Liahona
Die Here se Groot Werk en Ons Groot Geleentheid
Julie 2024


“Die Here se Groot Werk en Ons Groot Geleentheid,” Liahona, Julie 2024.

Maandelikse Liahona-boodskap, Julie 2024

Die Here se Groot Werk en Ons Groot Geleentheid

Wanneer ons liefhet, deel en uitnooi, arbei ons saam met die Here om elke kosbare siel te help om na Hom te kom.

Beeld
twee vroue wat gesels terwyl hulle in ʼn straat afstap

Elke profeet in hierdie laaste, groot tydvak het lede van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae geleer om die herstelde evangelie van Jesus Christus te deel. In my leeftyd kom verskeie voorbeelde by my op:

President David O. McKay (1873–1970), die profeet van my jeug, het verklaar: “Elke lidmaat ʼn sendeling.”

President Spencer W. Kimball (1895–1985) het geleer: “Die dag vir die uitdra van die evangelie na nog meer plekke en mense is híér en nóú,” en “ons moet ons treë rek” om die evangelie met ander te deel.

President Gordon B. Hinckley (1910–2008) het gesê: “Groot is ons werk, geweldig is ons verantwoordelikheid om te help om diegene te vind om te onderrig. Die Here het aan ons ʼn mandaat gegee om die evangelie aan elke skepsel te onderrig. Dit sal [ons] heel beste pogings verg.”

En President Russell M. Nelson het geleer: “Sendingwerk is ʼn noodsaaklike deel van die groot versameling van Israel. Daardie versameling is die belangrikste werk wat vandag op die aarde plaasvind. Niks anders vergelyk in grootsheid nie. Niks anders vergelyk in belangrikheid nie. Die Here se sendelinge—sy dissipels—is besig met die grootste uitdaging, die grootste saak, die grootste werk op die aarde vandag.”

Ek het dit self as ʼn jong sendeling in die Britse Sending leer ken. Ek is vandag nog meer seker daarvan. As ʼn Apostel van die Here Jesus Christus, getuig ek dat geleenthede oral is om ander te help om na Christus te kom deur ons liefde te toon, ons oortuigings te deel en hulle uit te nooi om saam met ons te verenig om die vreugde van die evangelie van Jesus Christus te ervaar.

Die Werk Gaan Voort

Ek was bevoorreg om in opdrag in die Sendeling Departement van die Kerk te wees toe die eerste uitgawe van Preach My Gospel in 2004 bekendgestel is en weer toe die tweede uitgawe in 2023 vrygestel is. Ek glo dat Preach My Gospel sendingwerk op ʼn diepgaande wyse geseën het.

Die nuwe Preach My Gospel sluit alles in wat ons sedert 2004 geleer het, geïnspireerde leiding van elke lid van die Eerste Presidensie en Kworum van die Twaalf Apostels en veranderinge wat gemaak is vir die deel van die evangelie in ʼn digitale era. Sommige van hierdie veranderinge het aansienlike sukses tot gevolg gehad.

Ons het gevind dat die deel van die evangelie op eenvoudige, normale en natuurlike maniere deur die beginsels van “liefde, deel, uitnooi” die koninkryk grootliks seën. Jesus Christus het die evangelie op hierdie manier gedeel toe hy op die aarde geleef het. Hy het sy lewe en sy liefde gedeel en almal uitgenooi om na Hom te kom (sien Matthéüs 11:28). Om lief te hê, te deel en uit te nooi soos Hy gedoen het is ʼn spesiale seëning en verantwoordelikheid vir elke lid van die Kerk.

Begin met Liefde

In die Tuin van Getsémané en aan die kruis, het Jesus Christus die sondes van die wêreld op Hom geneem en alle smarte en “pyne … en verdrukkinge en versoekinge van elke soort” verduur (Alma 7:11). Dit “[het Hom], … die grootste van almal, laat bewe … vanweë pyn, en om te bloei van elke porie” (Leer en Verbonde 19:18). Deur sy Versoening en Opstanding, het Jesus Christus heil en verheffing vir almal moontlik gemaak.

Om na die Saligmaker te keer en alles wat Hy vir ons gedoen het te bepeins, skep in ons ʼn hart gevul met liefde vir Hom. Hy keer dan ons harte na ander en beveel ons om hulle lief te hê (sien Johannes 13:34–35) en om sy evangelie met hulle te deel (sien Matthéüs 28:19; Markus 16:15). As diegene rondom ons kan voel dat ons hulle opreg liefhet en vir hulle omgee, sal hulle waarskynlik hul harte oopmaak vir ons boodskappe, net soos Koning Lamoni sy hart oopgemaak het om die evangelie te ontvang as gevolg van Ammon se liefde en diens (sien Alma 17–19).

Laat ons begin met liefde wanneer ons die evangelie deel. Soos ons in liefde na ander uitreik—en onthou dat hulle ons broers en susters en geliefde kinders van ons Hemelse Vader is—sal geleenthede vir ons oopgaan om te deel wat ons weet waar is.

