“38. Kerkbeleid en Riglyne,” Seleksies uit die Algemene Handleiding (2023).
“38. Kerkbeleid en Riglyne,” Seleksies uit die Algemene Handleiding
38.
Kerkbeleid en Riglyne
38.1
Kerkdeelname
Ons Hemelse Vader het sy kinders lief. “Almal is gelyk voor God,” en Hy nooi almal “om na Hom te kom en deel te hê aan sy goedheid” (2 Nefi 26:33).
38.1.1
Bywoning van Kerkvergaderings
Almal is welkom om nagmaaldienste, ander Sondagvergaderings en sosiale geleenthede van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae by te woon. Die presiderende beampte is verantwoordelik om te verseker dat almal wat dit bywoon, respek toon vir die heilige omgewing.
Diegene wat dit bywoon moet ontwrigtings of afleidings vermy wat strydig is met aanbidding of ander doeleindes van die vergadering. Alle ouderdoms- en gedragsvereistes van verskillende vergaderings en geleenthede moet gerespekteer word. Dit vereis weerhouding van openlike romantiese gedrag en van kleredrag of versorging wat afleiding veroorsaak. Dit sluit ook die maak van politieke uitsprake of gesprekke oor seksuele oriëntasie of ander persoonlike karaktertrekke uit, wat afbreuk doen aan vergaderings wat op die Saligmaker gefokus is.
Indien daar onvanpaste gedrag is, gee die biskop of penpresident privaat raad in ʼn gees van liefde. Hy moedig diegene wie se gedrag onvanpas is vir die geleentheid aan om daarop te fokus om ʼn heilige ruimte vir almal teenwoordig te help handhaaf met ʼn spesiale klem op die aanbidding van Hemelse Vader en die Saligmaker.
Kerkgeboue bly privaateiendom, onderhewig aan Kerkbeleide. Persone wat onwillig is om hierdie riglyne te volg, sal op ʼn beleefde wyse gevra word om nie Kerkvergaderings en geleenthede by te woon nie.
38.2
Beleide vir Ordinansies en Seëninge
Algemene inligting oor ordinansies en seëninge word verskaf in hoofstuk 18. Inligting oor tempelordinansies word verskaf in hoofstukke 27 en 28. Biskoppe kan die penpresident kontak indien hulle vrae het. Penpresidente kan die Area Presidensie kontak indien hulle vrae het.
38.3
Siviele Huwelike
Kerkleiers moedig lede aan om te kwalifiseer vir ʼn tempelhuwelik en om in ʼn tempel te trou en verseël te word. Indien dit deur plaaslike wette toegelaat word, kan Kerkleiers egter siviele huwelike uitvoer.
Siviele huwelike moet uitgevoer word in ooreenstemming met die wette van die plek waar die huwelik uitgevoer word.
38.3.1
Wie Mag ʼn Siviele Huwelik Uitvoer
Wanneer dit deur plaaslike wetgewing toegelaat word, kan die volgende Kerkamptenare wat tans dien, in hul roeping optree om ʼn siviele huwelikseremonie uit te voer.
-
Sendingpresident
-
Penpresident
-
Distrikspresident
-
Biskop
-
Takpresident
Hierdie beamptes kan slegs ʼn siviele huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou uitvoer. Al die volgende voorwaardes moet ook geld:
-
Die bruid of die bruidegom is ʼn lid van die Kerk of het ʼn doopdatum.
-
Die bruid óf die bruidegom se lidmaatskapsrekord is, of sal ná die doop, in die Kerkeenheid wees waaroor die amptenaar presideer.
-
Die Kerkamptenaar is wetlik gemagtig om by ʼn siviele huwelik op te tree in die jurisdiksie waar die huwelik sal plaasvind.
38.3.4
Siviele Huwelike wat in Kerkgeboue Gehou Word
ʼn Huwelikseremonie kan in ʼn Kerkgebou gehou word as dit nie die program van gereelde Kerk-aktiwiteite ontwrig nie. Troues moet nie op die Sabbat of op Maandagaande gehou word nie. Huwelike wat in Kerkgeboue uitgevoer word, moet eenvoudig en waardig wees. Musiek moet heilig, eerbiedig en vreugdevol wees.
Huwelike kan in die kapel, kerksaal of ʼn ander geskikte vertrek voltrek word. Troues moet die riglyne vir die behoorlike gebruik van die kerkgebou volg.
38.3.6
Siviele Huwelikseremonie
Om ʼn siviele huwelik uit te voer, spreek die Kerkamptenaar die paartjie aan en sê: “Neem mekaar asseblief aan die regterhand.” Hy sê dan: “[Bruidegom se volle naam] en [bruid se volle naam], julle het mekaar aan die regterhand geneem as ʼn teken van die geloftes wat julle nou in die teenwoordigheid van God en hierdie getuies sal aangaan.” (Die paartjie kan hierdie getuies voor die tyd kies of nomineer.)
Die amptenaar spreek dan die bruidegom aan en vra: “[Bruidegom se volle naam], neem jy [bruid se volle naam] as jou wettig getroude vrou en belowe jy uit jou eie vrye wil en keuse plegtig as haar metgesel en wettig getroude man dat jy haar sal aankleef en niemand anders nie; dat jy al die wette, verantwoordelikhede en verpligtinge met betrekking tot die heilige staat van die huwelik sal nakom en dat jy haar sal liefhê, eer en koester solank as wat julle albei sal lewe?”
Die bruidegom antwoord: “Ja” of “Ek sal.”
Die Kerkamptenaar spreek dan die bruid aan en vra: “[Bruid se volle naam], neem jy [bruidegom se volle naam] as jou wettig getroude man en belowe jy uit jou eie vrye wil en keuse plegtig as sy metgesel en wettig getroude vrou dat jy hom sal aankleef en niemand anders nie; dat jy al die wette, verantwoordelikhede en verpligtinge met betrekking tot die heilige staat van die huwelik sal nakom en dat jy hom sal liefhê, eer en koester solank as wat julle albei sal lewe?”
Die bruid antwoord: “Ja” of “Ek sal.”
Die Kerkamptenaar spreek dan die paartjie aan en sê: “Uit hoofde van die wetlike gesag wat in my as ouderling van Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae berus, verklaar ek jou, [bruidegom se naam] en [bruid se naam], man en vrou, wettig getroud vir die tydperk van julle sterflike lewens.”
