Eerste Presidensie-boodskap, November 2017
Moenie Bang Wees om Goed te Doen nie
Die Here sê aan ons dat wanneer ons met geloof op sy rots staan, onsekerheid en vrees verminder word; die begeerte om goed te doen vermeerder.
My liewe broers en susters, ek bid nederig dat die Gees van die Here met ons sal wees terwyl ek vandag praat. My hart is vol dankbaarheid aan die Here, wie se Kerk hierdie is, vir die inspirasie wat ons gevoel het in ons vurige gebede, inspirerende praatjies en engelesang in hierdie konferensie.
Verlede April het President Thomas S. Monson ʼn boodskap gelewer wat harte regoor die wêreld geroer het, myne ingesluit. Hy het gepraat van die krag van die Boek van Mormon. Hy het ons aangemoedig om die leringe daarin te bestudeer, te bepeins en toe te pas. Hy het belowe dat indien ons elke dag tyd afsonder om die Boek van Mormon te bestudeer en daaroor te peins en die gebooie wat dit bevat te onderhou, sou ons ʼn noodsaaklike getuienis van die waarheid daarvan ontvang, en die daaruitvoortvloeiende getuienis van die lewende Christus sal ons na veiligheid lei in tye van probleme. (Sien “The Power of the Book of Mormon,” Liahona, Mei 2017, 86–87.)
Soos baie van julle, het ek die profeet se woorde as die stem van die Here aan my gehoor. En, ook soos baie van julle, het ek besluit om daardie woorde te gehoorsaam. Nou, sedert ek ʼn jong seun was, het ek die getuienis aangevoel dat die Boek van Mormon die woord van God is, dat die Vader en die Seun aan Joseph Smith verskyn en met hom gepraat het, en dat antieke Apostels na die Profeet Joseph gekom het om die priesterskapsleutels aan die Here se Kerk te herstel.
Met daardie getuienis, het ek die Boek van Mormon elke dag vir meer as 50 jaar gelees. Ek kon dalk geredeneer het dat President Monson se woorde vir iemand anders bedoel was. Tog, soos baie van julle, het ek gevoel dat die Profeet se aanmoediging en sy belofte, my uitnooi om ʼn groter poging aan te wend. Baie van julle het gedoen wat ek gedoen het: gebid met meer ywer, die skrifture met meer erns bepeins, en harder probeer om die Here en andere vir Hom te dien.
Die gelukkige gevolg vir my, en vir baie van julle, is wat die profeet belowe het. Diegene van ons wat sy geïnspireerde raad ter harte geneem het, het die Gees meer duidelik gehoor. Ons het ʼn groter krag om versoekinge te weerstaan, gevind en het groter geloof in ʼn opgestaande Jesus Christus, in sy evangelie en in sy lewendige Kerk gevoel.
In ʼn seisoen van toenemende opskuddings in die wêreld, het hierdie vermeerdering in getuienis, onsekerheid en vrees uitgedryf en vir ons gevoelens van vrede gebring. Om President Monson se raad te volg het nog twee ander wonderlike uitwerkings op my gehad: Eerstens het die Gees wat hy belowe het ʼn sin van optimisme geskep oor dit wat nog voorlê, selfs terwyl dit lyk asof die onrus in die wêreld vermeerder. En tweedens het die Here my—en jou—ʼn selfs groter gevoel van sy liefde vir diegene in nood, gegee. Ons het ʼn groter begeerte gevoel om tot die redding van andere te gaan. Daardie begeerte is die hart van President Monson se bediening en leringe.
Die Here het liefde vir andere en moed belowe aan die Profeet Joseph Smith en Oliver Cowdery toe die opdragte voor hulle oorweldigend kon gelyk het. Die Here het gesê dat die nodige moed sou kom deur hulle geloof in Hom as hulle rots:
“Vrees nie om goed te doen nie, my seuns, want wat julle saai, dit sal julle ook maai; daarom, as julle goed saai, sal julle ook die goeie maai vir jul loon.
“Daarom, vrees nie, klein kuddetjie; doen goed; laat die aarde en die hel saamspan teen julle, want as julle gebou is op my rots kan hulle nie oorwin nie.
“Kyk, Ek veroordeel jou nie; gaan heen en sondig nie meer nie; doen die werk met erns wat Ek jou gebied het.
“Sien op na My in elke gedagte; twyfel nie, vrees nie.
“Beskou die wonde wat my sy deurboor het, en ook die merke van die spykers in my hande en voete; wees getrou, onderhou my gebooie, en julle sal die koninkryk van die hemel beërwe” (L&V 6:33-37).
