2017
Drie Susters
November 2017


Vrouebesoek-boodskap, November 2017

Drie Susters

Ons is verantwoordelik vir ons eie dissipelskap, en dit het min—of niks—te make met hoe andere ons behandel nie.

Liewe susters, liewe vriende, om algemene konferensie met ʼn wêreldwye susters-sessie te begin, is betekenisvol en wonderlik. Verbeel jou: susters van alle ouderdomme, agtergronde, nasionaliteite en tale verenig in geloof en liefde vir die Here Jesus Christus.

Terwyl ons onlangs ons geliefde profeet, President Thomas S. Monson ontmoet het, het hy met ons gedeel hoe baie hy die Here liefhet. En ek weet dat President Monson baie dankbaar is vir julle liefde, julle gebede en julle toewyding aan die Here.

ʼn Lang tyd gelede in ʼn verafgeleë land het daar ʼn familie van drie susters geleef.

Die eerste suster was hartseer. Alles vanaf haar neus tot by haar ken en van haar vel tot haar tone was net nie goed genoeg vir haar nie. Wanneer sy gepraat het, het haar woorde soms vreemd uitgekom en mense het gelag. Wanneer mense haar gekritiseer het of “vergeet” het om haar na iets uit te nooi, het sy gebloos, weggestap en ʼn geheime plekkie gevind waar sy hartseer gesug het en gewonder het hoekom haar lewe so bleek en moedeloos geword het.

Die tweede suster was kwaad. Sy het haarself as baie slim beskou, maar daar was altyd iemand anders wat hoër punte as sy vir toetse op skool gekry het. Sy het haarself as snaaks, mooi, modieus en interessant beskou. Maar tog het dit geblyk dat daar altyd iemand anders was wat snaakser, mooier, meer modieus of interessanter was.

Sy was nooit eerste in enige iets nie, en dit kon sy net nie verduur nie. Die lewe was nie veronderstel om so te wees nie!

Soms het sy uitbarstings teenoor andere gehad, en dit het gelyk asof sy altyd net een asemteug weg was van nog ʼn gewelddadige uitbarsting, om een rede of ander rede.

Natuurlik het dit haar nie meer aanvaarbaar of gewild gemaak nie. Soms het sy haar tande gekners, haar vuiste gebal en gedink, “Die lewe is so onregverdig!”

Dan was daar die derde suster. Anders as haar hartseer en kwaai susters, was sy—wel, gelukkig. En dit was nie omdat sy slimmer of mooier of meer bevoeg as haar susters was nie. Nee, mense het haar ook soms vermy of geïgnoreer. Hulle het haar soms gespot oor dit wat sy aangetrek het of oor dit wat sy besig was om te sê. Hulle het soms lelike dinge van haar gesê. Maar sy het nie toegelaat dat enig iets haar te veel pla nie.

Hierdie suster het daarvan gehou om te sing. Sy was bietjie toondoof en mense het daaroor gelag, maar dit het haar nie gekeer nie. Sy het gesê, “Ek gaan nie toelaat dat ander mense en hulle opinies my laat ophou sing nie!”

Die blote feit dat sy aangehou sing het, het haar eerste suster hartseer en haar tweede suster kwaad gemaak.

Baie jare het verbygegaan, en uiteindelik het elke suster die einde van hulle tyd op die aarde bereik.

Die eerste suster, wat oor en oor ontdek het dat daar geen tekort aan teleurstellings in die lewe is nie, het uiteindelik hartseer gesterf.

Die tweede, wat elke dag iets nuuts gevind het waarvan sy nie gehou het nie, het kwaad gesterf.

En die derde suster, wat haar lewe lank haar lied met al haar mag en ʼn selfversekerde glimlag op haar gesig gesing het, het gelukkig gesterf.

Natuurlik is die lewe nie so eenvoudig nie, en mense is nooit so een-dimensioneel soos die drie susters in hierdie storie nie. Maar selfs uiterste voorbeelde soos hierdie kan ons iets oor onsself leer. Indien jy soos die meeste van ons is, mag jy dalk ʼn deel van jouself in een, twee of dalk al drie van hierdie susters, herken het. Laat ons elkeen van nader bekyk.

Die Slagoffer

Die eerste suster het haarself as ʼn slagoffer gesien—as iemand wie op gereageer word.1 Dit lyk asof een ding na die ander al ewig met haar gebeur het wat haar ongelukkig gemaak het. Met hierdie houding teenoor die lewe het sy aan andere die beheer oor hoe sy gevoel en haarself gedra het, gegee. Wanneer ons dit doen, word ons meegevoer met elke wind van opinie—en in hierdie dag van alomteenwoordige sosiale media, waai daardie winde met die intensiteit van ʼn orkaan.

