Handleidings en Roepings
2. Ondersteuning van Individue en Families in die Werk van Heil en Verheffing


“2. Ondersteuning van Individue en Families in die Werk van Heil en Verheffing,” Seleksies uit die Algemene Handleiding (2023).

“2. Ondersteuning van Individue en Families,” Seleksies uit die Algemene Handleiding

Beeld
familiefoto

2.

Ondersteuning van Individue en Families in die Werk van Heil en Verheffing

2.0

Inleiding

As ʼn leier in die Kerk van Jesus Christus, ondersteun jy individue en families om God se werk van heil en verheffing te volbring (sien 1.2). Die uiteindelike doel van hierdie werk is om al God se kinders te help om die seëninge van die ewige lewe en ʼn volheid van vreugde te ontvang.

Baie van die werk van heil en verheffing word deur die familie bewerkstellig. Vir alle Kerklede is hierdie werk in die huis gesentreer.

2.1

Die Rol van die Familie in God se Plan

As deel van sy plan het Hemelse Vader families op aarde gevestig. Hy wil hê dat families vir ons vreugde bring. Families bied geleenthede om te leer, groei, dien, bekeer en vergewe. Hulle kan ons help om voor te berei vir die ewige lewe.

God se belofte van die ewige lewe sluit ewige huwelik, kinders en alle ander seëninge van ʼn ewige familie in. Hierdie belofte is van toepassing op diegene wat nie huidiglik getroud is of wat nie familie in die Kerk het nie.

2.1.1

Ewige Families

Ewige families word gevorm wanneer Kerklede verbonde sluit wanneer hulle die verseëlende ordinansies in die tempel ontvang. Die seëninge van ʼn ewige familie word verwesenlik wanneer lede daardie verbonde onderhou en bekeer wanneer hulle tekort skiet. Kerkleiers help lede om voor te berei om hierdie ordinansies te ontvang en hulle verbonde te eerbiedig.

ʼn Bykomende aspek van die vestiging van ewige families is die uitvoering van ordinansies in die tempel wat lede toelaat om aan hulle afgestorwe voorouers verseël te word.

2.1.2

Man en Vrou

ʼn Huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou is deur God verordineer (sien Leer en Verbonde 49:15). ʼn Man en vrou is bedoel om saam te vorder na die ewige lewe (sien 1 Korinthiërs 11:11).

Een van die vereistes om die ewige lewe te beërwe is vir ʼn man en ʼn vrou om die verbond van ʼn selestiale huwelik te sluit (sien Leer en Verbonde 131:1–4). ʼn Paartjie sluit hierdie verbond wanneer hulle die huweliksverseëlingsordinansie in die tempel ontvang. Hierdie verbond is die fondasie van ʼn ewige familie. Wanneer getrou onderhou word, laat dit hulle huwelik vir ewig duur.

Fisiese intimiteit tussen man en vrou is bedoel om mooi en heilig te wees. Dit is deur God verordineer vir die skepping van kinders en die uitdrukking van liefde tussen man en vrou. Teerheid en respek—nie selfsugtigheid nie—moet hulle intieme verhouding lei.

God het gebied dat seksuele intimiteit gereserveer moet word vir ʼn huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou.

ʼn Man en vrou is gelyk in God se oë. Die een moet nie die ander domineer nie. Hulle besluite moet in eenheid en liefde geneem word, met volle deelname van beide.

2.1.3

Ouers en Kinders

Profete van die laaste dae het geleer dat “God se gebod vir sy kinders om te vermeerder en die aarde te vul nog steeds van krag is” (“Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”; sien ook Leer en Verbonde 49:16–17).

ʼn Liefdevolle man en vrou skep saam die beste omstandighede om kinders op te voed en te versorg. Individuele omstandighede mag ouers verhoed om hulle kinders saam op te voed. Die Here sal hulle egter seën as hulle sy hulp soek en strewe om hulle verbonde met Hom te onderhou.

Ouers het die noodsaaklike plig om te help om hulle kinders voor te berei om die seëninge van die ewige lewe te ontvang. Hulle leer hul kinders om God en andere lief te hê en te dien (sien Matthéüs 22:36–40).

“Vaders presideer oor hul families in liefde en geregtigheid en is verantwoordelik om vir die noodsaaklikhede van die lewe voorsiening te maak en hul families te beskerm” (“Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”). Wanneer daar nie ʼn man of vader in die huis is nie, presideer die moeder oor die familie.