Die Here het aan sy leiers van die Herstelling gesê, en Hy sê aan ons, dat wanneer ons met geloof op sy rots staan, twyfel en vrees verminder word; die begeerte om goed te doen vermeerder. Soos ons President Monson se uitnodiging aanvaar om ʼn getuienis van Jesus Christus in ons harte te plant, ontvang ons die krag, die begeerte en die moed om tot die redding van andere te gaan, sonder bekommernis oor ons eie behoeftes.
Ek het daardie geloof en moed al baie kere gesien wanneer gelowige Heiliges van die Laaste Dae vreeslike beproewinge in die gesig gestaar het. Vir een voorbeeld, was ek in Idaho toe die Teton-dam op 5 Junie 1976, gebreek het. ʼn Muur van water het afgestroom. Duisende het uit hulle huise gevlug. Duisende huise en besighede is vernietig. Wonderbaarlik, is minder as 15 mense gedood.
Wat ek daar gesien het, het ek gesien wanneer Heiliges van die Laaste Dae ferm staan op die rots van ʼn getuienis van Jesus Christus. Omdat hulle geen twyfel het dat Hy oor hulle waak nie, word hulle vreesloos. Hulle ignoreer hulle eie beproewinge en gaan tot die verligting van andere. En hulle doen dit uit liefde vir die Here, en vra geen vergoeding nie.
Byvoorbeeld, toe die Teton-dam gebreek het, was ʼn Heiliges van die Laaste Dae paartjie op reis, myle van hulle huis af. Onmiddelik toe hulle die nuus oor die radio gehoor het, het hulle hul teruggehaas na Rexburg. Eerder as om na hulle eie huis te gaan om te sien of dit vernietig was, het hulle die biskop gaan soek. Hy was in ʼn gebou wat hulle omskep het as die herstelsentrum. Hy was besig om die duisende vrywilligers te organiseer wat met geel skoolbusse aangekom het.
Die paartjie het na die biskop gegaan en gesê: “Ons het nou net teruggekom. Biskop, waarheen kan ons gaan om te help?” Hy het hulle die name van ʼn familie gegee. Daardie paartjie het gehelp om modder en water te skep uit huis na huis. Hulle het vir dae van sonop tot donker gewerk. Hulle het uiteindelik ʼn blaaskansie geneem om te gaan sien hoe hulle eie huis lyk. Dit was weggespoel in die vloed, daar was niks agtergelaat om skoon te maak nie. Dus het hulle vinnig omgedraai en teruggegaan na hulle biskop toe. Hulle het gevra, “Biskop, het jy iemand vir ons om te help?”
Daardie wonderwerk van stille moed en naasteliefde—die suiwere liefde van Christus—is oor die jare en oor die wêreld herhaal. Dit het gebeur in die verskriklike dae van vervolging en beproewing in die tyd van die Profeet Joseph Smith in Missouri. Dit het gebeur terwyl Brigham Young die uittog vanuit Nauvoo gelei het en toe Heiliges geroep het na woestynagtige plekke oor die westelike Verenigde State om mekaar te help om ʼn Sion vir die Here te skep.
As jy die joernaalinskrywings van hierdie pioniers lees, sien jy die wonderwerk van hoe geloof twyfel en vrees uitdryf. En jy lees van Heiliges wat hulle eie belange nagelaat het om iemand anders namens die Here te help, voor hulle na hulle eie skape of ongeploegde lande teruggekeer het.
Ek het hierdie selfde wonderwerk ʼn paar kort dae gelede gesien na die gevolge van Orkaan Irma in Puerto Rico, Saint Thomas en Florida, waar Heiliges van die Laaste Dae saam met ander kerke en plaaslike gemeenskapsgroepe en nasionale organisasies met die opruimingswerk begin het.
Soos my vriende in Rexburg, het een paartjie in Florida, wat nie lede is nie, daarop gefokus om die gemeenskap te help eerder as om op hulle eie eiendom te werk. Toe sommige Heiliges van die Laaste Dae bure aangebied het om die twee groot bome wat hulle ingang geblok het te verwyder, het die paartjie erken dat hulle so oorweldig was deur die taak dat hulle eerder ander gaan help het, met die geloof dat die Here die hulp sou verskaf wat hulle by hulle eie huis nodig gehad het. Die man het gemeld dat voor die Kerklede daar aangekom het met aanbiedinge van bystand, het die paartjie gebid. Hulle het ʼn antwoord ontvang dat hulp sou kom. Dit het binne ʼn paar uur van daardie versekering gekom.