Liewe susters, hoekom moet julle jul geluk aan iemand of ʼn groep “iemande” opgee wat nie vir julle of jul geluk omgee nie?

Indien jy vind dat jy bekommerd is oor wat ander mense van jou sê, mag ek hierdie teenmiddel voorstel: onthou wie jy is. Onthou dat jy van die koninklike huis van die koninkryk van God is, dogters van Hemelse Ouers, wat oor die hemele heers.

Jy het die geestelike DNS van God. Jy het unieke gawes wat hul oorsprong in jou geestelike skepping het en wat gedurende die onmeetbare tydperk van jou vooraardse lewe ontwikkel is. Jy is die kind van ons genadige en ewige Vader in die Hemel, die Here van die Leërskare, die Een wat die heelal geskape het, wat die wentelende sterre oor die eindelose ruimte van die hemele versprei het en die planete in hulle bepaalde wentelbane geplaas het.

Jy is in sy hande.

Baie goeie hande.

Liefdevolle hande.

Hande wat versorg.

En niks wat enigiemand ooit oor jou kan sê kan dit verander nie. Hulle woorde is betekenloos in vergelyking met wat God oor jou gesê het.

Jy is sy kosbare kind.

Hy is lief vir jou.

Selfs wanneer jy struikel, selfs wanneer jy van Hom af wegdraai, het God jou lief. Indien jy verlore, verlate of vergete voel—moenie vrees nie. Die Goeie Herder sal jou vind. Hy sal jou op sy skouers tel. En Hy sal jou huis toe dra.2

My dierbare susters, laat hierdie goddelike waarhede asseblief diep in julle harte insink. En julle sal vind dat daar baie redes sal wees om nie hartseer te wees nie, want julle het ʼn ewige voorbestemming om te vervul.

Die geliefde Saligmaker van die wêreld het sy lewe gegee sodat jy kan kies om daardie bestemming ʼn werklikheid te maak. Julle het sy naam op julle geneem; julle is sy dissipels. En as gevolg van Hom, kan julle julself in uitrustings van ewige heerlikheid beklee.

Die een wat Haat

Die tweede suster was kwaad vir die wêreld. Soos haar hartseer suster, het sy gevoel dat die probleme in haar lewe almal deur iemand anders veroorsaak is. Sy het haar familie, haar vriende, haar baas en kollegas, die polisie, die bure, Kerkleiers, huidige modegiere, en selfs die intensiteit van sonvlamme, en blote ongeluk geblameer. En sy het teenoor almal uitgevaar.

Sy het nie gedink sy is ʼn aaklige persoon nie. Inteendeel, sy het gevoel sy was net besig om vir haar self op te staan. Sy het geglo dat al die ander mense deur selfsugtigheid, kleinlikheid en haat gemotiveer was. Sy, inteendeel, is deur goeie bedoelings—geregtigheid, integriteit en liefde gemotiveer.

Ongelukkig is die kwaai suster se denkpatroon hopeloos te algemeen. Dit is in ʼn onlangse studie opgemerk wat die konflik tussen opponerende groepe ondersoek het. As deel van die studie, het ondersoekers onderhoude gevoer met Palestyne en Israeli’s in die Midde-Ooste en Republikeine en Demokrate in die Verenigde State. Hulle het ontdek dat “elke kant gevoel het dat húlle groep deur liefde, nie haat gemotiveer [was], maar wanneer hulle gevra was hoekom hulle groep in die konflik betrokke [was], het [hulle] aangedui dat haat [die ander groep] se motiverende faktor was.”3

Met ander woorde, elke groep het hulself as die “goeie ouens” gesien—regverdig, sagmoedig en eerlik. In teenstelling het hulle die opposisie as die “slegte ouens” gesien—oningelig, oneerlik en selfs boos.

In die jaar wat ek gebore is, was die wêreld betrokke in ʼn verskriklike oorlog wat vreeslike leiding en oorweldigende hartseer in die wêreld gebring het. Hierdie oorlog is deur my eie nasie veroorsaak - deur ‘n groep mense wat sekere ander groepe geïdentifiseer het as boos en haat teenoor hulle aangemoedig het.

Hulle het diegene stilgemaak wat hulle nie van gehou het nie. Hulle het hulle beskaam en as monsters uitgewys. Hulle het hulle as minderwaardig beskou - selfs minder as mens. Wanneer jy eers ʼn groep mense afgegradeer het, is jy meer geneig om woorde en dade van geweld teenoor hulle te regverdig.

Ek bewe wanneer ek dink aan wat in Duitsland gebeur het in die 20ste-eeu.

Wanneer iemand ons teenstaan of nie met ons saamstem nie, is dit maklik om te dink dat daar iets met húlle moet fout wees. En vandaar is dit ʼn klein trappie om die ergste motiewe aan hulle woorde en dade te heg.