(Alternatiewe bewoording vir ʼn kapelaan wat nie as ʼn presiderende Kerkamptenaar dien nie: “Uit hoofde van die wetlike gesag wat in my as ʼn kapelaan in die [tak van die weermag of siviele organisasie] berus, verklaar ek jou, [bruidegom se naam] en [bruid se naam], man en vrou, wettig getroud vir die tydperk van julle sterflike lewens.”)
“Mag God julle verbintenis seën met vreugde in jul nageslag en ʼn lang, gelukkige lewe saam, en mag Hy julle seën om die geloftes wat julle gemaak het heilig te hou. Hierdie seëninge smeek ek af oor julle in die Naam van die Here Jesus Christus, amen.”
Die uitnodiging om mekaar te soen as man en vrou is opsioneel, gebaseer op kulturele norme.
38.4
Verseëlingsbeleide
Die tempelverseëlingsordinansies verbind families vir die ewigheid wanneer lede daarna streef om die verbonde wat hulle sluit wanneer hulle die ordinansie ontvang, te eerbiedig. Verseëlingsordinansies sluit in:
-
Verseëling van ʼn man en vrou.
-
Verseëling van kinders aan ouers.
Diegene wat hulle verbonde onderhou, sal die individuele seëninge wat deur die verseëling voorsien word, behou. Dit is waar, selfs as die persoon se eggenoot die verbonde verbreek het, of uit die huwelik onttrek.
Getroue kinders wat aan ouers verseël is, of in die verbond gebore is, behou die seëning van ewige ouerskap. Dit is waar, selfs as hulle ouers hul huweliksverseëling verbreek, hul Kerklidmaatskap onttrek of hul lidmaatskap bedank.
Lede moet met hulle biskop beraadslaag indien hulle vrae het oor verseëlingsbeleide. Die biskop kontak die penpresident indien hy vrae het. Penpresidente kan die tempelpresidensie in hul tempeldistrik, die Area Presidensie of die Kantoor van die Eerste Presidensie kontak indien hulle vrae het.
38.5
Tempelkleding en Kledingstukke
38.5.1
Tempelkleding
Tydens die begiftiging en verseëlingsordinansies in die tempel, dra Kerklede wit klere. Vroue dra die volgende wit klere: ʼn langmou of driekwartmou rok (of ʼn romp en langmou of driekwartmou bloes), sokkies of kouse en skoene of pantoffels.
Mans dra die volgende wit klere: ʼn langmou hemp, das of strikdas, broek, sokkies en skoene of pantoffels.
Tydens die begiftiging en verseëlingsordinansies, trek lede bykomende seremoniële klere oor hul wit klere aan.
38.5.2
Verkryging van Tempelkleding en Kledingstukke
Wyks- en penleiers moedig begiftigde lede aan om hul eie tempelklere te kry. Tempelkleding en kledingstukke kan van ʼn Kerkverspreidingswinkel gekoop word of by store.ChurchofJesusChrist.org. Pen- en wyksklerke kan lede help om klere te bestel.
38.5.5
Die Dra en Versorging van die Kledingstuk
Lede wat die begiftiging ontvang, sluit ʼn verbond om die tempelkleding regdeur hulle lewens te dra.
Dit is ʼn heilige voorreg om die tempelkleding te dra. Om dit te doen is ʼn uiterlike uitdrukking van ʼn innerlike toewyding om die Saligmaker Jesus Christus te volg.
Die kleding is ʼn herinnering aan verbonde wat in die tempel gesluit is. Wanneer dit behoorlik deur die lewe gedra word, sal dit as beskerming dien.
Die kleding moet onder die buiteklere gedra word. Dit is ʼn kwessie van persoonlike voorkeur of ander onderklere oor of onder die tempelkleding gedra word.
Die kleding moet nie verwyder word vir aktiwiteite wat redelikerwys gedoen kan word met die kleding aan nie. Dit moet nie verander word om verskillende klerestyle te akkommodeer nie.
Die kleding is heilig en moet met respek behandel word. Begiftigde lede moet die leiding van die Heilige Gees soek om persoonlike vrae oor die dra van die kleding te beantwoord.
38.5.7
Die Wegdoen van Kledingstukke en Seremoniële Tempelkleding
Om verslete tempelklere weg te doen, moet lede die merke uitsny en vernietig. Lede sny dan die oorblywende materiaal op sodat dit nie as ʼn kledingstuk geïdentifiseer kan word nie. Die oorblywende materiaal kan weggegooi word.
Lede kan kledingstukke en tempelkleding wat in ʼn goeie toestand is aan ander begiftigde lede gee.
38.5.8
Tempelbegrafniskleding
Indien moontlik, moet afgestorwe lede wat begiftig is in tempelkleding begrawe of veras word. Indien kulturele tradisies of begrafnispraktyke dit onvanpas of moeilik maak, kan die klere gevou en langs die liggaam geplaas word.
ʼn Man se liggaam word in tempelkleding geklee en die volgende wit klere: ʼn langmou hemp, das of strikdas, broek, sokkies en skoene of pantoffels. ʼn Vrou se liggaam word in tempelkleding geklee en die volgende wit klere: ʼn langmou of driekwartmou rok (of ʼn romp en langmou of driekwartmou bloes), sokkies of kouse en skoene of pantoffels.
Seremoniële tempelkleding word op die liggaam geplaas soos in die begiftiging voorgeskryf. Die kleding word op die regterskouer geplaas en met die trekkoord aan die linkerkant van die middellyf vasgebind. Die voorskoot word om die middellyf vasgebind. Die serp word om die middellyf geplaas en in ʼn strik oor die linkerkantse heup vasgebind. ʼn Man se hoofbedekking word gewoonlik langs sy liggaam geplaas totdat dit tyd is om die kis of houer toe te maak. Die hoofbedekking word dan met die strik oor die linkerkantse oor geplaas. ʼn Vrou se sluier kan op die kussing aan die agterkant van haar hoof gedrapeer word. Die versluiering van ʼn vrou se gesig voor die begrafnis of verassing is opsioneel soos deur die familie bepaal word.