Ek het ʼn verslag gehoor dat sommige mense die Heiliges van die Laaste Dae wat die geel Helping Hands T-hempies aangehad het “Die Geel Engele” genoem het. Een Heilige van die Laaste Dae het haar motor ingeneem vir ʼn diens en die man wat haar gehelp het, het die “geestelike ondervinding” beskryf wat hy gehad het toe mense in geel hemde die bome op sy erf verwyder het, hy het gesê dat hulle “ʼn liedjie vir my gesing het van om ʼn kind van God te wees.”
ʼn Ander Florida inwoner—ook nie van ons geloof nie—het vertel dat Heiliges van die Laaste Dae na haar huis gekom het terwyl sy besig was om in haar verwoeste erf te werk, sy het oorweldig gevoel en baie warm gekry, en sy was naby aan trane. Die vrywilligers het in haar woorde, “ʼn ware wonderwerk” verrig. Hulle het nie net met toewyding gedien nie, maar ook met ʼn glimlag, en wou niks in ruil aanvaar nie.
Ek het die toewyding gesien en die lag gehoor toe ek later op die Saterdag ʼn groep Heiliges van die Laaste Dae in Florida besoek het. Die vrywilligers het hulle skoonmaakwerk lank genoeg gestop om my toe te laat om ʼn paar hande te skud. Hulle het vertel dat 90 lede van hulle pen in Georgia die vorige aand ʼn plan gemaak het om met die reddingswerk in Florida te kom help.
Hulle het Georgia om 04:00 in die oggend verlaat, vir ure gery, deur die hele dag en in die nag gewerk en was van plan om die volgende dag ook te werk.
Hulle het dit aan my beskryf met glimlagte en in ʼn goeie gees. Die enigste stres wat ek kon sien was dat hulle wou ophou om bedank te word sodat hulle kon terugkeer na hulle werk. Die penpresident het sy kettingsaag weer aangeskakel en was reeds besig om aan ʼn ontwortelde boom te werk en ʼn biskop was besig om takke te skuif terwyl ons in ons motor geklim het om na die volgende reddingspan te gaan.
Vroeër daardie dag, terwyl ons wou wegtrek van ʼn ander groep, het ʼn man na ons motor geloop en sy hoed afgehaal en ons bedank vir die vrywilligers. Hy het gesê: “Ek is nie ʼn lid van julle Kerk nie. Ek kan nie glo wat julle vir ons gedoen het nie. God seën julle.” Die HLD-vrywilliger wat langs hom gestaan het in sy geel hemp het geglimlag en sy skouers gelig, asof hy geen lof verdien nie.
Terwyl die vrywilligers van Georgia gekom het om hierdie man te help wat dit nie kon glo nie, het honderde Heiliges van die Laaste Dae van daardie selfde verwoeste deel van Florida honderde myle suid gegaan na ʼn ander plek in Florida waar hulle gehoor het dat die storm erger skade veroorsaak het.
Daardie dag het ek onthou en die profetiese woorde van die Profeet Joseph Smith beter verstaan: “ʼn Man gevul met die liefde van God, is nie tevrede met seëninge slegs vir sy familie alleen nie, maar gaan deur die hele wêreld, gretig om die hele mensdom te seën” (Teachings of Presidents of the Church: Joseph Smith [2007], 426).
Ons sien sulke liefde orals in die lewens van Heiliges van die Laaste Dae. Elke keer as daar ʼn tragedie enige plek in die wêreld plaasvind, maak Heiliges van die Laaste Dae skenkings aan die Kerk se humanitêre pogings en dien hulle as vrywilligers. ʼn Beroep is selde nodig. Dit is ʼn feit dat ons soms vrywilligers moet vra om te wag voor hulle na die rampgebied reis totdat diegene wat die werk moet lei gereed is om hulle te ontvang.
Daardie begeerte om te seën is die vrugte van mense wat besig is om ʼn getuienis van Jesus Christus, sy evangelie, sy herstelde Kerk en sy profeet te ontwikkel. Dit is hoekom die Here se volk nie twyfel of vrees nie. Dit is hoekom sendelinge vrywilliglik in elke hoekie van die wêreld dien. Dit is hoekom ouers saam met hulle kinders vir andere bid. Dit is hoekom leiers hulle jeug uitdaag om President Monson se versoek, om hulself in die Boek van Mormon te verdiep, ter harte neem. Die vrugte kom nie as gevolg van die leiers se smekinge nie, maar deur jeug en lede wat in geloof optree. Daardie geloof, in aksie, wat onselfsugtige opoffering vereis, bring die verandering van hart wat hulle toelaat om die liefde van God aan te voel.
