Hoofstuk 3
Mormon roep die Nefiete tot bekering—Hulle behaal ’n groot oorwinning en roem in hulle eie krag—Mormon weier om hulle te lei en sy gebede vir hulle is sonder geloof—Die Boek van Mormon nooi die twaalf stamme van Israel om die evangelie te glo. Ongeveer 360–362 n.C.
1 En dit het gebeur dat die Lamaniete nie weer tot die stryd oorgegaan het voordat nog tien jaar verbygegaan het nie. En kyk, ek het my volk, die Nefiete, besig gehou om hulle lande en hulle wapens voor te berei in geval van oorlog.
2 En dit het gebeur dat die Here aan my gesê het: Roep tot hierdie volk—Bekeer julle, en kom na My toe, en laat julle doop, en bou weer my kerk op, en julle sal gespaar word.
3 En ek het geroep tot hierdie volk, maar dit was tevergeefs; en hulle het nie besef dat dit die Here was wat hulle gespaar het, en aan hulle ’n kans gegun het om te bekeer nie; en kyk, hulle het hul harte verhard teen die Here hulle God.
4 En dit het gebeur dat nadat hierdie tiende jaar verbygegaan het, wat altesame driehonderd en sestig jaar gemaak het vanaf die koms van Christus, het die koning van die Lamaniete ’n brief gestuur aan my, wat my laat weet het dat hulle voorberei het om weer op te ruk in die stryd teen ons.
5 En dit het gebeur dat ek my volk hulself laat bymekaarmaak het by die land Verlatenheid, by ’n stad wat binne die grens was, by die smal strook wat na die land suidwaarts gelei het.
6 En daar het ons ons leërs geplaas, sodat ons die leërs van die Lamaniete mag stuit, sodat hulle nie besit mag kry van enige van ons lande nie; daarom het ons ons versterk teen hulle met al ons mag.
7 En dit het gebeur dat in die driehonderd een en sestigste jaar het die Lamaniete afgekom na die stad Verlatenheid om teen ons te veg; en dit het gebeur dat in daardie jaar het ons hulle verslaan, in soverre dat hulle weer teruggekeer het na hulle eie lande.
8 En in die driehonderd twee en sestigste jaar het hulle weer afgekom in die stryd. En ons het hulle weer verslaan, en het ’n groot aantal van hulle gedood, en hulle dooies is in die see gewerp.
9 En nou, vanweë hierdie groot ding wat my volk, die Nefiete gedoen het, het hulle begin roem in hulle eie krag, en begin om te sweer voor die hemele dat hulle hul sou wreek oor die bloed van hulle broers wat gedood is deur hul vyande.
10 En hulle het gesweer by die hemele, en ook by die troon van God, dat hulle sou optrek in die stryd teen hulle vyande, en hulle sou afsny vanaf die aangesig van die land.
11 En dit het gebeur dat ek, Mormon, vanaf daardie tyd volstrek geweier het om ’n bevelvoerder en ’n leier te wees van hierdie volk, vanweë hulle boosheid en gruwels.
12 Kyk, ek het hulle gelei, nieteenstaande hulle boosheid het ek hulle baie keer gelei in die stryd, en het hulle liefgehad, volgens die liefde van God wat in my was, met my hele hart; en my siel is uitgestort in gebed voor my God die hele dag lank vir hulle; nogtans, dit was sonder geloof, vanweë die hardheid van hulle harte.
13 En driekeer het ek hulle verlos uit die hande van hulle vyande, en hulle het nie bekeer van hul sondes nie.
14 En nadat hulle gesweer het by alles wat hulle verbied was deur ons Here en Saligmaker Jesus Christus, dat hulle sou opgaan na hulle vyande om te veg, en hulleself te wreek oor die bloed van hulle broers, kyk, die stem van die Here het na my gekom, en gesê:
15 Wraak is Myne, en Ek sal vergeld; en omdat hierdie volk nie bekeer het nadat Ek hulle verlos het nie, kyk, hulle sal afgesny word van die aangesig van die aarde.
16 En dit het gebeur dat ek volstrek geweier het om op te trek teen my vyande; en ek het gedoen net soos die Here my gebied het; en ek het as ’n omstander gestaan om aan die wêreld die dinge te openbaar wat ek gesien en gehoor het, volgens die openbarings van die Gees wat getuig het van die dinge wat moes kom.
17 Daarom skryf ek aan julle, nie-Jode, en ook aan julle, huis van Israel, wanneer die werk sal begin, dat julle op die punt staan om voor te berei om terug te keer na die land van julle erfenis;
18 Ja, kyk, ek skryf aan al die eindes van die aarde; ja, aan julle, twaalf stamme van Israel, wat geoordeel sal word volgens julle werke deur die twaalf wat Jesus gekies het om sy dissipels te wees in die land Jerusalem.
19 En ek skryf ook aan die oorblyfsel van hierdie volk, wat ook geoordeel sal word deur die twaalf wat Jesus gekies het in hierdie land; en hulle sal geoordeel word deur die ander twaalf wat Jesus gekies het in die land Jerusalem.
20 En hierdie dinge openbaar die Gees aan my; daarom skryf ek aan julle almal. En om hierdie rede skryf ek aan julle, sodat julle mag weet dat julle almal moet staan voor die regterstoel van Christus, ja, elke siel wat behoort aan die hele mensegeslag van Adam; en julle moet staan om geoordeel te word oor julle werke, of hulle goed of boos is;
21 En ook dat julle die evangelie van Jesus Christus mag glo, wat julle sal hê onder julle; en ook dat die Jode, die verbondsvolk van die Here, ’n ander getuie mag hê behalwe Hom vir wie hulle gesien en gehoor het, dat Jesus, vir wie hulle doodgemaak het, die ware Christus was en die ware God.
22 En ek wens dat ek al julle eindes van die aarde kon oorreed om te bekeer en voor te berei om te staan voor die regterstoel van Christus.