Diens-sendeling
2. Die Ontwikkeling van Fisiese Herstellingsvermoë


“2. Die Ontwikkeling van Fisiese Herstellingsvermoë,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe: Hulpbronboekie (2020)

“2. Die Ontwikkeling van Fisiese Herstellingsvermoë,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe

diens-sendeling besig om te bak

2. Die Ontwikkeling van Fisiese Herstellingsvermoë

Oormatige spanning kan jou gesondheid, jou vermoë om te slaap en jou vermoë om versoeking te hanteer, beïnvloed. Goeie voeding en oefening kan jou help om spanning beter te beheer. As jy fisiese uitdagings het, bid daaroor. Kies dan een of twee van die volgende voorstelle wat vir jou reg lyk. Nie elke voorstel sal vir elke persoon werk nie. Die meeste idees moet vir ten minste twee tot drie weke beoefen word voordat dit begin help. Kyk in die afdeling “1. Die Ontwikkeling van Herstellingsvermoë onder Spanning” vir bykomende voorstelle.

A. Leer om Hard te Werk

  • Breek groot of moeilike take in kleiner stukkies op. As die take nog steeds te moeilik voel, breek dit verder op. Begin dan werk aan een van die take. As jy wag totdat jy “daarna voel” om te werk voordat jy begin, kan jy dalk lank wag. Begin, en motivering sal oor die algemeen volg.

  • Moenie jouself ooreis nie. Wissel die werk wat jy doen, en moenie te lank aan net een aktiwiteit werk nie. Herinner jouself: “Al wat ek nou moet doen, is .”

  • Kry genoeg slaap, gesonde kos, water en oefening om die stamina te kry wat jy nodig het.

  • Soek en verwelkom ondersteuning, voorstelle en aanmoediging van ander. Ondersteun en moedig ander ook aan.

  • Spreek dankbaarheid uit. Wees nie net dankbaar vir jou seëninge nie, maar ook vir jou uitdagings en teëspoed. Jy kan uit hulle leer. Om dankbaarheid uit te spreek sal die deur oopmaak vir die Here om jou te seën en te help.

diens-sendelinge wat stap

B. Bly Gesond en Energiek

  • Versterk jou immuunstelsel.

    • Slaap agt tot nege ure.

    • Drink 6 tot 12 glase water per dag, afhangende van die klimaat.

    • Moenie maaltye oorslaan nie, veral ontbyt, tensy jy vas.

    • Vermy suiker.

    • Neem elke dag ʼn multivitamien.

    • Eet elke dag proteïen (byvoorbeeld neute, boontjies, tofu, eiers, melk, jogurt, kaas, vis, pluimvee, vleis).

    • Was jou hande gereeld of gebruik handontsmettingsmiddel, veral as ander om jou siek is.

    • Moenie kos wat verkoel moet word laat rondstaan nie. Wanneer jy twyfel, gooi dit weg.

      vrou wat oefen
  • Oefen gereeld. Oefening is noodsaaklik vir fisiese welsyn. Doen beide krag- en uithouvermoë-oefeninge, gemiddeld 30 minute per dag, vyf keer per week. Oefening help om jou energie te verhoog en jou gemoed te stabiliseer.

  • Trek aan ooreenkomstig die weer. As jy buite in die warm son werk, moet jy sonskerm en ligkleurige klere dra. As jy te warm word, spoel koel water oor jou polse. Dra lae klere, insluitend handskoene en ʼn hoed in koue weer.

  • Hou jou leefruimte skoon en vry van stof. ʼn Skoon kamer sal ook jou gemoed verbeter. Gee jou ouers jou samewerking en wees bedagsaam teenoor jou familie. Help hulle om gedeelde ruimtes in stand te hou. Dit is veral belangrik om jou leefruimte skoon te hou as jy gereeld verkoues kry of allergieë het. Was handdoeke en lakens gereeld om allergene te verminder.

