Hoofstuk 5
Saria kla teen Lehi—Beide verbly hulle oor die terugkeer van hul seuns—Hulle offer offerandes—Die plate van brons bevat geskrifte van Moses en die profete—Die plate identifiseer Lehi as ’n afstammeling van Josef—Lehi profeteer aangaande sy saad en die bewaring van die plate. Ongeveer 600–592 v.C.
1 En dit het gebeur dat nadat ons na ons vader afgekom het in die wildernis, kyk, hy was vervul met vreugde, en ook my moeder, Saria, was uitermate bly, want sy het waarlik getreur oor ons.
2 Want sy het veronderstel dat ons in die wildernis omgekom het; en sy het ook gekla teenoor my vader en vir hom gesê dat hy iemand was wat visioene sien; en het gesê: Kyk, jy het ons uit die land van ons erfenis uitgelei, en my seuns is nie meer nie, en ons kom om in die wildernis.
3 En volgens hierdie wyse van spraak het my moeder gekla teenoor my vader.
4 En dit het gebeur dat my vader met haar gespreek het, en gesê het: Ek weet dat ek ’n man is wat visioene sien; want as ek nie die dinge van God in ’n visioen gesien het nie, sou ek nie die goedheid van God geken het nie, maar ek sou by Jerusalem gebly het, en sou omgekom het met my broers.
5 Maar kyk, ek het ’n land van belofte verkry, in welke dinge ek my verbly; ja, en ek weet dat die Here my seuns sal verlos uit die hande van Laban, en hulle weer afbring na ons in die wildernis.
6 En volgens hierdie wyse van spraak het my vader, Lehi, my moeder Saria getroos aangaande ons, terwyl ons gereis het in die wildernis na die land Jerusalem, om die kronieke van die Jode te verkry.
7 En toe ons teruggekeer het na die tent van my vader, kyk, hulle vreugde was vol, en my moeder was getroos.
8 En sy het gespreek, en gesê: Nou weet ek vir seker dat die Here my man gebied het om die wildernis in te vlug; ja, en ek weet ook vir seker dat die Here my seuns beskerm het, en hulle gered het uit die hande van Laban, en hulle mag gegee het waardeur hulle die ding kon uitvoer wat die Here hulle gebied het. En volgens hierdie wyse van spraak het sy gespreek.
9 En dit het gebeur dat hulle hul uitermate verbly het, en offerandes en brandoffers geoffer het aan die Here; en hulle het dank betuig aan die God van Israel.
10 En nadat hulle dank betuig het aan die God van Israel, het my vader, Lehi, die kronieke geneem wat gegraveer was op die plate van brons, en hy het hulle deursoek vanaf die begin.
11 En hy het gemerk dat hulle die vyf boeke van Moses bevat het, wat ’n kroniek gegee het van die skepping van die wêreld, en ook van Adam en Eva, wat ons eerste ouers was;
12 En ook ’n kroniek van die Jode van die begin af, tot die aanvang van die heerskappy van Sedekía, koning van Juda;
13 En ook die profesieë van die heilige profete, van die begin af, en wel tot die aanvang van die heerskappy van Sedekía; en ook baie profesieë wat gespreek is by monde van Jeremia.
14 En dit het gebeur dat my vader, Lehi, ook op die plate van brons ’n geslagsregister van sy vaders gevind het; daarom het hy geweet dat hy ’n afstammeling was van Josef; ja, en wel daardie Josef wat die seun van Jakob was, wat verkoop is na Egipte, en wat behoed is deur die hand van die Here, dat hy sy vader Jakob mag behoed, en sy hele huisgesin, dat hulle nie omkom van hongersnood nie.
15 En hulle is ook uitgelei uit gevangenskap, en uit die land Egipte, deur dieselfde God wat hulle behoed het.
16 En dus het my vader, Lehi, die geslagsregister ontdek van sy vaders. En Laban was ook ’n afstammeling van Josef, daarom het hy en sy vaders die kronieke bygehou.
17 En nou toe my vader al hierdie dinge sien, is hy met die Gees vervul, en het begin profeteer aangaande sy saad—
18 Dat hierdie plate van brons moes uitgaan na alle nasies, stamme, tale, en volke wat van sy saad was.
19 Daarom het hy gesê dat hierdie plate van brons nooit sou vergaan nie; nóg sou hulle verdof word deur die tyd. En hy het baie dinge geprofeteer aangaande sy saad.
20 En dit het gebeur dat tot dusver het ek en my vader die gebooie nagekom wat die Here ons gebied het.
21 En ons het die kronieke verkry wat die Here ons gebied het, en hulle deursoek, en gevind dat hulle begeerlik was; ja, en wel van groot waarde vir ons, in soverre dat ons die gebooie van God kon bewaar vir ons kinders.
22 Daarom, dit was wysheid in die Here dat ons hulle saam met ons moes dra, terwyl ons gereis het in die wildernis na die land van belofte.