38.6
Beleid oor Morele Kwessies
38.6.1
Aborsie
Die Here het gebied: “Jy sal nie … doodmaak, nóg iets dergeliks doen” (Leer en Verbonde 59:6). Die Kerk staan vrywillige aborsie vir persoonlike of sosiale gerief teen. Lede moet hulle nie aan aborsie onderwerp, dit uitvoer, reël, instem daartoe, of aanmoedig nie. Die enigste moontlike uitsonderings is wanneer:
-
Swangerskap die gevolg is van gewelddadige verkragting of bloedskande.
-
ʼn Bevoegde geneesheer bepaal dat die lewe of gesondheid van die moeder in ernstige gevaar is.
-
ʼn Bevoegde geneesheer bepaal dat die fetus ernstige defekte het wat die baba nie sal laat oorleef na geboorte nie.
Selfs hierdie uitsonderings regverdig nie aborsie outomaties nie. Aborsie is ʼn baie ernstige saak. Dit moet slegs oorweeg word nadat die persone bevestiging deur gebed ontvang het. Lede kan met hul biskoppe beraadslaag as deel van hierdie proses.
38.6.2
Mishandeling
Mishandeling is die slegte behandeling of verwaarlosing van ander op ʼn wyse wat fisiese, seksuele, emosionele of finansiële skade kan veroorsaak. Die Kerk se posisie is dat mishandeling in enige vorm nie geduld kan word nie. Diegene wat hul eggenoot, kinders of ander familielede of enigiemand anders mishandel, oortree die wette van God en die mens.
Alle lede, veral ouers en leiers, word aangemoedig om waaksaam en ywerig te wees en alles in hulle vermoë te doen om kinders en ander teen mishandeling te beskerm. As lede bewus raak van gevalle van mishandeling, meld hulle dit aan by burgerlike owerhede en hou beraad met die biskop. Kerkleiers moet berigte van mishandeling ernstig opneem en dit nooit verontagsaam nie.
Alle volwassenes wat met kinders of jeug werk moet kinder- en jeugbeskermingsopleiding binne een maand nadat hulle onderskraag is, voltooi (sien ProtectingChildren.ChurchofJesusChrist.org). Hulle moet die opleiding elke drie jaar herhaal.
Wanneer mishandeling plaasvind, is die eerste en onmiddellike verantwoordelikheid van Kerkleiers om diegene wat mishandel is te help, en om kwesbare persone teen mishandeling in die toekoms te beskerm. Leiers moet nie ʼn persoon aanmoedig om in ʼn huis of situasie te bly waar misbruik voorkom, of wat onveilig is nie.
38.6.2.1
Mishandelingshulplyn
Die Kerk het ʼn vertroulike mishandelingshulplyn in sommige lande gevestig om penpresidente en biskoppe by te staan. Hierdie leiers moet die hulplyn spoediglik skakel oor elke situasie waar ʼn persoon moontlik mishandel is—of in gevaar is om mishandel te word. Hulle moet dit ook skakel as hulle bewus word van ʼn lid wat na kinderpornografie kyk, koop of versprei.
In lande wat nie ʼn hulplyn het nie, moet ʼn biskop wat bewus word van mishandeling, sy penpresident kontak. Die penpresident moet leiding soek van die area regsadviseur by die areakantoor.
38.6.2.2
Berading in Gevalle van Mishandeling
Slagoffers van mishandeling ly dikwels ernstige trauma. Penpresidente en biskoppe reageer met opregte medelye en empatie. Hulle voorsien geestelike berading en ondersteuning om slagoffers te help om die vernietigende gevolge van mishandeling te bowe te kom.
Slagoffers het soms skaamtegevoelens of skuldgevoelens. Slagoffers is nie skuldig aan sonde nie. Leiers help hulle en hul gesinne om God se liefde en die genesing wat deur Jesus Christus en sy Versoening kom, te verstaan (sien Alma 15:8; 3 Nefi 17:9).
Penpresidente en biskoppe moet diegene wat mishandeling gepleeg het help om te bekeer en om hul mishandelingsgedrag te staak. Indien ʼn volwassene ʼn seksuele sonde teenoor ʼn kind gepleeg het, kan die gedrag baie moeilik wees om te verander. Die proses van bekering kan baie uitgerek wees. Sien 38.6.2.3.
Benewens die ontvangs van die geïnspireerde hulp van Kerkleiers, het slagoffers, oortreders en hulle gesinne moontlik professionele berading nodig. Vir inligting, sien 31.3. 6.
38.6.2.3
Kinder- of Jeugmishandeling
Die mishandeling van ʼn kind of jeugdige is veral ʼn ernstige sonde (sien Lukas 17:2). Soos hier gebruik, sluit kinder- of jeugmishandeling die volgende in:
-
Fisiese mishandeling: Om ernstige liggaamlike leed deur fisiese geweld aan te rig. Sommige leed mag dalk nie sigbaar wees nie.
-
Seksuele mishandeling of uitbuiting: Om enige seksuele aktiwiteit met ʼn kind of jeugdige te hê of om ander doelbewus toe te laat of te help om sulke aktiwiteite te hê. Soos hier gebruik, sluit seksuele mishandeling nie konsensuele seksuele aktiwiteit tussen twee minderjariges wat ongeveer dieselfde ouderdom is, in nie.
-
Emosionele mishandeling: Die gebruik van aksies en woorde om ʼn kind of jeugdige se gevoel van selfrespek of eiewaarde ernstig te beskadig. Dit behels gewoonlik herhaalde en voortgesette beledigings, manipulasies en kritiek wat verneder en verkleineer. Dit kan ook growwe verwaarlosing insluit.
-
Kinderpornografie: Sien 38.6.6
As ʼn biskop of penpresident verneem van kinder- of jeugmishandeling of dit vermoed, volg hy dadelik die instruksies in 38.6.2.1. Hy doen ook stappe om te help beskerm teen verdere mishandeling.
ʼn Kerklidmaatskapsraad en aantekening op die rekord word vereis indien ʼn volwasse lid ʼn kind of jeugdige mishandel soos beskryf in hierdie afdeling. Sien ook 38.6.2.5.
As ʼn minderjarige ʼn kind mishandel, kontak die penpresident die Kantoor van die Eerste Presidensie vir leiding.
38.6.2.4
Mishandeling van ʼn Huweliksmaat of ʼn Ander Volwassene
Daar is dikwels nie ʼn enkele definisie van mishandeling wat in alle situasies toegepas kan word nie. In plaas daarvan, is daar ʼn spektrum van erns in mishandelingsgedrag. Hierdie spektrum wissel van die gebruik van skerp woorde af en toe tot die aanrig van ernstige skade.