Natuurlik moet ons altyd staan vir dit wat reg is, en daar is tye wat ons ons stemme vir daardie doel moet ophef. Maar, wanneer ons dit met woede en haat in ons harte doen—wanneer ons lostrek teenoor andere om hulle te beseer, te beskaam of stil te maak—is die kans baie groot dat ons dit nie in geregtigheid doen nie.

Wat het die Verlosser geleer?

“Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;

“Sodat julle die kinders mag wees van julle Vader wat in die hemel is.”4

Hierdie is die Verlosser se weg. Dit is die eerste stap om die skeidings af te breek wat so baie woede, haat, onenigheid en geweld in die wêreld veroorsaak.

“Ja,” mag jy sê, “Ek sal bereid wees om my vyande lief te hê—indien hulle net bereid sou wees om dieselfde te doen.”

Maar dit maak nie eintlik saak nie, of maak dit? Ons is verantwoordelik vir ons eie dissipelskap, en dit het min—of niks—te make met hoe andere ons behandel nie. Ons hoop vanselfsprekend dat hulle ons ook sal verstaan en met naasteliefde behandel, maar ons liefde vir hulle is onafhanklik van hulle gevoelens teenoor ons.

Dalk sal ons pogings om ons vyande lief te hê, hulle harte versag en hulle ten goede beïnvloed. Dalk sal dit nie. Maar dit behoort nie ons vasbeslotenheid om Jesus Christus te volg, te verander nie.

Dus, as lede van die Kerk van Jesus Christus, sal ons ons vyande lief hê.

Ons sal woede en haat oorkom.

Ons sal ons harte vul met liefde vir ál God se kinders.

Ons sal na andere uitreik en hulle dien—selfs diegene wat “[ons] beledig en [ons] vervolg.”5

Die Ware Dissipel

Die derde suster is ʼn voorstelling van die ware dissipel van Jesus Christus. Sy het iets gedoen wat uiters moeilik kan wees om te doen: sy het God vertrou, selfs wanneer sy bespotting of swaarkry in die gesig moes staar. Sy het op ʼn manier haar geloof en hoop volgehou, ten spyte die bespotting en negatiwiteit om haar. Sy het vreugdevol geleef, nie omdat haar omstandighede vreugdevol was nie, maar omdat vreugdevol was.

Nie een van ons maak dit deur die lewensreis sonder teenstand nie. Met soveel magte wat ons probeer wegtrek, hoe hou ons ons visie gefokus op die wonderlike geluk wat aan die gelowiges belowe word?

Ek glo die antwoord kan gevind word in ʼn droom wat ʼn profeet duisende jare gelede gehad het. Die profeet se naam was Lehi en sy droom kan in die kosbare en wonderlike Boek van Mormon gevind word.

In sy droom het Lehi ‘n groot veld gesien en daarin was ʼn wonderlike boom, waarvan die skoonheid nie beskryf kon word nie. Hy het ook groot groepe mense gesien wat oppad na die boom was. Hulle wou van die wonderlike vrugte proe. Hulle het gevoel en vertrou dat dit hulle groot geluk en ewigdurende vrede sou gee.

Daar was ʼn smal paadjie wat na die boom gelei het, en daar was ʼn yster staaf langsaan wat die mense gehelp het om op die pad te bly. Maar daar was ook ʼn mis van duisternis wat hulle sig van beide die pad en die boom versper het. En selfs meer gevaarlik was die klank van harde gelag en bespotting wat van ʼn groot en ruim gebou in die nabyheid gekom het. Dit is skokkend dat die gespottery sommige mense wat reeds die boom bereik het en van die wonderlike vrugte geëet het, beskaamd laat voel het en hulle het weggedwaal.6

Hulle het dalk begin twyfel of die boom werklik so mooi was as wat hulle eers gedink het. Hulle het dalk die werklikheid van wat hulle ondervind het, bevraagteken.

Dalk het hulle gedink dat die lewe makliker sou word as hulle van die boom af wegdraai. Dalk sou hulle nie meer bespot of uitgelag word nie.

En in werklikheid lyk die mense wat hulle spot en uitlag, soos mense wat baie gelukkig is en lyk of hulle die lewe geniet. Dus, dalk as hulle die boom verlaat, sal hulle verwelkom word in die gemeente van die groot en ruim gebou en geprys word vir hulle oordeel, intelligensie en verfyndheid.

Bly op die Pad

Liewe susters, liewe vriende, indien julle dit moeilik vind om aan die ysterstaaf vas te kleef en standvastig vorentoe te stap na verlossing; indien die lag en bespotting van andere wat so selfversekerd is jou laat wankel; indien jy bekommerd is oor onbeantwoorde vrae of leringe wat jy nog nie verstaan nie; indien jy hartseer voel vanweë teleurstellinge, vra ek julle om Lehi se droom te onthou.

