Skrifture
Alma 49


Hoofstuk 49

Die invallende Lamaniete is nie in staat om die versterkte stede van Ammoniha en Noag in te neem nie—Amalikia vervloek God en sweer om die bloed van Moroni te drink—Helaman en sy broers hou aan om die kerk te versterk. Ongeveer 72 v.C.

1 En nou het dit gebeur in die elfde maand van die negentiende jaar, op die tiende dag van die maand, is die leërs van die Lamaniete gewaar wat nader kom aan die land Ammoniha.

2 En kyk, die stad was herbou, en Moroni het ’n leër opgestel by die grense van die stad, en hulle het grond rondom opgewerp om hulle te beskerm teen die pyle en die klippe van die Lamaniete; want kyk, hulle het geveg met klippe en met pyle.

3 Kyk, ek het gesê dat die stad Ammoniha herbou was. Ek sê vir julle, ja, dat dit gedeeltelik herbou was; en omdat die Lamaniete dit eenkeer vernietig het vanweë die ongeregtigheid van die volk, het hulle veronderstel dat dit weer vir hulle ’n maklike prooi sou word.

4 Maar kyk, hoe groot was hulle teleurstelling; want kyk, die Nefiete het ’n wal van grond rondom hulle opgewerp, wat so hoog was dat die Lamaniete nie hulle klippe en hulle pyle op hulle kon werp dat dit ’n uitwerking kon hê nie, nóg kon hulle hul oorval, behalwe by hulle plek van ingang.

5 Nou op hierdie tydstip was die hoofkapteins van die Lamaniete uitermate verbaas, vanweë die wysheid van die Nefiete om hulle plekke van veiligheid voor te berei.

6 Nou het die leiers van die Lamaniete veronderstel, as gevolg van die grootheid van hulle getalle, ja, hulle het veronderstel dat hulle die voorreg sou hê om op hulle af te kom soos hulle tot dusver gedoen het; ja, en hulle het hulleself ook voorberei met skilde, en met borsplate; en hulle het hulself ook voorberei met klere van vel, ja, baie dik klere om hulle naaktheid te bedek.

7 En omdat hulle aldus voorberei was, het hulle veronderstel dat hulle maklik hulle broers sou oorweldig en onderwerp aan die juk van slawerny, of hulle dood en uitmoor volgens hulle welbehae.

8 Maar kyk, tot hulle uiterste verbasing, was hulle voorbereid vir hulle, op ’n wyse wat nog nooit bekend was onder die kinders van Lehi nie. Nou, hulle was gereed vir die Lamaniete, om te veg volgens die opdragte van Moroni.

9 En dit het gebeur dat die Lamaniete, of die Amalikiahiete, uitermate verbaas was oor hulle manier van voorbereiding vir oorlog.

10 Nou, as koning Amalikia afgekom het uit die land Nefi, aan die hoof van sy leër, sou hy miskien die Lamaniete die Nefiete laat aanval het by die stad Ammoniha; want kyk, hy het nie omgegee vir die bloed van sy volk nie.

11 Maar kyk, Amalikia het nie self afgekom om te veg nie. En kyk, sy hoofkapteins het nie gedurf om die Nefiete aan te val by die stad Ammoniha nie, want Moroni het die bestuur van sake gewysig onder die Nefiete, in soverre dat die Lamaniete teleurgesteld was oor hulle plekke van skuiling en hulle kon nie op hulle afkom nie.

12 Daarom het hulle teruggetrek in die wildernis, en hulle kamp opgeneem en gemarsjeer in die rigting van die land Noag, veronderstellend dat dit die tweede beste plek was vir hulle om teen die Nefiete op te trek.

13 Want hulle het nie geweet dat Moroni sy forte van veiligheid gebou of versterk het vir elke stad in die hele land rondomheen nie; daarom het hulle voortgemarsjeer na die land Noag met ’n vaste voorneme; ja, hulle hoofkapteins het na vore gekom en het ’n eed geneem dat hulle die volk van daardie stad sou vernietig.

14 Maar kyk, tot hulle verbasing, het die stad Noag, wat tot dusver ’n swak plek was, nou, deur Moroni se toedoen, sterk geword, ja, en wel om die sterkte van die stad Ammoniha te oortref.

15 En nou, kyk, dit was wysheid in Moroni; want hy het veronderstel dat hulle bevrees sou wees vir die stad Ammoniha; en aangesien die stad Noag tot dusver die swakste deel van die land was, daarom sou hulle daarheen marsjeer om te veg; en so was dit volgens sy begeertes.