As ʼn biskop of penpresident van misbruik van ʼn huweliksmaat of ʼn ander volwassene verneem, volg hy spoediglik die instruksies in 38.6.2.1. Hy doen ook stappe om te help beskerm teen verdere mishandeling.
Leiers soek die leiding van die Gees om te bepaal of persoonlike berading of ʼn lidmaatskapsraad die geskikste opsie is om misbruik aan te spreek. Hulle kan ook met hul direkte priesterskapsleier oor die opsie beraadslaag. Enige misbruik van ʼn gade of ʼn ander volwassene wat tot die vlakke styg wat hieronder beskryf word, vereis egter dat ʼn lidmaatskapsraad gehou word.
-
Fisiese mishandeling: Om ernstige liggaamlike leed deur fisiese geweld aan te rig. Sommige leed mag dalk nie sigbaar wees nie.
-
Seksuele mishandeling: Sien die situasies gespesifiseer in 38.6.18.3.
-
Emosionele mishandeling: Die gebruik van aksies en woorde om ʼn persoon se gevoel van selfrespek of eiewaarde ernstig te beskadig. Dit behels gewoonlik herhaalde en voortgesette beledigings, manipulasies en kritiek wat verneder en verkleineer.
-
Finansiële mishandeling: Om iemand finansieel uit te buit. Dit kan die onwettige of ongemagtigde gebruik van ʼn persoon se eiendom, geld of ander waardevolle items insluit. Dit kan ook die bedrieglike verkryging van finansiële mag oor iemand insluit. Dit kan die gebruik van finansiële mag om gedrag af te dwing, insluit.
38.6.2.5
Kerkroepings, Tempelaanbevelings en Lidmaatskapsrekord-aantekeninge
Lede wat ander mishandel het moet nie Kerkroepings gegee word nie en mag nie ʼn tempelaanbeveling hê voordat hulle bekeer het nie en Lidmaatskapsbeperkings verwyder is nie.
Indien ʼn persoon ʼn kind of jeugdige seksueel mishandel het of ʼn kind of jeugdige fisies of emosioneel ernstig mishandel het, sal dit op sy of haar lidmaatskapsrekord aangeteken word. Hy of sy moet nie enige roeping of opdrag gegee word wat kinders of jeugdiges betrek nie. Dit sluit in dat daar nie ʼn bedieningstoewysing gegee word aan ʼn gesin met jeugdiges of kinders in die huis nie. Dit sluit ook in om nie ʼn jeugdige as ʼn bedieningsmetgesel te hê nie. Hierdie beperkings moet in plek bly tensy die Eerste Presidensie die verwydering van die aantekening magtig.
38.6.2.6
Pen- en Wyksrade
In pen- en wyksraadsvergaderings hersien penpresidente en bisdomme gereeld Kerkbeleid en riglyne oor die voorkoming en reaksie op mishandeling. Leiers en raadslede soek die leiding van die Gees terwyl hulle hierdie sensitiewe onderwerp onderrig en bespreek.
Raadslede moet ook kinder- en jeugbeskermingsopleiding voltooi (sien 38.6.2).
38.6.2.7
Regskwessies met Betrekking tot Mishandeling
As ʼn lid se misbruik-aktiwiteite toepaslike wetgewing oortree het, moet die biskop of penpresident die lid aanmoedig om hierdie aktiwiteite by wetstoepassingspersoneel of ander toepaslike regeringsowerhede aan te meld.
Kerkleiers en lidmate moet alle wetlike verpligtinge nakom om mishandeling by burgerlike owerhede aan te meld.
38.6.4
Geboortebeperking
Dit is die voorreg van getroude paartjies wat in staat is om kinders te baar, om sterflike liggame vir die geesteskinders van God te voorsien, en vir wie hulle dan verantwoordelik is om te koester en groot te maak (sien 2.1.3). Die besluit oor hoeveel kinders om te hê en wanneer om hulle te hê is uiters persoonlik en privaat. Dit moet tussen die paartjie en die Here gelaat word.
38.6.5
Kuisheid en Getrouheid
Die Here se wet van kuisheid is:
-
Onthouding van seksuele verhoudings buite ʼn wettige huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou.
-
Getrouheid binne die huwelik.
Fisiese intimiteit tussen man en vrou is bedoel om mooi en heilig te wees. Dit is deur God verordineer vir die skepping van kinders en die uitdrukking van liefde tussen man en vrou.
38.6.6
Kinderpornografie
Die Kerk veroordeel kinderpornografie in enige vorm. As ʼn biskop of penpresident verneem dat ʼn lid by kinderpornografie betrokke is, volg hy dadelik die instruksies in 38.6.2.1.
38.6.8
Vroulike Genitale Verminking
Die Kerk veroordeel vroulike genitale verminking.
38.6.10
Bloedskande
Die Kerk veroordeel enige vorm van bloedskande. Soos hier gebruik, is bloedskande seksuele omgang tussen:
-
ʼn Ouer en ʼn kind.
-
ʼn Grootouer en ʼn kleinkind.
-
Broers en susters.
-
ʼn Oom of tante en ʼn niggie of neef.
Soos hier gebruik, sluit kind, kleinkind, broers en susters, niggie en neef biologiese, aangenome, stief- of pleegverhoudings in.
Wanneer ʼn minderjarige ʼn slagoffer van bloedskande is, skakel die biskop of penpresident die Kerk se mishandelingshulplyn in lande waar dit beskikbaar is (sien 38.6.2.1). In ander lande moet die penpresident leiding van die area se regsadviseur by die areakantoor soek. Hy word ook aangemoedig om beraad te hou met die Familiedienspersoneel of die welsyns- en selfonderhoudingsbestuurder by die areakantoor.
ʼn Kerklidmaatskapsraad en rekordaantekening word vereis indien ʼn lid bloedskande pleeg. Bloedskande vereis byna altyd dat die Kerk ʼn persoon se lidmaatskap moet onttrek.
As ʼn minderjarige bloedskande pleeg, kontak die penpresident die Kantoor van die Eerste Presidensie vir leiding.
