Handleidings en Roepings
3. Priesterskapsbeginsels


“3. Priesterskapsbeginsels,” Seleksies uit die Algemene Handleiding (2023).

“3. Priesterskapsbeginsels,” Seleksies uit die Algemene Handleiding

Beeld
familie wat naby tempel stap

3.

Priesterskapsbeginsels

3.0

Inleiding

Die priesterskap is die gesag en mag van God. Hemelse Vader volbring sy werk deur die priesterskap “om die onsterflikheid en die ewige lewe van die mens teweeg te bring” (Moses 1:39). God gee gesag en mag aan sy seuns en dogters op aarde om te help om hierdie werk uit te voer (sien hoofstuk 1).

3.2

Seëninge van die Priesterskap

God stel groot seëninge beskikbaar aan al sy kinders deur verbonde en priesterskapsordinansies. Hierdie seëninge sluit in:

  • Doop en lidmaatskap in Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae.

  • Die gawe van die Heilige Gees.

  • Gebruik van die nagmaal.

  • Gesag en mag om in Kerkroepings en toegewysde take te dien.

  • Ontvangs van patriargale seëninge en ander priesterskapseëninge van heling, troos en leiding.

  • Om met God se mag in die tempel begiftig te word.

  • Om vir ewig aan jou familielede verseël te word.

  • Die belofte van die ewige lewe.

3.3

Melgisédekse Priesterskap en Aäroniese Priesterskap

Die priesterskap in die Kerk het twee dele: die Melgisédekse Priesterskap en die Aäroniese Priesterskap (sien Leer en Verbonde 107:1).

3.3.1

Melgisédekse Priesterskap

Die Melgisédekse Priesterskap is “die Heilige Priesterskap, volgens die Orde van die Seun van God” (Leer en Verbonde 107:3). Dit is die mag waardeur die seuns en dogters van God soos Hy kan word (sien Leer en Verbonde 84:19–21; 132:19–20).

Deur hierdie gesag lei en beheer Kerkleiers al die geestelike werk van die Kerk (sien Leer en Verbonde 107:18).

Die penpresident is die presiderende hoëpriester in die pen (sien Leer en Verbonde 107:8, 10; sien ook hoofstuk 6 in hierdie handleiding). Die biskop is die presiderende hoëpriester in die wyk (sien Leer en Verbonde 107:17; sien ook hoofstuk 7 in hierdie handleiding).

Vir inligting oor die ampte en verantwoordelikhede van die Melgisédekse Priesterskap, sien 8.1.

3.3.2

Aäroniese Priesterskap

Die Aäroniese Priesterskap is “ʼn aanhangsel van die … Melgisédekse Priesterskap” (Leer en Verbonde 107:14). Dit sluit die sleutels in van:

  • Die bediening van engele.

  • Die evangelie van bekering.

  • Bediening van uiterlike ordinansies, insluitend doop vir die vergifnis van sondes.

(Sien Leer en Verbonde 13:1; 84:26–27; 107:20.)

Die biskop is die president van die Aäroniese Priesterskap in die wyk (sien Leer en Verbonde 107:15).

Vir inligting oor die ampte en verantwoordelikhede van die Aäroniese Priesterskap, sien 10.1.3.

3.4

Priesterskapsgesag

Priesterskapsgesag is die magtiging om God te verteenwoordig en in sy Naam op te tree. Alle priesterskapsgesag in die Kerk word uitgeoefen onder die leiding van diegene wat priesterskapsleutels hou.

3.4.1

Priesterskapsleutels

Priesterskapsleutels is die gesag om die gebruik van die priesterskap ten behoewe van God se kinders te lei.

3.4.1.1

Diegene Wat Priesterskapsleutels Hou

Die Here het al die sleutels wat betrekking het op die koninkryk van God op die aarde aan elkeen van sy Apostels toegeken. Die senior lewende Apostel, die President van die Kerk, is die enigste persoon op aarde wat gemagtig is om al daardie priesterskapsleutels uit te oefen (sien Leer en Verbonde 81:1–2; 107:64–67, 91–92; 132:7).

Priesterskapleiers word sleutels gegee sodat hulle in hul areas van verantwoordelikheid kan presideer onder die leiding van die President van die Kerk. Hierdie leiers sluit in:

  • Pen- en distrikspresidente.

  • Biskoppe en takpresidente.

  • Melgisédekse en Aäroniese Priesterskapskworum-presidente.

  • Tempelpresidente.

  • Sendingpresidente en sendelingopleidingsentrum-presidente.

Hierdie leiers ontvang priesterskapsleutels wanneer hulle afgesonder word in hulle roepings.

Priesterskapsleutels word nie aan ander gegee nie, insluitend raadgewers vir plaaslike priesterskapleiers of presidente van Kerk-organisasies. Presidente van Kerk-organisasies presideer onder die leiding van diegene wat priesterskapsleutels hou (sien 4.2.4).

3.4.1.2

Orde in die Here se Werk

Priesterskapsleutels verseker dat die werk van heil en verheffing op ʼn ordelike wyse uitgevoer word (sien Leer en Verbonde 42:11; 132:8). Diegene wat priesterskapsleutels hou, lei die Here se werk binne die areas van hulle verantwoordelikheid. Hierdie presiderende gesag is slegs geldig vir die spesifieke verantwoordelikhede van die leier se roeping. Wanneer priesterskapleiers onthef word van hul roepings, hou hulle nie meer die sleutels nie.

