Skrifture
Mormon 6


Hoofstuk 6

Die Nefiete kom bymekaar by die land Cumora vir die finale veldslae—Mormon bêre die heilige kronieke weg in die Cumora-heuwel—Die Lamaniete seëvier en die Nefitiese volk word vernietig—Honderde duisende word deur die swaard gedood. Ongeveer 385 n.C.

1 En nou voltooi ek my kroniek aangaande die vernietiging van my volk, die Nefiete. En dit het gebeur dat ons voor die Lamaniete uitgemarsjeer het.

2 En ek, Mormon, het ’n brief geskryf aan die koning van die Lamaniete, en het van hom begeer dat hy aan ons moes gun dat ons ons volk bymekaar mag maak by die land Cumora, by ’n heuwel wat Cumora genoem is, en daar kon ons hulle die stryd aansê.

3 En dit het gebeur dat die koning van die Lamaniete my die ding gegun het wat ek begeer het.

4 En dit het gebeur dat ons uitgemarsjeer het na die land Cumora, en ons het ons tente opgeslaan rondom die Cumora-heuwel; en dit was in ’n land van baie waters, riviere, en fonteine; en hier het ons hoop gehad om die voordeel te behaal oor die Lamaniete.

5 En toe driehonderd vier en tagtig jaar verbygegaan het, het ons al die oorblywendes van ons volk bymekaargemaak in die land Cumora.

6 En dit het gebeur dat toe ons al ons volk in een groep bymekaar gemaak het na die land Cumora, kyk, ek, Mormon, het begin om oud te word; en omdat ek geweet het dat dit die laaste stryd sou wees van my volk, en omdat ek gebied is deur die Here dat ek nie die kronieke wat oorhandig is deur ons vaders, wat heilig was, in die hande moes laat val van die Lamaniete nie, (want die Lamaniete sou hulle vernietig) daarom het ek hierdie kroniek gemaak uit die plate van Nefi, en het in die Cumora-heuwel al die kronieke weggebêre wat aan my toevertrou is deur die hand van die Here, behalwe hierdie paar plate wat ek gegee het aan my seun Moroni.

7 En dit het gebeur dat my volk, met hulle vroue en hulle kinders, nou die leërs van die Lamaniete sien opmarsjeer het na hulle; en met daardie aaklige vrees vir die dood wat die boesems vul van alle bose, het hulle gewag om hulle aan te val.

8 En dit het gebeur dat hulle gekom het om te veg teen ons, en elke siel was gevul met vrees vanweë die grootheid van hul getalle.

9 En dit het gebeur dat hulle my volk aangeval het met die swaard, en met die boog, en met die pyl, en met die byl, en met allerlei soorte wapens van oorlog.

10 En dit het gebeur dat my manne neergevel is, ja, en wel my tienduisend wat by my was, en ek het gewond neergeval in die midde; en hulle het by my verbygegaan dat hulle nie ’n einde gemaak het aan my lewe nie.

11 En toe hulle deurgegaan het en al my manne neergevel het behalwe vir vier en twintig van ons, (onder wie my seun Moroni was) en ons wat die gesneuweldes van ons volk oorlewe het, het die volgende dag gesien, toe die Lamaniete teruggekeer het na hulle kampe, vanaf die kruin van die Cumora-heuwel, die tienduisend van my volk wat neergevel is, wat van voor deur my gelei is.

12 En ons het ook die tienduisend gesien van my volk wat deur my seun Moroni gelei is.

13 En kyk, die tienduisend van Gidgiddona het geval en ook hy in die middel.

14 En Lama het geval met sy tienduisend; en Gilgal het geval met sy tienduisend; en Limha het geval met sy tienduisend; en Jeneum het geval met sy tienduisend; en Cumeniha, en Moroniha, en Antionum, en Sjiblom, en Sem, en Jos, het geval met hulle tienduisend elk.

15 En dit het gebeur dat daar nog tien was wat geval het deur die swaard, met hulle tienduisend elk; ja en wel my hele volk, behalwe daardie vier en twintig wat by my was, en ook ’n paar wat ontsnap het na die suidelike lande, en ’n paar wat gedros het na die Lamaniete, het geval; en hulle vlees, en beendere, en bloed het gelê op die aangesig van die aarde, en dit is agtergelaat deur die hande van diegene wat hulle gedood het, om te vergaan op die land, en om te verkrummel en om terug te keer tot hulle moederaarde.

16 En my siel is verskeur deur smart, vanweë die gesneuweldes van my volk, en ek het uitgeroep:

17 O julle skones, hoe kon julle afgewyk het van die weë van die Here! O julle skones, hoe kon julle daardie Jesus verwerp het, wat met ope arms gestaan het om julle te ontvang!

18 Kyk, as julle dit nie gedoen het nie, sou julle nie geval het nie. Maar kyk, julle het geval, en ek betreur julle verlies.

19 O julle skone seuns en dogters, julle vaders en moeders, julle mans en vroue, julle skones, hoe is dit dat julle kon geval het!

20 Maar kyk, julle is heen, en my droefhede kan julle nie terugbring nie.

21 En die dag kom gou wanneer julle sterflike met onsterflikheid beklee moet word, en hierdie liggame wat nou vergaan tot verderf, moet spoedig onverganklike liggame word; en dan moet julle staan voor die regterstoel van Christus, om geoordeel te word volgens julle werke; en as dit so is dat julle regverdig is, dan is julle geseën met julle vaders wat julle voorgegaan het.

22 O dat julle bekeer het voor hierdie groot vernietiging oor julle gekom het. Maar kyk, julle is weg, en die Vader, ja, die Ewige Vader van die hemel, ken julle toestand; en Hy doen met julle volgens sy geregtigheid en barmhartigheid.