2017
Mik vir die Middel
Januarie 2017


Eerste Presidentskap-boodskap, Januarie 2017

Mik vir die Middel

Ek het onlangs ʼn groep mense dopgehou wat die . boogskietkuns beoefen het. Bloot deur hulle .dop te hou, het ek besef dat dit baie tyd en oefening neem om die pyl en boog te bemeester.

Ek glo nie dat jy ʼn reputasie kan opbou as ʼn uitstekende boogskutter deur na ʼn leë muur te skiet en dan teikens om die pyle te trek nie. Jy sal die kuns moet aanleer om die teiken te vind en die kol raak te skiet.

Om Teikens Te Verf

Deur eers te skiet en dan die teiken te verf mag dalk bietjie dwaas klink, maar tog weerspieël ons self hierdie tipe gedrag in ander omstandighede in ons lewens.

As lidmate van die Kerk, neig ons om onsself te heg aan evangeliese programme, kwessies, en selfs leerstellinge wat vir ons interessant, belangrik, of aangenaam blyk. Ons word in versoeking gelei om teikens om hulle te teken, en maak onsself wys dat ons na die middel van die evangelie mik.

Dit is maklik om te doen.

Deur die eeue het ons uitstekende raad en inspirasie vanaf die profete van God ontvang. Ons ontvang ook leiding en verduideliking vanuit verskeie publikasies, handboeke, en handleidings van die Kerk. Ons kan maklik ʼn gunsteling evangeliese onderwerp kies, ʼn teiken rondom dit teken, en ʼn saak maak om te wys dat ons die middelpunt van die evangelie gevind het.

Die Verlosser Verduidelik

Dit is nie ʼn probleem wat uniek is aan ons tyd nie. Eertyds het godsdienstige leiers baie ure gespandeer deur gebooie te katalogiseer, te rangskik en gedebatteer om te besluit watter van die honderde gebooie die belangrikste is.

Een dag het ʼn groep godsdienstige kenners probeer om die Verlosser by hierdie twispunt te betrek. Hulle het Hom gevra om kommentaar te lewer oor ʼn saak waaroor daar geen eenstemmigheid was nie.

“Meester,” het hulle Hom gevra, “wat is die groot gebod in die wet?”

Ons weet almal wat Jesus geantwoord het: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

“Dit is die eerste en groot gebod.

“En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

“Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”1

Slaan asseblief ag op die laaste sin: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”

Die Verlosser het nie net vir ons die teiken aangewys nie, maar Hy het die kol geïdentifiseer.

Om die Teiken te Tref

As lidmate van die Kerk, sluit ons ʼn verbond om die naam van Christus op onsself te neem. Inbegrepe in daardie verbond is die verstandhouding dat ons sal strewe om aangaande God te leer, Hom lief te hê, ons geloof in Hom te vergroot, Hom te eer, in Sy paaie te wandel, en standvastig te staan as ʼn getuie van Hom.

Hoe meer ons aangaande God leer en Sy liefde vir ons aanvoel, besef ons dat die oneindige offerande van Jesus Christus ʼn Godgegewe gawe is. En God se liefde inspireer ons om die pad van ware bekering te gebruik, wat na die wonderwerk van vergifnis sal lei. Hierdie proses stel ons in staat om groter liefde en meegevoel te hê vir diegene om ons. Ons sal leer om verby etikette te sien. Ons sal die versoeking weerstaan om andere te beskuldig of te oordeel weens hulle sondes, tekortkominge, foute, politieke sienswyses, godsdienstige oortuigings, nasionaliteite, of velkleur.

Ons sal almal wat ons ontmoet sien as ʼn kind van ons Hemelse Vader—ons broer of ons suster.

Ons sal na andere uitreik in begrip en liefde—selfs diegene wat nie noodwendig maklik is om lief te hê nie. Ons sal treur met diegene wat treur en diegene troos wat vertroosting nodig het.2

En ons sal besef dat daar geen rede is vir ons om te worstel oor die korrekte evangeliese teiken nie.

Die twee groot gebooie is die teiken. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.3 As ons dit aanvaar sal alle ander goeie dinge in plek val.

As ons primêre fokus, gedagtes, en pogings gesentreer is om ons liefde vir die Almagtige God te vermeerder en om ons harte na andere uit te reik, kan ons weet dat ons die regte teiken gevind het en mik na die kol—besig om ware dissipels van Jesus Christus te word.

Onderrig uit Hierdie Boodskap

Voordat u hierdie boodskap deel, kan u “Our Savior’s Love” sing (Hymns, no. 113) Oorweeg dit om diegene wat jy onderrig aan te moedig om na te dink oor die “teikens” in hulle lewens. Jy kan maniere bespreek hoe die twee groot gebooie—om “die Here jou God lief te hê” en om “jou naaste lief te hê soos jouself” (sien Matthéüs 22:37, 39)—altyd hulle aksies kan beïnvloed. Jy mag dalk ook spesifieke maniere deel oor hoe jy jou lewe op Christus gefokus het en getuienis lewer oor hoe dit jou lewe geseën het.