“Verstaan Spanning,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe: Hulpbronboekie (2020)
“Verstaan Spanning,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe
Verstaan Spanning
Die Ontwikkeling van Herstellingsvermoë onder Spanning
Nuwe ondervindings (soos om by die Kerk aan te sluit of ʼn nuwe skool by te woon) is opwindend. Maar dit kan jou ook senuweeagtig laat voel. Jy weet nie heeltemal wat om te verwag nie. Mettertyd sal jy leer hoe om hierdie uitdagings die hoof te bied en jy sal in die proses groei. Om op positiewe maniere by spanning aan te pas, ontwikkel jy emosionele herstellingsvermoë.
Diens-sendings is nie verskillend nie. Soms voel ʼn diens-sending soos ʼn wonderlike geestelike avontuur. Dit voel soos ʼn uitdaging wat jy kan hanteer. Jy gaan kalm vorentoe met geloof. Jy besef dat baie van die senuweeagtigheid of bekommernis wat jy ervaar, tydelik is. Jy skep moed om te weet jy sal met verloop van tyd aanpas. Jy groei geestelik en het die geleentheid om nuwe vaardighede te ontwikkel. Ervarings wat jy eens gevrees het, word dikwels meer hanteerbaar. Jy raak selfs lief vir aspekte van sendeling-diens wat eens oorweldigend gevoel het. Jy vertrou op die Gees. Jy groei in selfvertroue en vind vreugde in jou diens.
Op ander tye kan jy egter onverwagte probleme ondervind. Sommige ervarings is moeiliker of meer onaangenaam as wat jy verwag het. Jy wonder dalk hoe jy sukses kan behaal. In plaas daarvan om gemotiveerd te voel om te probeer, kan jy angstig, geïrriteerd, uitgeput of gefrustreerd raak. Jy kan dalk fisiese simptome soos pyn, ongestelde maag, slaaploosheid of siekte hê. Jy kan dalk sukkel om te leer of om met mense te skakel. Jy voel dalk moedeloos of wil ophou.
Vier Vlakke van Spanning
Die simptome van spanning is soos meters op ʼn motor se paneelbord. Dit herinner jou om stadiger te ry, brandstof te kry of die enjin na te gaan. Dit herinner jou om jou geestelike “tenk” vol te maak en nuwe oplossings te soek. Wanneer sendelinge spanning goed hanteer, is hulle volgens die volgende grafiek op die “groen” vlak. Wanneer hulle angstig raak of moeilikheid het, is hulle op die “geel” vlak. As hulle aanhou om gespanne te voel, is hulle op die “oranje” vlak. En wanneer hulle nie in staat voel om te funksioneer nie, is hulle op die “rooi” vlak.
Met die verloop van jou sending kan jy verskillende vlakke van spanning op verskillende tye ervaar. Jy kan vandag “oranje” voel en môre weer terug wees by “groen”. Hierdie boekie het voorstelle en hulpmiddels wat jou kan help om te bly by—of terug te keer na—die groen vlak.
Tekens Dat Jy op Hierdie Vlak Is |
Wat om te Doen | ||
---|---|---|---|
Groen | Tekens Dat Jy op Hierdie Vlak Is Selfversekerd, gelukkig Gereed om uitdagings die hoof te bied Herstel vinning van terugslae Kom oor die weg met jou leiers Voel die Gees | Wat om te Doen Hierdie is die ideaal. Op hierdie vlak hanteer jy die alledaagse spanning van sendelingdiens. Jy leer en vorder. Gaan voort om hard te werk en vertrou op die Here. | |
Geel | Tekens Dat Jy op Hierdie Vlak Is Gespanne, bekommerd, onseker, angstig, onvoorbereid, nie in staat om goed te slaap nie Vind dit moeilik om met ander oor die weg te kom Vind dit moeilik om die Gees te voel | Wat om te Doen Dit is normaal om tyd op die geel vlak deur te bring. Wees vriendelik teenoor jouself terwyl jy uitdagings die hoof bied. Wees geduldig terwyl jy nuwe vaardighede soos bewustheid aanleer. Hierdie vaardighede sal jou help om sterker te word en verhoog jou vermoë om te dien. Gaan voort om te bid en met geloof te dien. Gaan na die skrifture en konferensiepraatjies, jou diens-sendingleiers en hierdie boekie vir help. | |
Oranje | Tekens Dat Jy op Hierdie Vlak Is Uitgeput (fisies en emosioneel) Siek (ongestelde maag of ander simptome) Word maklik kwaad Diep ontmoedig Nie in staat om die Gees te voel nie | Wat om te Doen Niemand geniet dit om op die oranje vlak van spanning te wees nie, maar hierdie is nie ʼn permanente toestand nie. Bid vir leiding terwyl jy die skrifture bestudeer en pas die voorstelle in hierdie boekie toe. Kontak jou diens-sendingleiers as jy vir langer as drie dae op die oranje vlak bly. Hulle sal jou help. | |
Rooi | Tekens Dat Jy op Hierdie Vlak Is Voel aanhoudende en intense depressie, paniek of angs Voel hopeloos Vind dit moeilik om te eet of slaap (kan tot siekte lei) Voel oorweldig en nie in staat om voort te gaan nie Voel asof jy deur God verlaat is | Wat om te Doen As jy op hierdie vlak is, kontak jou diens-sendingleiers, familielede of penpresident vir hulp. Vra vir ʼn priesterskapseëning. Neem tyd om in jou joernaal te skryf of bepeins die voorstelle in hierdie boek. Bid daaroor. Jy kan dalk ʼn blaaskans vra van die dinge wat jy die moeilikste van jou opdrag vind. Praat met jou diens-sendingleiers om te help om die regte diensveranderings vir jou te vind. |
Jy kan ʼn nuttige dienskneg van die Here word, maak nie saak wat jou uitdagings is nie. Probeer om die idees in hierdie boekie te gebruik en beweeg vorentoe met geloof. Oorweeg die ervaring van Suster Xochilt Oteo, wat in die San Diego Diens-sending gedien het:
“Toe ek by Katolieke Liefdadigheidsorganisasies begin dien het, was ek opgewonde, maar bang. Ons is gevra om ʼn voorgeletterdheidsklas aan immigrante en vlugtelinge te onderrig. Ek het gevoel ek was op geen manier in staat om ʼn Engelse klas vir mense van oor die wêreld te onderrig nie.