16 En kyk, Moroni het Lehi aangestel om hoofkaptein te wees oor die manne van daardie stad; en dit was daardie selfde Lehi wat geveg het met die Lamaniete in die vallei aan die ooste van die Sidon-rivier.

17 En nou, kyk, dit het gebeur, dat toe die Lamaniete ontdek dat Lehi bevel gevoer het oor die stad, was hulle weer teleurgestel, want hulle het Lehi uitermate gevrees; nietemin het hulle hoofkapteins met ’n eed gesweer om die stad aan te val; daarom, hulle het hul leërs laat opruk.

18 Nou kyk, die Lamaniete kon op geen ander wyse by hulle forte van skuiling inkom nie behalwe by die ingang, vanweë die hoogte van die wal wat opgewerp was, en die diepte van die sloot wat rondom gegrawe was, behalwe by die ingang.

19 En so was die Nefiete voorberei om diegene te vernietig wat sou probeer om op te klim om die fort binne te gaan by enige ander plek, deur klippe en pyle oor te werp na hulle.

20 Dus was hulle gereed, ja, ’n groep van hulle sterkste manne, met hulle swaarde en hulle slingers, om almal neer te vel wat sou probeer om in hulle plek van veiligheid te kom deur die plek van ingang; en dus was hulle voorbereid om hulleself te verdedig teen die Lamaniete.

21 En dit het gebeur dat die kapteins van die Lamaniete hulle leërs laat opruk het voor die plek van ingang, en het begin om met die Nefiete te veg om in te kom by hulle plek van veiligheid; maar kyk, hulle is teruggedryf van tyd tot tyd, in soverre dat hulle geslag is met ’n geweldige slagting.

22 Nou toe hulle agterkom dat hulle nie mag oor die Nefiete kon verkry deur die ingang nie, het hulle begin om die walle van grond af te grawe dat hulle ’n deurgang mag kry na hulle leërs, sodat hulle ’n gelyke kans mag kry om te veg; maar kyk, in hierdie pogings is hulle weggevee deur die klippe en pyle wat op hulle gewerp is; en in stede om hulle slote op te vul deur die walle van grond af te breek, is hulle in ’n mate opgevul met hulle dooie en gewonde liggame.

23 So het die Nefiete alle mag gehad oor hulle vyande; en so het die Lamaniete probeer om die Nefiete te vernietig, totdat hulle hoofkapteins almal gedood is; ja, en meer as ’n duisend van die Lamaniete is gedood; terwyl, aan die anderkant, daar nie ’n enkele siel onder die Nefiete was wat gedood was nie.

24 Daar was omtrent vyftig wat gewond was, wat blootgestel was aan die pyle van die Lamaniete deur die ingang, maar hulle is deur hulle skilde beskerm, en hulle borsplate, en hulle helms, in soverre dat hulle wonde aan hulle bene was, sommige waarvan baie ernstig was.

25 En dit het gebeur, dat toe die Lamaniete gesien het dat hulle hoofkapteins almal gedood is, het hulle die wildernis ingevlug. En dit het gebeur dat hulle teruggekeer het na die land Nefi, om hulle koning, Amalikia in te lig, wat ’n Nefiet van geboorte was, aangaande hulle groot verlies.

26 En dit het gebeur dat hy uitermate vertoornd was op sy volk, omdat hy nie sy wens oor die Nefiete kon kry nie; hy het hulle nie onderwerp aan die juk van slawerny nie.

27 Ja, hy was uitermate vertoornd, en hy het God gevloek, en ook Moroni, en met ’n eed gesweer dat hy sy bloed sou drink; en dit omdat Moroni die gebooie van God onderhou het ter voorbereiding vir die veiligheid van sy volk.

28 En dit het gebeur, dat aan die anderkant, het die volk van Nefi die Here hulle God gedank, vanweë sy ongeëwenaarde krag om hulle te bevry uit die hande van hulle vyande.

29 En so het die negentiende jaar van die heerskappy van die regters oor die volk van Nefi geëindig.

30 Ja, en daar was voortdurende vrede onder hulle, en uitermate groot voorspoed in die kerk vanweë hulle aandag en ywer wat hulle aan die woord van God gegee het, wat aan hulle verkondig is deur Helaman, en Sjiblon, en Corianton, en Ammon en sy broers, ja, en deur al diegene wat geordineer is deur die heilige orde van God, en gedoop is tot bekering, en uitgestuur is om te preek onder die volk.