Diens-sendeling
6. Die Ontwikkeling van Geestelike Herstellingsvermoë


“6. Die Ontwikkeling van Geestelike Herstellingsvermoë,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe: Hulpbronboekie (2020)

“6. Die Ontwikkeling van Geestelike Herstellingsvermoë,” Aanpassing by Diens-sendelinglewe

sendeling wat bid

6. Die Ontwikkeling van Geestelike Herstellingsvermoë

Soms reageer sendelinge op oormatige spanning deur die waarheid van die evangelie te bevraagteken. Sendelinge reageer dikwels so omdat hulle nie die hulpbronne het om oormatige spanning te hanteer nie. Indien jy so voel, probeer die voorstelle hieronder. Kies dié wat reg lyk vir jou. Verwys na die afdeling “1. Die Ontwikkeling van Herstellingsvermoë onder Spanning” vir bykomende idees.

A. Versterk Jou Getuienis

  • Besef dat vrae gesond is. Die Profeet Joseph Smith het baie openbarings ontvang in antwoord op sy eerlike vrae. Dit is gesond vir jou om vrae oor die evangelie te hê. Soos jy strewe om antwoorde te vind, onthou dat skrifture, profete, onderwysers en jou eie vermoë om te redeneer, kan help. Maar net die Gees kan die waarheid bevestig. Die Gees sê vir ons dat Jesus die Christus is en dat die Kerk waar is.

  • Verstaan wat geloof is. Om geloof te hê is om God se perfekte goedheid, liefde, wysheid en regverdigheid te vertrou. Dit is om te vertrou selfs wanneer ons nie perfek verstaan nie. Alma het geleer dat “geloof is nie om ʼn volmaakte kennis van dinge te hê nie; daarom, as julle geloof het, hoop julle op dinge wat nie gesien word nie, wat waar is” (Alma 32:21). Jy het nie “perfekte kennis” nodig om geloof te hê nie. Bestudeer Alma 32 vir hulp om jou geloof op te bou.

  • Hou vas aan geloof wanneer dinge buite beheer lyk. Jy mag bekommerd voel oor sekere omstandighede of uitkomste. Wanneer dit gebeur, oefen om stil te wees en fokus op die hede (sien “1. Die Ontwikkeling van Herstellingsvermoë onder Spanning”). Let op die emosies wat jy het wanneer jy buite beheer voel. Al kan hierdie gevoelens ongemaklik wees, kan dit jou nie kwaad doen nie. Jy sal mettertyd leer om groter en groter geloof te hê. Jy kan geloof hê wanneer jy onsekerheid en uitdaging ervaar.

  • Onderhou die gebooie. Ons kry vertroue in die Here wanneer ons die waarde van sy leringe leer. Om hierdie vertroue te kry, moet ons sy wil doen. “As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek” (Johannes 7:17).

  • Wees geduldig. Tyd en ervaring sal jou help om sin te maak van sommige dinge wat nou verwarrend is. Onthou Nefi se lering: “Ek weet dat [God] sy kinders liefhet; desnieteenstaande, ek ken nie die betekenis van alle dinge nie” (1 Nefi 11:17). Bou op wat jy deur die Gees weet wat waar is oor God.

B. Leer om te Bekeer

Bekering behels om jou wil in ooreenstemming te bring met die Saligmaker se wil. Die volgende beginsels sal jou help terwyl jy daarna streef om te bekeer.

  • Wees eerlik met jou penpresident. As jy ernstige sondes het wat jy nog nie afgehandel het nie, praat met jou penpresident. Wees oop en eerlik. Hy sal jou help om hierdie dinge reg te stel.

  • Vergewe jouself ná bekering. Soms voel mense steeds skuld en skaamte ná bekering. Onthou dat ons almal berou het oor sondes en foute van die verlede. Vertrou dat Christus se Versoening genoeg is, selfs vir jou. Onthou dat bekering nie net die alternatiewe plan is nie. Bekering is die plan van geluk vir elke persoon.

  • Fokus op die dinge wat werklik saak maak. Doen jou beste om elke dag te bekeer. Maak dan seker dat die dinge wat jou bekommer dinge is wat werklik saak maak. ʼn Voorbeeld kan wees om met liefde te dien. Moenie bekommerd wees oor sake van persoonlike trots, soos byvoorbeeld wat ander van jou dink nie.

  • Verstaan die rol van belydenis. Jy hoef nie minder ernstige sondes te bely of dieselfde sonde herhaaldelik bely nie. Priesterskapsleiers sal jou vertel wanneer jou belydenis voldoende is. Om aan te hou om berou te hê en hartseer te voel oor vorige sondes is normaal. Maar dit beteken nie dat jy herhaaldelik moet bely vir dieselfde ding nie. Lei jou aandag van sulke gedagtes af met ander aktiwiteite. Maak die doelbewuste keuse om in die Here se vergifnis te glo. Ignoreer die versoeking om angstig of skaam te word.

  • Praat met jou penpresident of biskop as jy aanhou sukkel.

C. Leer om met Opregte Bedoeling te Bid

  • Probeer om hardop te bid, al is dit net in ʼn fluistering. Probeer om vir gebed voor te berei deur jou vrae of bekommernisse neer te skryf. Visualiseer God naby. Vra Hom wat jy vir Hom vandag kan doen. Reageer dan op idees wat by jou opkom. Gebruik by geleentheid jou gebed net om God te dank. Bedank Hom vir die vele goeie dinge wat Hy jou gegee het.

    diens-sendeling wat bid

D. Leer om die Skrifture Lief te Hê

  • Bid spesifiek vir hulp om die skrifture te verstaan en te geniet. Gebruik van jou studietyd om jou gevoelens oor die skrifture en jou reaksies daarop neer te skryf. Skryf neer wat jy leer of geestelike indrukke wat jy ontvang.

E. Leer om op die Gees te Vertrou

  • Oefen met geduld. Om te leer om die stem van die Gees te herken is baie soos om ʼn taal te leer. Dit verg oefening, geduld en nederigheid. Probeer om uit foute te leer sonder om op te gee.

  • Leer van algemene konferensies. Vir idees hoe jy persoonlike openbaring kan ontvang, bestudeer algemene konferensie toesprake oor hierdie onderwerp.