C. Die Beheer van Hoof-, Maag- of Spierpyne

  • Beoefen fisiese ontspanning. Ontspanning kan help om fisiese simptome soos hoofpyn, maagpyn of rugpyn te verminder. Dit kan ook vir diarree, gewrigspyn, hartkloppings of kortasem help. Dit kan gevoelens van paniek verminder. Leer jou liggaam om te ontspan deur die progressiewe ontspanningsoefening te doen. Of probeer die asemhalingsoefening elke dag vir ten minste drie weke. Wanneer jy fisiese simptome het of oorspanne voel, gebruik hierdie oefeninge om spanning te verminder. Dit sal jou help om kalm te voel. Wanneer jy ontspan, fokus daarop om te vertrou dat die Here jou sal help met jou uitdagings. Op hierdie manier, kan leer om te ontspan, ʼn vorm van oorgawe aan God se wil wees. Dit kan ook ʼn bereidwilligheid toon om die Saligmaker te volg, wat gesê het: “Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied” (Lukas 22:42).

  • Verdeel jou werk in klein takies. Doen dan slegs een taak op ʼn slag. Met elke stap, herinner jouself: “Al wat ek nou moet doen, is .” Jy kan byvoorbeeld sê: “Al wat ek nou dadelik moet doen is om die diens-sendingleier te bel” of “Al wat ek nou dadelik moet doen is om aan te trek vir die dag.”

  • Hou ʼn logboek vir ʼn week. Dit sal jou help om te sien wanneer jou fisiese simptome voorkom. Wees op die uitkyk vir patrone. Byvoorbeeld, jou simptome kan meer geneig wees om voor te kom:

    • Onder sekere omstandighede, soos op Sondae. Jy kan ook siek voel wanneer jy om leiers is. Jy kan dikwels siek voel as jy nie vir ʼn paar uur geëet het nie.

    • Wanneer jy op ʼn bepaalde manier dink. Byvoorbeeld, wanneer jy dink jy moes iets beter gedoen het.

    • Wanneer jy sekere gevoelens het waaroor jy nie wil praat nie, soos angs of woede.

  • Dink aan ʼn manier om die situasie te verander. Jy kan byvoorbeeld gesonde versnaperinge saam met jou dra of probeer om jou gedagtes te verander (sien “Sê Nee vir Negatiewe Denke”). Jy kan ook probeer om jou gevoelens te kalmeer (sien “Reageer Positief op Spanning”). Vind meer voorstelle onder “3. Die Ontwikkeling van Emosionele Herstellingsvermoë.”

  • Kry mediese hulp. As simptome voortduur of as jy beseer is, raadpleeg jou ouers om mediese hulp te ontvang.

  • Vergeet jouself. Jy kan bekommerde gedagtes opmerk, soos “Ek gaan vergeet wat om te sê.” Of jy mag dalk dink “Ek maak ʼn gek van myself.” Herinner jouself daaraan dat almal foute maak. Onthou dat die Here kies om deur die swakkes en eenvoudiges te werk (sien Leer en Verbonde 1:24–28).

horlosie en boeke

D. Slaap Goed en Gaan Betyds Slaap

  • Maak ʼn lys van wat jou wakker hou. Sit dan hierdie lys eenkant. As jy dit doen, sal dit jou verstand laat rus met die wete dat jy nie iets belangriks sal vergeet nie. Herinner jouself daaraan dat jy spesifieke planne in die oggend sal uitwerk. Fokus jou aandgebede op dankbaarheid en rapporteer wat jy daardie dag geleer het.

  • Volg elke aand ʼn roetine. Dit sal jou liggaam leer dat dit tyd is om te slaap. Byvoorbeeld, gebruik die progressiewe ontspanningsoefening voor jy gaan slaap. Moenie in die bed lees of eet nie. Jy sal beter slaap as jou verstand weet dat jou bed ʼn plek is om te slaap. Beplan om elke aand agt tot nege ure slaap te kry.