Slagoffers van bloedskande ly dikwels ernstige trauma. Leiers reageer met opregte medelye en empatie. Hulle voorsien geestelike ondersteuning en berading om hul te help om die vernietigende gevolge van bloedskande te bowe te kom.
Slagoffers het soms skaamtegevoelens of skuldgevoelens. Slagoffers is nie skuldig aan sonde nie. Leiers help hulle en hul gesinne om God se liefde en die genesing wat deur Jesus Christus en sy Versoening kom, te verstaan (sien Alma 15:8; 3 Nefi 17:9).
Benewens die ontvangs van die geïnspireerde hulp van Kerkleiers, het slagoffers en hul gesinne moontlik professionele berading nodig. Vir inligting, sien 38.6.18.2.
38.6.12
Die Okkulte
Die okkulte fokus op duisternis en lei tot misleiding. Dit vernietig geloof in Christus.
Die okkulte sluit Satansaanbidding in. Dit sluit ook geheimsinnige aktiwiteite in wat nie in harmonie met die evangelie van Jesus Christus is nie. Sulke aktiwiteite sluit in (maar is nie beperk tot) fortuinvertellery, vloeke en genesingspraktyke wat nabootsings van die priesterskapskrag van God is (sien Moroni 7:11–17).
Kerklede moet nie betrokke raak by enige vorm van Satansaanbidding of deelneem aan enige manier met die okkulte nie. Hulle moet nie op sulke duisternis in gesprekke of in Kerkvergaderings fokus nie.
38.6.13
Pornografie
Die Kerk veroordeel pornografie in enige vorm. Die gebruik van pornografie van enige aard beskadig individuele lewens, gesinne en die samelewing. Dit verdryf ook die Gees van die Here. Kerklidmate moet alle vorme van pornografiese materiaal vermy en die produksie, verspreiding en gebruik daarvan teenstaan.
Persoonlike berading en informele lidmaatskapsbeperkings is gewoonlik voldoende wanneer ʼn persoon gehelp word om van die gebruik van pornografie te bekeer. Lidmaatskapsrade word normaalweg nie gehou nie. ʼn Raad kan egter nodig wees vir die intensiewe en kompulsiewe gebruik van pornografie wat beduidende skade aan ʼn lid se huwelik of familie veroorsaak het (sien 38.6.5). ʼn Raad word vereis indien ʼn lid pornografiese beelde van kinders maak, deel, besit of herhaaldelik daarna kyk (sien 38.6.6).
38.6.14
Vooroordeel
Alle mense is kinders van God. Almal is broers en susters wat deel is van sy goddelike familie (sien “Die Familie: ʼn Proklamasie aan die Wêreld”). God “het uit een bloed al die nasies [van die mensdom] gemaak” (Handelinge 17:26). “Almal is gelyk” voor Hom (2 Nefi 26:33). Elke persoon is “so kosbaar in sy oë as die ander” (Jakob 2:21).
Vooroordeel is nie in ooreenstemming met die geopenbaarde woord van God nie. Guns of onguns by God hang af van toewyding aan Hom en sy gebooie, nie van die kleur van ʼn persoon se vel of ander eienskappe nie.
Die Kerk doen ʼn beroep op alle mense om houdings en optredes van vooroordeel teenoor enige groep of individue te laat vaar. Lede van die Kerk moet lei in die bevordering van respek vir al God se kinders. Lede volg die Saligmaker se gebod om ander lief te hê (sien Matthéüs 22:35–39). Hulle streef daarna om persone van welwillendheid teenoor almal te wees, en vooroordeel van enige aard verwerp. Dit sluit vooroordeel gebaseer op ras, etnisiteit, nasionaliteit, stam, geslag, ouderdom, gestremdheid, sosio-ekonomiese status, godsdienstige oortuiging of ongeloof en seksuele oriëntasie in.
38.6.15
Aangetrokkenheid tot Dieselfde Geslag en Selfdegeslag-gedrag
Die Kerk moedig families en lede aan om uit te reik met sensitiwiteit, liefde en respek na persone wat aangetrokke is tot andere van dieselfde geslag. Die Kerk bevorder ook begrip in die breë samelewing wat sy leringe oor vriendelikheid, inklusiwiteit, liefde vir ander en respek vir alle mense weerspieël. Die Kerk neem nie ʼn standpunt in oor die oorsake van aangetrokkenheid tot dieselfde geslag nie.
God se gebooie verbied alle onkuise gedrag, heteroseksueel of selfdegeslag. Kerkleiers beraadslaag met lede wat die wet van kuisheid verbreek het. Leiers help hulle om ʼn duidelike begrip van geloof in Jesus Christus en sy Versoening te hê, die proses van bekering en die doel van lewe op die aarde.
Indien lede aangetrokkenheid tot dieselfde geslag voel en streef om die wet van kuisheid te leef, ondersteun en moedig leiers hulle aan in hul voorneme. Hierdie lede kan Kerkroepings ontvang, tempelaanbevelings hê en tempelordinansies ontvang indien hulle waardig is. Manlike Kerklede kan die priesterskap ontvang en uitoefen.
Alle lede wat hulle verbonde onderhou, sal alle beloofde seëninge in die ewigheid ontvang, of hulle omstandighede in hierdie lewe hul toelaat om die seëninge van ewigdurende huwelik en ouerskap te ontvang, of nie (sien Mosia 2:41).
38.6.16
Dieselfde Geslagshuwelik
As ʼn leerstellige beginsel, gebaseer op die skrifture, verklaar die Kerk dat die huwelik tussen ʼn man en ʼn vrou noodsaaklik is vir die Skepper se plan vir die ewige lot van sy kinders. Die Kerk verklaar ook dat God se wet die huwelik omskryf as die wettige verbintenis tussen ʼn man en ʼn vrou.
38.6.17
Seksonderrig
Ouers het die primêre verantwoordelik vir die seksonderrig van hul kinders. Ouers moet eerlike, duidelike en deurlopende gesprekke met hul kinders hê oor gesonde, geoorloofde seksualiteit.
38.6.18
Seksuele Mishandeling, Verkragting en Ander Vorms van Seksuele Aanranding
Die Kerk veroordeel seksuele mishandeling. Soos hier gebruik, word seksuele mishandeling gedefinieer as die pleeg van enige ongewenste seksuele aktiwiteit teenoor ʼn ander persoon. Seksuele aktiwiteit met ʼn persoon wat nie wettige toestemming gee of nie kan gee nie, word as seksuele mishandeling beskou. Seksuele mishandeling kan ook voorkom met ʼn huweliksmaat of in ʼn verhouding. Vir inligting oor seksuele misbruik van ʼn kind of jeugdige, sien 38.6.2.3.
