Skrifture
Mosia 17


Hoofstuk 17

Alma glo en skryf die woorde van Abinadi neer—Abinadi ly ’n vuurdood—Hy profeteer siektes en die dood deur vuur vir sy moordenaars. Ongeveer 148 v.C.

1 En nou het dit gebeur dat toe Abinadi hierdie woorde klaar gespreek het, het die koning beveel dat die priesters hom moes neem en hom laat doodmaak.

2 Maar daar was een onder hulle wie se naam Alma was, wat ook ’n afstammeling van Nefi was. En hy was ’n jong man, en hy het die woorde geglo wat Abinadi gespreek het, want hy het geweet van die ongeregtigheid waarvan Abinadi teen hulle getuig het; daarom het hy begin pleit by die koning dat hy nie kwaad moes wees vir Abinadi nie, maar toelaat dat hy in vrede mag vertrek.

3 Maar die koning was meer toornig, en het Alma laat uitwerp onder hulle, en het sy diensknegte agter hom aangestuur dat hulle hom mag doodmaak.

4 Maar hy het voor hulle uitgevlug en homself verberg sodat hulle hom nie gevind het nie. En terwyl hy baie dae lank verskuil was, het hy al die woorde neergeskryf wat Abinadi gespreek het.

5 En dit het gebeur dat die koning beveel het dat sy lyfwagte vir Abinadi moes omsingel en hom neem; en hulle het hom gebind en hom in die gevangenis gewerp.

6 En na drie dae, nadat hy raad gehou het met sy priesters, het hy hom weer voor hom laat bring.

7 En hy het aan hom gesê: Abinadi, ons het ’n aanklag teen jou gevind, en jy is die dood waardig.

8 Want jy het gesê dat God self sou neerdaal onder die kinders van mense; en nou, om hierdie rede sal jy doodgemaak word, tensy jy al die bose woorde sal herroep wat jy gespreek het aangaande my en my volk.

9 Nou het Abinadi aan hom gesê: Ek sê vir u, ek sal nie die woorde herroep wat ek gespreek het aangaande hierdie volk nie, want hulle is waar; en dat julle mag weet van hulle sekerheid het ek myself toegelaat dat ek in julle hande val.

10 Ja, en ek sal ly tot die dood toe, en ek sal my woorde nie herroep nie, en hulle sal staan as ’n getuienis teen julle. En as julle my doodmaak, sal julle onskuldige bloed verspil, en dit sal ook staan as ’n getuienis teen julle op die laaste dag.

11 En nou was koning Noag op die punt om hom los te laat, want hy het sy woord gevrees; want hy het gevrees dat die oordele van God oor hom sou kom.

12 Maar die priesters het hulle stemme verhef teen hom, en begin om hom te beskuldig, en gesê: Hy het die koning beledig. Daarom was die koning tot toorn ontstoke teen hom, en hy het hom oorgelewer sodat hy doodgemaak mag word.

13 En dit het gebeur dat hulle hom geneem en hom vasgebind het, en sy vel gegésel het met brandende stokke, ja, tot die dood toe.

14 En nou, toe die vlamme begin om hom te verskroei, het hy tot hulle geroep, en gesê:

15 Kyk, net soos julle aan my gedoen het, so sal dit gebeur dat julle saad sal veroorsaak dat baie die pyn sal ly wat ek verduur, en wel die pyn van die dood deur vuur; en dit omdat hulle glo in die heil van die Here hulle God.

16 En dit sal gebeur dat julle gekwel sal word met allerlei siektes vanweë julle ongeregtighede.

17 Ja, en julle sal van alle kante af geslaan word, en sal heen en weer gedrywe en verstrooi word, net soos ’n wilde kudde gedryf word deur wilde en wrede diere.

18 En op daardie dag sal julle gejag word, en julle sal geneem word deur die hand van julle vyande, en dan sal julle ly soos ek ly, die pyne van die dood deur vuur.

19 So oefen God wraak uit oor diegene wat sy volk vernietig. O God, ontvang my siel.

20 En nou, toe Abinadi hierdie woorde gesê het, het hy geval, nadat hy die dood gely het deur vuur; ja, hy is doodgemaak omdat hy nie die gebooie van God wou loën nie, en hy het die waarheid van sy woorde verseël met sy dood.