2017
Die Krag van die Boek van Mormon
Mei 2017


Vrouebesoek-boodskap, Mei 2017

Die Krag van die Boek van Mormon

President Thomas S. Monson

Ek smeek elkeen van ons om met gebed en bepeinsing elke dag die Boek van Mormon te bestudeer.

My liewe broers en susters, ek groet julle hartlik terwyl ons weer eens in ʼn algemene konferensie van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae bymekaar kom. Voor ek my formele boodskap vandag begin, wil ek graag vyf nuwe tempels aankondig wat in die komende maande en jare in die volgende liggings opgerig gaan word: Brasilia, Brazilië; groter Manilla, Fillipyne area; Nairobi, Kenia; Pocatello, Idaho, VSA; en Saratoga Springs, Utah, VSA.

Vanoggend praat ek oor die krag van die Boek van Mormon en die kritiese behoefte wat ons as lede van hierdie Kerk het om die leringe daarin te bestudeer, te bepeins en in ons lewens toe te pas. Ons kan nie die belangrikheid van ʼn sterk en vaste getuienis van die Boek van Mormon oorbeklemtoon nie.

Ons leef in ʼn tyd van groot onrus en boosheid. Wat sal ons beskerm teen die sonde en boosheid wat so algemeen in die wêreld is vandag? Ek is van mening dat ʼn sterk getuienis van ons Verlosser, Jesus Christus, en van Sy evangelie ons na veiligheid sal lei. Indien jy nie elke dag die Boek van Mormon lees nie, doen dit asseblief. Indien jy dit sal lees met gebed en ʼn opregte begeerte om die waarheid te weet, sal die Heilige Gees hierdie waarheid aan jou openbaar. Indien dit waar is—en ek getuig plegtig dat dit is—dan was Joseph Smith ʼn profeet wat God die Vader en Sy Seun, Jesus Christus, gesien het.

Omdat die Boek van Mormon waar is, is Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae die Here se Kerk op die aarde, en die heilige priesterskap van God is herstel vir die voordeel en seëning van Sy kinders.

Indien jy nie ʼn vaste getuienis van hierdie dinge het nie, doen dít wat nodig is om een te ontvang. Dit is noodsaaklik vir jou om jou eie getuienis in hierdie moeilike tye te hê, want die getuienisse van ander sal jou net so ver kan dra. Wanneer jy egter ʼn getuienis ontvang het, moet dit steeds gesond en lewendig gehou word deur volgehoue gehoorsaamheid aan die gebooie van God en deur daaglikse gebed en skriftuurstudie.

My liewe vennote in die werk van die Here, ek smeek elkeen van ons om met gebed en bepeinsing die Boek van Mormon elke dag te bestudeer. As ons dit doen, sal ons in ʼn posisie wees om die stem van die Gees te hoor, versoekings te weerstaan, ons onsekerheid en vrese te oorkom en hemelse hulp in ons lewens te ontvang. Ek getuig hiervan met my hele hart in die naam van Jesus Christus, Amen.