“Ons het nie vertalers in ons klas gehad nie, dus was kommunikasie beperk. Suster Pennock en ek het deur prente en handgebare gepraat. Ek was verskrik in my eerste klas! Ek het geen idee gehad wat om te doen nie. Maar toe ek my klas bymekaarmaak, het ʼn kalm gevoel deur my gestroom.
“Ek het die Gees van die Here gevoel. My werk was eenvoudig—dien elke student, wat alles agtergelaat het om na die Verenigde State te kom en help hulle om te leer hoe om hul naam en algemene inligting te skryf en ʼn basiese gesprek in Engels te voer.
“Ons het voortgegaan. Maande later was ons in die San Diego-tempel as deel van ons opdrag, toe ons hoor hoe susters praat oor die vlugtelinge wat na die doopvont kom daardie dag. Tot my grootste vreugde, was een van ons oudstudente een van dié wat na die doopvont gekom het. Ons het nie eens geweet dat sy by die Kerk aangesluit het nie.
“Ons harte was vol en ons oë nat, want Suster Pennock en ek het geweet ons het ons deel as diens-sendelinge gedoen om die lewens van ons studente te seën.”
Eise van Sendeling-diens
Dien “met julle hele hart, mag, verstand en krag” (Leer en Verbonde 4:2) is ʼn uitnodiging van die Here om jou lewe te seën. Maar sendelingwerk is nie maklik nie. Die eise van sendeling-diens kan in verskeie kategorieë verdeel word.
Algemeen (sien “1. Die Ontwikkeling van Herstellingsvermoë onder Spanning”). Tydens jou sendeling-diens kan jy baie veranderinge en oorgange ervaar. Jou vertroude maniere om dinge te hanteer, werk dalk nie so goed op jou sending nie. By tye kan jy ongemaklik voel en jy kan sukkel. Jy wonder dalk hoe om ander diens-sendelinge wat sukkel, te help.
Fisies (sien “2. Die Ontwikkeling van Fisiese Herstellingsvermoë”). Jy kan dalk die meeste van die dag op jou voete wees. Jou werk kan dalk fisies uitputtend wees. Bloot die nuutheid van die situasie kan vermoeiend wees.
Emosioneel (sien “3. Die Ontwikkeling van Emosionele Herstellingsvermoë”). Jy voel dalk angstig oor alles wat jy moet leer of doen. Jy kan dit dalk moeilik vind om te ontspan. Jy kan moedeloos raak, verveeld raak of eensaam voel.
Sosiaal (sien “4. Die Ontwikkeling van Sosiale Herstellingsvermoë”). Jy moet dalk vinnig nuwe mense leer ken. Jy moet dalk met vreemdelinge praat en met nuwe leiers by jou diensplek kommunikeer.
Leer en Werk (sien “5. Die Ontwikkeling van Verstandelike Herstellingsvermoë”). Jy moet dalk nuwe vaardighede aanleer om jou opdragte te voltooi. Jy sal doelwitte moet beplan en bestuur. Jy moet ook by veranderinge aanpas en allerlei praktiese probleme oplos.
Geestelik (sien “6. Die Ontwikkeling van Geestelike Herstellingsvermoë”). Jy sal hard moet werk om jou getuienis te versterk en versoeking te vermy. Streef daarna om die Gees te voel en te herken. Soms sal jy regstelling moet aanvaar, jou moet bekeer en jou swakhede en berou in die gesig moet staar. Wees nederig en vertrou op die Here soos nog nooit vantevore nie. As jy hierdie dinge doen, sal jy groei en vorder.
Voldoen aan die Uitdagings van Jou Diens-sending
Baie van die uitdagings van ʼn diens-sending kan nie verminder word nie. Jy sal nuwe dinge moet leer. Jy moet die reëls gehoorsaam en met ander mense oor die weg kom. Jy moet toegewysde werk gepas doen en jou gemaksone verlaat om nuwe dinge te probeer.
Jy sal egter baie hulpbronne hê wat jou sal help om die uitdagings van jou nuwe diensrol die hoof te bied. Hierdie boekie sal jou help om hierdie hulpbronne te vind en te gebruik. Onthou ook die belangrikheid van gebed, skriftuurstudie, die leiding van die Heilige Gees en om ander te help. Die belangrikste ding wat jy kan doen is om op die Saligmaker en sy Versoening te vertrou. Hy is die primêre bron vir die hantering van die spanning van diens-sendelinglewe.