Hoofstuk 25
Lamanitiese aggressie brei uit—Die saad van die priesters van Noag kom om soos Abinadi geprofeteer het—Baie Lamaniete word bekeer en voeg hulle by die volk van Anti-Nefi-Lehi—Hulle glo in Christus en onderhou die wet van Moses. Ongeveer 90–77 v.C.
1 En kyk, nou het dit gebeur dat daardie Lamaniete meer vertoornd was omdat hulle hul broers gedood het; daarom het hulle wraak gesweer teen die Nefiete; en hulle het nie meer probeer om die volk van Anti-Nefi-Lehi in daardie tyd te dood nie.
2 Maar hulle het hulle leërs geneem en oorgegaan binne die grense van die land Zarahemla, en die mense aangeval wat in die land Ammoniha was en hulle vernietig.
3 En na dit, het hulle baie veldslae gehad teen die Nefiete, waarin hulle verdryf en gedood is.
4 En onder die Lamaniete wat gedood is, was byna al die saad van Amulon en sy broers, wat die priesters van Noag was, en hulle is gedood deur die hande van die Nefiete;
5 En die oorblywendes, nadat hulle die oostelike wildernis ingevlug het, en nadat hulle die mag en gesag oor die Lamaniete oorgeneem het, het baie van die Lamaniete laat omkom deur vuur vanweë hulle geloof—
6 Want baie van hulle, nadat hulle veel verlies en so baie verdrukkinge gely het, het begin om opgewek te word tot ’n gedagtenis van die woorde wat Aäron en sy broers tot hulle in hulle land gepreek het; daarom het hulle begin om die oorleweringe van hulle vaders te betwyfel, en om te glo in die Here, en dat Hy groot krag gegee het aan die Nefiete; en dus was daar baie van hulle bekeer in die wildernis.
7 En dit het gebeur dat daardie heersers wat die oorblyfsel was van die kinders van Amulon hulle laat doodmaak het, ja, al diegene wat in hierdie dinge geglo het.
8 Nou, hierdie martelaarskap het veroorsaak dat baie van hulle broers tot toorn ontstoke was; en daar het twis begin in die wildernis; en die Lamaniete het begin om die saad van Amulon en sy broers te jag en om hulle dood te maak; en hulle het gevlug in die oostelike wildernis in.
9 En kyk, hulle word op hierdie dag gejag deur die Lamaniete. So is die woorde van Abinadi bewaarheid wat hy gesê het aangaande die saad van die priesters wat hom die dood deur vuur laat sterf het.
10 Want hy het aan hulle gesê: Wat julle aan my sal doen, sal ’n voorafskaduwing wees van dinge wat sal kom.
11 En nou, Abinadi was die eerste wat die dood deur vuur gely het vanweë sy geloof in God; nou dit is wat hy bedoel het, dat baie die dood deur vuur sou ly soos wat hy gely het.
12 En hy het aan die priesters van Noag gesê dat hulle saad sou veroorsaak dat baie doodgemaak sou word, op dieselfde wyse as hy was, en dat hulle ver en wyd verstrooi en gedood sou word, net soos ’n skaap wat geen herder het nie verdryf en deur wilde diere gedood word; en nou kyk, hierdie woorde is bewaarheid, want hulle is verdryf deur die Lamaniete, en hulle is gejag, en hulle is geslaan.
13 En dit het gebeur dat toe die Lamaniete sien dat hulle nie die Nefiete kon oorweldig nie, het hulle weer teruggekeer na hulle eie land; en baie van hulle het oorgekom om in die land Ismael te woon en die land Nefi, en het hulle by die volk van God gevoeg, wat die volk van Anti-Nefi-Lehi was.
14 En hulle het ook hulle wapens van oorlog begrawe, soos hulle broers gedoen het, en hulle het begin om ’n regverdige volk te wees; en hulle het gewandel in die weë van die Here, en het gepoog om sy gebooie en sy insettinge te onderhou.
15 Ja, en hulle het die wet van Moses onderhou; want dit was noodsaaklik dat hulle die wet van Moses sou onderhou vir die huidige, want dit was nog nie alles vervul nie. Maar nieteenstaande die wet van Moses, het hulle uitgesien na die koms van Christus, omdat hulle die wet van Moses beskou het as ’n voorafskaduwing van sy koms, omdat hulle geglo het dat hulle daardie uiterlike handelinge moes onderhou tot die tyd dat Hy aan hulle geopenbaar sou word.
16 Nou het hulle nie veronderstel dat heil deur die wet van Moses kom nie; maar die wet van Moses het gedien om hulle geloof in Christus te versterk; en dus het hulle ’n hoop behou deur geloof, tot ewige heil, en staatgemaak op die gees van profesie, wat gespreek het van die dinge wat moes kom.
17 En nou, kyk, Ammon, en Aäron, en Omner en Himni, en hulle broers, het hulle uitermate verheug oor die welslae wat hulle gehad het onder die Lamaniete, aangesien die Here dit aan hulle gegun het volgens hulle gebede, en dat Hy ook sy woord aan hulle bewaarheid het in elke besonderheid.