Hoofstuk 44
Moroni beveel die Lamaniete om ’n verbond van vrede te sluit óf om vernietig te word—Zerahemna verwerp die voorstel, en die stryd hervat—Moroni se leërs verslaan die Lamaniete. Ongeveer 74–73 v.C.
1 En dit het gebeur dat hulle opgehou het en ’n entjie teruggetrek het van hulle af. En Moroni het aan Zerahemna gesê: Kyk, Zerahemna, dat ons nie begeer om manne van bloed te wees nie. Julle weet dat julle in ons hande is, tog begeer ons nie om julle dood te maak nie.
2 Kyk, ons het nie uitgekom om teen julle te veg sodat ons julle bloed mag vergiet vir mag nie; nóg begeer ons om enigeen onder die juk van slawerny te bring. Maar dit is die ware rede waarom julle teen ons gekom het; ja, en julle is vertoornd op ons vanweë ons godsdiens.
3 Maar nou, julle sien dat die Here met ons is; en julle sien dat Hy julle in ons hande uitgelewer het. En nou wil ek hê dat julle moet verstaan dat dit aan ons gedoen is vanweë ons godsdiens en ons geloof in Christus. En nou sien julle dat julle nie dít, ons geloof, kan vernietig nie.
4 Nou sien julle dat dit die ware geloof van God is; ja, julle sien dat God ons sal onderskraag, en behoed, en bewaar, solank as ons getrou is aan Hom, en aan ons geloof, en ons godsdiens; en nooit sal die Here toelaat dat ons vernietig sal word nie behalwe as ons in oortreding sal verval en ons geloof loën.
5 En nou, Zerahemna, ek beveel julle in die naam van daardie almagtige God, wat ons arms versterk het sodat ons mag verkry het oor julle, deur ons geloof, deur ons godsdiens, en deur ons plegtighede van aanbidding, en deur ons kerk, en deur die heilige steun wat ons verskuldig is aan ons vroue en ons kinders, deur daardie vryheid wat ons verbind aan ons grond en ons land; ja, en ook deur die behoud van die heilige woord van God, waaraan ons al ons geluk verskuldig is; en deur alles wat vir ons die dierbaarste is—
6 Ja, en dit is nie al nie; ek beveel julle deur al die begeertes wat julle het vir die lewe, dat julle jul wapens van oorlog aan ons oorlewer, en ons sal nie julle bloed soek nie, maar ons sal julle lewens spaar, as julle jul koers sal gaan en nie weer kom om teen ons te veg nie.
7 En nou, as julle dit nie doen nie, kyk, julle is in ons hande, en ek sal my manne beveel dat hulle julle sal aanval, en die wonde van die dood in julle liggame sal toedien, sodat julle uitgewis mag word; en dan sal ons sien wie mag sal hê oor hierdie volk; ja, ons sal sien wie tot slawerny gebring sal word.
8 En nou het dit gebeur dat toe Zerahemna hierdie woorde gehoor het, het hy na vore gekom en sy swaard en sy sabel oorgelewer, en sy boog in die hande van Moroni, en het aan hom gesê: Kyk, hier is ons wapens van oorlog; ons sal hulle uitlewer aan jou, maar ons sal onsself nie toelaat om ’n eed teenoor julle te neem wat ons weet dat ons sal verbreek nie, en ook ons kinders; maar neem ons wapens van oorlog, en laat ons toe dat ons na die wildernis mag vertrek; anders sal ons ons swaarde behou, en ons sal vergaan of oorwin.
9 Kyk, ons is nie van julle geloof nie; ons glo nie dat dit God is wat ons in julle hande uitgelewer het nie; maar ons glo dat dit julle sluheid is wat julle bewaar het van ons swaarde. Kyk, dit is julle borsplate en julle skilde wat julle bewaar het.
10 En nou toe Zerahemna hierdie woorde klaar gespreek het, het Moroni die swaard en die wapens van oorlog wat hy ontvang het, aan Zerahemna teruggegee, en gesê: Kyk, ons sal die stryd na ’n einde voer.