  • Word rustig en ontspan gedurende die laaste uur van die dag. Voordat jy gaan slaap, skryf in ʼn joernaal of eet ʼn ligte versnapering soos melk of vrugte. Luister na gepaste musiek, praat met ʼn familielid of beoefen ontspanningsvaardighede. As jy vergeet om gedurende hierdie uur te begin ontspan, stel ʼn wekker om te lui 30 minute voordat jy moet gaan slaap. As jy dit hoor, hou op waarmee jy besig is. Begin dan ontspan en berei voor vir slaap.

  • Vermy suiker of oefening ʼn uur voor slaaptyd.

  • Warm op of koel af. Dit is moeiliker om te slaap as jy te warm of te koud is. Neem ʼn koel stort of kry ʼn ekstra kombers.

  • Voorkom lig en geraas so veel as moontlik. Blokkeer lig, en demp geraas deur ʼn waaier te laat loop of oorpluisies te dra. Selfs ʼn bietjie lig of geraas hou sommige mense wakker.

E. Staan Betyds Op

  • Eerstens, kom betyds in die bed. As jy nie genoeg slaap kry nie, gaan slaap 30 minute vroeër.

  • Kry gereeld oefening. Na drie tot vier weke van oefening 30 minute per dag, kan jy dalk sien dat jy minder slaap nodig het. Namate jou liggaam sterker word, het dit meer energie en ontspan dit makliker.

  • Vermy suiker voor slaaptyd. Dit kan jou help om in die oggend minder deurmekaar te voel.

  • Programmeer jou brein. Sê vir jouself die vorige aand hoe laat jy wil wakker word.

  • Indien moontlik, kry ʼn tydskakelaar en koppel dit aan ʼn lig. Stel die tydskakelaar om jou lig 15 tot 20 minute voor jy wakker word aan te skakel. Lig stuur jou brein ʼn boodskap om wakker te word.

F. Eet Saam met Familie

  • Raak betrokke by jou gesin in die beplanning van maaltye. Dra tyd by om kos te koop, maaltye te beplan en voor te berei en op te ruim.

  • Eet ʼn verskeidenheid voedselsoorte. Streef daarna om elke dag ten minste vyf vrugte of groente te eet, indien beskikbaar.

  • Eet elke dag proteïene. Voedsel wat hoog in proteïene is sluit neute, bone, tofu, eiers, melk, jogurt, kaas, vis, pluimvee en vleis in.

  • Verminder suiker en vermy kafeïen. Albei is geneig om mense op die lange duur buierig en moeg te maak.

  • Drink water en ander vloeistowwe. Bly gehidreer deur 6 tot 12 glase water en ander vloeistowwe per dag te drink, afhangende van die klimaat.

  • Verloor geleidelik gewig indien nodig. Probeer jy om gewig te verloor? Indien wel, moenie probeer om meer as een kilogram (een tot twee pond) per week te verloor nie. Drink ekstra water.

G. Word Gemotiveerd om te Oefen

  • Bid vir die begeerte om te oefen. Begin dan deur vir jouself te sê dat jy net vyf minute sal oefen. Jy sal dikwels meer gemotiveerd raak sodra jy begin.

  • Herinner jouself aan die voordele van oefening. Stel jou voor dat jy beter immuniteit en verhoogde energie het. Stel jou ook voor dat jy spanning beter beheer, emosioneel beter voel en jou gewig beter beheer. Selfs mense wat nie van oefening hou nie, ontvang hierdie voordele.

  • Maak oefening ʼn speletjie. Terwyl jy oefen, beplan ʼn prettige aktiwiteit vir later of oefen op toepaslike musiek. Hou ʼn telkaart van jou oefenpogings en beloon jouself wanneer jy jou doelwitte bereik. Die beloning kan wees om na ʼn park, restaurant of winkel te gaan.

  • Vind ʼn tipe oefening wat jy geniet (of die minste ʼn teensin in het). Jy kan byvoorbeeld marsjeer na opgewekte musiek of draf. Jy kan dalk touspring, strek, of opstote, opsitte of joga doen.

    vrou wat draf