Ons harte bly egter net veranderd solank as wat ons aanhou om die profeet se raad te volg. Indien ons ophou probeer na slegs een poging, sal die verandering verdof.
Gelowige Heiliges van die Laaste Dae het hulle geloof in die Here Jesus Christus, in die Boek van Mormon as die woord van God en in die herstelling van die priesterskapsleutels in sy ware Kerk vermeerder. Daardie vermeerderde getuienis het ons groter moed en besorgheid vir ander van God se kinders gegee. Maar die uitdagings en geleenthede wat nog voorlê, sal selfs meer vereis.
Ons kan nie die fyner punte vooruit sien nie, maar ons ken die groter plan. Ons weet dat die wêreld in beroering gaan wees in die laaste dae. Ons weet dat te midde van watter moeilikheid ook al mag kom, die Here die gelowige Heiliges van die Laaste Dae sal lei om die evangelie van Jesus Christus na elke nasie, stam, taal en volk te neem. En ons weet dat die Here se ware dissipels waardig en voorbereid sal wees om Hom te ontvang wanneer Hy weer kom. Ons hoef nie te vrees nie.
So alhoewel ons reeds geloof en moed in ons harte gebou het, verwag die Here nog meer van ons—en van die generasies na ons. Hulle sal sterker en meer dapper moet wees, omdat hulle selfs groter en moeiliker dinge sal moet doen as wat ons gedoen het. En hulle sal vermeerderde opposisie van die vyand van ons siele moet teenstaan.
Die weg na optimisme, soos wat ons vorentoe beweeg, is deur die Here gegee: “Sien op na my in elke gedagte; twyfel nie, vrees nie” (L&V 6:36). President Monson het ons gesê hoe om dit te doen. Ons moet die Boek van Mormon en die woorde van die profete bepeins en toepas. Bid altyd. Wees gelowig. Dien die Here met ons hele hart, mag, verstand en krag. Ons moet bid met al die energie van ons harte vir die gawe van naasteliefde, die suiwere liefde van Christus (sien Moroni 7:47–48). En bowe als, moet ons aanhoudend en vasbeslote wees in ons toepassing van die profetiese raad.
Wanneer die weg moeilik is, kan ons op die Here se belofte staatmaak—die belofte waaraan President Monson ons dikwels herinner het wanneer hy hierdie woorde van die Verlosser aangehaal het: “En wie julle ook al ontvang, daar sal Ek ook wees, want Ek sal uitgaan voor julle aangesig. Ek sal aan julle regter- en linkerhand wees, en my Gees sal in julle harte wees, en my engele rondom julle, om julle te versterk” (L&V 84:88).
Ek getuig dat die Here voor julle aangesig gaan wanneer julle ook al in sy diens is. Soms sal julle die engel wees wat die Here stuur om andere op te beur. Soms sal julle diegene wees wat deur engele omring word om julle op te beur. Maar julle sal altyd sy Gees hê om in julle harte te wees, soos julle in elke nagmaaldiens belowe word. Jy hoef slegs sy gebooie te onderhou.
Die beste dae lê voor vir die koninkryk van God op die aarde. Opposisie sal ons geloof in Jesus Christus versterk, soos dit sedert die dae van die Profeet Joseph Smith gebeur het. Geloof sal altyd vrees oorkom. Om saam te staan bring enigheid. En julle gebede vir diegene in nood word gehoor en beantwoord deur ʼn liefdevolle God. Hy sluimer nie, nóg slaap Hy.
Ek lewer my getuienis dat God die Vader leef en wil hê dat jy huis toe moet kom, na Hom toe. Hierdie is die ware Kerk van die Here Jesus Christus. Hy ken jou; Hy het jou lief; Hy waak oor jou. Hy het versoening gedoen vir jou sondes en myne en die sondes van al Hemelse Vader se kinders. Om Hom in jou lewe en in jou diens aan andere te volg, is die enigste weg na die ewige lewe.
Ek getuig so hiervan en laat my seëning en my liefde met julle. In die heilige naam van Jesus Christus, amen.
© 2017 deur Intellectual Reserve, Inc. Alle regte voorbehou. Gedruk in VSA. Engelse goedkeuring: 6/17. Vertalingsgoedkeuring: 6/17. Vertaling van die Eerste Presidensie-boodskap, November 2017.Afrikaans. 97931 501