Hoofstuk 20
Die Here stuur Ammon na Middoni om sy gevange broers te bevry—Ammon en Lamoni ontmoet Lamoni se vader wat koning is oor die hele land—Ammon verplig die ou koning om die vrylating van sy broers goed te keur. Ongeveer 90 v.C.
1 En dit het gebeur dat toe hulle ’n kerk in daardie land gevestig het, dat koning Lamoni begeer het dat Ammon met hom moes gaan na die land Nefi, sodat hy hom aan sy vader kon toon.
2 En die stem van die Here het na Ammon gekom, en gesê: Jy sal nie opgaan na die land Nefi nie, want kyk, die koning sal jou lewe soek; maar jy sal na die land Middoni gaan; want kyk, jou broer, Aäron, en ook Muloki en Amma is in die gevangenis.
3 Nou, dit het gebeur dat toe Ammon dit gehoor het, het hy aan Lamoni gesê: Kyk, my broer en broers is in die gevangenis in Middoni, en ek gaan sodat ek hulle mag bevry.
4 Nou het Lamoni aan Ammon gesê: Ek weet, in die krag van die Here kan jy alle dinge doen. Maar kyk, ek sal met jou gaan na die land Middoni; want die koning van die land Middoni, wie se naam Antiomno is, is ’n vriend van my; daarom gaan ek na die land Middoni, sodat ek die koning van die land kan vlei, en hy sal jou broers uit die gevangenis werp. Nou het Lamoni aan hom gesê: Wie het jou gesê dat jou broers in die gevangenis is?
5 En Ammon het aan hom gesê: Niemand het aan my gesê nie, behalwe God; en Hy het aan my gesê—Gaan en bevry jou broers, want hulle is in die gevangenis in die land Middoni.
6 Nou toe Lamoni dit gehoor het, het hy sy diensknegte, sy perde en sy waens laat gereedmaak.
7 En hy het aan Ammon gesê: Kom, ek sal met jou afgaan na die land Middoni, en daar sal ek by die koning pleit dat hy jou broers uit die gevangenis werp.
8 En dit het gebeur dat terwyl Ammon en Lamoni daarheen gereis het, het hulle die vader van Lamoni ontmoet, wat koning was oor die hele land.
9 En kyk, die vader van Lamoni het aan hom gesê: Hoekom het jy nie na die fees gekom op daardie groot dag toe ek vir my seuns en vir my volk ’n fees gehou het nie?
10 En hy het ook gesê: Waarheen gaan jy met hierdie Nefiet, wat een van die kinders van ’n leuenaar is?
11 En dit het gebeur dat Lamoni aan hom vertel het waarheen hy op pad was, want hy was bang om hom te mishaag.
12 En hy het hom ook al die oorsake vertel van sy getalm in sy eie koninkryk, dat hy nie opgegaan het na sy vader, na die fees wat hy voorberei het nie.
13 En nou toe Lamoni aan hom al hierdie dinge vertel het, kyk, tot sy verbasing, was sy vader kwaad vir hom, en het gesê: Lamoni, jy gaan hierdie Nefiete bevry, wat seuns is van ’n leuenaar! Kyk, hy het ons vaders beroof; nou het sy kinders ook onder ons gekom sodat hulle ons, deur hulle sluheid en hulle leuentaal, mag bedrieg, sodat hulle ons weer kan berowe van ons besittings.
14 Nou het die vader van Lamoni hom beveel dat hy Ammon met die swaard moes doodmaak. En hy het hom ook beveel dat hy nie na die land Middoni moes gaan nie, maar dat hy met hom moes terugkeer na die land Ismael.
15 Maar Lamoni het aan hom gesê: Ek sal Ammon nie doodmaak nie, nóg sal ek terugkeer na die land Ismael, maar ek gaan na die land Middoni sodat ek die broers van Ammon mag loslaat, want ek weet dat hulle regverdige manne is en heilige profete van die ware God.
16 Nou toe sy vader hierdie woorde gehoor het, was hy kwaad vir hom, en hy het sy swaard uitgetrek sodat hy hom teen die grond mag slaan.