Wees Gretiglik Betrokke en Deel

Niemand was meer toegewyd om die evangelie te deel as President M. Russell Ballard (1928–2023) nie. In sy laaste algemene konferensie toespraak het hy getuig: “Een van die saligste en wonderlikste dinge wat enigiemand in hierdie wêreld kan weet [is] dat ons Hemelse Vader en die Here Jesus Christus Hulself in hierdie laaste dae geopenbaar het en dat Joseph [Smith] na die wêreld gekom het om die volheid van die ewigdurende evangelie van Jesus Christus te herstel.”

Regdeur sy lewe en regdeur die meeste van die wêreld, was President Ballard gretiglik betrokke om hierdie kosbare boodskap met almal te deel. Hy het ons aangemoedig om dieselfde te doen. Hy het geleer dat ons die evangelie deel “deur goeie bure te wees en deur om te gee en om liefde te betoon.” Deur dit te doen “straal [ons] die evangelie in ons eie lewens uit en … straal na [ander] die seëninge uit wat die evangelie bied.” Ons “getuig [ook] waarvan [ons] weet en glo en wat [ons] voel.” President Ballard het geleer: “ʼn Opregte getuienis … kan deur die krag van die Heilige Gees binne die harte van ander wat oop is om dit te ontvang, gedra word.”

Om die herstelde evangelie van Jesus Christus te deel was die grootste begeerte van President Ballard se hart. Ons kan gretiglik betrokke wees—soos hy was—om die evangelie in beide woord en daad te deel. Ons weet nooit wie onder ons dalk na die lig van die evangelie soek, maar nie weet waar om dit te vind nie (sien Leer en Verbonde 123:12).

Beeld
twee manne wat ʼn paar trappe opstap

Reik Opregte Uitnodigings Uit

Deur ander na Christus te help bring, nooi ons hulle uit om die vreugde te ervaar wat die Saligmaker en sy evangelie bring. Ons kan dit doen deur hulle uit te nooi om na ʼn aktiwiteit te kom, om die Boek van Mormon te lees, of om die sendelinge te ontmoet. Ons kan ook ʼn opregte uitnodiging aan hulle uitreik om ʼn nagmaaldiens saam met ons by te woon.

Ons woon elke week die nagmaaldiens by om “God te aanbid en die nagmaal te gebruik om Jesus Christus en sy Versoening te onthou.” Dit is ʼn geskikte tyd vir mense om die Gees te voel, nader aan die Saligmaker te kom en om hulle geloof in Hom te versterk.

Terwyl ons na maniere soek om lief te hê, te deel, en uit te nooi, moet ons beplanning en pogings maniere insluit om mense te help om nagmaaldienste by te woon. As hulle ons uitnoding sal aanvaar en nagmaaldienste bywoon, is hulle meer geneig om voort te gaan op die pad na die doop en bekering. Ek glo met my hele hart dat groot sukses sal kom as ons ander uitnooi om nagmaaldienste by te woon en hulle help om die seëninge wat hulle kan ontvang deur dit te doen, te herken.

Die Here Sal Ons Lei

Ons weet nooit watter suksesse en uitdagings ons sal hê as ons liefhet, deel en uitnooi nie. Die seuns van Mosia “[het] van stad tot stad gegaan, … en van een huis van aanbidding na ʼn ander, … onder die Lamaniete, om te preek en die woord van God te onderrig onder hulle; en so het hulle begin om groot sukses te behaal.” Deur hulle pogings, “[is] duisende … gebring tot die kennis van die Here,” en baie “[is] bekeer … [en het] nooit afvallig geword nie” (Alma 23:4–6).

Alhoewel dit nie altyd ons ervaring sal wees nie, het die Here belowe dat hy saam met ons sal arbei, want elke siel is kosbaar vir Hom. As ons ons geloof in die Here plaas en betrokke raak by sy diens, sal Hy ons lei hoe om sy evangelie met ander te deel deur hulle lief te hê, ons lewens en getuienisse met hulle te deel en deur hulle uit te nooi om saam met ons te verenig om Hom te volg.

“Groot sal [ons] vreugde wees” (Leer en Verbonde 18:15) wanneer ons die geleenthede rondom ons neem om die Here Jesus Christus by te staan in sy groot werk om siele na Hom te bring.

Nota

  1. Teachings of Presidents of the Church: David O. McKay (2003), xxii.

  2. Teachings of Presidents of the Church: Spencer W. Kimball (2006), 261, 262.

  3. Gordon B. Hinckley, “Find the Lambs, Feed the Sheep,” Liahona, Julie 1999, 121. Hierdie toespraak is op 21 Feb. 1999 gedurende ʼn satelliet-uitsending vanaf die Salt Lake Tabernakel gelewer.

  4. Russell M. Nelson, “The Everlasting Covenant [Die Ewigdurende Verbond],” Liahona, Okt. 2022, 9.

  5. M. Russell Ballard, “Praise to the Man,” Liahona, Nov. 2023, 74.

  6. M. Russell Ballard, “The Essential Role of Member Missionary Work,” Liahona, Mei 2003, 40.

  7. M. Russell Ballard, “Remember What Matters Most,” Liahona, Mei 2023, 107.

  8. Preach My Gospel: A Guide to Sharing the Gospel of Jesus Christ (2023), 88.

  9. Sien Preach My Gospel, 172.

Druk