te wees of om te onderdruk.

Christus se volmaakte liefde laat ons toe om met nederigheid, waardigheid en selfvertroue te wandel as volgelinge van ons geliefde Verlosser. Christus se volmaakte liefde gee ons die vertroue om deur ons vrese te beur en ons volle vertroue te plaas in die mag en goedheid van ons Hemelse Vader en Sy Seun, Jesus Christus.

In ons huise, ons besighede, in ons Kerkroepings, in ons harte, laat ons vrees met Christus se volmaakte liefde vervang. Christus se liefde sal vrees met geloof vervang!

Sy liefde sal ons in staat stel om ons Hemelse Vader se goedheid, Sy goddelike plan, Sy evangelie en Sy gebooie te herken, te vertrou en geloof daarin te hê.21 Deur God en ons medemens lief te hê, sal ons gehoorsaamheid aan God se gebooie in ʼn seëning eerder as ʼn las omskep. Christus se liefde sal ons help om ʼn bietjie meer goedhartig, meer vergewend, meer liefdevol en meer toegewyd tot Sy werk te wees.

Wanneer ons ons harte met die liefde van Christus vul, sal ons opgewek word met ʼn hernude geestelike varsheid en ons sal vreugdevol, selfversekerd, bewus en vol lewe wandel in die lig en heerlikheid van ons geliefde Verlosser, Jesus Christus.

Ek getuig saam met die Apostel Johannes, “Daar is geen vrees in [Christus] se liefde nie.”22 Broers en susters, liewe vriende, God ken jou. Hy het jou volmaak lief. Hy weet wat jou toekoms inhou. Hy wil hê dat jy “nie sal vrees nie, net sal glo”23 en “in Sy [volmaakte] liefde sal bly.”24 Dit is my gebed en seëning in die naam van Jesus Christus, amen.

Notas

  1. George Whitefield en Jonathan Edwards is twee prominente voorbeelde van hierdie soort prediker.

  2. Leer en Verbonde 121:37.

  3. Galásiёrs 5:22–23.

  4. Op een geleentheid wou die Verlosser ʼn dorpie van die Samaritane ingaan, maar die mense het Jesus verwerp en wou Hom nie in hulle dorpie ontvang nie. Twee van Sy dissipels was hoogs ontsteld hieroor en het gevra, “Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer?” Jesus het geantwoord met hierdie vermaning: “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie. Want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verdelg nie, maar te red” (sien Lukas 9:51–56, New King James Version [1982]).

  5. Sien Moses 1:39; sien ook Efesiërs 3:19.

  6. Exodus 34:6.

  7. Sien Efésiёrs 3:19.

  8. Sien Leer en Verbonde 121:41. Waarlik, indien God verwag dat ons, Sy aardse kinders, op hierdie manier teenoor mekaar optree, sal Hy—ʼn perfekte wese wat elke deugheid besit—ʼn voorbeeld van hierdie gedrag wees.

  9. Die vooraardse Raad in die Hemel is ʼn baie goeie gevallestudie wat die karakter van God demonstreer. Hier het ons Hemelse Vader Sy plan vir ons ewige vordering voorgelê. Sleutelelemente van daardie plan sluit in vryheid van keuse, gehoorsaamheid en heil deur die Versoening van Jesus Christus. Lucifer het egter ʼn ander plan voorgestel. Hy het gewaarborg dat almal gehoorsaam sou wees—niemand sou verlore gaan nie. Die enigste manier om dit te vermag sou wees deur tirannie en geweld. Maar ons liefdevolle Hemelse Vader wou nie so ʼn plan toelaat nie. Hy het waarde geheg aan die vryheid van keuse van Sy kinders. Hy het geweet dat ons foute langs die pad moet maak indien ons waarlik moet leer. En dit is hoekom Hy ʼn Verlosser voorsien het, wie se ewige opoffering ons van sonde kon reinig en ons toelating terug in die koninkryk van God kon meëbring.

    Toe ons Vader in die Hemel sien dat baie van Sy geliefde kinders deur Lucifer verlei is, het Hy hulle gedwing om Sy plan te volg? Het Hy diegene wat besig was om so ʼn verskriklike keuse te maak geïntimideer of gedreig? Nee. Ons almagtige God kon sekerlik hierdie rebellie gestop het. Hy kon Sy wil op die andersdenkendes afgedwing het en hulle geforseer het om gehoorsaam te wees. Maar Hy het eerder Sy kinders toegelaat om vir hulself te kies.

  10. 2 Timótheüs 1:7.

  11. Sien byvoorbeeld Joshua 1:9; Jesaja 41:13; Lukas 12:32; Johannes 16:33; 1 Petrus 3:14; Leer en Verbonde 6:36; 50:41; 61:36; 78:18.

  12. Lukas 12:32.

  13. Leer en Verbonde 68:11.

  14. Moses se raad aan die mense van sy dag is steeds van toepassing vandag: “Wees nie bevrees nie. … Aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk” (Exodus14:13, New King James Version).

  15. Deuteronómium 31:6.

  16. Exodus 14:14, New King James Version.

  17. Jesaja 54:17.

  18. Johannes16:33.

  19. Leer en Verbonde 90:24; sien ook 2 Korinthiërs 2:14; Leer en Verbonde 105:14.

  20. 1 Johannes 4:18.

  21. Laat ons onthou dat die Verlosser nie “in die wêreld gestuur [is] om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word”( Johannes 3:17). Die feit is dat “Hy niks doen tensy dit tot die voordeel van die wêreld is nie; want Hy het die wêreld lief, sodat Hy selfs Sy eie lewe neerlê sodat Hy alle mense na Hom kan trek” (2 Nefi 26:24).

  22. 1 Johannes 4:18; sien ook 1 Johannes 4:16.

  23. Markus 5:36.

  24. Johannes 15:10.