Seksuele mishandeling dek ʼn wye verskeidenheid aksies van teistering tot verkragting en ander vorme van seksuele aanranding. Dit kan fisies, verbaal en op ander maniere voorkom. Vir leiding oor berading van lede wat seksuele mishandeling, verkragting of ander vorme van seksuele aanranding ervaar het, sien 38.6.18.2.
As lede vermoed of bewus word van seksuele mishandeling, tree hulle op om slagoffers en ander so gou as moontlik te beskerm. Dit sluit in rapportering aan burgerlike owerhede en om die aandag van die biskop of penpresident daarop te vestig. As ʼn kind mishandel is, moet lede die instruksies in 38.6.2 volg.
38.6.18.2
Berading vir Slagoffers van Seksuele Mishandeling, Verkragting en Ander Vorms van Seksuele Aanranding
Slagoffers van seksuele mishandeling, verkragting en ander vorms van seksuele aanranding lei dikwels aan ernstige trauma. Wanneer hulle hul vertroue in ʼn biskop of penpresident plaas, reageer hy met opregte deernis en empatie. Hy voorsien geestelike berading en ondersteuning om slagoffers te help om oor die vernietigende gevolge van mishandeling te kom. Hy skakel ook die Kerk se mishandelingshulplyn vir leiding waar dit beskikbaar is.
Soms het slagoffers gevoelens van skaamte of skuldgevoelens. Slagoffers is nie skuldig aan sonde nie. Leiers blameer nie die slagoffer nie. Hulle help slagoffers en hulle gesinne om God se liefde en die genesing wat deur Jesus Christus en sy Versoening kom, te verstaan (sien Alma 15:8; 3 Nefi 17:9).
Terwyl lede kan kies om inligting oor die mishandeling of aanranding te deel, moet leiers nie oormatig fokus op die besonderhede nie. Dit kan skadelik vir slagoffers wees.
Benewens die ontvangs van die geïnspireerde hulp van Kerkleiers, het slagoffers en hulle gesinne moontlik professionele berading nodig. Vir inligting, sien 31.3. 6.
38.6.18.3
Lidmaatskapsrade
ʼn Lidmaatskapsraad kan nodig wees vir ʼn persoon wat iemand seksueel aangerand of mishandel het. ʼn Lidmaatskapsraad word vereis indien ʼn lid verkragting gepleeg het of skuldig bevind word aan ʼn ander vorm van seksuele aanranding.
38.6.20
Selfmoord
Die sterflike lewe is ʼn kosbare geskenk van God—ʼn geskenk wat waardeer en beskerm moet word. Die Kerk ondersteun die voorkoming van selfmoord ten sterkste.
Die meeste mense wat aan selfmoord gedink het, wil verligting vind van fisiese, verstandelike, emosionele of geestelike pyn. Sulke individue benodig liefde, hulp en ondersteuning van familie, Kerkleiers en gekwalifiseerde professionele persone.
Die biskop bied geestelike ondersteuning indien ʼn lid selfmoord oorweeg of dit probeer het. Hy help ook dadelik die lid om professionele hulp te bekom.
Ongeag die beste pogings van geliefdes, leiers en professionele persone, is selfmoord nie altyd voorkombaar nie. Dit laat diep hartseer, emosionele omwenteling en onbeantwoorde vrae vir geliefdes en ander agter. Leiers moet raad gee en die gesin vertroos. Hulle bied versorging en ondersteuning.
Dit is nie reg vir ʼn persoon om sy of haar eie lewe te neem nie. Slegs God is egter in staat om die persoon se gedagtes, optrede en vlak van toerekenbaarheid te beoordeel (sien 1 Samuel 16:7; Leer en Verbonde 137:9).
Diegene wat ʼn geliefde verloor het aan selfmoord, kan hoop en genesing in Jesus Christus en sy Versoening vind.
38.6.23
Transgender-individue
Transgender-individue staar komplekse uitdagings in die gesig. Lede en nie-lede wat identifiseer as transgender—en hul familie en vriende—moet met sensitiwiteit, vriendelikheid, deernis en ʼn oorvloed van Christelike liefde behandel word. Almal is welkom om nagmaaldienste, ander Sondagvergaderings en sosiale geleenthede van die Kerk by te woon (sien 38.1.1).
Geslag is ʼn noodsaaklike kenmerk van Hemelse Vader se plan van geluk. Die bedoelde betekenis van geslag in die familieproklamasie is biologiese geslag by geboorte. Sommige mense ervaar gevoelens van ongemak tussen hul biologiese geslag en hul geslagsidentiteit. As gevolg hiervan kan hulle as transgender identifiseer. Die Kerk neem nie ʼn standpunt in oor die oorsake van mense wat as transgender identifiseer nie.
Die meeste Kerkdeelname en sommige priesterskapsordinansies is geslagsneutraal. Transgender-persone kan gedoop en bevestig word soos uiteengesit in 38.2.8.10. Hulle kan ook die nagmaal gebruik en priesterskapseëninge ontvang. Priesterskapsordinering en tempelordinansies word egter ontvang ooreenkomstig biologiese geslag by geboorte.
Kerkleiers raai vrywillige mediese of chirurgiese ingryping met die doel om na die teenoorgestelde geslag van ʼn persoon se biologiese geslag by geboorte oor te skakel, af (“geslagshertoewysing”). Leiers beveel aan dat hierdie aksies rede vir Kerklidmaatskapsbeperkings sal wees.
Leiers adviseer ook teen sosiale oorgang. ʼn Sosiale oorgang sluit in die verandering van kleredrag of versorging, of die verandering van ʼn naam of voornaamwoorde, om jouself voor te stel as anders as sy of haar biologiese geslag by geboorte. Leiers adviseer dat diegene wat sosiaal oorgaan, sekere Kerklidmaatskapsbeperkings vir die duur van hierdie oorgang sal ervaar.
Beperkings sluit in die ontvangs of uitoefening van die priesterskap, ontvangs of gebruik van ʼn tempelaanbeveling en die ontvangs van sekere Kerkroepings. Alhoewel sekere voorregte van Kerklidmaatskap beperk word, word ander Kerkdeelname verwelkom.