Presidering in die familie is die verantwoordelikheid om te help om familielede terug te lei om in God se teenwoordigheid te woon. Dit word gedoen deur te dien en te onderrig met teerheid, sagmoedigheid en suiwere liefde, volgens die voorbeeld van Jesus Christus (sien Matthéüs 20:26–28). Presidering in die familie sluit in om familielede in gereelde gebed, evangeliestudie en ander aspekte van aanbidding te lei. Ouers werk in eenheid saam om hierdie verantwoordelikhede te vervul.

“Moeders is hoofsaaklik verantwoordelik vir die versorging van hul kinders” (“Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”). Om te versorg beteken om te voed, leer en ondersteun, volgens die voorbeeld van die Saligmaker (sien 3 Nefi 10:4). In eenheid saam met haar man, help ʼn moeder om haar familie evangeliese waarhede te leer en geloof in Hemelse Vader en Jesus Christus te ontwikkel. Saam bevorder hulle ʼn omgewing van liefde in die familie.

“In hierdie heilige verantwoordelikhede is vaders en moeders verplig om mekaar as gelyke vennote te ondersteun” (Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”). Hulle beraadslaag biddend saam en met die Here. Hulle neem besluite saam in eenheid en liefde, met volle deelname van beide.

2.2

Die Werk van Heil en Verheffing in die Huis

Die Eerste Presidensie het gesê: “Die huis is die basis van ʼn regverdige lewe” (First Presidency Letter, 11 Feb. 1999).

Om lede te ondersteun om die werk van heil en verheffing tuis te doen, moedig Kerkleiers hulle aan om ʼn huis te vestig waar die Gees teenwoordig is. Hulle moedig lede ook aan om die Sabbat te heilig, die evangelie tuis te bestudeer en om weekliks gesinstuisaand te hou.

2.2.3

Evangeliestudie en Leer Tuis

Evangeliese onderrig en lering is tuis-gesentreerd en Kerk-ondersteund. Kerkleiers moedig alle lede aan om die evangelie tuis te bestudeer op die Sabbat en regdeur die week.

ʼn Studie van die skrifture soos uiteengesit in Come, Follow Me—For Individuals and Families is die voorgestelde kursus van evangeliestudie tuis.

2.2.4

Gesinstuisaand en Ander Aktiwiteite

Profete van die Laaste Dae het Kerklede aangeraai om weekliks gesinstuisaand te hou. Dit is ʼn gewyde tyd vir individue en families om die evangelie te leer, getuienisse te versterk, eenheid te bou en mekaar te geniet.

Gesinstuisaand is aanpasbaar volgens lede se omstandighede. Dit kan op die Sabbat of ander dae en tye gehou word. Dit kan insluit:

  • Evangeliestudie en instruksie (die Come, Follow Me-stof kan gebruik word indien so verkies).

  • Om ander te dien.

  • Om gesange en Primêre Organisasie liedjies te sing of te speel (sien hoofstuk 19).

  • Om familielede in Kinder- en Jeugontwikkeling te ondersteun.

  • ʼn Familieraad om doelwitte te stel, probleme op te los en skedules te koördineer.

  • Ontspanningsaktiwiteite.

Enkellede en andere kan in groepe bymekaarkom buite die normale Sabbat-aanbiddingsdienste om deel te neem aan gesinstuisaand en mekaar te versterk deur evangeliestudie.

2.2.5

Die Ondersteuning van Individue

Kerkleiers help lede wat nie steun van familie het nie.

Leiers help hierdie lede en hulle families om geleenthede te kry vir deelgenootskap, heilsame sosiale ondervindings en geestelike groei.

2.3

Die Verhouding tussen die Huis en die Kerk

Die werk van heil en opheffing is in die huis gesentreerd en ondersteun deur die Kerk. Die volgende beginsels is van toepassing in die verhouding tussen die huis en die Kerk.

  • Leiers en onderwysers eer die rol van ouers en staan hulle by.

  • Sommige Kerkvergaderings is noodsaaklik in elke wyk of tak. Dit sluit in die nagmaaldiens en die klasse en kworumvergaderings wat op die Sabbat gehou word. Baie ander vergaderings, aktiwiteite en programme is nie noodsaaklik nie.

  • Diens en deelname in die Kerk behels ʼn mate van opoffering. Die Here sal lede seën wanneer hulle in sy Kerk dien en opoffer. Die hoeveelheid tyd bestee aan diens in die Kerk moet egter nie afbreuk doen aan hulle vermoë om hul verantwoordelikhede tuis, by die werk en elders te vervul nie.

Druk