11 Nou kan ek nie die woorde herroep wat ek gespreek het nie, daarom, sowaar as die Here leef, julle sal nie vertrek nie tensy julle vertrek met ’n eed dat julle nie weer sal terugkeer om teen ons te veg nie. Nou, omdat julle in ons hande is, sal ons julle bloed op die grond stort, of julle sal jul onderwerp aan die voorwaardes wat ek gestel het.
12 En nou toe Moroni hierdie woorde gespreek het, het Zerahemna sy swaard behou, en hy was kwaad vir Moroni, en hy het vorentoe gestorm sodat hy vir Moroni mag doodmaak; maar toe hy sy swaard ophef, kyk, een van Moroni se soldate het dit afgeslaan en wel na die grond toe, en dit het afgebreek by die hef; en hy het ook vir Zerahemna geslaan dat hy sy kopvel afgesny het en dit het op die grond geval; en Zerahemna het teruggetrek van voor hulle na die midde van sy soldate.
13 En dit het gebeur dat die soldaat wat naby gestaan het, wat Zerahemna se kopvel afgesny het, die kopvel van die grond af opgetel het aan die hare, en dit op die punt van sy swaard geplaas, en dit na hulle uitgesteek het, terwyl hy met ’n harde stem aan hulle sê:
14 Net soos hierdie kopvel op die grond geval het, wat die kopvel is van julle leier, so sal julle op die grond val, tensy julle jul wapens van oorlog sal uitlewer en vertrek met ’n verbond van vrede.
15 Nou was daar baie, toe hulle hierdie woorde gehoor het, en die kopvel gesien het wat op die swaard was, wat bevange was met vrees; en baie het na vore gekom en hulle wapens van oorlog neergegooi aan die voete van Moroni, en ’n verbond van vrede gesluit. En soveel as wat ’n verbond gesluit het, het hulle toegelaat om die wildernis in te vertrek.
16 Nou het dit gebeur dat Zerahemna uitermate vertoornd was, en hy het die res van sy soldate opgestook tot toorn, om nog kragtiger teen die Nefiete te veg.
17 En nou was Moroni kwaad, as gevolg van die hardnekkigheid van die Lamaniete; daarom het hy sy volk beveel dat hulle hul moes aanval en hulle doodmaak. En dit het gebeur dat hulle hul begin doodmaak het; ja, en die Lamaniete het met hulle swaarde en hulle mag geveg.
18 Maar kyk, hulle naakte velle en hulle kaal koppe was blootgestel aan die skerp swaarde van die Nefiete; ja, kyk hulle is deursteek en geslaan, en het uitermate vinnig geval voor die swaarde van die Nefiete; en hulle het begin om afgemaai te word, net soos die soldaat van Moroni voorspel het.
19 Nou Zerahemna, toe hy sien dat hulle op die punt staan om almal uitgewis te word, het kragtig uitgeroep tot Moroni, en belowe dat hy ’n verbond sou sluit en ook sy volk met hulle, as hulle die oorblywendes se lewens sou spaar, dat hulle nooit weer teen hulle in die stryd sou kom nie.
20 En dit het gebeur dat Moroni die werk van die dood weer laat ophou het onder die volk. En hy het die wapens van oorlog van die Lamaniete geneem; en nadat hulle ’n verbond van vrede met hulle gesluit het, is hulle toegelaat om die wildernis in te vertrek.
21 Nou is die getal van hulle dooies nie getel nie, vanweë die grootte van die getal; ja, die getal van hulle dooies was uitermate groot, beide aan die Nefiete en aan die Lamaniete.
22 En dit het gebeur dat hulle hul dooies in die waters van Sidon gewerp het, en hulle het uitgegaan en is in die dieptes van die see begrawe.
23 En die leërs van die Nefiete, of van Moroni, het teruggekeer en gekom by hulle huise en hulle landerye.
24 En so het die agtiende jaar van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi geëindig. En so het die verslag van Alma geëindig, wat geskrywe was op die plate van Nefi.