As ʼn lid besluit om sy of haar voorkeurnaam of aanspreekvoornaamwoorde te verander, kan die naamvoorkeur in die voorkeurnaamveld op die lidmaatskapsrekord aangeteken word. Die persoon kan op die voorkeurnaam in die wyk aangespreek word.
Omstandighede wissel grootliks van eenheid tot eenheid en persoon tot persoon. Lede en leiers beraadslaag biddend saam en met die Here. Area Presidensies sal plaaslike leiers help om individuele situasies sensitief aan te spreek. Biskoppe beraadslaag met die penpresident. Penpresidente en sendingpresidente moet raad van die Area Presidensie verkry (sien 32.6.3).
38.7
Mediese en Gesondheidsbeleide
38.7.2
Begrafnis en Verassing
Die familie van die afgestorwe persoon besluit of sy of haar liggaam begrawe of veras moet word. Hulle respekteer die wense van die individu.
In sommige lande vereis die wet verassing. In ander gevalle is begrafnis nie prakties of bekostigbaar vir die familie nie. In alle gevalle moet die liggaam met respek en eerbied behandel word. Lede moet verseker word dat die krag van die Opstanding altyd geld (sien Alma 11:42–45).
Waar moontlik, moet die liggaam van die afgestorwe lid wat begiftig is in seremoniële tempelklere geklee wees wanneer dit begrawe of veras word (sien 38.5.8).
38.7.3
Kinders Wat voor Geboorte Sterf (Doodgebore en Miskraamkinders)
Ouers kan besluit of hulle ʼn gedenkdiens of ʼn diens by die graf wil hou.
Tempelordinansies is nie nodig nie of word nie uitgevoer vir kinders wat voor geboorte sterf nie. Dit ontsê nie die moontlikheid dat hierdie kinders deel van die gesin in die ewigheid kan wees nie. Ouers word aangemoedig om die Here te vertrou en sy vertroosting te soek.
38.7.4
Genadedood
Die sterflike lewe is ʼn kosbare geskenk van God. Genadedood is om doelbewus ʼn persoon se lewe te beëindig wat aan ʼn ongeneeslike siekte of ander toestand ly. ʼn Persoon wat aan genadedood deelneem, insluitend om iemand te help om deur selfmoord te sterf, oortree die gebooie van God en kan plaaslike wette oortree.
Die staking of afsien van uiterste lewensondersteuningsmaatreëls vir ʼn persoon aan die einde van die lewe, word nie as genadedood beskou word nie (sien 38.7.11).
38.7.5
MIV-infeksie en VIGS
Lede wat met MIV (menslike immuniteitsgebreksvirus) besmet is of wat VIGS (verworwe immuniteitsgebreksindroom) het, moet by Kerkvergaderings en aktiwiteite verwelkom word. Hulle bywoning is nie ʼn gesondheidsrisiko vir ander nie.
38.7.8
Mediese en Gesondheidsorg
Om bekwame mediese hulp te soek, geloof te beoefen en priesterskapseëninge te ontvang, werk saam vir genesing, volgens die wil van die Here.
Lede moet nie mediese of gesondheidspraktyke wat eties, geestelik of wetlik betwyfelbaar is gebruik of bevorder nie. Diegene wat gesondheidsprobleme het, moet met bevoegde mediese professionele persone wat gelisensieer is konsulteer in die gebiede waar hulle praktiseer.
38.7.9
Mediese Marijuana
Die Kerk staan die gebruik van marijuana vir nie-mediese doeleindes teen. Sien 38.7.14.
38.7.11
Verlenging van Lewe (Insluitend Lewensondersteuning)
Lede moet nie verplig voel om hul sterflike lewe op ʼn uiterste wyse te verleng nie. Hierdie besluite word die beste deur die persoon geneem, indien moontlik, of deur familielede. Hulle moet bevoegde mediese advies en goddelike leiding deur gebed soek.
38.7.13
Inentings
Inentings wat deur bevoegde mediese professionele persone toegedien word, beskerm gesondheid en bewaar lewe. Lede van die Kerk word aangemoedig om hulself, hul kinders en hul gemeenskappe deur inenting te beskerm.
Uiteindelik is individue verantwoordelik om hul eie besluite oor inenting te neem. Indien lede bekommernisse het, moet hulle met bevoegde mediese professionele persone beraadslaag en ook die leiding van die Heilige Gees soek.
38.7.14
Woord van Wysheid en Gesonde Gewoontes
Die Woord van Wysheid is ʼn gebod van God. Profete het dit duidelik gemaak dat die leringe in Leer en Verbonde 89 die onthouding van tabak, sterk drank (alkohol) en warm drankies (tee en koffie) insluit.
Daar is ander skadelike stowwe en praktyke wat nie in die Woord van Wysheid of deur Kerkleiers gespesifiseer word nie. Lede moet wysheid en biddende oordeel gebruik om keuses te maak om hul fisiese, geestelike en emosionele gesondheid te bevorder.
38.8
Administratiewe Beleide
38.8.1
Aanneming en Pleegsorg
Die aanneming van kinders en verskaffing van pleegsorg kan kinders en gesinne seën. Liefdevolle, ewige gesinne kan deur aanneming geskep word. Of kinders na ʼn gesin kom deur aanneming of geboorte, is hulle ʼn ewe kosbare seëning.
Lede wat probeer om kinders aan te neem of pleegsorg aan kinders wil aanbied, moet alle toepaslike wette van die betrokke lande en regerings gehoorsaam.
38.8.4
Handtekeninge en Foto’s van Algemene Gesagsdraers, Algemene Leiers en Area Sewentigs
Kerklede moet nie die handtekeninge van Algemene Gesagsdraers, Algemene Leiers en Area Sewentigs vra nie. Deur dit te doen, word hulle afgelei van hul heilige roepings en die gees van vergaderings. Dit kan ook verhoed dat hulle ander lede groet.
Lede moet nie foto’s neem van Algemene Gesagsdraers, Algemene Leiers en Area Sewentigs in Kerkgeboue nie.
38.8.7
Kerktydskrifte
Die Kerktydskrifte sluit in:
-
Die Friend [Vriend] vir kinders.
-
For the Strength of Youth [Vir die Krag van die Jeug] vir die jeug.