Bly op die Pad!

Moet nooit die ysterstaaf—die woord van God—los nie!

En wanneer enigiemand jou probeer beskaamd laat voel omdat jy van die liefde van God gesmaak het, ignoreer hulle.

Moet nooit vergeet dat jy ʼn kind van God is nie; daar is ryklike seëninge vir jou beskikbaar; as jy kan leer om sy wil te doen, sal jy weereens saam met Hom kan leef!7

Die wêreld se beloftes van lof en aanvaarding is onbetroubaar, onwaar en onbevredigend. God se beloftes is seker, waar en vreugdevol—nou en vir ewig.

Ek nooi julle om godsdiens en geloof vanuit ʼn hoër perspektief te oorweeg. Niks wat in die groot en ruim gebou aangebied word kan vergelyk met die vrugte van die uitleef van die evangelie van Jesus Christus nie.

Waarlik, “wat die oog nie gesien, en die oor nie gehoor en in die hart van ʼn mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”8

Ek het vir myself geleer dat die pad na dissipelskap in die evangelie van Jesus Christus die weg na vreugde is. Dit is die weg na veiligheid en vrede. Dit is die weg na waarheid.

Ek getuig dat deur die gawe en krag van die Heilige Gees, julle dit vir julself kan leer.

In die tussentyd, as die pad vir julle te moeilik raak, hoop ek dat julle toevlug en krag sal vind in ons wonderlike organisasie van die Kerk: die Primêre Organisasie, Jong Dames en Verligtingsvereniging. Hulle is soos rusplekke op die pad, waar julle jul selfvertroue en geloof kan hernu vir die reistog wat nog voorlê. Hulle is ʼn veilige tuiste waar julle kan voel dat julle behoort en waar julle aanmoediging van julle susters en mede-dissipels kan ontvang.

Die dinge wat julle in die Primêre Organisasie leer, berei julle voor vir die addisionele waarhede wat julle as jong dames sal leer. Die pad van dissipelskap wat julle in julle Jong Dame klasse loop, lei tot die deelgenootskap en susterskap van die Verligtingsvereniging. Met elke tree langs die pad, word julle addisionele geleenthede gegee om julle liefde vir andere te demonstreer deur dade van geloof, sagmoedigheid, naasteliefde, reinheid en diens.

Om die pad van dissipelskap te kies, sal na onberekenbare geluk en vervulling van julle goddelike natuur lei.

Dit sal nie maklik wees nie. Dit sal die beste verg wat jy het—al jou intelligensie, kreatiwiteit, geloof, integriteit, krag, vasberadenheid en liefde. Maar eendag sal jy terugkyk op jou werk en o, hoe dankbaar sal jy wees dat jy sterk gebly het, en dat jy geglo het en dat jy nie van die pad afgedwaal het nie.

Hou Aan

Daar mag baie dinge in hierdie lewe wees wat buite jou beheer is. Maar aan die einde het jy die mag om beide jou bestemming en baie van jou ondervindinge langs die pad te kies. Dit is nie soseer jou vermoë nie, maar jou besluite wat die verskil in die lewe maak.9

Jy kan nie toelaat dat omstandighede jou hartseer maak nie.

Jy kan nie toelaat dat hulle jou kwaad maak nie.

Jy kan juig dat jy ʼn dogter van God is. Jy kan vreugde en geluk in die genade van God vind en in die liefde van Jesus Christus.

Jy kan bly wees.

Ek doen ʼn beroep op julle om julle harte te vul met dankbaarheid vir die oorvloed en onbeperkte goedheid van God. My geliefde susters, julle kan dit doen! Ek bid met al die gevoel van my siel dat julle die keuse sal maak om vorentoe te beur na die boom van die lewe. Ek bid dat julle sal kies om julle stemme te verhef en julle lewens ʼn glorieryke simfonie van lof en vreugdeviering sal maak in wat die liefde van God, die wondere van sy Kerk en die evangelie van Jesus Christus aan die wêreld kan bring.

Die lied van ware dissipelskap mag soms bietjie vals klink of selfs ʼn bietjie te hard wees vir sommiges. Sedert die begin van tyd is dit al so.

Maar vir ons Hemelse Vader en aan diegene wat Hom liefhet en eer, is dit ʼn mees kosbare en pragtige lied—die verhewe en heiligmakende lied van verlossende liefde en diens aan God en medemens.10

Ek laat julle my seëning as ʼn Apostel van die Here, dat julle die krag en moed sal vind om met vreugde daarna te streef om ʼn dogter van God te wees terwyl julle elke dag die glorieryke pad van dissipelskap met vreugde loop. In die heilige naam van Jesus Christus, amen.