3.4.2

Priesterskapstoekenning en -ordinering

Onder die leiding van diegene wat priesterskapsleutels hou, word die Aäroniese Priesterskap en die Melgisédekse Priesterskap aan waardige manlike lede van die Kerk toegeken (sien Leer en Verbonde 84:14–17). Nadat die gepaste priesterskap toegeken is, word die persoon geordineer tot ʼn amp in daardie priesterskap, byvoorbeeld diaken of ouderling. ʼn Priesterskaphouer beoefen die priesterskap volgens die regte en pligte van daardie amp (sien Leer en Verbonde 107:99).

Vir meer inligting oor toekenning en ordinering van die priesterskap, sien 8.1.1 en 18.10.

3.4.3

Delegering van Priesterskapsgesag om in die Kerk te Dien

3.4.3.1

Afsondering

Wanneer mans en vroue afgesonder word onder die leiding van diegene wat die priesterskapsleutels hou, word hulle gesag van God gegee om in daardie roeping op te tree. Wanneer hulle van ʼn roeping onthef word, het hulle nie meer die gesag wat daarmee geassosieer word nie.

Alle Kerklede wat afgesonder word om te dien word goddelike gesag en verantwoordelikheid gegee om in hulle roepings op te tree. Byvoorbeeld:

  • ʼn Vrou wat deur die biskop geroep en afgesonder word as die wyk se Verligtingsvereniging-president, word die gesag gegee om die werk van die Verligtingsvereniging in die wyk te lei.

Almal wat geroep en afgesonder word, dien onder die leiding van diegene wat oor hulle presideer (sien 3.4.1.2).

3.4.3.2

Toegewysde Taak

Presiderende Kerkleiers kan gesag delegeer deur toegewysde take. Wanneer mans en vroue hierdie toegewysde take ontvang, word hulle die gesag van God gegee om te handel. Byvoorbeeld:

  • Die Eerste Presidensie en die Kworum van die Twaalf Apostels delegeer gesag aan Sewentigs wat toegewysde take ontvang het om areas te beheer en te presideer by penkonferensies.

  • Gesag word aan Kerklede gedelegeer om te dien as bedieningsbroers en bedieningsusters.

Gesag wat gedelegeer word deur ʼn toegewysde taak is beperk tot die spesifieke verantwoordelikhede en duur van die toegewysde taak.

3.4.4

Regverdige Uitoefening van Priesterskapsgesag

Hierdie gesag kan slegs in regverdigheid gebruik word (sien Leer en Verbonde 121:36). Dit word beoefen deur oorreding, lankmoedigheid, saggeaardheid, sagmoedigheid, liefde en vriendelikheid (sien Leer en Verbonde 121:41–42).

Diegene wat priesterskapsgesag uitoefen, forseer nie hulle wil op andere af nie. Hulle gebruik dit nie vir selfsugtige redes nie.

3.5

Priesterskapsmag

Priesterskapsmag is die mag waardeur God sy kinders seën. God se priesterskapsmag vloei na alle lede van die Kerk—vroulik en manlik—wanneer hulle die verbonde onderhou wat hulle met Hom gesluit het. Lede sluit hierdie verbonde wanneer hulle priesterskapsordinansies ontvang. (Sien Leer en Verbonde 84:19–20.)

Die seëninge van priesterskapsmag wat lede kan ontvang, sluit in:

  • Leiding vir hulle lewens.

  • Inspirasie om te weet hoe om familielede en andere te dien.

  • Krag om uitdagings te verduur en te oorkom.

  • Gawes van die Gees om hulle vermoëns te vergroot.

  • Openbaring om te weet hoe om die werk te vervul waarvoor hulle geordineer, afgesonder of aangewys is.

  • Hulp en krag om meer soos Jesus Christus en Hemelse Vader te word.

3.5.1

Verbonde

ʼn Verbond is ʼn heilige belofte tussen God en sy kinders. God gee die voorwaardes vir die verbond, en sy kinders stem in om daardie voorwaardes te gehoorsaam. God belowe om sy kinders te seën wanneer hulle die verbond onderhou.

Almal wat tot die einde volhard deur hulle verbonde te onderhou, sal die ewige lewe beërwe (sien 2 Nefi 31:17–20; Leer en Verbonde 14:7).

Ouers, Kerkleiers en andere help individue om voor te berei om verbonde te sluit wanneer hulle die ordinansies van die evangelie ontvang. Hulle verseker dat die persoon die verbonde verstaan wat hy of sy gaan sluit. Nadat ʼn persoon ʼn verbond gesluit het, help hulle hom of haar om dit te onderhou. (Sien Mosia 18:8–11, 23–26.)

3.5.2

Ordinansies

ʼn Ordinansie is ʼn heilige daad wat deur die gesag van die priesterskap uitgevoer word.

In baie ordinansies sluit individue verbonde met God. Voorbeelde sluit in die doop, die nagmaal, die begiftiging, en die huweliksverseëlingsordinansie.

Ordinansies van heil en verheffing is noodsaaklik vir die ewige lewe. Vir meer inligting, sien 18.1.

3.6

Die Priesterskap en die Huis

Alle Kerklede wat hulle verbonde onderhou—vroue, mans en kinders—word geseën met God se priesterskapsmag in hulle huise om hulleself en hul families te versterk (sien 3.5). Hierdie mag sal lede help in God se werk van heil en verheffing in hulle persoonlike lewens en families (sien 2.2).

Mans wat die Melgisédekse Priesterskap hou, kan priesterskapseëninge aan familielede gee om leiding, genesing en vertroosting te bied. Wanneer nodig, kan Kerklede ook uitgebreide familielede, bedieningsbroers of plaaslike Kerkleiers nader vir hierdie seëninge.

Druk