-
Die Liahona vir volwassenes.
Die Eerste Presidensie moedig alle lede aan om die Kerktydskrifte te lees. Die tydskrifte kan lede help om die evangelie van Jesus Christus te leer, die leringe van die lewende profete te bestudeer, verbind te voel met die globale Kerkfamilie, uitdagings met geloof aan te durf en nader aan God te kom.
38.8.8
Kerknaam, Woordmerk en Simbool
Die Kerk se naam, woordmerk en simbool is belangrike Kerkidentifiseerders.
Woordmerk en simbool. Die Kerk se woordmerk en simbool (sien die illustrasie bo) moet slegs gebruik word soos deur die Eerste Presidensie en Kworum van die Twaalf Apostels goedgekeur. Dit mag nie as dekoratiewe elemente gebruik word nie. Dit mag ook nie in enige persoonlike, kommersiële of promosie-wyse gebruik word nie.
38.8.10
Rekenaars
Rekenaars en sagteware wat in Kerkgeboue gebruik word, word deur die Kerkhoofkwartier of die areakantoor voorsien en bestuur. Leiers en lede gebruik hierdie hulpbronne om Kerkdoeleindes te ondersteun, insluitend familiegeskiedeniswerk.
Alle sagteware op hierdie rekenaars moet behoorlik aan die Kerk gelisensieer wees.
38.8.12
Kurrikulummateriaal
Die Kerk voorsien materiaal om lede te help om die evangelie van Jesus Christus te leer en uit te leef. Dit sluit die skrifture, algemene konferensie boodskappe, tydskrifte, handleidings, boeke en ander hulpbronne in. Leiers moedig lede aan om die skrifture en ander hulpbronne te gebruik soos nodig om die evangelie by die huis te bestudeer.
38.8.14
Kleredrag en Voorkoms
Lede van die Kerk word aangemoedig om respek vir die liggaam te toon in hul keuses oor geskikte kleredrag en voorkoms. Wat gepas is, verskil oor kulture en vir verskillende geleenthede.
38.8.16
Vasdag
Lede kan enige tyd vas. Hulle onderhou egter gewoonlik die eerste Sabbat van die maand as ʼn vasdag.
ʼn Vasdag sluit gewoonlik gebed, geen voedsel en vloeistowwe vir ʼn 24-uur periode (indien fisies in staat) en ʼn ruimhartige vasofferande in. ʼn Vasofferande is ʼn skenking om behoeftiges te help (sien 22.2.2).
Soms word Kerkwye of plaaslike vergaderings op die eerste Sabbat van die maand gehou. Wanneer dit gebeur, bepaal die penpresidensie ʼn alternatiewe Sabbat vir vasdag.
38.8.17
Dobbelary en Loterye
Die Kerk staan dobbelary in enige vorm teen en adviseer daarteen. Dit sluit sportweddenskappe en staatsgeborgde loterye in.
38.8.19
Immigrasie
Lede wat in hul geboortelande bly, het dikwels geleenthede om die Kerk daar op te bou en te versterk. Immigrasie na ʼn ander land is egter ʼn persoonlike keuse.
Lede wat na ʼn ander land verhuis, moet alle toepaslike wette gehoorsaam (sien Leer en Verbonde 58:21).
Sendelinge moet nie aanbied om ander se immigrasie te borg nie.
38.8.22
Wette van die Land
Lede moet die wette gehoorsaam, eerbiedig en onderhou in enige land waar hulle woon of reis (sien Leer en Verbonde 58:21–22; Geloofsartikels 1:12). Dit sluit wette wat proselitering verbied in.
38.8.25
Lede se Kommunikasie met die Kerkhoofkwartier
Kerklede word ontmoedig om te bel, e-pos te stuur of briewe te skryf aan Algemene Gesagsdraers oor leerstellige vrae, persoonlike uitdagings of versoeke. Lede word aangemoedig om uit te reik na hul plaaslike leiers, insluitend hul Verligtingsverenigings- of ouderlingskworumpresident, wanneer geestelike leiding gesoek word (sien 31.3).
38.8.27
Lede met Gestremdhede
Leiers en lede word aangemoedig om die behoeftes van almal wat binne hul eenheid woon, aan te spreek. Lede met gestremdhede word waardeer en kan in betekenisvolle maniere bydra. Gestremdhede kan intellektueel, sosiaal, emosioneel of fisies wees.
38.8.29
Ander Gelowe
Baie wat inspirerend, edel en die hoogste respek waardig is, word in baie ander gelowe gevind. Sendelinge en ander lede moet baie sensitief en eerbiedig teenoor die oortuigings en tradisies van ander wees.
38.8.30
Politieke en Burgerlike Aktiwiteit
Kerklede word aangemoedig om deel te neem aan politieke en regeringsake. In baie lande kan dit insluit:
-
Om te stem.
-
Aansluit by of dien in politieke partye.
-
Verskaffing van finansiële ondersteuning.
-
Kommunikasie met party amptenare en kandidate.
-
Dien in verkose of aangestelde ampte in plaaslike en nasionale regering.
Lede word ook aangemoedig om deel te neem aan eerbare sake om hul gemeenskappe heilsame plekke te maak om in te woon en gesinne groot te maak.
Plaaslike Kerkleiers moet nie lede organiseer om aan politieke sake deel te neem nie. Leiers moet ook nie probeer om te beïnvloed hoe lede deelneem nie.
Leiers en lede moet ook uitsprake of gedrag vermy wat as Kerkgoedkeuring van enige politieke party, platform, beleid of kandidaat geïnterpreteer kan word.
38.8.31
Privaatheid van Lede
Kerkleiers is verplig om die privaatheid van lede te beskerm. Kerkrekords, naamlyste en soortgelyke materiaal mag nie vir persoonlike, kommersiële of politieke doeleindes gebruik word nie.
38.8.35
Vlugtelinge
As deel van hul verantwoordelikheid om vir die behoeftiges te sorg (sien Mosia 4:26), bied Kerklede hulle tyd, talente en vriendskap aan om vlugtelinge as lede van hul gemeenskappe te verwelkom.
38.8.36
Versoeke om Finansiële Bystand van die Kerk
Behoeftige lede word aangemoedig om met hul biskop te praat in plaas van om die Kerkhoofkwartier te kontak of geld van ander Kerkleiers of lede te versoek.