Hoofstuk 10
Daar is stilte in die land vir baie ure—Die stem van Christus belowe om sy volk bymekaar te maak soos ’n hen haar kuikens bymekaarmaak—Die meer regverdige deel van die volk is bewaar. Ongeveer 34–35 n.C.
1 En nou kyk, dit het gebeur dat al die mense van die land hierdie woorde gehoor het, en daarvan getuig het. En na hierdie woorde was daar stilte in die land vir ’n tydperk van baie ure.
2 Want so groot was die verbasing van die volk dat hulle opgehou het om te weeklaag en te kerm oor die verlies van hulle verwante wat gedood is; daarom was daar stilte in die hele land vir ’n tydperk van baie ure.
3 En dit het gebeur dat daar weer ’n stem gekom het na die volk, en al die mense het gehoor, en het getuig daarvan, en gesê:
4 O julle volk van hierdie groot stede wat geval het, wat afstammelinge is van Jakob, ja, wat van die huis van Israel is, hoe dikwels het Ek julle bymekaargemaak soos ’n hen haar kuikens bymekaarmaak onder haar vlerke, en het julle gevoed.
5 En verder, hoe dikwels wou Ek julle bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens bymekaarmaak onder haar vlerke, ja, o julle volk van die huis van Israel, wat geval het; ja, o julle volk van die huis van Israel, julle wat in Jerusalem woon, sowel as julle wat geval het; ja, hoe dikwels wou Ek julle bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens bymekaarmaak, en julle wou nie.
6 O julle huis van Israel wat Ek gespaar het, hoe dikwels sal Ek julle bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens bymekaarmaak onder haar vlerke, as julle sal bekeer en terugkeer na My met volle voorneme van hart.
7 Maar indien nie, o huis van Israel, sal die plekke van julle wonings verlate word tot die tyd van die vervulling van die verbond met julle vaders.
8 En nou het dit gebeur dat nadat die volk hierdie woorde gehoor het, kyk, het hulle begin om weer te ween en kerm vanweë die verlies van hulle verwante en vriende.
9 En dit het gebeur dat die drie dae so verbygegaan het. En dit was in die môre, en die duisternis het verbygegaan van die aangesig van die land, en die aarde het opgehou om te bewe, en die rotse het opgehou om te skeur, en die verskriklike gekreun het opgehou, en al die rumoere het opgehou.
10 En die aarde het weer aanmekaar gekleef, dat dit gestaan het; en die rouklag, en die geween, en die weeklag van die mense wat lewendig gespaar is het opgehou; en hulle rouklaag is verander in vreugde, en hulle klaagliedere in lof en danksegging aan die Here Jesus Christus, hulle Verlosser.
11 En so ver is die skrifture vervul wat deur die profete gespreek is.
12 En dit was die meer regverdige deel van die mense wat gered is, en dit was hulle wat die profete ontvang het en hulle nie gestenig het nie; en dit was hulle wat nie die bloed van die heiliges vergiet het nie, wat gespaar is—
13 En hulle is gespaar en is nie weggesink en begrawe in die aarde nie; en hulle is nie verdrink in die dieptes van die see nie; en hulle is nie verbrand deur vuur nie, nóg is daar op hulle geval en hulle vergruis tot die dood toe; en hulle is nie weggevoer in die warrelwind nie; nóg is hulle oorweldig deur die rookmis en die duisternis.
14 En nou, wie ook al lees, laat hom verstaan; hy wat die skrifture het, laat hom hulle ondersoek, en kyk en aanskou of al hierdie sterftes en vernietigings deur vuur, en deur rook, en deur stormwinde, en deur warrelwinde, en deur die oopmaak van die aarde om hulle te ontvang, en al hierdie dinge nie is tot die vervulling van die profesieë van baie van die heilige profete nie.
15 Kyk, ek sê vir julle, Ja, baie het getuig van hierdie dinge tydens die koms van Christus, en is gedood omdat hulle getuig het van hierdie dinge.
16 Ja, die profeet Zenos het getuig van hierdie dinge, en ook Zenok het gespreek aangaande hierdie dinge, omdat hulle in besonder getuig het aangaande ons, wat die oorblyfsel is van hulle saad.
17 Kyk, ons vader Jakob het ook getuig aangaande ’n oorblyfsel van die saad van Josef. En kyk, is ons nie ’n oorblyfsel van die saad van Josef nie? En hierdie dinge wat getuig van ons, is hulle nie geskrywe op die plate van brons wat ons vader Lehi uit Jerusalem gebring het nie?
18 En dit het gebeur dat aan die einde van die vier en dertigste jaar, kyk, ek sal aan julle toon dat die volk van Nefi wat gespaar is, en ook diegene wat Lamaniete genoem is, wat gespaar is, groot gunste bewys is, en groot seëninge uitgestort is op hulle hoofde, in soverre dat kort na die opvaart van Christus na die hemel het Hy homself waarlik geopenbaar aan hulle—
19 Deur sy liggaam te toon aan hulle, en hulle te dien; en ’n kroniek van sy bediening sal gegee word hierna. Daarom, vir hierdie oomblik maak ek ’n einde aan my woorde.