17 Maar Ammon het na vore getree en het aan hom gesê: Kyk, u sal nie u seun doodmaak nie; nogtans, dit sou beter wees dat hy sou val as u, want kyk, hy het bekeer van sy sondes; maar as u sou val op hierdie tyd, in u toorn, kon u siel nie gered word nie.
18 En verder, dit is raadsaam dat u moet terughou; want as u u seun sou doodmaak, omdat hy ’n onskuldige man is, sal sy bloed roep van die grond na die Here sy God, om wraak oor u te laat kom; en miskien sal u u siel verloor.
19 Nou, toe Ammon hierdie woorde aan hom gesê het, het hy hom geantwoord, en gesê: Ek weet dat as ek my seun sou doodmaak, dat ek onskuldige bloed sou vergiet; want dit is jy wat gesoek het om hom te vernietig.
20 En hy het sy hand uitgestrek om Ammon dood te maak. Maar Ammon het sy houe weerstaan, en ook sy arm geslaan dat hy dit nie kon gebruik nie.
21 Nou, toe die koning sien dat Ammon hom kon doodmaak, het hy begin om met Ammon te pleit dat hy sy lewe moes spaar.
22 Maar Ammon het sy swaard opgehef, en aan hom gesê: Kyk, ek sal u doodslaan tensy u aan my sal gun dat my broers uit die gevangenis gewerp word.
23 Nou het die koning, omdat hy bang was dat hy sy lewe sou verloor, gesê: As jy my spaar, sal ek aan jou gee wat jy ook al sal vra, selfs tot die helfte van die koninkryk.
24 Nou, toe Ammon sien dat hy met die ou koning bereik het volgens sy begeerte, het hy aan hom gesê: As u sal toelaat dat my broers uit die gevangenis gewerp mag word, en ook dat Lamoni sy koninkryk mag behou, en dat u nie ontevrede met hom sal wees nie, maar gun dat hy mag doen volgens sy eie begeertes, in watter ding hy ook al dink, dan sal ek u spaar, anders sal ek u teen die grond slaan.
25 Nou, toe Ammon hierdie woorde gesê het, het die koning begin juig vanweë sy lewe.
26 En toe hy sien dat Ammon geen begeerte gehad het om hom te vernietig nie, en toe hy ook die groot liefde sien wat hy vir sy seun Lamoni gehad het, was hy uitermate verbaas, en het gesê: Omdat dit al is wat jy begeer het, dat ek jou broers moet loslaat, en toelaat dat my seun Lamoni sy koninkryk moet behou, kyk, sal ek aan jou gun dat my seun sy koninkryk mag behou van hierdie tyd en vir ewig; en ek sal nie meer oor hom heers nie—
27 En ek sal ook aan jou gun dat jou broers uit die gevangenis gewerp word, en jy en jou broers mag na my kom in my koninkryk; want ek sal julle baie graag wil sien. Want die koning was grootliks verbaas oor die woorde wat hy gespreek het, en ook oor die woorde wat gespreek was deur sy seun Lamoni, daarom was hy begerig om hulle te leer.
28 En dit het gebeur dat Ammon en Lamoni op hulle reis voortgegaan het na die land Middoni. En Lamoni het guns gevind in die oë van die koning van die land; daarom is die broers van Ammon uitgebring uit die gevangenis.
29 En toe Ammon hulle ontmoet, was hy uitermate bedroef, want kyk hulle was naak, en hulle velle was uitermate geskaaf, omdat hulle met sterk toue gebind was. En hulle het ook honger, dors, en allerlei soorte verdrukkinge gely; nogtans was hulle geduldig in al hulle lyding.
30 En, soos dit gebeur het, was dit hulle lot om in die hande te val van ’n meer geharde en ’n meer hardnekkige volk; daarom wou hulle nie ag slaan op hulle woorde nie, en hulle het hulle uitgewerp, en het hulle geslaan, en het hulle gedryf van huis tot huis, en van plek tot plek, en wel totdat hulle aangekom het in die land Middoni; en daar is hulle geneem en in die gevangenis gewerp, en gebind met sterk toue, en vir baie dae in die gevangenis gehou, en is bevry deur Lamoni en Ammon.